laasnag droom ek van die digter-dokter
en sy huis langs die see met die spoorlyn
tussen die golwe en sy vermolmde voordeur
die jambiese geklop van die treinwiele
laat die huis ’n paar keer per dag bewe:
die digter moet herinner word aan sy plig
terwyl hy in die spreekkamer sy tyd verwyl
met siektesertifikate en Jungiaanse terapie
of deur die huis vol kunswerke dwaal
wanneer die gedigte en pasiënte wegbly
speel hy wankelrig viool, met die branders
se basso profundo op die agtergrond
en die siellose geklak van ’n metronoom –
op ’n dag spoel die woorde soos skulpe uit
en in ’n doktershandskrif krap hy dit byeen:
verse oor Valsbaai, sy gebreekte rug, valse vriende
en die altydteenwoordige eensaamheid
in daardie lendelam huis langs die onsterflike see
The post Phil du Plessis 1944–2011 appeared first on LitNet.