Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Die mat

$
0
0

Net binne my voordeur lê ’n mat. Sommer so ’n vierhoekige mat, groen van kleur, met allerlei patrone in swart, beige en selfs oranjebruin.

Maar dit is nie oor die mat se vorm en kleure wat ek wil skryf nie, maar  oor sy geaardheid. Want die mat het ’n wil van sy eie en kruip oor die vloer. Hy lê bo-op die vaste mat in die voorhuis, wat weer bo-op die plankvloer gelê is en ten spyte van sy rubber onderlaag, skuif die mat oor die vloer. As jy hom die oggend netjies by die ingang neersit, dan lê hy teen die middag diep binne die vertrek, tot byna teenaan die tafeltjie regoor die deur.

Mens kan natuurlik verstaan waarom so ’n los mat skuif, want as jy loop, druk die bal van jou voet na agter om jou lyf vorentoe te stoot. Die eienaardigheid is egter dat die mat net na binne skuif, dit wil sê as jy by die deur uitloop, stoot jou voete hom hom na binne. Wat egter as ek weer by die deur inkom? Dan moet hy mos weer terugskuif na die deur toe?

Al gevolgtrekking wat ek kan maak, is dat ek meer dikwels uitgaan as wat ek binnekom. Dit beteken dat ek soms uitgegaan het en nie weer teruggekom het nie, wat my laat wonder: hoe kom ek dan hier? En nog ’n ding: waar sou ek so lekker gekuier het dat ek nie weer wou terugkom nie? Dis darem baie snaaks, want ek is ’n man wat van die huis hou.

Ek het netnou op die internet gekyk na verskeie winkels se webplekke en nie een van hulle het matte wat net in een rigting skuif nie. Altans, hulle sê niks daaromtrent nie. Miskien hou hulle dit stil, anders wil niemand hulle matte koop nie, want wie wil nou so ’n snaakse mat hê? Die hele ding lyk vir my nou suspisieus, want waarom steek hulle dit weg? As alle matte so is, sal mense dit mos in elk geval moet koop! Dalk is dit ’n gekonkel en het hulle die mat met ’n doel aan my afgesmeer.

My rekenaar begin ook nou snaakse dinge doen. Toe ek netnou klaar na die webplekke gekyk en niks gekry het nie, is ek na Windows “Help” om te kyk of hulle iets oor matte het. Daar was niks, maar toe ek nog so wik en weeg wat om verder te doen en met die muis speel, verskyn daar skielik ’n rooi merk en ’n waarskuwing op die skerm: “You are performing an illegal operation.” Ek het my byna lam geskrik want ek wil nie weer met die polisie te doene kry nie, maar gelukkig besef ek gou dit is net deel van hulle planne om my deurmekaar te maak, ek moet kalm bly en nugter dink oor die saak.

Daarom stuur ek toe ’n e-pos aan my dokter, want hy is ’n man wat baie weet en sal my waarskynlik kan raad gee: “Geagte dokter, eienaardige mat in my voorhuis, wat weet u van sulke gevalle? Groete, Tiens.” Kort daarna bel sy ontvangsdame en sê die dokter wil hê ek moet inkom, dan kan ons daaroor gesels, ek hoef nie ’n afspraak te maak nie. “En bring jou vrou saam,” sê sy. Maar ek het nie nou lus daarvoor nie, ek wil maar kyk of ek nie self die ding kan uitpluis nie. Buitendien weet ek nie waar is my vrou nie, ek het haar ’n paar dae laas gesien. 

Dit val my buitendien nou by dat, as ek nie weer teruggekom het nie, sou ek nie weer kon uitgegaan het nie en moes die mat mos bly lê het waar hy was. Want daar is niemand anders hier wat kon uitgegaan het nie, my vrou is nie hier nie en die vrou daar oorkant lê al ’n paar dae doodstil. Die hele ding word net eienaardiger, daar is iets geheimsinnig aan die gang. Ek vertrou dinge nie, ek moet versigtig wees.

My suster het my inderwaarheid gewaarsku toe sy gesê het dit is swak smaak om so ’n bont mat by die voordeur te sit. Ek moes na haar geluister het! Ons hondjie dink buitendien die mat is daar vir haar om op te piepie, die huis ruik aaklig, sê mense wat hier kom. En my vrou het ook aanhoudend gekla oor my hondjie.

Laat ek maar gou ’n e-pos stuur aan my suster, sy is nou by die werk, ek kan dit sommer daarheen adresseer: “Martie, Jy was reg, die mat tree vreemd op. Het die hoeke vasgekap met steak messe, want dit beweeg sonder rede. Tiens.”

Nou moet ek maar die mat dophou tot ek sien hoe beweeg dit: Daar’s hy, nes ek gedink het! Die mat het nou skielik ’n vou in die middel, ek sweer dit was nie netnou daar nie! Dáár, net langs daai donkerrooi vlek aan die kant! En hier hou nou ’n polisiewa voor die deur stil, met ’n ander wit wa agter hom. Wat sou hulle wou hê? Twee polisiemanne klim uit en twee mans in snaakse wit klere klim uit die ander wa wat amper soos ’n ambulans lyk. Een van dié twee het ’n wit doekding in sy hande, die ander dra ’n tassie soos ’n dokter s’n.

Ek weet wie hulle is, dit is die malhuis se mense! Hulle dink natuurlik ek is weer mal! Maar hulle sal nie teen my kan stry nie, ek sal hulle oortuig iets is verkeerd met die mat. Ek sal maar die deur vir hulle oopmaak, dan sal hulle self kan sien hoe tree die mat op. Hulle kan ook sommer die dooie vrou wegvat wat langs die mat lê, sy lê seker al drie dae daar. Sy lyk bekend, maar ek kan nie mooi onthou wie sy is nie. En die steak mes in haar rug is myne, ek weet nie hoe kom dit daar nie, maar ek wil dit terug hê. Dan kort daar nog een, want daar moet ses wees.

The post Die mat appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>