Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21138

Uit die argief: Hare verskrik

$
0
0

Shirmoney Rhode (foto verskaf)

  • Hierdie bydrae het oorspronklik op 13 Julie 2016 verskyn.

Almal wat op die Kaapse Vlakte groot geword het sal verstaan wat ek bedoel as ek sê: “Nee kyk hie vi hare verskrik.” Die uitdrukking “hare verskrik” word vir enige een gebruik wat óf te veel met hul hare speel óf wie dink hul hare maak hulle mooi. Dit kan ook net wees dat die persoon wie sê “jy’s hare verskrik” net plein jaloers of naar is. Maar dat gladde hare ‘n big deal in veral Kaapstad is, is geen geheim nie. Dis ‘n feit soos die bestaan van ‘n GHD. Ek kan hiervan met ondervinding getuig. My ondervinding mag dalk verskil van die volgende persoon s’n, maar ek is seker daar sal hier en daar ooreenkomste wees.

Voor ek kleuterskool toe is, het ek saam my ouma “oumensklub” geloop. Dis nou ons kerk se klub vir bejaardes. Maandag tot Donderdag. Hier sit en doen die bejaardes nou naaldwerk en maak dietjies en datjies. En so nou en dan hou hulle ‘n groot konsert en dan gebruik my ouma sommer al haar kleinkinders as props. Ek kan nie veel van my dae by die klub self onthou nie, maar ek weet dit was grootliks my ouma se werk om my aan te trek en om seker te maak my hare is reg. So jonk soos ek was, het ek dit gehaat dat my ouma my hare moes bewerk. Ek het amper elke keer met kleutertraantjies uitgebars want my ouma het nooit my hare mooi gemaak nie. Om nie eers te praat van die klere wat sy my aangetrek het nie. Mooi was plat en reguit, lelik was hare wat opstaan en paadjies wat skeef getrek is. En my ouma het haar nie aan mooi en lelik gesteur nie. Ek moes maar tjank en klaar kry.

Ek onthou baie vaagweg die eerste keer toe my fyn haartjies “gezoes” (soos my ma dit stel) moes word. Dit was vir my kleuterskool se debutantebal. Dis een van eerste geleenthede (behalwe verjaarsdae) vir mammas om met hulle kinders te spog. Ek het nie veel van my debutantebal verstaan nie, maar ek het geweet ek moet mooi lyk en ek moet smile as hulle foto’s van my neem. Behalwe die “mooi” wit rokkie met rooi linte en poef arms en wit skoentjies wat ek moes aantrek, moes ek plat tussen my ma se bene sit sodat sy my hare kon indraai. Daarna moes ek buite in die son gaan speel het tot my hare droog geword het. As kind het ek ook geleer, as jy blou rollertjies in jou kop het, moet jy maar binne bly, anders kraak die pad se rou kinders hulself oor jou hare net blou rollers kan vat. Want behalwe die feit dat jou hare glad moet wees moet dit ook lank wees. My ma het daardie dag my hare in sulke dik side locks gemaak toe dit uit die rollers kom. En ek was baie chuffed met my look. Soveel so dat ek daarna sommer Miss South Africa wou word.

By die geboorte van ‘n nuwe baba is hare die eerste ding wat na gekyk word (en waaroor daar later in die strate geskinder word). Deesdae pronk die debutantebal foto’s van kindertjies in wit rokkies en skoentjies en gedoende hare oral op sosiale media. Die rokkies al hoe smarter en die hairstyle al hoe mooier. Die rollers is oudtyds en is lankal vervang met die “gun en ghd”. Die arme kindertjies sit en trek heeltyd nek in soos skilpadjies. Ek weet ook van baie kleintjies wie se hare al sommer hier op hul derde verjaarsdag gerelax moet word, want hoe gladder die hare hoe erger die brêk. En as die kroesies weer uitkom na ‘n maand of twee, moet hulle weer Sondae-aande plat tussen Mammie se bene gaan sit dat die hare vasgevleg kan word. Asof hulle eie haartekstuur ‘n skande is. Dié Sondae-aande se hare-gevleggery kan óf smooth sailing wees óf ‘n helse storm laat losbars. Afhangende van die kind.

Gladde hare, together met Engels praat, is jou “hoe om vijou gevaalik te hou” starter pack in die Kaap. Regtigwaar. Engels praat kan ek dalk nog verstaan. Dit kan jou moontlik help in jou werksplek of tricky situations. Maar lang gladde hare? Behalwe dat jy ‘n hair model kan word, en die man van jou drome kan impress, tel dit nie veel nie. Nêrens op jou CV word daar gevra wat jou haartipe is nie. Hoekom baie mense so ‘n big deal oor hare maak weet Gladys alleen.

Laasjaar het daar ‘n “tuisgemaakte” voice-over video viral gegaan oor ‘n scene uit die geliefde sepie 7de Laan. Dié scene gaan oor Xander wie ‘n stry met Vanessa kry oor haar hare. Xander voel hierin dat Vanessa se hare lelik is en dat dit stink en dat sy eerder valse hare moet opsit. Vanessa aanvaar maar toe haar lot en die belediging van haar man want sy is kleurling en het maar nou net eenvoudig “sulke hare”. Nie te lank terug nie was daar selfs ‘n “part two” waar Vanessa moeite gaan maak het om haar hare te relax sodat haar man daarvan kan hou. Toe hy steeds nie goedkeur nie, staan sy op vir haarself deur hom te vloek. Ek het my half in ‘n papie gelag vir albei hierdie voice-over video’s want ek het gehou van die feit dat die voice-over artist hul eie kwessies vanuit hul eie ervaringe en gemeenskappe in hulle eie Afrikaans tuisgebring het daarin. Ek het meer gelag vir die Afrikaans as enige iets anders. Hoe kommen dit ook al sy. Wat ek nie van gehou het nie,  is die feit dat die grappe slegs oor mense van kleur se natuurlike hare gaan en dat ons eie mense dit as 'n grap beskou. Ek kyk nie danig 7de Laan nie, want baie keer voel ek asof ek nie met die gebeure kan relate nie. Ek het opgehou kyk want al die farewall parties word gerecycle en hulle sokkie in die club. Om in my ouma se voorhuis te sit is veel meer exciting. Daar is baie meer real life drama wat daar unfold. No offence aan diegene wat getrou 7de Laan kyk (al moet hulle ook nou laat wees vir biduur op ‘n Woensdagaand).

In elk geval. Wat die voice-over artist van die video’s dalk nie aan gedink het nie, is die feit dat dit eintlik verklap hoe insecure vroue van kleur regtig oor hul hare en hul tekstuur voel (en hier praat ek nou nie van Vanessa se karakter nie). Veral as jou hare nou bietjie strammer is as die volgende persoon s’n. Dalk wys dit ook hoe baie mans van kleur ‘n ophef maak oor gladde hare? Was daar dan ook nie een keer ‘n liedjie waarin kroes hare gespot word nie? In die eerste video is dit after all twee mans wie die voice-over werk doen. Of dalk over-analyse ek maar die situasie. Dalk is dit net ‘n grap.

Ek moet bieg, ek was self op ‘n tyd baie insecure as dit by my hare kom. My hare is fyn en wil net opstaan. My hele hoërskoolloopbaan deur het ek my hare in ‘n bybel of side-paadjie plat op my kop gedra. Juis omdat ek nie daarvan gehou het dat dit moet opstaan nie. Ek het selfs ‘n keer of wat van my ma se relaxer gesteel om my drie haartjies twee te maak. Al was my hare fyn het ek gedink relaxer sal my hare mooier maak. Toe ek ‘n extreme haircut in my matriek jaar kry was ek deur en deur “afkop” genoem. Maar toe ek daar klaar is, het ek besluit ek is klaar met relaxer en enige ander haarprodukte wat nadelig vir my hare is. Ek het toe my hare natuurlik gestyl en laat groei. Dis nie so moeilik nie. En ek hou ook baie meer van my natuurlike tekstuur. My hare is krullerig en ek glo baie ander mense van kleur se natuurlike hare is ook. Hulle moet dit net ‘n kans gee om sonder die manipulering van produkte en te veel hitte te laat groei. Suid-Afrika is myle agter as dit by produkte vir natuurlike hare kom, maar daar is wel ‘n paar produkte vir natuurlike hare op die mark. Daar is wel ‘n natural hair movement (so to speak) aan die gang in Kaapstad. En daar is nie baie haar produkte nie, maar ek ken ‘n paar lekker spots waar jy goedkoop produkte kan kry om jou natural hare te groei. Ek gaan binnekort ‘n facebook page launch waar ek al my natural hair tips en secrets deel. Moenie bang wees om vir my hulp te vra nie. In die tussentyd, gaan loer gerus na Cape Town Naturally se blad op facebook. Dit is vir my so liberating om te sien dames van kleur voel gemaklik in hulle eie vel.

Ter afsluiting: ek sien meer en meer kinders met natuurlike hare in Kaapstad. En dis vir my die oulikste ooit. As ek enige ouer advies kan gee omtrent hul kleintjies se hare sal dit wees om dit in sy natuurlike tekstuur te laat groei. Relaxers en hitte beskadig hulle hare en belemmer dus die groei daarvan. Ons hare is mooi. Net soos wat dit is. Ek het lankal opgegee om soos ander mense te probeer wees. En al gee my natuurlike hare my soms die giere, leer ek dit maniere.

Ek is #hareverskrik.

The post Uit die argief: Hare verskrik appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21138

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>