Die gehalte van Suid-Afrikaanse, en veral Afrikaanse, films is verbysterend. Ons het van die beste akteurs, kameramanne, produksiespanne, skrywers, regisseurs en stileerders. Nog belangriker, ons het die stories. Soos met Modder en bloed neem Skollie een van ons inheemse stories en omskep dit in ’n meesleurende film. Die storie gee mens insig in die ontstaan van bendes, in die bekoring van behoort aan iets. Tien uit tien daarvoor.
Ongelukkig is die film omtrent ’n uur te lank. Als wat goed is aan Skollie – wêreldklas kinematografie, goeie spel deurgaans ’n ouwêreldse styl van regie, die pragtige Kaaps wat gepraat word, perfekte stilering – word gekniehalter as mens sit en wens die film wil nou klaarmaak.
Ek het al baie lang films gesien in my lewe. As dit jou vasvang, vlieg die drie ure verby sonder dat jy dit agterkom. Skollie het my aanvanklik vasgevang, maar toe uitgeput. Behalwe dat die film drie ure lank is, is dit die heeltyd in jou gesig. Daar is nie ruspouses nie. Jy word ingegooi en drie ure later uitgetrek.
Die film sou baie geslaagd gewees het as ’n 6-episode-minireeks op kykNET. Ek bedoel dit nie as ’n belediging nie. Debuutregisseur Daryne Joshua is ’n storieverteller van formaat. Hy het duidelik ’n oog vir besonderhede, en kan goeie vertolkings uit sy akteurs kry. As hy ses ure het, opgedeel in episodes, sal dit sorg vir plaaslike TV wat kan meeding met van die ongelooflike reekse wat nou oorsee gemaak word.
Ten slotte is Noem my Skollie ongelooflik goeie vermaak wat ’n paar moeilike onderwerpe – manlike verkragting, bendes, die siklus van geweld – toeganklik maak vir die algemene publiek.
The post Noem my Skollie vertel een van ons stories appeared first on LitNet.