Dwarsoor die wêreld is daar tekens van toenemende konserwatisme, van ’n na binne keer wat net nie gesond is nie.
Daar is verdagmaking van enigiets en enigeen wat die sweem van andersheid omtrent hulle het. In Frankryk word die burkini verban. In Amerikaanse skole is die burka en inderdaad enige vorm van hoofbedekking, verbode. Donald Trump, wie die spot dryf met gestremdes en alle vreemdelinge uit Amerika wil ban, gaan van krag tot krag, skynbaar onstuitbaar. In Engeland kraai Boris Johnson met sy terughunkering na Imperialisme koning. In Turkye en ander Midde-Oosterse lande word die Koerde gewelddadig onderdruk. In Israel word die geveg rondom die Gaza-strook al hewiger, en Israeliese onderdrukking van die Palestynse setlaars lei tot vele verhale wat sterk herinner aan die ergste vergrype van apartheidsera-Suid-Afrika.
Die onlangse snedige kommentaar jeens die Olimpiese gouemedaljewenner Caster Semenya deur ’n Britse atleet wat waarskynlik vir die res van haar lewe onthou sal word vir haar sesde plek in ’n wedloop met agt atlete, spreek tot die toenemende verkramping, want daar is geen ander gepaste woord nie, wat ons beleef.
In ons eie agterplaas stuur Zuma die een heksejag na die ander van stapel, en die eens magtige ANC strompel agterna soos ’n brandsiek hond wat sy eienaar tevergeefs probeer tevrede stel. Aan die ander kant bou AfriForum en Solidariteit steun op onder ’n kwalik verbloemde rassebasis. Net hierdie week, by ’n hoërskool in Pretoria, word dogters geteiken onder andere oor die manier waarop hulle hulle hare etnies dra. Net die mees polities naïewe persoon kan hom of haar nie ’n konfrontasie een of ander tyd tussen daai twee pole voorstel nie, met ’n opportunistiese Malema wat om die gevegsarena sirkel, wagtend op ’n geleentheid om munt te slaan uit sy opponente se swakhede.
Daar was ’n tyd toe daar beredeneerde diskoerse rondom ras gehou kon word. Lank, lank gelede in ’n verafgeleë land, voel dit. Die Suid-Afrika van weleer. Nou nie meer nie. Ons is almal haastig op ons verdedigende perdjies, so besig om te verontskuldig dat ons nie meer die tyd neem om te luister nie.
Voor die Tweede Wêreldoorlog was daar gekonsentreerde pogings om die Jode verdag te maak, deur stereotiperende rasseveralgemenings. Sommige van daai stereotipes bestaan vandag nog. Elke keer wanneer ek sien en hoor hoedat daar teen Moslems gediskrimineer word, ondervind ek ’n beklemmende gevoel van déjà-vu. Ons was al hier. Nou word “Jode” net vervang met “Moslems”. Meng met ’n ekonomiese insinking, en die resep vir oorlog is gevestig. Toenemend is daar spanning tussen Ooste en Weste, met die res van die wêreld wat forseer word om kant te kies. ISIS, vir wie oorlog en konflik van kardinale belang is om hulself behoorlik te vestig, blaas dit aan. Anti-Moslem-gedrag deur Westerse lande gooi olie op die vure.
’n Vriendin in Engeland skryf onlangs vir my terwyl sy die post-Brexit atmosfeer in London beskryf: “It is now ok to be openly racist, it’s ok to tell people to go home, to attack people on the street, in their homes, it’s ok to rip the veils off women’s heads.” In Frankryk is die diskriminasie nou al in wetgewing vervat, net soos wat dit in Nazi-Duitsland en apartheid-Suid-Afrika gedoen was, net soos dit in hedendaagse Israel gedoen word.
Daar’s ook toenemend ontkenning dat Sho’ah, die Joodse volksmoord of Holocaust, ooit plaasgevind het. Dit bekommer my meer as enigiets anders, want die oomblik dat ons die sondes van die verlede ontken en vergeet of goedpraat, maak ons ons emosioneel gereed om dit te herhaal. En die slagoffers van die nuwe Holocaust sal Moslems wees.
Al wat nodig is om die lont in die kruitvat te laat brand is die regte leier met vrese vir die Ander, wat etniese reiniging as voor die hand liggende oplossing sien en die militêre mag van ’n supermoondheid agter hom het. Indien Donald Trump ooit aan bewind kom in Amerika, is die vuurhoutjie getrek. George W het vinnig uitgewerk dat oorlog goed vir die ekonomie is. Dit sal Trump minder as twee jaar aan bewind neem om dieselfde te doen, met veel groter katastrofiese gevolge vir die res van die wêreld. Al-Qaeda was grootliks beperk tot Afghanistan en omstreke. ISIS het tentakels in elke samelewing. Die “war on terror” is nou teen wil en dank globaal.
Vergesog? Oordrewe dramatiese denke? Die Khmer Rouge het in die 1970’s in Kambodja regeer. Die Rwandese etniese reiniging het in die 1990’s plaasgevind. Dis gister, in terme van menslike geskiedenis. En indien ons dit wil afmaak as die tipe ding wat net in Afrika gebeur, onthou die Midde-Ooste. In hierdie jaar 2016 het die Turkse leier begin met ’n heksejag op akademici, soos wat so baie van hierdie goed begin. In Sirië is daar in 2015 massagrafte van ISIS-teëstanders gevind.
Waar laat dit ons? Meer spesifiek, waar laat dit skrywers en kunstenaars? Ons beweeg toenemend in ’n arena waar wetenskap en logika en koue objektiwiteit verheerlik word. Ons leef in ’n era waar die empatiese met minagting bejeën word. Ons maak kinders groot wat nie die vreugde sal smaak daarvan om te hoor hoedat Bach se “Air on a G-string” meesterlik uitgevoer word nie, want klassieke musiek word verdag gemaak as iets vir wit mense. Ons leef in ’n tyd waar die werke van Biko en Fanon, met hul by tye liriese helderdenkendheid, onbekend sal bly vir dele van die bevolking omdat hulle swart (en dus per definisie nie werd om gelees te word nie) denkers is.
Hoe kan ons kinders empatie leer as hulle nie blootgestel word aan kinders wat anders as hulle is nie? Boonop lees hulle nie, met die gevolg dat hulle nie die ander in ’n boek kan verken nie.
En ons as skrywers, as denkers, as intellektuele teen wil en dank? Is ons so vasgevang in die vrees om tog nie aanstoot te gee in wat ons skryf nie, dat ons maar net smaaklose Purity-pasta uitdruk wat niemand bevredig nie, maar genadiglik tog ook niemand affronteer nie. Is dit ons funksie? Is dit waartoe ons gereduseer is?
Martin Luther King jr het by geleentheid gesê, omtrent die stilswye van “ordentlike” Amerikaners: “History will have to record that the greatest tragedy of this period of social transition was not the strident clamour of bad people, but the appalling silence of good people.”
Mag dit nooit van ons gesê word nie.
The post Plavei ons die pad na WW3? appeared first on LitNet.