As universiteite verengels, hoe gemaak met opvoedkundestudente wat by Afrikaanse skole gaan skoolhou? In watter taal leer hulle die vakterminologie om vir die skoolkinders aan te bied?
Estelle Kruger vra vir Alta Engelbrecht (Universiteit van Pretoria) en Gert van der Westhuizen (Universiteit van Johannesburg).
Hoe werk dit deesdae by jou universiteit se Opvoedkunde-departement? Sê maar jy moet leer om aardrykskunde by ‘n Afrikaanssprekende skool te onderrig, leer jy die vakterminologie nog in Afrikaans?
Alta: Nee, studente gaan voortaan opvoedkunde, aardrykskunde en wiskunde net deur middel van Engels as voertaal studeer. Engels is vanaf 2017 by Tukkies die amptelike taal van klasgee, administrasie en assessering, alhoewel die nuwe taalbeleid daarvan melding maak dat voorsiening vir ander Suid-Afrikaanse tale gemaak kan word, indien daar 'n aanvraag is en dit bekostigbaar is.
Studente wat in 2016 en vroeër geregistreer is, sal egter nog steeds lesings, toetse/eksamens en studiegidse in Afrikaans ontvang en mag in Afrikaans antwoord totdat hulle die modules geslaag het. Navorsingsuitsette (voor- en nagraads) mag ook nog steeds in tale soos Afrikaans en Sepedi geskryf word.
Gert: By UJ het ons in 2013 opgehou om Afrikaanse opvoedkundeklasse te gee. Sedertdien is alles Engels, en bevind Afrikaanse studente hulle in dieselfde situasie as die meerderheid studente wat nie-Engelssprekend is – dat hulle die opvoedkunde bestudeer in Engels en so voorberei word om in Engels of Afrikaans skool te hou, of in ander moedertale wat in laerskole gebruik word.
Om opgelei te word as onderwyser deur medium van Engels is die realiteit vir meer as 90% van onderwysstudente aan Suid-Afrikaanse universiteite. Nie-Engelssprekendes word voorberei om die skoolkurrikula in hulle tweede of derde taal te kan aanbied – en moet dan op skool met moedertaalinhoude en -formulerings werk soos dit beskikbaar is.
Ruimtes behoort geskep te word vir opvoedkundeklasse in ander tale as Engels. Ons leef in ‘n veeltalige land, en die reg op moedertaalonderrig is die reg met betrekking tot al ons tale. Hierdie reg sluit in die ontwikkeling van tale as vak- en wetenskapstale, en as die tale waarin kennis oor onderwys uitgebou moet word.
Vertel my van die beleidsdilemma by universiteite.
Alta: Daar het 'n donker wolk oor Pretoria gehang toe aangekondig is dat UP voortaan amptelik net Engels sal wees. Afrikaans is immers die taal wat die meeste in Pretoria gepraat word (ongeveer 'n miljoen Afrikaanssprekendes in en om Pretoria). Verder is daar reg langs die UP-onderwyskampus die grootste universiteit in Afrika (Unisa) wie se voertaal uitsluitlik Engels is. Die feit dat Afrikaans van sy hoëre funksies moes afstaan, is dus bitter jammer en my vrees is dat dit na die skole toe kan deursyfer.
Waarom sal ek my kinders dan nog na 'n Afrikaanse skool toe stuur as hulle nie meer op universiteit deur medium van Afrikaans kan studeer nie? Die antwoord is waarskynlik dat die meeste "goeie" Afrikaanse skole beide Afrikaans en Engels op huistaalvlak aanbied, daarom sukkel ons kinders nie om deur Engels as medium van instruksie te studeer nie. Maar wat van baie plattelandse kinders wat nie dieselfde blootstelling het nie?
Gert: Universiteite is openbare inrigtings in diens van alle landsburgers. Alhoewel al die universiteite tans beleide van meertaligheid het, is die hooftaal in die praktyk Engels, om onder meer die pragmatiese rede dat dit die voertaal is van die skole waaruit die meerderheid van studente bestaan. Engels wen om hierdie rede veld as voertaal by al die histories Afrikaanse inrigtings. Demografies het dit die gevolg dat Afrikaanssprekende studente na inrigtings gaan waar hulle nog Afrikaans kan vind.
Dit is die beleidsdilemma vir elke universiteit en die regering wat alles in stilte dophou – hoe om alle landstale as tale van hoër onderwys te bevorder. Dit is die Grondwet-eis. Die opsie is, soos sake tans staan, nie ‘n opsie van óf Afrikaans óf Engels nie, maar beide. Studente se taalregte moet beskerm word. In die narratief van die huidige generasie studente wat aandring op dekolonialisering is die vrae: Wanneer word die voorreg van Engels ook die voorreg van byvoorbeeld Tswana, om uitgebrei te word as onderrig- en wetenskapstaal op universiteit? Dit is ‘n narratief van dringendheid wat deur onderwysersopleiers ernstig opgeneem behoort te word.
Met die oproep om dekolonialisering het hierdie probleem nou gegroei tot wat deur sommiges ‘n “kognitiewe probleem” genoem word. Dis die probleem om reg te laat geskied aan plaaslike, inheemse kennisinhoude in die onderwys, en aan kennisdiversiteit, verby die oorheersing van Westers-Europese tradisies wat ons in Engels (en ook in Afrikaans) ontwikkel en in stand hou.
Dus, om jou vraag te beantwoord: die probleem waarvoor universiteite te staan kom, is om nie studente se taalregte te misken nie, maar om, as openbare instellings, alles in hulle vermoë te doen om onderwyseropleiding verby die Engels-hegemonie te neem en die voordeel van veeltaligheid ‘n werklikheid te maak. Prakties kan dit die vorm aanneem van taalstrome binne programme en inrigtings, solank sulke strome nie eksklusief bly nie. Daar is vele voorbeelde hiervan in Afrika- en Europese universiteite waar veeltaligheid suksesvol werk.
Hoe kom die ideaal van veeltaligheid ter sprake?
Alta: Die hegemoniese bevoordeling van Engels sal seker nooit eindig nie. Die ideaal van veeltaligheid in Suid-Afrika is toe bloot 'n ideaal. Landswyd word Rhodes en ander koloniale simbole aangeval en vernietig, maar klaarblyklik het niemand 'n probleem met Engels as die opperste simbool van kolonialisme en selfs kapitalisme nie. Afrikaans is immers 'n Afrikataal, wat uit Afrikabodem ontwikkel het. Die ideaal van veeltaligheid in Suid-Afrika blyk dus 'n illusie te wees.
Gert: Die beste voorbeelde van ware veeltaligheid sien mens in die Europese Unie. Die riglyndokument hiervoor, van die Europese Raad, is genaamd “Common European Framework of Reference for Languages”. Daarvolgens word gelyke status aan tale gegee en besonderhede hoe om dit te bevorder en in stand te hou. Daar is byvoorbeeld veeltalige inrigtings met drie onderrigtale en verskillende modelle hoe om sulke veeltaligheid te maak werk. Dis ’n viering van taaldiversiteit, en kontrasteer sterk met die beperkings van eentalige universiteite in ’n multikulturele samelewing.
Hier ter plaatse is die ideaal van veeltaligheid ‘n edele ideaal, en grondwetlik gewaarborg, maar polities nie hoog op die lys nie. Die prestasies van kore in die Varsity Sing-program is ’n toonbeeld van die viering van meertaligheid. Vir baie is die historiese las van Afrikaans egter nog problematies.
In onderwyseropleiding het ons reeds beperkte, informele veeltaligheid: wanneer ’n Zoeloesprekende student byvoorbeeld in Engels leer hoe om ‘n vak soos rekeningkunde op skool te kan gee, gebruik sy haar moedertaal in studiegroepe en portuurgesprekke waar moontlik. Veeltaligheid sien ons ook in die gange van die universiteit – studente gebruik hulle moedertale om hulle leerwerk van opvoedkunde te bevorder.
Die oproep om veeltaligheid gaan nie net oor tale nie – die oproepe om dekolonialisering wat begin het met die “Rhodes must fall”-stemme, maak dit ook ’n oproep om kennis en prosesse om kennis te ontwikkel en oop te maak deur navorsing. Veeltaligheid het nou ook te make met die ontwikkeling en gebruik van meervoudige en inheemse kennisse, verby die tradisioneel Europees-Amerikaanse kennis in kurrikula en wetenskap wat in Engels (en Afrikaans) die hoofstroom uitmaak.
In onderwyseropleiding het ons nog ’n lang pad om te loop om die volle waarde van veeltaligheid te ontgin, veral in terme van kennis oor opvoeding wat in al ons tale in gemeenskaps- en inheemse verband bestaan.
Hoe het hierdie veeltaligheidsprobleem by universiteite begin? Waarom word Afrikaans prakties gesproke as 'n probleem ervaar?
Alta: Die probleem het ontstaan toe Engelse studente begin aanstoot neem het omdat die Engelse klasse (bv sielkunde) altyd oorvol is, tot so 'n mate dat studente op trappe moet sit, terwyl die Afrikaanse klasse klein en intiem is. Daar moes ook altyd twee dosente (Afrikaans en Engels) vir elke vak beskikbaar gewees het, wat blykbaar, volgens hoorsê, 'n logistieke nagmerrie was. Verder is daar die kunsmatige rasseskeiding wat noodwendig met parallelmedium-onderrig gepaard gaan.
82,1% van al die studente het aangedui dat hulle Engels as medium van instruksie verkies. Die meerderheid wil dus in Engels bedien word, weens die internasionale waarde van die taal en omdat die handboeke in elk geval meestal in Engels is. Alhoewel ongeveer 30% studente van UP Afrikaans as moedertaal het, verkies slegs ongeveer 17,9% van daardie studente om in Afrikaans klas te kry. Dit wil vir my lyk asof ons (Afrikaanses) maar (weer) verantwoordelik is vir ons eie dilemma. Daar is wyd gekonsulteer met ons as personeel en ek weet dat baie kollegas gevoel het dat Sotho as akademiese taal ontwikkel moes word in plaas daarvan dat Afrikaans hoëre funksies verloor.
Gert: Die probleem is dikwels ‘n gewoon menslike een; ‘n pragmatiese en kommunikasieprobleem. Wanneer jy 50 studente in jou klas het, en enkeles kan net Zoeloe en glad nie Engels verstaan en praat nie, dan moet jy oorslaan na Zoeloe om almal in te sluit. Dis die situasie met Afrikaans – met enkeles in die klas wat die taal nie verstaan nie, dan slaan mens in jou programaanbieding oor na Engels.
Die oorheersing van Engels op al ons kampusse is nie soseer weens ’n gebrek aan beleidsraamwerke nie, maar ‘n pragmatiese oorweging – Engels is die taal van skoolonderwys en die ekonomie, en daarom verkies mense Engels. Dis ook ’n gebrek aan politieke wil om werk te maak van en bronne toe te wys aan die ontwikkeling van ander tale.
Die verskuiwings in voortsetting van die Afrikaanse aanbod op universiteit is ook die gevolg van taalhoudings en -voorkeure, veranderende demografie, en die taalkeuse van die ekonomie in die omgewing van die universiteit. Behalwe studente, moet daar ook taalvaardige dosente wees, leermateriaal, handboeke, sowel as gemeenskapsondersteuning en inagneming van ekonomiese gebruiksbehoeftes.
Wat is die moontlikhede vir die toekoms?
Alta: Ons kan die valbyl nie vir ewig vryspring nie, veral nie in 'n tyd waarin universiteitsowerhede weens die proteste op 'n warm plaat rondspring om kostes te besnoei nie. Die feit van die saak is dat UP die hoofstad van Suid-Afrika bedien. Die aantal internasionale studente word jaarliks meer en as 'n navorsingsgerigte universiteit wat publikasies in hoë-impak internasionale joernale vereis, word Engels al hoe meer die verstektaal. Een ligpuntjie: in die nuwe taalbeleid word daar wel pertinent verklaar dat Sepedi as akademiese taal ontwikkel sal word en dat Afrikaans se status as 'n navorsingstaal in stand gehou sal word.
Ek glo steeds dat daar een Afrikaanse universiteit in die land moet wees, verkieslik in Stellenbosch of Kimberley. Hierdie universiteit kan tweetalig wees, maar moet vir (die meerderheid van) sy kliënte wat Afrikaanssprekend is, daardie geleentheid gee wat hulle nou nie meer by Tukkies het nie. In die Kaap, omdat daar soveel sprekers van Afrikaans is wat nie as “wit” geklassifiseer is nie, geld die probleem van die kunsmatige rasseskeiding natuurlik ook nie.
Gert: Tale se toekoms is in die monde en hande en harte van hulle gebruikers. Landsburgers het taalregte, en wil gelykberegtiging sien.
Afrikaans presteer steeds as taal van hoër onderwys, en verdien voldoende ruimtes om as wetenskapstaal by soveel universiteite as moontlik voortgesit te word.
Ons kan baie lesse leer by universiteite in Afrika en elders – plekke waar meertaligheid bevorder word, soos toegewyde tweetalige inrigtings, inrigtings wat kursusstrome aanbied volgens die taal van die omgewing, sy gemeenskappe en sy ekonomie.
Meertaligheid kan meewerk aan die ideaal van demokratiese burgerskap in die volle sin van die woord, ’n burgerskap waar mense meer as een taal vaardig is. Dit gebeur reeds in township-omgewings, maar nie in ander nie. Vakkeuses in woonbuurtskole sluit steeds nie verpligte swart tale in nie.
Daar bestaan soveel variasies op die tema van taalaanbod in die onderwys wat gemeenskappe kan oorweeg om taalinsluitend in universiteite te kan werk. Studente het reeds feitlik onbeperkte vermoëns van twee- en meertaligheid waar hulle van een taal kan oorslaan na ’n ander om te kan leer en hulleself sosiaal te kan laat geld. Dit kan na alle gemeenskappe uitgebrei word.
Ten slotte: ons benodig erns met die strewe na taaldiversiteit en die beskerming daarvan, op wyses wat insluit en nie uitsluit nie.
The post As universiteite verengels, hoe gemaak met opvoedkundestudente wat by Afrikaanse skole gaan skoolhou? appeared first on LitNet.