Joseph and the amazing technicolour dreamcoat ... Ek was in die gehoor toe ’n baie jong Earl Gregory in 2005 sy teaterdebuut in dié produksie – Andrew Lloyd Webber en Tim Rice se eerste megatreffer – gemaak het.
Earl (Cats, Sweeney Todd) is weer Joseph, die rol wat hom 11 jaar gelede ’n Naledi-toekenning vir beste manlike nuweling besorg het. Die Kaapstad-speelvak kom ná uitverkoopte vertonings in Johannesburg, waarheen dit ná die Kampsbaai-speelvak sal terugkeer.
Bianca le Grange (Blood Brothers, Idols 2004) is die verteller, en die veelbekroonde Jonathan Roxmouth (Sweeney Todd, The phantom of the opera, Cats, Sunset Boulevard, A handful of keys, I’m playing your song) is Pharoah.
Mens kan voel as die ligte vir die eerste bedryf doof hoe die statiese elektrisiteit op die stoele ronddans. Die hele rolverdeling is uitstekend; in geen dans of sang steek enigiemand lyf weg nie. Almal geniet hulle gate uit, ten spyte van die feit dat hulle al weke lank elke aand dieselfde storie vertel.
Die gehoor is ontvanklik vir dié nuwe bygewerkte weergawe van die klassieke storie.
Earl is allesbehalwe ’n nuweling aan die begin van sy loopbaan in hierdie produksie. Hy het sy diepte en sterkte ontdek en is ’n akteur vol selfvertroue wat die rol van Joseph baie oortuigend vertolk.
Die liedjies is lekker saamsing en met “Jacob and sons”, “Poor, poor Joseph” en “Go, go, go Joseph” in die eerste bedryf sing en klap die gehoor ywerig saam.
Pieter Toerien het weens beperkte ruimtes in sy teaters in Johannesburg en Kamspbaai, in 2004/2005 die tradisie van “bonsai”-produksies begin. Met die aanvanklike produksie het ek gevoel die verhoog is te klein vir die akteurs en stel, maar met hierdie ronde is alles ruim, en die choreografie deur Duane Alexander verseker dat daar nooit soveel op die verhoog aangaan dat jy nie weet waar om te kyk uit vrees dat jy iets sal mis nie.
Die produksie is gegrond op die Bybelse storie van Josef en sy veelkleurige kleed – die bewys dat sy pa, Jakob, hom bo sy ander broers liefhet – wat deur sy broers as slaaf verkoop word en in Egipte vir die miljoenêr Potifar werk. Die broers vertel vir hul pa dat Josef dood is en wys sy bebloede kleed aan Jakob. Josef se vermoë om drome uit te lê is een van die redes hoekom sy broers hom nie kon verdra nie; maar kom tot sy redding toe Potifar se vrou hom probeer verlei en Potifar hom in die tronk gooi. Hier ontmoet hy twee ander gevangenes en hy lê hul drome uit.
Sy pad kruis met dié van die farao, wat drome het wat niemand kan uitlê nie. Hy lê die farao se drome uit en word aangestel as tweede in beheer om vir die dreigende swaar tye voor te berei. Dis hier waar sy broers weer op die toneel verskyn, en deur ‘n sameloop van omstandighede word hy en sy broers en pa herenig. Alle haat en wraak vergete.
In die tweede bedryf van die produksie sien ons die farao (in die styl van Elvis Presley, selfs met die kuif en kougom), en dis waar die gehoor hulle moet inhou om nie die hele tyd op te staan en met “Poor, poor Pharaoh”, “Song of the King” en “Stone the crows” kliphard saam te sing nie. Jonathan Roxmouth is duidelik ’n groot gunsteling onder die gehoor en dis asof die elektrisiteit – teen alle verwagtinge in – toeneem.
Toe die gordyn aan die einde van die produksie sak, is die gehoor nie gereed om huis toe te gaan nie. Die encore hou aan en aan en die akteurs kom maak weer hul buiging en mens wens amper hulle wil so ’n tipe medley sing soos wat by party optredes in Londen al gedoen is.
Die produksie het al Tony-, Olivier- en Drama Desk-toekennings gewen en het ’n plek in die Guinness Book of Records vir die wêreld se lang-spelende toerende musiekblyspel.
Die eerste Suid-Afrikaanse produksie was in die 1970’s met Richard Loring (die verteller), Alvon Collison (Pharaoh) en Bruce Millar (Joseph).
- Die program huldig die oorspronklike broer Benjamin, Karabo “Mytwofeet” Maithufi (1980–2013), en dra die liedjie “There is one more angel in heaven” aan hom op.
Joseph and the amazing technicolour dreamcoat
Met onder andere: Earl Gregory, Bianca le Grange, Jonathan Roxmouth, Dean Roberts, Mila De Biaggi.
Lirieke: Tim Rice
Musiek: Andrew Lloyd Webber
Regie: Paul Warwick Griffin
Kostuums: Nial Griffin
Theatre on the Bay, Kampsbaai
12 Augustus tot 5 November 2016
Kaartjies deur Computicket, 0861 915 8000, of die teater (021) 438-3301.
Pieter Toerien se Theatre at Montecasino in Johannesburg
10 November tot 29 Januarie 2017
Kaartjies deur Computicket, 0861 915 8000.
The post Teaterresensie: Joseph and the amazing technicolour dreamcoat appeared first on LitNet.