Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Waardegedrewe skole die antwoord op die hare-herrie

$
0
0

Foto: therighthairstyles.com

Terwyl almal hande in die hare sit oor die protesaksies oor onder meer skole se reëls oor voorkoms, het Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), praktiese voorstelle oor die dieperliggende kwessies wat na vore gekom het.


 

Vandag is dit hare, môre skoolklere, dan sportspanne of moeilike vraestelle. Só kan ons die moontlike vraagstukke opnoem wat kinders en ouers se hare laat rys. Sosiale media het die uitlaatklep geword, die betoging ʼn realiteit en politieke belangstelling en inmenging die norm.

Vandeesweek se gebeure by Pretoria High School for Girls het die kollig weer opnuut op skoolreëls geplaas. Die LUR het dadelik opdrag gegee dat die reëls hersien moet word, die nasionale Departement het aangekondig dat daar nuwe regulasies oor gedragskodes vir skole uitgevaardig sal word, en politieke partye vra vir wetgewing.

Die eenvoudige antwoord op die hare-herrie is dus selfs nog meer reëls, maar is dit regtig die beste plan?

Ek gee toe dat ons land baie goed is om wette, regulasie en reëls te maak, en ek verwys nie net na die staat nie – skole het oor die jare ʼn onderskeiding gekry in die opstel van reëls en regulasies. Tog dui alle navorsing daarop dat swak dissipline een van die grootste probleme in skole (en sekerlik ook die breër samelewing) is. Meer reëls (ook hare-reëls) het dus geensins gehelp om gesonde dissipline in skole te skep nie; inteendeel, dit het presies die teenoorgestelde uitwerking gehad.

Fedsas het gedurende 2009 navorsing onder sy lidskole gedoen en onder meer gevra wat beskou word as die enkele grootste bedreiging vir gehalte-onderrig. Die antwoord was nie die kurrikulum, ʼn tekort aan geld of onbeholpe amptenare nie – nee, dit was onomwonde ’n gebrek aan dissipline!

Fedsas ontvang dikwels klagtes oor leerders wat dit vir opvoeders onmoontlik maak om onderrig te gee. Skole bestee derduisende rande en baie ure om dissipline te handhaaf. Senior personeel word getaak met dissipline, duur rekenaarprogramme en stelsels word aangekoop en meer dissiplinêre verhore word gehou, maar dit lyk eenvoudig of skole die stryd verloor.

Die probleem is dat ons gefokus is op reëls en straf as die algemene norm om dissipline te handhaaf. Leerders word vertel wat hulle nie moet doen nie (die negatiewe) en daar word heeltemal te min tyd daaraan bestee om hulle te leer wat hulle wél moet doen (die positiewe).

Hierdie week se gebeure het dit ook duidelik laat blyk dat daar ʼn reuse-afstand tussen leerders en leierstrukture in skole is en dat kommunikasie uit ʼn gesagsposisie (reëls) plaasvind. Leerders is nie deel van gesprekke nie en neem gevolglik nie eienaarskap van die reëls in die skool nie.

Ons sal eenvoudig anders moet dink, omdat “meer van dieselfde” ons nie uit die hare-herrie gaan kry nie.

Die antwoord lê in waardes as die grondslag van gesonde en suksesvolle skole. ’n Waarde is jou eie oortuiging oor wat goed, belangrik of wenslik is en ons leef hierdie waardes uit deur etiese optrede. Die etiek van ’n persoon verwys na die etiese waardes en standaarde wat interaksies met ander mense bepaal. Waardes en etiek is daarom twee kante van dieselfde munt en is onlosmaaklik deel van wie ons is en hoe ons optree. Ons word elke dag gekonfronteer met besluite en in baie van hierdie besluite sal mens se eie waardestelsel bepaal hoe jy gaan optree of reageer. Binne die skoolkonteks sal ʼn gedeelde waardestelsel dus die grondslag vorm van hoe besluite oor hare en voorkoms geneem word.

Die vraag is dus nie wat die reël is nie, maar wat die onderliggende waarde is.

’n Waardegedrewe benadering beteken nie dat daar nie meer reëls is nie. Waardes gee juis betekenis aan reëls, maar die klem verskuif na hóékom ons dinge doen. Daar word deur ʼn ander bril na byvoorbeeld reëls oor hare gekyk en die vraag is eenvoudig: Hoe gee ek deur my voorkoms gestalte aan die waardes?

Ons wil graag hê dat leerders in totaliteit ontwikkel en binne ʼn raamwerk van gesonde waardes besluite neem en optree en nie bloot omdat hulle bang is vir straf indien ʼn reël oortree word nie. Het ons met ander woorde leerders voorberei vir die lewe ná skool? Ons wil mense die samelewing instuur wat reëls sal nakom sonder dat daar iemand is wat kyk of hulle dit nakom! Dit is gedrag “uit die hart” uit – ʼn waardegedrewe lewe.

Die skool se beheerliggaam is verantwoordelik vir die missie van die skool en waardes behoort heel bo aan hierdie agenda te wees. Die Skolewet bepaal ook dat die beheerliggaam verantwoordelik is vir die opstel van die skool se gedragskode (voorheen die skoolreëls), maar die kode moet op ʼn stewige fondament van gesonde waardes gebou word. Die hele skoolgemeenskap moet hierdie waardes aanvaar, eienaarskap daarvan neem en dit elke dag uitleef.

Natuurlik is ʼn waardegedrewe benadering nie ʼn kitsoplossing nie; dit is ʼn langtermynbenadering wat uiteindelik in ʼn leefwyse moet ontwikkel.

Willem Landman, voormalige uitvoerende hoof van Etiek SA, het ’n praktiese toets vir etiese optrede ontwikkel. Dit bestaan uit agt vrae:

  • Is my optrede wettig?
  • Laat my skool se gedragskode en beleid my optrede toe?
  • Laat my professionele standaarde hierdie optrede toe?
  • Wat sal my etiek-rolmodel doen?
  • Hoe sal my optrede op die voorblad van die volgende dag se koerant lyk?
  • Hoe laat die optrede my voel?
  • Is ek so gemaklik met my optrede dat ek dit graag met my naaste familie sal wil deel?
  • Voldoen dit aan die Goue Reël-toets, naamlik “doen aan ander wat jy graag aan jouself gedoen wil hê”?

Hoe sou vandeesweek se gebeure gelyk het as álle rolspelers hierdie agt vrae aan hulself gevra het?

Deur die bril van waardes lyk die hare-herrie nie na ʼn nagmerrie nie, maar na ʼn geleentheid om in gesonde gesprek en verantwoordelike besluite te belê.

 

* Jaco Deacon is die adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, outeur van Skoolbeheer: Antwoorde op alledaagse uitdagings en Case Law Handbook on Education, en redakteur van die Juta Education Law and Policy Handbook.

 

 

The post Waardegedrewe skole die antwoord op die hare-herrie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>