Verlede week is die regsbiblioteek van die Universiteit van KwaZulu-Natal deur protesterende studente afgebrand.
Vir heelparty kommentators was dit die laaste strooi. Baie wat voorheen nog simpatie met die studente gehad het, het nou kritiek begin uitspreek.
Die reaksie was vir my interessant. Dis asof die uitbrand van boeke tot groter ontsteltenis gelei het as enige van die ander protesaksies oor die afgelope jaar of so. Of meer as ander gruwels waardeur ons land getref word – soos kindermishandeling, geweld teen vroue, armoede wat daartoe lei dat mense in haglike omstandighede ’n bestaan moet probeer maak, sterftes aan voorkombare siektes, erge korrupsie, ens.
Om eiendom deur vuur te vernietig was tog van die begin af deel van die protesaksies. Onthou die beeldmateriaal van die studente wat Rhodes se standbeeld afbreek, en die enkele student wat besig is om ’n vuurtjie aan die gang te hou by die voet van die standbeeld?
Tydens die #FeesMustFall-optog na die Uniegebou in 2015 is verskeie brande gestig. In die tydperk onmiddellik daarna het heelparty universiteitskampusse onder vuur deurgeloop. By UCT is portrette verbrand. Die visekanselier se kantoor is met ’n petrolbom bestook. By Stellenbosch is ’n gedeelte van die administrasiegebou aan die brand gesteek. By die Mafikeng-kampus van NWU is twee geboue verbrand, en die kampus gesluit as gevolg van die gewelddadige protes. By Fort Hare het studente twee ingange na die kampus aan die brand gesteek. By UWK is twee geboue, waaronder ’n residensiële gebou, deur brande vernietig. Ook TUT en CPUT het deurgeloop onder brande wat tot aansienlike skade gelei het.
Daar was nog altyd brande gestig. Dit was tog net ’n kwessie van tyd voordat iemand ’n biblioteek aan die brand sou steek.
By ander kampusse was daar ook skade aangerig, alhoewel dit nie deur brande gebeur het nie.
Dis nie net universiteitsgeboue wat deurgeloop het nie. In Limpopo is meer as 20 skole deur brande vernietig en ’n aantal ander moes sluit nadat vandale verwoesting gesaai het.
Ook die vernietiging van skole is nie nuut nie. Ook tydens die 1976- en 1985-proteste is daar gereeld skade deur brande en ander metodes aan skole aangerig.
Dis ook nie uniek aan Suid-Afrika nie. Tussen Junie en Augustus hierdie jaar is na raming 120 skole in Kenia afgebrand in protes teen skoolhervorming.
In 2013 is die historiese Ahmed Babu Instituut in Timboektoe deur rebelle afgebrand. Hierdie biblioteek was die tuiste van ongeveer 20 000 manuskripte wat dateer uit so ver terug as die 13de eeu, en was die vernaamste rekord van Afrika se ontwikkeling oor daardie tydperk. Die regering van Mali het die verwoesting van daardie biblioteek toe probeer gebruik as regverdiging om die rebelle te jag en dood te maak.
Ek onthou nie dat die Afrikaanse media hulle veel hieraan gesteur het nie. ’n Soortgelyke brand in Europa sou vir dae die voorblaaie van die koerante gehaal het.
Om opvoedingsinstansies en die metodes van rekordhouding aan te val is ’n voorkeurmetode om uit te lok, en skynbaar ook hoogs suksesvol. Ten minste was daar geen lewensverlies nie, anders as die 2001-brande by koshuise in Kenia en Nigerië, waar honderde skoliere hulle lewens verloor het.
Ons het ook nog nie gesien dat die vlag verbrand word nie, ’n ander gewilde vorm van provokerende protes.
Die narratief en spekulasie oor die redes hoekom ’n biblioteek afgebrand word, wissel tussen die twee uiterstes van óf ’n sinlose reaksie van ’n onnadenkende massa aan die een kant, óf die revolusionêre dekolonialisering van gewraakte koloniale instellings aan die ander kant.
Hoekom, inderdaad, sou enigeen hul beste kans om aan armoede te ontkom, deur opvoeding, in gevaar stel of vernietig?
Ek vermoed dis ’n oorvereenvoudiging van ’n komplekse probleem om die geweld wat op kampusse afspeel, af te maak as bloot ’n funksie van “mob mentality”. Die oorgrote meerderheid van protesterende studente sou nie die vernietiging van eiendom goedkeur nie. Die meeste studente wil eintlik maar net hulle studies voltooi en met hul lewens aangaan. Om dit te doen, het hulle toegang tot boeke en rekenaars nodig, en hulle het nodig om iewers te slaap.
Dis egter nie die agenda van die radikale minderheid nie. Ek meen dit is nie per toeval dat biblioteke, administrasiegeboue, koshuise en rekenaarsentrums geteiken is nie. Alreeds ooreiste bronne word doelbewus nog verder onder druk geplaas.
Ek twyfel ook of dekolonialisering as ’n projek daai minderheid regtig interesseer. Destabilisasie op sigself, as ’n doel en nie net as ’n middel tot ’n doel nie, is ’n groter waarskynlikheid.
Ons probleem, in ’n neutedop, is die volgende: ons het jongmense grootgemaak met ’n ongelooflike “sense of entitlement”. Hulle verwag om met ’n graadsertifikaat waarop die ink nog nie eers droog is, in ’n topposisie aangestel te word teen die hoogste moontlike vergoeding. Hulle verwag om die nuutste, duurste en beste van alles te besit, en om onbeperkte krediet te verkry wanneer hulle hulle vingers klap. Die realiteit is dat daar nie genoeg werk is vir die gegradueerdes nie, en dat hulle beter af sou wees om ’n ambag aan te leer, want dis waaraan ons land ’n tekort het. Ons jongmense is egter geleer dat dit ’n skande is om met jou hande te werk.
Verwagtinge sal dan noodwendig teleurgestel word, maar die oorgrote meerderheid studente glo nog steeds dat hulle spesiaal is en dat hulle nie deel van die statistieke sal word nie. Dus, vir die siniese, alreeds ontnugterde minderheid word die projek om vervreemding te bring tussen die hoopvolle student en ’n simpatieke publiek. Hoe minder simpatie studente ontvang, hoe meer ontvanklik is hulle om geradikaliseer te word.
Dit gebeur alreeds. Die een of twee studente (of dalk is hulle nie eers studente nie -niemand verwag van die protesteerders om studentekaarte te wys nie, of hoe?) wat bereid is om ’n brand te begin, word in die publieke oog deel van die massa, en almal word oor dieselfde kam geskeer. Met elke inflammatoriese opmerking in sosiale media, of hoofstroommedia, word die vervreemding groter. Terselfdertyd kry die radikale minderheid simpatie van hulle minder radikale medestudente.
Het ons nie ’n plig om dieper te kyk en die moeiliker vrae te vra, in stede daarvan om die kneejerk-reaksie waarop die radikale minderheid staatmaak, te toon nie?
Wat is die moeiliker vrae?
Dis vrae soos hierdie: Watter toekoms is daar vir ons jongmense? Die ekonomie is in ’n benarde posisie, en die President en sy lojale gevolg is skynbaar vasbeslote om dit oor die afgrond te stoot. Daar is dreigende watertekorte, hongersnode, geen werksgeleenthede nie, krimpende internasionale geleenthede as gevolg van die migrasiekrisis, disfunksionele semistaatsinstellings, en meer. Daar is rassespanning tussen groepe wat teen hierdie tyd eintlik al moes leer saamwerk en saamleef het. Watse hoop is daar? Hoe verander ons die ek-mentaliteit van soveel jongmense in ’n medemenslikheid wat ander in ag neem?
Solank as wat daar nie vir ons jongmense hoop is nie, sal hulle geradikaliseer word. Dis ons plig om seker te maak dat die hoopvolles nie ook tot radikaalheid forseer word nie. Om dit te doen, kos egter van ons almal, hoe moeilik dit ook al mag wees, om met die radikale minderheid in gesprek te tree.
Deur te luister kan al twee kante dalk iets leer. Die alternatief is ondenkbaar.
The post Biblioteke en skole afbrand: dom verset, of slim manipulasie? appeared first on LitNet.