Laat ek met die deur in die huis val.
Die karakters is stereotipies en gevolglik het mens zero empatie met hulle. Aleksa is die suksesvolle sielkundige, vrou en skrywer, als begeerbare rolle. Fy is die wyse kleurlinghuishulp wat oulikhede kwytraak. Christiaan is die mooi gay man, mooi aangetrek en gemaklik in sy mooi woonstel. Tanya is bloot stukkend.
Die karakters bly eendimensioneel. Wanneer hulle wel ʼn ommeswaai ervaar, is dit oornag en sonder enige ooglopende ontwikkeling of opbou. Aleksa byvoorbeeld is so gekant teen genadedood dat sy die verpleegsters vra om besoekers dop te hou. Die volgende oomblik bestel sy die pille?
Kamerawerk is nog ʼn akteur in jou film, nog ʼn onderdeel om jou storie mee te vertel. Sink het dit so suksesvol toegepas. Die blote openingstoneel in Sink en die manier waarop dit geraam is (en die feit dat die slottoneel weer in die eetkamer en op dieselfde manier geskiet is), het dadelik ʼn blywende indruk gemaak. So ook sekere tonele uit Wolwedans in die skemer of Skoonheid. Daar is geen verskoning vir Twee grade van moord se gemiddelde kamerawerk nie.
Regisseur Gerrit Schoonhoven wys te veel vir die kyker. Waar Aleksa die badkamer binnestorm, weet ons die slegte nuus is te veel vir haar. Jy hoef haar nie oor die toiletbak te sien hang nie. Die genadedoodtoneel sou baie meer treffend gewees het as Aleksa die hospitaalkamerdeure toegemaak het en wat sy volgende doen aan jou verbeelding oorgelaat is. Jy hoef nie die pille, die koppietjie water en die plastieksak te sien nie.
Wat die dialoog aanbetref, het al die karakters vir my met een stem gepraat. ʼn Middeljarige sielkundige, ʼn jong gay man en ʼn verkeerde-kant-van-die-treinspoor-poppie moet tog anders klink, praat en redeneer?
Die enigste tonele wat vir my geloofwaardig was, was die fisieke geweld tussen Tanja en haar kêrel. Dit skryf ek toe aan Hilda Cronje se acting chops.
I’ve loved you so long is ʼn Franse film met Kristin Scott Thomas in die hoofrol en handel oor die genadedood wat sy haar jong seun toedien. Die fliek skop af waar sy vrygelaat word na 20 jaar in die tronk. Dit is ʼn tour de force van ʼn film én vertolking deur Scott Thomas. Deur die individuele storie, haar storie, te vertel en jou empatie vir haar te laat voel, word die universele onreg by jou tuisgebring. Scott Thomas se karakters sê skaars iets oor voorval. Die film self sê nie ja of nee nie, dit laat jou bloot nadink daaroor vir weke daarna. Twee grade van moord, daarenteen, voel soos ʼn preek. Dit sê vir my hoe ek moet voel, in plaas daarvan om my dit te laat voel.
Twee grade van moord dra nie iets nuuts by tot die plaaslike of internasionale filmbedryf of tot die debat rondom genadedood nie.
The post Twee grade van moord probeer te hard appeared first on LitNet.