Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.
Toe ons kinders nog klein was, is die twee groter kinders dikwels deur hulle jonger boetie verpes terwyl hulle gespeel het. Op 'n dag het hulle besluit om die mannetjie 'n les te leer. Hulle het hom geblinddoek en by die boonste verdieping van ons woonhuis by 'n buitedeur uitgeneem na 'n oop stoep. Daar het hulle hom op 'n baksteen laat staan en hom wys gemaak dat hy op die rand van die stoep staan. Hulle het gedreig dat hulle hom daar sou afstamp as hy nie dadelik en plegtig sou beloof dat hy sou ophou om hulle te verpes nie. Die outjie het soos 'n maer varkie geskree sodat die bure vyf huise verder hom gehoor het. Uiteindelik het hulle hom toe wel van die baksteen afgestamp en het hy die blufspul agtergekom. Maar ek kan jou verseker dat solank hy op die baksteen gestaan het en deur sy ouer boetie en sussie getreiter is, hy vas geglo het dat hy op die rand van die dak staan.
Dit bring ons by vandeesweek se hofsaak. 'n Sekere mnr Naidoo van Gauteng is daarvan aangekla dat hy sy pa in 1995 vermoor het deur hom in die kop te skiet. Die jeugdige mnr Naidoo het 'n paar dae vantevore die pa van 'n fris seun geword. Vroeër die aand was daar nogal 'n taamlike debat in die familie oor na wie die seuntjie vernoem moes word. Naidoo se vader was 'n Tamil terwyl hy self en sy vrou – die ma van die babaseun – Moslems was. Die argument het daaroor gegaan of die seuntjie 'n Tamil- of 'n Moslem-naam moes kry.
Die debat het lank ná middernag voortgeduur en op 'n stadium is Naidoo se vader en sy broer daar weg. Naidoo het egter nog met sy ma en suster oor die gewigtige kwessie geargumenteer, toe hy 'n geluid by die veiligheidshek voor die huis se voordeur hoor.
Omdat daar voorheen inbrake by sy huis was en omdat hulle in 'n gevaarlike buurt gewoon het, was hy dadelik op sy pasoppens. Hy het drie maal gevra wie is daar, maar daar was geen antwoord nie en toe het hy die voordeur oopgemaak. Daar was weer 'n geluid by die hek en hy het toe 'n skoot met sy vuurwapen afgetrek. Onmiddellik daarna het hy tot sy afgryse ontdek dat dit eintlik sy vader en broer was wat, nadat hulle vroeër die aand daar weg is, teruggekom het. Sy vader was op daardie stadium reeds sterwende.
In sy uitspraak[i] van op 29 Augustus 1996 beslis regter Marais dat die Staat nie bewys het dat mnr Naidoo die direkte opset gehad het om sy pa dood te skiet nie. Omdat hy egter toegegee het dat hy die moontlikheid voorsien het dat hy, deur te skiet, iemand buite die woonhuis dodelik kon tref, het hy wel opset by moontlikheidsbewussyn – ook bekend as dolus eventualis – gevorm. Dít sou voldoende wees om hom aan moord skuldig te bevind.
Die hof het egter beslis dat die Staat moes bewys het dat daar by mnr Naidoo die persepsie was dat, terwyl hy die skoot afgevuur het, hy onregmatig opgetree het. Nou, al maak 'n mens iemand opsetlik dood, kan dit onder bepaalde omstandighede nie onregmatig wees nie, byvoorbeeld wanneer jy in noodweer of selfverdediging optree. As iemand jou aanval en jy jou kan verweer of beskerm slegs deur die persoon dood te maak, is jou optrede wel opsetlik, maar nie onregmatig nie. Daar word in regstaal gesê dat jy in noodweer opgetree het; dat jy met ander woorde 'n regverdigingsgrond gehad het.
Maar dit is duidelik dat in mnr Naidoo se geval daar geen werklike aanval op sy huis was nie. Net soos ons jongste wat op die baksteen gestaan het, vas geglo het dat hy eintlik op die rand van die stoep op die eerste verdieping was, het Naidoo, toe hy twee maal 'n geratel by die veiligheidshek gehoor het, vas geglo dat daar inbrekers was wat hom en sy huisgenote aanval. Hy het nie regtig in noodweer opgetree nie, maar hy het gegló dat hy in noodweer optree. By hom het wederregtelikheidsbewussyn – wat ‘n element van opset is – ontbreek.[ii]
Die hof het beslis dat dié oortuiging by Naidoo nie onredelik was nie. Om mee te begin was hy maar skaars 19 jaar oud. Daar was voorheen inbrake by sy huis. Hy was die enigste man in die huis en hulle het in 'n gevaarlike buurt gewoon.
Die hof het egter 'n probleem gehad met die manier waarop Naidoo geskiet het. Die hof was van mening dat hy onredelik opgetree het deur die skoot op kophoogte af te vuur. Die redelike mens sou onder die omstandighede waarskynlik 'n waarskuwingskoot in die lug of in die grond afgevuur het of hy sou op só 'n hoogte gemik het dat hy die vermeende of werklike aanvallers nie met die eerste skoot noodlottig sou tref nie. As hy 'n waarskuwingskoot geskiet het, kon hy die houtdeur weer onmiddellik toegeslaan en gegrendel het – iets wat hom net 'n paar oomblikke sou neem. Hy kon daarna alarm gemaak het en ander maatreëls getref het om hom en sy huisgenote te beskerm.
Kortom, hoewel Naidoo volgens die hof dus redelikerwys gegló het dat daar 'n aanval op sy huis is – regsgeleerdes praat van putatiewe noodweer – was sy optrede daarná onredelik. Die hof het bevind dat hy nalatig was, en omdat hy sy pa se dood op 'n nalatige wyse veroorsaak het, is hy aan strafbare manslag skuldig bevind.
Ons lees nie in die hofuitspraak wat Naidoo se vonnis was nie, maar 'n mens kan nie glo dat hy besonder swaar deur die hof gestraf is nie.
En as die feite van hierdie saak jou aan die Oscar Pistorius-sage herinner, is jy natuurlik reg. Steeds wonder ‘n mens wat die prinsipiële verskil is.[iii]
[i] S v Naidoo 1997(1) SASV 62 (TPD).
[ii] Vir ‘n elementêre bespreking van opset, gaan na http://www.litnet.co.za/regsalmanak-die-verskyningsvorme-van-opset.
[iii] ‘n Kritiese LitNet-bespreking van die appèlhofuitspraak oor Oscar Pistorius kan gelees word by http://www.litnet.co.za/oscar-pistorius-vir-laas-voorste-strafregkenner-krities-oor-appelhof-se-uitspraak.
The post Regsalmanak: Putatiewe noodweer appeared first on LitNet.