Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Sexting: Wat jy moet weet

$
0
0
  • Melissa Meyer is 'n voltydse PhD-student en deeltydse navorsingsassistent by die Centre of Criminology by die Universiteit Kaapstad. Lees haar inskrywing vir LitNet Akademies se Einstein-kompetisie onder haar essay.

Prent verskaf

#MargaretVanWyk. Die hutsmerk het van nêrens af gekom. Binne ure was dit ‘n nuwe tendens op sosiale netwerke. Ingekleur met internetmemes, tong-in-die-kies-kommentaar, en dan die veelbesproke skermgreep van die foto. ‘n Foto wat vir haar man bedoel was, is per ongeluk op die WhatsApp-groep van die skool se hokkie-ouers geplaas.

Oornag het dit ‘n sensitiewe, maar vurige debat begin. Natuurlik wil ieder en elk nou ook hul 10 sent ingooi oor die stoute foto’s en boodskappe deur middel van selfone. Baie beweer dit was ‘n onskuldige glips en dat die vrou gesalueer moet word omdat sy haar huweliksvlam hoog laat brand, terwyl ander ‘n meer veroordelende “wil mos stoute foto’s stuur”-benadering verkies en dit as voorbeeld voorhou as die rede waarom daar nie plek is vir sulke gedrag in ‘n ordentlike samelewing nie.

Om seksueel en/of romanties te verkeer oor ‘n tegnologiese toestel, of “sexting” soos dit meer bekend staan, is ‘n onderwerp wat my aangegryp het, toe ek die eerste keer gelees het hoe negatief die pers daaroor verslag lewer – veral as dit kom by tieners. My vermoede dat die dekking van die onderwerp nie akkuraat kan wees nie, is bevestig met die prominente Australiese kriminoloog Murray Lee se werk. Sy navorsing het bevind dat die reaksie en navorsing oor sexting grootliks onakkuraat of eensydig is, en dat ons nog baie onkundig oor die onderwerp is.

Hier het my navorsing begin. Ek het met meer as 400 studente by die Universiteit Kaapstad, oor aanlyn vraelyste en tydens onderhoude met groepe, begin kyk na die persepsies en ervaring van sexting tussen jongmense, oftewel “millenniale”. Dis die generasie tussen 16 en 31 jaar oud, en die eerste digitale inboorlinge. Hulle is die eerste generasie wat grootgeword het met sogenaamde moderne tegnologie. Hulle het leer tik in omtrent dieselfde tyd as wat hulle leer skryf het. Hulle verstaan rekenaars, slimfone en nuwe tegnologie op ‘n manier wat geen voorgangers kan nie.

Dis egter veel meer as net tegnologiese geletterdheid.

Millenniale is kuborge (“cyborgs”), bioniese wesens wat organies sowel as tegnologies bestaan. Deel van hul basiese daaglikse aktiwiteite – hetsy sosiaal, werk, skool of vermaak – vind aanlyn plaas. Hulle sien nie tegnologie as toestelle wat apart van hulle is nie, maar as ‘n platform waardeur hulle hulself uitleef.

Dit is belangrik om dit te verstaan voordat ons begin praat oor sexting, want dit maak die volgende stelling makliker om te verstaan: Sexting is doodnormaal.

Sexting is oeroue gedrag wat net ‘n nuwe platform gekry het. Dis dit. Soos jongmense hulle aanlyn uitleef in elke faset van hul lewens, maak hulle ook so wat romanse en seks betref. Meer as die helfte van die universiteitstudente het al “sexts” gestuur en het selfs naakfoto’s of halfnaak foto’s aan hul maat gestuur. Baie sien dit as “normaal en selfs gesond” in hul verhouding.

Ouer generasies word egter nie so maklik oortuig nie. Baie sien sexting as die morele verval van die jeug en beskou dit as skandelik en sedeloos. Dis juis die tipe houding wat volgens my navorsing meer skade doen as enigiets anders.

Sexting is hier om te bly, en niks gaan dit verander nie. Alhoewel die meeste sexters dit in ‘n verhouding doen, is dit ook baie populêr onder hoërskoolkinders wat nog as maagde geklassifiseer kan word. Dit gee hulle die geleentheid om te flankeer en belangstelling te wys, romanse te ontwikkel, en hul eie seksualiteit en geslagsidentiteit te ontdek en te ontwikkel op ‘n platform wat veiliger is as wat tieners tot dusver verkies het.

Sexting is nie net seks-oor-’n-foon nie, maar veel meer. Dis romanse, opwinding, konneksie, intimiteit en kreatiwiteit op ‘n platform wat albei deelnemers ewe veel mag gee om die dialoog te lei en/of stop te sit as dit ongemaklik raak. Die deelnemers kan ook besluit hoeveel van hul ware identiteit hulle wil deel, en kan selfs anoniem bly. Die interaksie is grootliks ‘n rolspel-dialoog, maar kan ook stemopnames, foto’s en video’s insluit.

Millenniale word juis beskou as die generasie met goeie morele waardes, wat beteken dat hulle minder rook, drink en rondslaap as vorige generasies. Fisieke seksuele bedrywighede het gedaal, alhoewel die syfers van sexting gestyg het. Baie jongmense, veral vroue, verkies om oor ‘n foon met ‘n potensiële of nuwe maat intiem te raak, omdat daar minder risiko’s soos swangerskappe, STD’s (seksueel oordraagbare siektes), geweld en ongewenste druk is. Maats kan mekaar so leer ken op ’n vlak wat steeds romanties en intiem voel, totdat albei gemaklik genoeg is om mekaar fisiek aan te raak. Navorsing bevind dat sexting meer algemeen is aan die begin van verhoudings of oor langafstand-verhoudings.

Hiermee sê ek nie sexting is sonder risiko’s nie. Millenniale is baie bewus hiervan. Die grootste hiervan is die risiko dat persoonlike inligting gedeel word sonder die toestemming van die persoon wat die boodskap oorspronklik gestuur het. Wat baie min mense besef, is dat die gedrag onwettig is, of dit nou ‘n skermgreep is, en of jy ‘n foto wat aan jou gestuur is, vir ‘n vriend of vriendin aanstuur. Dit word beskou as ‘n daad wat doelbewus daarop gerig is om ‘n persoon te verneder, sy/haar karakter te skend, hom/haar te mishandel, af te kraak, te boelie en selfs af te pers. Sulke voorvalle is nie baie algemeen nie, maar moet in ‘n baie ernstige lig gesien word.

Ongelukkig, weens die taboe oor sexting, word baie jongmense nie ingelig oor hul regte aanlyn nie, en weet hulle nie dat as hul eks hulle dreig met ‘n persoonlike foto, of dit aanlyn sit om wraak te neem, dan beskerm die wet die slagoffer en kan hulle vra vir hulp nie. Sulke omstandighede kan geweldig skadelik wees, en het al gelei tot mishandeling, depressie en selfs selfdood.

Navorsing en tyd het al bewys dat onthouding in seksuele opvoeding nie werk nie. Dieselfde geld vir sexting. Solank as wat ouers en onderwysers aanhou om te maak asof dit nie bestaan nie, of net meen “kinders moet dit nie doen nie”, gaan oningeligte, onvoorbereide jongmense wat nie bewus is van die gevolge van sexting nie, in die duister self hul voete probeer vind.

Dit is dus van kardinale belang dat ons begin praat oor die realiteit van sexting. Jongmense moet weet wat die moets en moenies van aanlyn verhoudings en romanses is, hoe om ‘n vals profiel te identifiseer, wanneer om daarvoor te vra – en die belangrikste van alles: dat hulle mág vra.

Hier volg ‘n paar riglyne oor sexting waarby oud en jonk sal kan baat vind:

  •  Toestemming – stem albei partye 100% in? Onthou, soos John Oliver gesê het: “Seks is soos ‘n boksgeveg; as een van die twee nie ingestem het nie, is die ander een besig om ‘n misdaad te pleeg.”
  • GEEN naak- of halfnaakfoto’s vir ‘n persoon met wie jy nie in ‘n vaste verhouding is nie.
  • GEEN foto’s van jou privaatdele uit die bloute nie!
  • Wees bewus van die feit dat om ‘n persoonlike foto van iemand anders vir iemand te stuur of te wys, onwettig is!
  • Net soos in die geval van seks, weet dat jy enige tyd “nee” kan sê, en om altyd ‘n “nee” te respekteer.
  • Waar moontlik, moenie jou gesig of enige ander identifiseerbare trekke in stoute foto’s wys nie.
  • Weet dat die foto’s op jou foon en dié wat jy stuur, deur toepassings (apps) en webwerwe toeganklik is. Dis nooit regtig privaat nie.
  • ‘n Mens gee maklik toestemming as jy ‘n nuwe app aflaai, of mis dit in webwerwe se bepalings en voorwaardes.
  • Vra vir hulp as jy ooit bedreig, geteister of afgepers voel.
  •  Indien jy twyfel, VRA. Vra ‘n ouer, vra ‘n onderwyser, vra selfs op ‘n anonieme webwerf aanlyn, maar moenie stil bly nie. Die doel daarvan om te vra, is sodat jy weet jy het 'n stem. Voel gemaklik genoeg om te kan sê: "Hierdie het gebeur, en ek voel nie veilig/gemaklik nie." Aan die volwassenes: respekteer die moontlikheid dat die jong mens nog nie die emosionele volwassenheid bereik het om so iets te hanteer nie, en dis waar 'n ouer of onderwyser moet kan intree en die tiener help. Of dit behels die afperser bel en hom/haar laat verstaan die gedrag is onaanvaarbaar, of om met die betrokke partye te praat, of self om te help 'n saak oopmaak en berading kry - wat ook al die geval benodig. 
  • Indien jy vir ‘n persoon wat jy nie goed ken nie, sexts stuur sonder die begeerte om ‘n verhouding aan te knoop, moet nooit jou regte naam, werk, skool, adres of enige persoonlike inligting verskaf nie. Verkieslik ook nie jou nommer of sosiale-media-besonderhede nie. 
  • Ja, dis ontrouheid om sexts te stuur terwyl jy in ‘n vaste verhouding met ‘n ander persoon is – dit beteken jy verkul jou maat.
  • Goue reël: Spreek vroegtydig af dat jy en jou maat die gesprekke en private mediaboodskappe na die tyd sal verwyder van julle selfone af. Indien jou maat nie instem tot so ‘n ooreenkoms nie, kan hy/sy nie vertrou word nie en moet julle die sexting en/of verhouding beëindig. Albei partye word op dié manier beskerm.

Ek verstaan dat dit ‘n baie moeilike onderwerp is vir ouers wat nie oor hul kinders as seksuele wesens kan dink nie, en ek het baie begrip daarvoor. Maar deur stilswye, omdat ons ongemaklik is om hieroor te praat, kan onherroeplike skade aangerig word. Lewens kan selfs verwoes word, onder ons neuse. Kom ons beweeg dus weg van die slagoffer-blamering-benadering. Haal die taboe van sexting af, en erken dat sexting hier is om te bly en niks gaan dit verander nie. Dis in ons hande om die jong klomp te beskerm, in te lig, en voor te berei vir hulle lewe as kuborge.


melissa_300Naam: Melissa Meyer

Departement: Kriminologie

Kompetisie-inskrywing (navorsingstema):
Mense het 'n probleem daarmee dat dit nie 'n probleem is dat so baie jongmense “sext” nie – en dis 'n probleem!

Studievlak: Doktorsgraadstudent

Universiteit: Universiteit Kaapstad

 

Lees nog kompetisie-inskrywings hier. einsteinlogo200

• Die Einstein-kompetisie is ’n nuwe kompetisie – die eerste in sy soort in Suid-Afrika – wat jong navorsers by universiteite uitdaag om hulle eie navorsing in 130 karakters of minder op te som. Kontantpryse ter waarde van R17 000 is op die spel! 

Klik hier vir kompetisie-besonderhede.

The post Sexting: Wat jy moet weet appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>