Die enorme dennebome in Tokai se bos word tans afgekap. Daar is drie redes voor:
1. Die bome is destyds in kommersiële plantasies geplant en moet nou geoes word.
2. Die bome verdring die fynbos.
3. Uitheemse plantasies gebruik geweldig baie water.
Al drie redes maak sin. Tog is talle mense nie opgewonde daaroor dat al die bome afgekap word nie.
LitNet het my gevra om, dalk vir oulaas, ’n bietjie met my kaal voete deur die bos te gaan draf. Toe ek daar opdaag, het wagte my egter verhinder om verder as die Tokai Herehuis te gaan. Op talle ander plekke is rooi lint gespan en gevaartekens opgesit. Die aanvanklike plan van ’n rustige draffie was daarmee heen.
In plaas daarvan het ons as gesin in Silwermyn gaan stap – daar waar die fynbos nou weer geil groei ná ’n verwoestende brand so ’n jaar en ’n half gelede.
Die kamera is saam.
Om in die fynbos foto’s te neem is ’n enorme voorreg. Hier is kleur, en tekstuur. Onder die dennebome is dit dood, want dennebome maak die grond suur. Niks groei daaronder nie.
Ná ons rustige wandeling in die pragtige fynbos het ek my twee kinders gevra om saam te gaan Tokai toe; ek wou deur hulle oë die kontras sien.
Op dié stadium, en deels danksy die kinders, het die groot voordeel van die denne egter duidelik geword. Ek was aan die gesels met van die inwoners wat protesteer teen die verwydering van die dennebome. Terwyl ek met die grootmense gesels het, kon die twee kinders ver loop in die skadu van die denne. Ek kon hulle die hele tyd dophou.
Die inwoners wat deel was van die protesaksie wou aanvanklik nie met my op kamera praat nie, maar hulle het vir Nicky Schmidt gebel, wat ingestem het om op kamera te verskyn.
Schmidt, die voorsitter van Parkscape, stel dit duidelik dat hulle bereid is om hof toe te gaan om dele van die plantasie te behou. Waarom?
1. Veiligheid. Juis omdat daar geen ander plante onder die dennebome groei nie, is dit veel veiliger om daar te stap en te draf.
2. Billikheid. Parkscape beskuldig Sanparks daarvan dat hulle ’n onderneming verbreek het om wel aan Tokai se inwoners ruimtes te bied waar hulle kan draf, fietsry en perdry. Volgens Schmidt is dit wat tans aan die gang is, ’n verbreking van daardie ooreenkoms.
Dus?
Ek sou hoop die video vang iets van die dilemma vas. Daar is geen twyfel nie dat dennebome, hoe wonderskoon hulle ook al is, nooit die prag van ons fynbos sal kan vervang nie. Tog: ons woon in ’n stad en daardie bome het vir baie dekades al vir duisende mense ’n welkome plek gebied om oefening te kry – vir my ook.
Is balans moontlik? Dit was aanvanklik my vraag.
Ek vermoed nou die vraag is: Wat beteken “balans”?
In die video het ek hard probeer om die skoonheid van die fynbos te wys en dit te jukstaponeer met die doodsheid onder die denne. Ek kon egter ook nie anders nie as om die voordele van die oop ruimtes onder die bome af te neem. Verder is daar ’n eiesoortige skoonheid in daardie bome wat ons ook nie kan ontken nie.
Besluit gerus self. Laat die prentjies praat. Die video is minder as sewe minute lank.
The post Tokai: hokaai of koebaai? appeared first on LitNet.