Oom Sakkie sal my vergewe hiervoor, veral synde ons nou besig is om sy ewige rusplek voor te berei vir dit wat sy liggaam was.
My ou tante Es is nie net bekend hier rond vir haar geduld en sag praat nie, maar ook vir haar kook. Nie Kokkedoor kook nie. Beter. En meer waardig. Die ou bene wil nie meer sonder die kierie nie, maar die hanne kan nog doen wat hulle vir soveel jare gedoen het.
Oom Sakkie het altoos vir die laaste paar jare vandat hy dit rustiger gevat het mense kom wys waar hy grootgeword het. Want mens soek mos altoos jou wortels as jy gejaag word deur mense wat agter jou biljoene aan is. So het hy straat af gery en by antie Es ingedraai, dis nou voor Antie Es se klong die hoë mure en elektriese drade aangebring het. Toe jy nog kon inry sonder om vooraf te bel vir die kode wat niemand ken nie en nou sommer net 1234 is.
Oom Sakkie het ingery want antie Es het doerie jare elke dag vir hom kos saamgebring skool toe. Die enigste kos vir die dag. En Antie Es se moeder het vir oom Sakkie sy eerste paar skoene gekoop toe oom Sakkie 16 geword het. Mense praat dikwels oor armoede en deesdae ryg elke sot en drenkeling derms uit oor hoe hulle gesukkel (hulle noem dit struggle) het terwyl mense soos Oom Sakkie net van 'n ete per dag kon droom. Die twee kom van kleuterdae af saam en selfs toe oom Sakkie een van die rykste manne in hierdie land se geskiedenis geword het het hy nooit vergeet van sy arm dae nie. Hy het altyd kom dag sê en uitgedeel.
Tot die dag by antie Es. Sy was iewers besig in haar feëtuin en het dalkies nie die lang slap Duitse kar gehoor of gesien nie, maar oom Sakkie het later beduie dat hy wel geroep het. En die reuk van 'n hoenderpot net nie kon weerstaan nie. Hy het blykbaar geroep vir aansit en synde daar geen tafel gedek was nie maar met die pot vort is. Sekerlik in oom Sakkie se aard om dit te loop deel met die eerste lot boemelaars wat hy teëgekom het. Want ons het oom Sakkie so geleer ken: Aan’t uitdeel van die biljoene wat hy met soveel sorg bymekaar gemaak het.
Hulle se antie Es was baie beswaard oor die inbrekers wat niks gevat het buiten die pot hoender nie. Selfs haar beursie oppie tafel het ongeskonde en onoopgemaak gelê waar sy hom neergesit het.
Wat later gebeur het kan ek van getuig want ek het dit self beleef: Oom Sakkie het die dag hier opgedaag met sy hele groot Duitse kar vol potte. Nuut. Van daai soort wat waterloos is en wat ons almal wat lief vir kos en kook is net van kan droom. Elke soort en grootte en met elke Mc-gafter wat daarmee saamgaan. En 'n paar bosse Suikerbosse. Net om dankie te se vir die hoenderpot wat hy so ongevraagd van die stoof af gevat het.
Ek grawe die man se graf en ons lag en ons sit soms en mymer oor hierdie man wat brandarm geryloop het Vredefort toe en tot met sy dood die eienaar was van die hotel waar hy begin het as vloerwasser.
Wat nooit een oomblik een enkele mens blameer het vir sy armoede nie en toe later ook sy dankbaarheid aan almal bewys het vir sy rykdom. As daar meer mense soos hy was dan was daar baie beslis minder armoede in hierdie land. Sonder al die gewone fanfare wat ons so rondom ons sien.
oester
The post Oom Sakkie en die kooksel appeared first on LitNet.