Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21695

In reaksie op Koos Kombuis se lesersindruk van Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid deur Sakkie Spangenberg

$
0
0

Titel: Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid
Skrywer: Sakkie Spangenberg

ISBN: 9781067234270
Uitgewer: Naledi

..........
Ek is geen teoloog nie en dit kan teen my tel wanneer ek my uitlaat oor Spangenberg se boek. Spangenberg weer is egter geen wetenskaplike nie en aangesien hy swaar op die wetenskap leun wanneer hy baie van sy argumente maak, het ek gereken dat ek Koos Kombuis se seël van goedkeuring om oor die wetenskap te mag skryf, kan gebruik as my geloofsbriewe.
...............

Ek is geen teoloog nie en dit kan teen my tel wanneer ek my uitlaat oor Spangenberg se boek. Spangenberg weer is egter geen wetenskaplike nie en aangesien hy swaar op die wetenskap leun wanneer hy baie van sy argumente maak, het ek gereken dat ek Koos Kombuis se seël van goedkeuring om oor die wetenskap te mag skryf, kan gebruik as my geloofsbriewe.

Die eerste keer toe ek met Koos Kombuis – toe André le Roux du Toit – filosofiese Godpraatjies gemaak het, was in 1975 in die Eenweg Koffiekroeg in Sunnyside, Pretoria. Dit kom van ver. Dekades later het Koos my boek, Meer as ’n metafoor, in ’n boekwinkel opgemerk en ’n gunstige resensie daaroor geskryf. Hy skryf: “Meer as ’n metafoor is ’n publikasie wat ernstig opgeneem moet word; ’n intellektuele kragtoer wat die leser nie slegs meevoer nie, maar ook uitdaag om vooropgestelde idees by die venster uit te gooi en nuut te begin dink oor bewussyn, geloof, en ons plek in die kosmos.”

In ’n artikel in Sarie antwoord Koos op die vraag: “Wat lees jy? Het jy ’n gunstelingskrywer of -boek?” onder meer met: “[...] Dan is daar Maryna Blomerus se Meer as ’n metafoor wat my heeltemal omgeboul het.” Dit moet mos punte tel? In sy boek Deur die tonnel van twyfel skryf Koos dat “sommige mense besig is om ’n groter deel van hul reeds bestaande brein te begin gebruik. Ek wil die voorbeeld noem van Maryna Blomerus [...] uit die bloute publiseer sy ’n boek. ’n Allemintige stuk navorsing waarin sy wrintiewaar daarin slaag om ’n baie geloofwaardige argument, oor die 300 bladsye, te formuleer [...] dat die heelal ’n hologram is [...]. Ons is besig om wakker te word.”

As jy Koos Kombuis dus kan glo, weet ek minstens soveel as Sakkie Spangenberg van die moderne wetenskap, neem ook ek navorsing ernstig op en het ook ek aspirasies om nuut te dink. Wat dus volg, is nie die gerammel van die soort fundamentalis wat Spangenberg in sy boek tipeer nie.

Sonder om spesifiek te wees, maak Koos Kombuis dit duidelik dat Spangenberg hom daarvan oortuig het dat die “vele veilige assumpsies en kinderlike vertroue op ’n kosmiese orde soos gereguleer deur ’n bybelse outoriteit uiteindelik vir altyd verwyder, gesloop, vernietig, tragies verinneweer en verniel [is] net soos arme Humpty Dumpty!” En dit danksy Spangenberg se “intensiewe navorsing”.

Teen die einde van sy resensie draai Koos Kombuis die brieke egter aan met: “Ek moet wel erken dat ek persoonlik, noudat ek hierdie boek klaar gelees het, in ander opsigte ’n klein bietjie ge-cheat en onvergenoegd voel [...] Ons weet nou inderdaad wat waarheid NIE is nie, maar ons het nog geen benul wat die waarheid IS nie.” Dan spreek hy ’n versugting uit: “Ek wag nog steeds op ’n skrywer wat iets kan opbou in die plek van alles wat Sakkie Spangenberg afgebreek het [...] Wie weet, dalk is die laaste woord oor hierdie onderwerp dalk nog nie gespreek nie?”

Dit is my nederige opinie dat Koos meer as ’n bietjie ge-cheat is, meeste van als omdat hy glo dat enigiets verwyder, gesloop, vernietig of tragies verinneweer is. Ek sal probeer aantoon waarom die laaste woord nog lank nie gespreek is nie en waarom die “moderne” mens nie ’n duim nader aan die waarheid is nie.

Laat ek begin met Spangenberg se mobilisasie van die wetenskaplik in sy aanval op die bestaan van God en dit deel I noem. Daarna volg deel II waarin ek sy kennisleer en sy heksejag op die christelike godsdiens krities sal bespreek.

Spangenberg se wetenskap

“A little knowledge of science makes man an atheist, but an in-depth study of science makes him a believer in God.” – Francis Bacon

“Equipped with his five senses, man explores the universe around him and calls the adventure Science.” – Edwin Powell Hubble

“Doubt is an uncomfortable condition, but certainty is a ridiculous one.” – Voltaire

Spangenberg se basiese uitgangspunt is dat meer onlangs sinoniem is met meer waar. Hy huldig die oortuiging dat die wetenskap van ’n vroeër tyd inherent minderwaardig is aan dié van die hede, bloot op grond van die oortuiging dat omdat die beskawing in sekere gebiede gevorder het, mense van vroeër kulture dommer was. Spangenberg neem aan dat waarheid met tyd toeneem en dat vanwaar ons vandag staan, dit glashelder is dat God ’n uitgediende versinsel van ongesofistikeerde mense was en steeds is. Kom ons kyk of hierdie chronologiese snobisme water hou.

Wikipedia lys al die belangrike historiese paradigmaverskuiwings in die natuurwetenskappe. Vreemd genoeg was die laaste verskuiwing relatief lank gelede – ongeveer tussen 1960 en 1985 en dit staan bekend as Die aanvaarding van die alomteenwoordigheid van nie-liniêre dinamiese stelsels soos bevorder deur chaosteorie, in plaas van ’n laplacian-wêreldbeskouing van deterministiese voorspelbaarheid. Van belang vir die gesprek oor Spangenberg se verstaan van God en die Bybel, is die verskuiwings wat teweeggebring is deur 1) Darwin se teorie van natuurlike seleksie (1859), 2) kwantummeganika (1905), 3) algemene relatiwiteit (1919) en 4) die ontdekking van ’n kosmiese mikrogolf-agtergrondstraling wat tot die oerknalteorie gelei het. Kom ons kyk nou wat elk van hierdie verskuiwings omtrent die moontlike bestaan van God en wonderwerke impliseer.

Koos Kombuis - foto: August Photography

Darwinisme

Om te bly binne die grense van wat moontlik is

Volgens Spangenberg is Darwinisme gevestig as ’n standaardteorie waarsonder bioloë vandag nie sinvol oor lewe op aarde kan praat nie. Volgens hom ondermyn dit álles wat christene tradisioneel geglo het – van die idee dat daar ’n perfekte skepping was tot by die idee van ’n uiteindelike herstel van die “gevalle” skepping.

Darwin self het nooit daarop aanspraak gemaak dat evolusie die enigste meganisme is vir die ontstaan van spesies nie. Hy het selfs bedenkinge gehad oor sy teorie, wat gedeel is deur van die belangrikste bioloë van sy tyd. Die probleme wat hom bekommer het, het oor die dekades net groter geword.

Na die ontdekking van die geen het neo-Darwinisme ontstaan ​​uit die versoening van Darwin se teorie van natuurlike seleksie en Mendel se navorsing oor genetika, en dit het die grondslag van evolusionêre teorie gevorm. Die meeste bioloë aanvaar vandag steeds die oorweldigende wetenskaplike bewyse vir gemeenskaplike afkoms deur die proses van evolusie, maar Darwinisme word toenemend beskou as ’n onvolledige teorie, nes Newton wat nie verkeerd was nie, net reg binne perke.

Diegene wat nog ongekwalifiseerd aan neo-Darwinisme vasklou is meermale nie-wetenskaplikes soos Spangenberg wat die teorie misbruik om gewig te verleen aan hul eie teorieë. Darwin se teorie is maklik om te begryp; eenvoud lê aan die hart daarvan en daarom word dit in bykans alle studievelde gebruik om ’n punt hier en ’n punt daar te “bewys”.

Waarteen bioloë hulle egter in onlangse jare vasgeloop het, is kompleksiteit (die laaste van die paradigmaverskuiwings). Darwin se hoofprobleem is molekulêre biologie. Daar was nie so iets in sy eie tyd nie. Ons sien nou van binne wat hy net van buite kon sien. Noudat ons verstaan hoe geweldig kompleks die eenvoudige sel is, vind ons na ’n toetsrit dat sy teorie ’n mens nie ver neem in die verduideliking van hoe nuwe, nuttige gene geskep kan word deur mutasie nie.

’n Proteïenmolekule is gebaseer op ’n ketting van aminosure; 150 elemente is ’n “beskeie grootte” ketting; die gemiddelde is 250. Elke skakel word gewoonlik uit een van 20 aminosure gekies. Die taak is om ’n nuwe geen te skep deur mutasie – deur die toevallige verandering van een kodon na ’n ander kodon. Jy het twee moontlike beginpunte vir hierdie poging. Jy kan ’n bestaande geen muteer, of brabbeltaal muteer. Die meeste bioloë meen dat die nonsensreekse die hoofbron van nuwe gene is. As jy aan ’n geldige geen peuter, sal dit byna altyd ’n tree terug wees en die organisme in gevaar stel (of doodmaak). Kom ons begin argumentsonthalwe met 150 ewekansige skakels van brabbeltaal en vra wat die kans is dat jy met ’n nuttige nuwe proteïen vorendag sal kom. Mutasies is lukraak. Maak ewekansige veranderinge aan ’n ewekansige volgorde en jy kry nog ’n ewekansige volgorde. Maak dus jou oë toe, maak 150 ewekansige keuses uit jou 20 kralebokse en ryg jou krale in die volgorde waarin jy hulle gekies het.

Die totale aantal moontlike reekse is duidelik geweldig groot. Die totale telling van moontlike 150-skakelkettings, waar elke skakel afsonderlik uit 20 aminosure gekies word, is 20150. Dit is vreeslik baie. 20150 is ongeveer gelyk aan 10195, en daar is net 1080 atome in die heelal.

Watter proporsie van hierdie baie polipeptiede is bruikbare proteïene? Douglas Axe, ’n eersterangse Establishment-wetenskaplike, het ’n reeks eksperimente gedoen om te skat hoeveel 150 lange kettings in staat is tot stabiele voue – om die finale stap in die proteïenskeppingsproses (die vou) te bereik en om hul vorms lank genoeg te behou om bruikbaar te wees. Hy het geskat dat van alle 150-skakel-aminosuurvolgordes, 1 uit 1074 in staat sal wees om te vou tot ’n stabiele proteïen. Om te sê dat jou kanse 1 uit 1074 is, is dieselfde as om te sê prakties nul. Probeer om jou pad te muteer van 150 skakels van brabbeltaal na ’n werkende, nuttige proteïen en jy is gewaarborg om te misluk. Probeer dit met 10 mutasies, ’n duisend, ’n miljoen – jy misluk hopeloos. Die kanse begrawe jou. Dit kan nie gedoen word nie.

Maar wat as daar genoegsame tyd in die diep geskiedenis van lewe was dat dit tog een of ander tyd kon plaasvind, per blinde geluk? Volgens Axe se aannames was daar in die hele geskiedenis van die lewe ongeveer 1040 bakterieë wat ongeveer 1040 mutasies opgelewer het. Dit is ’n baie groot getal kanse, maar aangesien die kans elke keer 1 teen 1077 is, is dit nie groot genoeg nie. Hy bereken die kans op 1 uit 1037. In praktiese terme is dit steeds nul. Daar is geen kans om ’n enkele belowende mutasie in die hele geskiedenis van die lewe te produseer nie.

Teoreties klink Darwinisme steeds redelik, maar in der waarheid word dit oorweldig deur getalle wat Darwin onmoontlik kon voorsien het: die belaglike groot aantal aminosuurkettings relatief tot aantal bruikbare proteïene. Die ooglopende feit is dat gene, in die stoor van bloudrukke vir die proteïene wat die basis van sellulêre lewe vorm, ’n ontsagwekkende hoeveelheid inligting kodeer. Biochemiese kennis van ’n omvang wat ons nog nie kan begin om te verstaan nie, is op die een of ander manier vasgevang in elke beskrywing van ’n werkende proteïen. Waar op aarde het dit alles vandaan gekom?

Wat ons vandag van die sel weet, is dat daar meer en nie minder bewyse vir ontwerp is. Sit dit in jou zol en rook dit is al raad wat ek het vir enigeen wat, soos Spangenberg, daarop aandring dat ons binne die raamwerk van wat moontlik is, moet redeneer.

Vergewe my die spekulasie wat nou gaan volg en waarmee ek myself ook verveel. Dit is grootliks gedrewe deur die noodsaak om te kan demonstreer dat dit nie uitgesluit is dat Adam en Eva historiese figure was nie. Dit is belangrik omdat sonde nie van mitologiese voorouers geërf kan word nie.

Ook ervarings kan aan toekomstige geslagte oorgedra word

Met verwysing na epigenetiese oorerwing beskryf die wetenskapskrywer David Shenk dit in sy boek, The genius in all of us, as “groot, groot goed – miskien die belangrikste (ontdekkings) in die wetenskap van oorerwing sedert die geen”.

Die artikel handel oor epigenetiese oorerwing en verskaf voorbeelde van eksperimentele bewyse daarvoor. Die bevindinge is onkonvensioneel, maar word vandag deur min bioloë ontken. Epigenetika is in stryd met die idee dat oorerwing slegs plaasvind deur die DNS-kode wat van ouer na nageslag oorgaan. Dit beteken dat ’n ouer se ervarings soos trauma, dinge wat geleer is, ensovoorts aan toekomstige geslagte oorgedra kan word.

Shenk skryf ook: “As ’n genetikus so onlangs as die 1990’s voorgestel het dat ’n 12-jarige kind die intellektuele flinkheid van sy of haar toekomstige kinders kan verbeter deur nou harder te studeer, sou daardie wetenskaplike reg uit die saal gelag gewees het. Nie meer nie.”

Dalk kan die morele defek wat “sonde” genoem word, wel van een geslag na die volgende oorgedra word en sal dit as’t ware aangebore wees?

’n Baba se verstand is nie ’n leë bladsy by geboorte nie

George Dragoi, medeprofessor in psigiatrie en neurowetenskap aan die Yale-Universiteit, het na aanleiding van sy eie navorsing en dié van ander in neurobiologie ’n artikel in Nature reviews neuroscience gepubliseer waarin hy voorgestel het dat daar ’n voorafbestaande dinamiek bestaan ​​– ’n soort “sellulêre sjabloon” – wat bepaal hoe ons brein die wêreld voorstel en hoe ons leer. Volgens sy siening was daar ’n oorgang van die teorie dat die brein ’n “blanke lei” is waarin ervaring de novo ingeprent word, na ’n klem op voorafbestaande dinamika wat enige ervaring voorafgaan.

Kan dit wees dat, indien die “val” in die paradys Adam en Eva se sjabloon “gebreek” het, hul nageslag met dieselfde defek gebore sal word?

Daar bestaan ’n Laaste Universele Algemene Voorouer

Die mees oortuigende bewyse tot dusver om die oorsprong van die mensdom te verduidelik kom van kollektiewe navorsing wat deur antropoloë, genetici en geochemici uitgevoer is. Hierdie mitochondriale DNS-bewyse het vasgestel dat mense van een vrou op ’n enkele plek afstam. Eweneens bevestig Y-chromosomale bewyse dat die mensdom van een man afstam, vanaf dieselfde plek. Met ooglopende bybelse ondertone verwys genetici na die mensdom se mitochondriale DNA-voorouers as mitochondriale Eva en na die Y-chromosomale voorouer as Adam. Verder noem wetenskaplikes die ligging van waar hulle ontstaan ​​het die Tuin van Eden.

Een van die wêreld se voorste wetenskaplikes, Francis Collins, hoof van die Menslike Genoomprojek, het die volgende gesê: “Bevolkingsgenetici [...] kyk na hierdie feite oor die menslike genoom en kom tot die gevolgtrekking dat hulle daarop wys dat alle lede van ons spesie afstam van ’n gemeenskaplike stel voorouers.”

In ’n artikel in Nature verwys die skrywer daarna dat die vermoede dat die duo, Adam en Eva, tienduisende jare uitmekaar geleef het, heroorweeg moet word in die lig van twee groot studies van moderne mense se Y-chromosome wat daarop dui dat “Y-chromosoom-Adam” en “mitochondriale Eva” dalk omtrent dieselfde tyd geleef het.

Die implikasie hiervan is dat Adam en Eva as historiese mense nie vergesog is nie en dat alle mense organies verbind en ontologies met Adam verenig kan wees (dit is biologies, geestelik, moreel en wetlik).

Navorsing dui egter ook daarop dat alle lewe – nie net dié in mense nie – teruggespoor kan word na ’n gedeelde voorouer, ’n biologiese sel, wat die naam LUCA dra en wat volgens navorsers so ver terugdateer as 400 miljoen jaar na die skepping van die Aarde. Beteken dit dan dat LUCA en nie Adam en Eva nie die oorsprong van die mens is? ’n Mens sou kon redeneer dat die sel die boublok van alle lewe is, nes ’n baksteen, en dat nes jy ’n katedraal en ’n nederige huisie van dieselfde basies bakstene kan bou, jy al die vorms van lewe met dieselfde selle kon bou.

Genoeg van spekulasie.

Spangenberg voer aan dat Darwin erfsonde die finale doodslag toegedien het en span dan logika in om te redeneer dat mense baie laat in die geskiedenis van die lewe verskyn, terwyl die fossielrekord duidelik toon dat baie nie-menslike wesens gesterf het voor hul verskyning. Dit, redeneer hy, bots met Bybelgedeeltes wat die dood beskryf as ’n straf vir menslike sonde.

Romeine 5:12–9 lees egter: “Daarom, soos deur een mens se oortreding oordeel tot alle mense gekom het, wat tot veroordeling gelei het, net so het deur een mens se regverdige daad die vrye gawe tot alle mense gekom, wat die regverdiging van die lewe tot gevolg gehad het. Want soos deur die ongehoorsaamheid van een mens baie sondaars gemaak is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van een mens baie regverdig gemaak word.” Die vloek van Genesis 3 was dat Adam en Eva, nie die diere nie, as beelddraers van God vir hulle ongehoorsaamheid moes sterf. Daarom is dieredood voor die sondeval versoenbaar met die christelike leer.

GK Chesterton, Cornelius Plantinga en vele ander christelike apologete het geglo dat erfsonde die enigste deel van die christelike teologie is wat werklik bewys kan word en dat daar geen gebied van die menslike psige of samelewing is wat onbesoedel is nie. Dis baie, baie moeilik om ’n sedelike lewe te lei. CS Lewis sê jy vind hoe moeilik dit is deur werklik te probeer. Dis hoekom mense in die Christendom en ander godsdienste dink ons het ’n verlosser nodig.

Karl Paul Reinhold Niebuhr was van mening dat die mens nog altyd sy eie ergste probleem is. Hy het aangevoer dat die geskiedenis van moderne denke grootliks ’n geskiedenis is van die mens se wanbegrip van homself en hy skryf dat baie van die politieke chaos wat die Weste in die twintigste eeu gekonfronteer het, aan ’n naïewe en misplaaste optimisme in menslike rede en die basiese deugsaamheid van die mens toegeskryf kan word. Of dit te danke is aan wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang of hervormings in onderwys en maatskaplike toestande, het die moderne mens geglo dat sy verhoogde kennis uiteindelik menslike boosheid kon oorwin, wat nie as ’n aangebore toestand beskou is nie, maar ’n historiese artefak. Geskiedenis toon egter dat die mens alles behalwe homself kan bemeester. Die ongegronde optimisme omtrent die mens se morele bedrading vorm die kulturele krisis van ons tyd.

 

Relatiwiteit en kwantummeganika

Volgens Spangenberg bestaan onsterflike siele nie en sal ons soos alle ander lewende diere sterf sonder dat ’n haan ooit daaroor sal kraai. Hy glo dat die enigste onsigbare wêreld wat daar is, ons binnewêreld is, sowel as die storiewêrelde van fiksieskrywers.

...........
Volgens Spangenberg bestaan onsterflike siele nie en sal ons soos alle ander lewende diere sterf sonder dat ’n haan ooit daaroor sal kraai. Hy glo dat die enigste onsigbare wêreld wat daar is, ons binnewêreld is, sowel as die storiewêrelde van fiksieskrywers.
..............

In die dae van klassieke, Newtoniaanse meganika was dit redelik maklik vir fisici om te definieer wat hulle met ’n fisiese wet bedoel het. ’n Fisiese wet is ’n vergelyking wat die gedrag van ’n fisiese sisteem beskryf. Spesifiek, in klassieke meganika, word die beweging van deeltjies beskryf deur Newton se deterministiese bewegingsvergelykings wat bepaal dat as ek die aanvanklike posisies en snelhede van elke deeltjie in my stelsel op ’n aanvanklike tydstip ken, ek die presiese posisie en snelheid van elke deeltjie op enige oomblik in die toekoms met 100% sekerheid kan bereken. Elke deeltjie in die sisteem neem ’n enkele pad wat gevolg kan word. Filosowe in die 18de en 19de eeue het vinnig besluit dat so ’n opvatting van natuurwette verskeie belangrike gevolge inhou. Fisiese wette wat onaantasbaar is, maak wonderwerke onmoontlik, want dit laat geen ruimte vir inmenging van buite die sisteem toe nie. Spangenberg wend hom dus tot Newton se klassieke meganika wanneer hy redeneer dat die selle in ’n dooie liggaam onvermydelik begin afbreek en ontbind en dat, as Jesus uit die dood opgestaan het, dit beteken dat daardie selle op een of ander manier hul ontbinding omgekeer het en talle fisiese wette oortree het. Wonderwerke soos die maagdelike geboorte, die opstanding en wederkoms is dus onmoontlik.

In die vroeë 20ste eeu het kwantummeganika klassieke meganika egter vervang as die heersende teorie van fisiese verskynsels. Vandag, ná dekades van toetsing, het duisende eksperimente die voorspellings van kwantumteorie bevestig sodat dit wyd deur die wetenskaplike gemeenskap as die mees betroubare teorie ooit aanvaar word.

Kwantummeganika het verrykende gevolge vir hoe “wonderwerke” beskou moet word.

Materialisme behoort tot ’n ou paradigma

Kant het vir ons twee werklikhede voorgehou: Daar is 1) die objektiewe werklikheid wat deur ons sintuie geregistreer word en wat ons as 2) ’n subjektiewe, persoonlike werklikheid beleef. Laasgenoemde werklikheid bestaan slegs in ons skedels as ’n sensoriese rekonstruksie van die “rou data” wat deur ons breine met kleur, klank, reuk, smaak en tekstuur toegedig word.

Neem byvoorbeeld die rooi kleur van ’n appelskil. Lig mag ’n spektrum van frekwensies hê wat ons as verskillende kleure waarneem, maar die liggolwe self is nêrens rooi nie. Ook is die elektriese impulse wat van die oog na die brein oorgedra word, nie rooi nie. Daar is geen kleur daar te vind nie. Die kleur rooi word in die bewussyn geskep waar dit as ’n subjektiewe ervaring geregistreer word. Ons oë is nie vensters waardeur ons die wêreld sien soos dit is nie.

Dieselfde geld vir klank. Toe biskop Berkeley geredeneer het dat slegs persepsies werklik is, het daar ’n hewige debat losgebars oor die vraag of ’n boom wat in ’n bos val ’n geluid maak as daar niemand is om dit te hoor nie. Op daardie stadium was daar min kennis van hoe klank in lug oorgedra word, of van die werking van die oor of brein. Vandag weet ons baie meer hieromtrent en is die antwoord ’n luide NEE. Daar is geen klank in die drukgolwe wat in die lug voortgedra word nie. Daar kan net klank wees as die nodige “apparaat” om die klankgolwe as sodanig te registreer en te vertolk teenwoordig is: ’n oor, ’n brein en ’n bewussyn.

Die soliede wêreld van ons persepsies gee dus mee as ’n sintuiglike interpretasie van elektromagnetiese golwe wat ons nooit direk kan waarneem nie, en die wêreld wat ons breine met kleur, klank, vorm en dies meer toedig, het nie ’n objektiewe bestaan “daar buite” nie … “Daar buite” is eintlik net “hier binne” in ons eie skedels.

So, wat is materie?

............
So, wat is materie?
..............

’n Ding met massa en volume word rofweg as materie bestempel. Materie bestaan uit atome. Elke atoom het ’n kern, omring deur elektrone. As die kern van die gemiddelde atoom die grootte van ’n grondboontjie was, sou die hele atoom ongeveer die grootte van ’n rugbyveld wees. Hierdie ruimte is tjok-en-blok gevul met verspreide elektrone (’n elektronwolk) wat mekaar wegstoot en die krimp van atome onmoontlik maak. Die ganse mensdom kan saamgepers word tot die grootte van ’n soliede suikerblokkie en dit omdat atome uit 99,9999999999996% leë ruimte bestaan. Materie bestaan nie uit materie nie. Die heelal is ’n groot niks.

Energie is diskreet en nie ononderbroke nie. Neem ’n atoom. Die energievlakke waarbinne ’n elektron kan voorkom, is gekwantifiseer: Sekere wentelbane (kwantiteite van energie) word toegelaat en ander nie. Niks tussenin nie. ’n Elektron kan wel van een na ’n ander baan spring, maar sonder dat dit OOIT deur die tussenliggende ruimte beweeg. Dit is ’n kwantumsprong. Die een oomblik hier, die volgende oomblik daar.

Dieselfde geld vir die spin van fundamentele deeltjies met slegs twee moontlike oriëntasies: die sogenaamde OP en AF. Dit of dat en niks tussen-in nie. Twee baie prominente teorieë in fisika, superstringteorie en die minder bekende lus-kwantum-swaartekrag, dui beide sterk daarop dat selfs ruimte gekwantifiseer (gepieksileerd) is met ’n kleinste argitektuur, die piepklein Planck-lengte (1,61622837 × 10–35 m). Planck-tyd (5,39 × 10–44 s) is die tyd wat dit ’n foton met die spoed van lig neem om ’n Planck-lengte af te lê.

Selfs ’n liggolf bestaan ​​uit individuele fotone. Uit hierdie onverwagse ontdekking het die kwantumveldteorie ontstaan, waarin alle kragte gedra word deur klein deeltjies, of kwantas – alles behalwe swaartekrag. Alhoewel die ander kragte binne ’n ruimte- en tydarena werk, is swaartekrag ruimtetyd. En die kwantifisering van die een is gelykstaande aan die kwantifisering van die ander. Die diskreetheid van die natuur laat mens dink aan die stilbeelde van ’n film. Beweging is ’n illusie. Dit is ’n sterk argument ten gunste van ’n simulasiehipotese.

Verdere ondersteuning vir die werklikheid as ’n simulasie is die absolute eendersheid van fundamentele deeltjies. Elke elektron is identies aan elke ander elektron. Almal het dieselfde massa, elektriese lading en spin. Ander ononderskeibare subatomiese deeltjies sluit in fotone, neutrino’s, protone, neutrone … Inderdaad die meeste van hulle. In 1940 het fisikus John Wheeler aan die hand gedoen dat elektrone so absoluut identies is omdat alle elektrone eintlik dieselfde elektron is! Richard Feynman het hierdie interpretasie in 1949 vir die positron gebruik toe hy voorgestel het dat ’n positron daardie selfde elektron is wat agteruit in tyd beweeg. ’n Metafoor vir deeltjies kan wees die letters in die alfabet waarvan daar vir elk ’n ikoon in jou sagteware is en tog op jou rekenaarskerm in oneindige variasies van teks vertoon word.

Dan is daar die spookagtige aksie-op-’n-afstand. Die lokaliteitsbeginsel bepaal dat ’n voorwerp slegs direk deur sy onmiddellike omgewing geïmpakteer kan word. As dit nie iets direk soos ’n hou op die neus is nie, kan ’n aksie op een punt net ’n invloed elders uitoefen indien daar iets tussenliggend is – soos ’n veld – wat die aksie bemiddel, gedra deur iets soos ’n golf of ’n deeltjie. Spesiale relatiwiteit beperk die snelheid van alle beweging tot dié van lig. Dit neem tyd om deur die tussenliggende ruimte te beweeg en oombliklike aksie-en-reaksie sou dus in beginsel fisies onmoontlik wees.

Dit is egter eksperimenteel oor en oor bewys dat twee deeltjies, as hulle dieselfde oorsprong het, of eenmaal verstrengel was en daarna geskei is, sal optree asof hulle nog steeds een stelsel is. As jy die een hier kielie, sal die ander een ook oombliklik lag, selfs al is dit aan die ander kant van die heelal. Die fisiese afstand tussen die twee stelsels is irrelevant. Daar is geen tyd tussen aksie en reaksie nie. Dit herinner aan die data op jou hardeskyf. Dis net op jou rekenaarskerm waar hulle met afstand tussen hulle vertoon word ter wille van jou wat die inligting moet kan verstaan.

Volgende is daar die sogenaamde waarnemereffek. Die bekendste, belangrikste en mees bisarre eksperiment in fisika is ongetwyfeld die dubbelgleuf-eksperiment. Dit beliggaam kwantummeganika se kontra-intuïtiewe wêreldvreemdheid en is beide ’n eksistensiële vraag en uitroepteken. Die eksperiment sentreer rondom golwe en deeltjies – twee baie verskillende werklikhede. Deeltjies is solied en diskreet (soos ’n bal), terwyl golwe ononderbroke beweging in ’n medium is (soos rimpels op water). Deeltjies wat mekaar raakbeweeg, stamp mekaar weg, terwyl golwe met mekaar interfereer met helder stroke waar hulle in fase is en mekaar versterk, afgewissel deur donker stroke waar hulle uit fase is en mekaar uitkanselleer.

Elektrone is elementêre deeltjies en dus nie onderverdeelbaar nie. ’n Enkele elektron kan met relatiewe gemak geïsoleer en mee geëksperimenteer word. Een so ’n eksperiment is die dubbelgleuf-eksperiment. Die eksperiment lyk só:

Net een elektron word op ’n keer afgevuur na ’n versperring met twee gleuwe daarin. Die elektron registreer teen ’n fotosensitiewe skerm agter die skerm met die gleuwe. Nog een word afgevuur en dan weer en so aan en telkens registreer dit agter teen die skerm. Teen die tyd dat die elektrone op is, is die resultaat teen die agterskerm ’n interferensiepatroon. Sowaar. Waar kom die interferensiepatroon vandaan as daar net een soliede elektron op ’n keer afgevuur is? Elke elektron vertrek as ’n enkelelektron – ’n deeltjie – en arriveer as ’n deeltjie, maar skyn gelyktydig deur albei gleuwe te gegaan het, met homself te geïnterfereer het en uit te gewerk het presies waar om homself op die skerm te plaas om sy eie klein bydrae tot die algehele interferensiepatroon te maak.

Maak een gleuf toe en die deeltjies hoop reg agter die oop gleuf op, sonder die interferensiepatroon. Elke elektron “weet” op die een of ander manier of daar nog ’n gleuf oop is of nie. Dit klink soos ’n wonderwerk!

Hipersensitiewe instrumente het iets verrassends geopenbaar omtrent die interferensiepatroon van lig wat teen ’n skerm geregistreer word. Die golfagtige interferensiepatroon is nòg glad nòg ononderbroke. Die ligverklikkers by die agterste skerm registreer presies een eenheid lig op ’n slag – nooit minder nie, nooit meer nie. Die interferensiepatroon bestaan bloot uit ’n opbou, oor tyd, van die geakkumuleerde eenhede van ligenergie wat deur die ligopspoorders geregistreer is – net soos met elektrone. ’n Liggolf is opgemaak uit individuele eenhede van lig.

Om uit te vind wat by die gleuwe aangaan, word daar ’n elektronverklikker by beide van hulle geplaas. Telkens wanneer ’n elektron (of foton) deur ’n gleuf gaan, sal die verklikker dit registreer. Dit blyk dat die elektron altyd deur net een van die gleuwe gaan. Waar kom die interferensiepatroon dan vandaan?

Maar dis hier waar dinge werklik vreemd raak. Wat hierdie nuwe dubbelgleuf-eksperiment met sy verklikkers by die gleuwe registreer, is dit: Die interferensiepatroon het verdwyn. Spoorloos. Daar is nou net twee hopies elektrone in lyn met die gleuwe. Met verklikkers sien ons deeltjies. Daarsonder sien ons ’n interferensiepatroon. Hoekom? Dalk deflekteer elektronverklikkers by die gleuwe die trajek van die elektron of beïnvloed die eksperiment die resultaat op die een of ander wyse? ’n Reeks eksperimente om presies sulke hipoteses te toets is egter op elke denkbare wyse uitgevoer en dit skyn nie die geval te wees nie.

Na hierdie fenomeen word daar met sublieme selfbeheersing verwys as “die waarnemereffek”. Wanneer iets gemeet word, sal die blote daad van meting ’n effek daarop hê. Indien daarop aangedring word om te weet deur watter gleuf die deeltjie beweeg het, moet daar ’n deeltjie by een van die gleuwe verskyn sodat daar ’n antwoord op die vraag is. In die afwesigheid van ’n waarnemer bestaan daar net ’n golfpatroon. Dit is eksperimenteel bewys dat hierdie kwantumrealiteit ook geld vir die makroskopiese wêreld waarin ons leef.

Die sogenaamde uitgestelde keuse-eksperiment toon boonop dat ’n arbitrêre keuse wat geneem is ure, dae, maande, selfs jare nadat ’n eksperiment afgehandel is, die resultaat van daardie eksperiment kan verander. Deur die resultaat te verander, word bedoel dat daardie uitgestelde keuse die werklike plek waar die elektrone gaan tref, soos geregistreer deur die elektronverklikker by die agterste skerm (’n gebeurtenis wat veronderstel is om in die verlede te lê), iewers in die toekoms bepaal sal word.

Die fisikus Paul Davies stel dit so: “Die verlede kan gevorm word deur waarnemings wat ter enige oomblik in die kosmologiese toekoms gemaak word.” John Wheeler maak die verbysterende voorstel dat ’n heelal sonder waarnemers dalk nie kan bestaan nie. Is dit moontlik, vra hy, dat die heelal nie ’n tasbare bestaan gehad het totdat bewussyn op die toneel verskyn het nie? Beteken dit dat ons waarnemings ’n geskiedenis vir die heelal van voor ons verskyning skep?

Dit stop nie hier nie. Die holografiese beginsel is ’n eienskap van snaarteorieë en ’n veronderstelde eienskap van kwantumswaartekrag wat sê dat die beskrywing van ’n volume ruimte beskou kan word as gekodeer op ’n laer dimensionele grens daarvan. Dit lyk dus asof die inligtingsinhoud van ’n driedimensionele ruimte ’n eienskap is van sy tweedimensionele grens/oppervlak/membraan. Dit klink bedrieglik onskuldig. In alle ander beskrywings van die wêreld verdubbel die hoeveelheid inligting wat nodig is om die deeltjies binne ’n volume te beskryf as jy die volume verdubbel. Ons voel intuïtief dat inligting in verhouding tot volume behoort te vermeerder en nie, soos die holografiese beginsel suggereer, tot oppervlakarea nie. Die holografiese beginsel werp twyfel of die derde dimensie ooit werklik is en nie ’n blote illusie is nie, soos die driedimensionele beelde wat in ’n hologram geskep word.

Nog ’n soberende gedagte is die feit dat wetenskaplikes nie weet waaruit 95% van die heelal bestaan nie. Hierdie geheimsinnige stowwe wat donkerenergie en donkermaterie genoem word, beïnvloed en vorm die kosmos op ’n fundamentele wyse, maar wetenskaplikes probeer steeds om te verstaan wat dit is.

Ons neem slegs 0,0035% van die elektromagnetiese spektrum met ons oë waar. Hierdie 0,0035% staan ​​bekend as sigbare lig. Van die miljoene stukkies inligting waarmee ons sintuie gebombardeer word, verwerk ons bewussyne hoogstens 40 tot 50 bisse. Miljoene der miljoene bisse word saamgepers tot ’n bewuste ervaring wat feitlik geen inligting bevat nie. Die ontslae raak van miljoene stukkies inligting is nodig om die spesiale toestand, bewussyn, te bereik.

Miljoene bisse word tot ’n paar saamgepers sodat die paar as ’n kaart van die miljoene kan dien. Dit stel ons in staat om genoegsaam bewus te wees van wat om ons aangaan sonder dat ons aandag afgelei word deur wat onbelangrik is. Die korrekte lees van hierdie kaart word dan verder beïnvloed deur faktore soos intelligensie, geheue, subjektiwiteit en dies meer. Selfs die bietjie wat ons weet, is nie betroubaar nie.

Dit beteken dat die deel van die werklikheid wat ons nie waarneem nie, radikaal anders is as die deel van die wêreld wat ons wel waarneem. Die golwe van waarskynlikheid wat waarneming in een definitiewe werklikheid ineen laat stort, is nie golwe van materie nie, maar eerder statistiese voorspellings. Dit lyk of ons nooit in beginsel kan weet wat die werklike werklikheid is nie. Ons kan nie eens uitvind of ons in ’n simulasie woon of self gesimuleer is nie. En volgens relatiwiteit kan ons nie eens van “ons” werklikheid praat nie, net van my en van jou relatiewe werklikhede.

Die implikasies is duidelik:

  • Spangenberg is verkeerd en Nobelpryswenners soos Eugene Wigner, Erwin Schrödinger, Albert Einstein, Max Planck en Niels Bohr was reg: Bewussyn, nie materie nie, is die fundamentele werklikheid. Soos John Wheeler dit gestel het: Geen fenomeen is ’n werklike fenomeen totdat dit waargeneem is nie. Daar bestaan inderdaad ’n realm wat byna die ganse werklikheid beslaan wat onsigbaar en ontoeganklik is vir die mens.
  • As ’n mens aan Spangenberg of aan David Hume sou vertel dat Schrödinger se kat gelyktydig lewendig en dood is (totdat iemand kyk wat die geval is), sal hulle jou uitlag en sê dis onmoontlik, want so iets is nog nooit waargeneem nie. Die ou paradigmakennis waarmee hulle werk is natuurlik vir so ’n onwetenskaplike stelling te blameer. Wonderwerke verbreek nie natuurwette nie; dit spreek bloot van ons onkunde en die beperkings van ons sintuiglike waarneming.
  • As ons nie eens kan weet of ons ’n simulasie bewoon nie, hoe kan ons enige uitlatings maak oor wat moontlik is en nie? In ’n simulasie kan die simuleerder wat die rol van skepper vervul, die wol so oor ons oë trek dat ons niks anders as ’n wollerige wêreldbeskouing sal hê nie.
  • Gegewe hoe min ons weet, is dit arrogansie van die hoogste orde om die nie-bestaan van ’n skepper of ’n geestesrealm met soveel selfversekering aan te kondig en dit waarheid te noem.

Die oerknal

Volgens David Hume berus waarskynlikheid op wat die meerderheidstem van ons vorige ervarings genoem kan word. Hume stel dit dat daar “eenvormige ervaring” teen wonderwerke is; anders, sê hy, sou dit nie ’n wonderwerk wees nie. Dat wonderwerke nie kan plaasvind nie omdat hulle nie plaasvind nie, is natuurlik ’n klassieke sirkelargument, maar kom ons laat dit daar. Die punt is dat wonderwerke die mees onwaarskynlike van alle gebeure is. Hulle is soos die oerknal. Die oerknal was ’n baie, baie onwaarskynlike knal en sonder enige voorganger en tog glo die meeste wetenskaplikes dat dit plaasgevind het. Volgens Hume se definisie glo hulle dus wel in wonderwerke.

Spangenberg glo beslis in die oerknal, maar hy skryf dat daar geen bewys is dat ’n drie-enige God die skoot afgevuur het nie. Hy gee toe dat daar steeds wetenskaplikes is wat in die drie-eenheid glo en aanvaar dat Hy vir die natuurwette verantwoordelik is, maar skets hulle dan met een haal van sy breë verfkwas as goedgelowiges wat dit sonder enige bewys glo.

...............
Spangenberg glo beslis in die oerknal, maar hy skryf dat daar geen bewys is dat ’n drie-enige God die skoot afgevuur het nie. Hy gee toe dat daar steeds wetenskaplikes is wat in die drie-eenheid glo en aanvaar dat Hy vir die natuurwette verantwoordelik is, maar skets hulle dan met een haal van sy breë verfkwas as goedgelowiges wat dit sonder enige bewys glo.
.................

Filosofies beskou, is afwesigheid van bewys natuurlik nie dieselfde as bewys van afwesigheid nie. God kan gewoon kies om heeltemal onsigbaar te bly en geen “vingerafdrukke” te laat op die heelal wat hy geskep het nie. Gestel die heelal is ’n rekenaarsimulasie met die programmeerder in die rol van God, is dit heeltemal moontlik dat dit deel van die sukses van die simulasie is dat die wesens wat dit bewoon, ten alle koste daarvan weerhou moet word om bewys van hul maker te kan vind.

In Cosmic jackpot skryf Paul Davies egter dat daar wel “vingerafdrukke” bestaan in die vorm van onwaarskynlike kosmologiese toevallighede van enorme omvang wat noodsaaklik blyk te wees vir die bestaan van koolstofgebaseerde waarnemers soos ons in die heelal. Hierdie gelukkige toevallighede sluit ’n ellelange lys van meer as 200 fundamentele konstantes/parameters in wat nie net individueel nie, maar ook onderling verbysterend fyn gestel is. Ons vind hulle in die natuurwette, soos uitgedruk in wiskundige vergelykings. Hulle sluit onder meer die snelheid van lig (c), Newton se gravitasiekonstante (G) en Planck se konstante (h) in.

Hierdie parameters blyk almal versigtig gekies te wees, en met groot akkuraatheid, om voorsiening te maak vir die bestaan ​​van lewe en bewussyn. Daar is geen noodsaak vir die spoed van lig of enige van al die ander konstantes (of natuurkragte) om die waardes te hê wat hulle het nie. Hierdie waardes kan nie wiskundig afgelei word nie – hulle word net eksperimenteel waargeneem om te wees wat hulle is. Hulle is soort van met die hand ingeskryf en verskaf die vuur in die vergelykings van fisika waarsonder die vergelykings net dooie wiskunde sou wees wat niks werklik beskryf nie. En gelukkig vir ons het hierdie konstantes die waardes wat hulle het, want kyk, hier is ons.

Daar is vele ander “gelukkighede” soos die aarde se afstand van die son, sy sirkelvormige wentelbaan, sy aksiale hoek, die massa van die maan en sy afstand van die aarde en baie, baie ander kosmologiese gegewens wat vir ons lewensbelangrike voordele inhou, maar wat ons as vanselfsprekend aanvaar; dinge soos lae bestraling, ’n stabiele klimaat, diverse ekosisteme, seisoene, vloeibare water, en en en …

Sir Roger Penrose het die kans op ’n lewevriendelike heelal soos ons s’n op een in 101023 bereken, ’n getal met meer nulle as die aantal fundamentele deeltjies in die waarneembare heelal. Soveel geluk soebat om ’n verduideliking.

............
Sir Roger Penrose het die kans op ’n lewevriendelike heelal soos ons s’n op een in 101023 bereken, ’n getal met meer nulle as die aantal fundamentele deeltjies in die waarneembare heelal. Soveel geluk soebat om ’n verduideliking.
................

Vandag se wetenskap is ongelooflik goed met die ontrafeling van hoe die dele werk. Wat ons ontwyk, is die groot prentjie. Ons wetenskap kan nie verduidelik wat die aard van hierdie ding is wat ons die werklikheid – die heelal as geheel – noem nie of hoe ’n “niks” die natuurwette kon voortbring nie.

Wat ons onteenseglik weet, is dat dit die biologiese skepsel is wat die waarnemings maak en die teorieë daaromtrent formuleer. Binne Newton se paradigma is dit aanvaar dat hierdie skepsel die uiterlike, voorafbestaande werklikheid bloot waarneem en min of geen rol speel in die resultate van die waarnemings nie. ’n Deel van die paradigmaverskuiwing wat kwantummeganika genoodsaak het, was dat die rol van die waarnemer egter van kritiese belang is.

Die meeste mense, binne en buite die wetenskappe, glo dat die eksterne wêreld onafhanklik bestaan, met ’n voorkoms min of meer soortgelyk aan wat ons waarneem. Volgens hierdie siening is oë bloot helder vensters wat die wêreld akkuraat inlaat. Sodra ’n mens egter snap ​​dat daar geen onafhanklike eksterne heelal buite die biologiese bestaan ​​is nie, val die res min of meer in plek. Waar is die heelal dus geleë? Net in die bewussyn. Dit is nie “daar buite” nie, maar “hier binne”.

Biologie het begin opvang met fisika in die soeke na ’n “teorie van alles” en nie met denkbeeldige snare wat ewe denkbeeldige onsigbare dimensies beslaan nie, maar met ’n baie eenvoudiger idee dat lewe die materiële werklikheid skep en nie andersom nie. In sy invloedryke boek The grand biocentric universe verduidelik die stamselguru Robert Lanza (een van Time Magazine se “100 mees invloedryke mense”) waarom lewe nie net die heelal skep nie, maar ook die raamwerk van tyd en ruimte waarop dit geweef is. As lewe die heelal geskep het, sal dit uiteraard lewevriendelik wees en is die bestaan van al die gelukkige toevallighede ’n gegewe en nie langer ’n raaisel nie.

Wetende wat kwantummeganika impliseer, kon die skepping van die kosmos en die skepping van lewe een en dieselfde gebeurtenis gewees het – dieselfde “wonderwerk” – en was John Wheeler reg dat die kosmos moes wag vir die verskyning van bewussyn voordat hy syne kon maak.

Maar wat is lewe en waar kom dit vandaan? Toe Charles Darwin On the origin of species gepubliseer het, het hy dit bewustelik vermy om die oorsprong van lewe te bespreek. Louis Pasteur, die vader van mikrobiologie, het hom egter daaroor uitgelaat en sy wetenskaplike eksperimente opgesom in die frase “Omne vivum ex vivo”, wat beteken “lewe [is] uit lewe”. Die enigste lewe wat ons ooit waargeneem het, kom van lewe deur seldeling wat, soos ons gesien het, teruggespeur kan word tot ’n laaste universele gemeenskaplike voorouer. Het daardie lewe sy eie lewe van die lewende God ontvang? In Genesis 2:7–9 staan daar: “En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword.”

 

Opsomming

Spangenberg haal Nigel Lewis aan: “Once we recognise religion is humanly created, it is but a small step to admit that God too might be an invention of the human imagination”, en hy maak die stelling dat “een van die redes waarom godsdienstige fundamentaliste ontstaan, is omdat die aanhangers van die betrokke godsdiens nie tred hou met [...] die kennis wat oor jare verkry is nie.”

Lees ’n mens Spangenberg se boek, is dit egter duidelik dat hyself nie tred gehou het met die wetenskap nie en dat hy die christelike godsdiens met stokke en klippe beveg – met die onvolledige klassieke Darwinisme en Newtoniaanse materialisme. Hy maak homself skuldig aan die fundamentalisme waarvan hy sommige christene beskuldig deur vas te kleef aan die soort geloofsoortuigings wat die integriteit van die akademiese gemeenskap geen guns bewys nie. ’n Verantwoordelike akademikus is veronderstel om irrasionele impulse te kan beheer, maar Spangenberg misluk daarin om nie aan sy diepgesetelde afkeer aan die christelike geloof vrye teuels te gee nie in ’n boek wat deurspek is van vreeslike slegte argumente.

Van alles wat deur die mees onlangse wetenskap blootgelê is, moet die mees belangrike stukkie kennis wees dat ons min of meer niks weet van wat te wete is nie. Ons het steeds geen benul wat die dinge naaste aan ons is nie: lewe en bewussyn. Van alle geloofsoortuigings moet dié van ateïste intellektueel die bankrotste wees. Die oortuiging dat God, ’n onsigbare realm of wonderwerke beslis nie kan bestaan nie, verg geloof van ’n omvang wat selfs die mees fundamentalistiese christen sal beskaam.

Soos Spangenberg jou self sal vertel: ’n Mens kan nie met ’n fundamentalis stry nie, want hy het reeds by sy finale antwoorde gearriveer; sy waarheid het “gestol”. ’n Mens het eenvoudig nie genoeg vetkryt vir so ’n onbegonne taak nie en ek gaan myne nou neerlê.

Vir Koos Kombuis wil ek aanmoedig om die liggies van sy goeie oordeel en instink aan te hou en nie toe te laat dat iemand soos ’n dief in sy siel inbreek en hom van sy gesonde verstand beroof nie.

Lees ook:

As alles niks word: ’n lesersindruk van Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid deur Sakkie Spangenberg

 

The post In reaksie op Koos Kombuis se lesersindruk van Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid deur Sakkie Spangenberg first appeared on LitNet.

The post In reaksie op Koos Kombuis se lesersindruk van <em>Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid</em> deur Sakkie Spangenberg appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21695

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>