Fragmente uit die Odusseia van Homeros
Vertaal deur Cas Vos
Cordis Trust
ISBN: 9781485306054
Wanneer literatore ʼn kanon van Westerse literêre werke probeer saamstel, is daar altyd verskil van mening oor wat moet inkom en wat uitgelaat moet word. Maar oor twee werke is daar selde of nooit 'n verskil van mening nie – die Ilias en die Odusseia, die twee grootse eposse wat aan die Griekse digter Homeros toegeskryf word, moet in wees.
Gelukkig het ons in Afrikaans twee vertalings van albei werke: ʼn brongetroue vertaling deur JPJ van Rensburg (1963) en ʼn vryer vertaling van fragmente uit die Ilias en die Odusseia deur Cas Vos. Laasgenoemde het onlangs verskyn.
Vos skryf ʼn uitvoerige en insiggewende inleiding in sy Fragmente uit die Odusseia van Homeros waarin hy onder andere uitbrei oor sentrale temas in die Odusseia: eensaamheid, wanhoop, liefde, verraad, wraak en vernedering. Hy wys daarop dat ʼn stemming van heimwee onderliggend aan al die gebeure is, en toon dat gasvryheid en eerbaarheid kernwaardes in die epos is. Die reis van Odusseus, verklaar hy, is ʼn verhaal waarmee die moderne leser hom volledig kan vereenselwig: "Die reis met al sy bedreigings en gevare, ontnugtering en teenspoed, en die heimwee van Odusseus skuil ook in die hart van die hedendaagse mens" (p 12).
Die skrywer bespreek ook in die inleiding die enorme invloed wat Homeros se Odusseia op latere skrywers uitgeoefen het. Een so ʼn skrywer is James Joyce, wie se Ulysses deur baie gereken word as die invloedrykste literêre werk van die 20ste eeu. In hierdie roman word die verhaal van die Odusseia getransponeer na die hedendaagse Dublin, en die gebeure word gekonsentreer tot ʼn enkele dag.
Ook op die poësie het Homeros se epos sy neerslag gelaat. Vos haal enkele Afrikaanse gedigte oor Odusseus aan: "Ithaka" van Breyten Breytenbach, "Odysseus ruik moer" van DJ Opperman en "Skottelgoed (sikloop)" van Adam Small. Verder word twee pragtige gedigte oor Odusseus mooi deur Vos vertaal: Konstantinos Kavafis se Griekse gedig "Itháké" en Alfred Tennyson se "Ulysses".
Ten slotte besin Cas Vos oor die probleme van die vertaler en motiveer hy die keuses wat hy gemaak het. Hy het die 24 boeke waarin die epos oorspronklik verdeel is, behou, maar elk van die boeke taamlik drasties verkort. Hy wou naamlik die spanningslyn versterk deur die weglating van dele wat volgens hom te omslagtig is en onnodige herhalings bevat. Omdat dit so moeilik is om die Homeriese versmaat in Afrikaans oor te sit, het hy besluit om die Afrikaanse vertaling in prosa weer te gee. Sy ideaal word as volg gestel: "Afrikaans is ʼn vasmeerplek waar die Griekse skip met sy Odusseia aan boord 'n tuiste op Afrikaanse bodem vind" (p 46).
Tereg haal die vertaler die bekende spreuk aan: "traduttore, traditore" (vertaler, verraaier). Want dit is onmoontlik om in 'n vertaling die oorspronklike teks presies weer te gee, en elke keuse wat ʼn vertaler maak, mag wel winste oplewer, maar gaan onvermydelik met verliese gepaard. Dit is ook die geval met die keuses wat Vos gemaak het. Ek het sy vertaling van fragmente uit die Odusseia met die volledige, brongetroue vertaling van JPJ van Rensburg vergelyk om die winste en verliese van die twee teenoorgestelde benaderings te probeer peil. Elkeen het sy voor- en nadele, maar Van Rensburg se vertaling kom myns insiens die beste af in hierdie vergelyking.
Cas Vos se vertaling is moontlik meer leesbaar as Van Rensburg s'n, maar sy vrye omgang met die bronteks bring besliste verliese mee. Hy strewe daarna om die vertaling in ʼn toeganklike Afrikaans weer te gee, maar om tegelyk die verhewe Griekse sfeer te behou. Dit lei myns insiens soms tot stylbreuke. Aan die een kant kry ons die herhaalde verwysing na die "vroeggebore roosvinger Daeraad", byvoorbeeld op p 78, wat ʼn verhewe sfeer weergee, maar kort daarna lees ons van die "lae luise" (p 78). Dieselfde ongelyke register vind ons ook op p 114, waar die "gouetroon Daeraad" opdaag, maar waar daar "laat waai" word met die wyn. Soms voeg die vertaler ʼn eie beeld by, wat nie altyd oorspronklik of geslaag is nie – byvoorbeeld "die son sak soos ʼn vuurbal" (p 89) en "my vaderland wag soos amandels in bloei" (p 91).
Om die ontwikkeling van die verhaal te versnel, word ʼn hele aantal gedeeltes verkort of uitgelaat; dit lewer sekere winste op, maar soms is daar ook ʼn verlies aan dramatiese krag. Die gevaarlike Skilla word so weergegee in Vos se vertaling:
"Skilla, ʼn ongetemde monster wat vuur spoeg, bly halflyf in die spelonk, maar sy hou haar koppe bo die afgrond om visse, dolfyne en sandhaaie te vang. Met elke kop het sy een van my manne uit die boegskip gepluk terwyl hulle skreeuend in wanhoop na my getas het. Dan het sy hulle spartelend nader aan die roste getrek waar sy hulle gulsig afgewurg het" (p 121).
Van Rensburg se vertaling beskryf Skilla so:
"Kyk, sy het mos altesaam twaalf swewende pote, en ses baie lang nekke, en op elkeen ʼn vreeswekkende kop, en drie rye tande, stewig en dig op mekaar, vol van die swart dood. Sy bly halflyf weggesak in die hol spelonk, maar hou haar koppe bo die vreeslike afgrond uit. En dáár rondom die rots loer sy en vang sy haar vis, dolfyne en sandhaaie en enige groter dierasie wat sy dalk kan vang van die tienduisende waarmee die luid kreunende Amphitrite boer. En nog nooit kon seemanne daarop roem dat hulle onbeskadig met ʼn skip by haar verbygevlug het nie: met elke kop gryp sy ʼn man uit die donkerblou boegskip en dra hom weg" (Odusseia 12, 90-100).
Van Rensburg se Skilla is darem vir my baie meer reëel, baie skrikwekkender as dié van Vos.
'n Veel groter probleem met die vertaling van Vos is dat verkorting van die bronteks dikwels lei tot onduidelikhede en onjuisthede. Ek gee 'n paar voorbeelde hiervan.
Na sy terugkeer in Ithaka is Odusseus gewikkel in ʼn werpskyf-kompetisie met die minnaars van Penelope (p 97):
"Odusseus gryp toe ʼn werpskyf en laat dit tol. Manne van aansien koes verwilderd. Odusseus skep moed en daag jongmanne uit. 'Kies,' sê Odusseus, 'ʼn vuisgeveg, stoei of ʼn wedloop.'"
Enigeen behalwe Laodomas. Hy is die gasheer en "uiters bedrewe met die pyl en boog."
Hier is twee foute. In die eerste plek word die heel belangrike punt uitgelaat dat Odusseus se werpskyf verder as al die ander deelnemers sʼn trek, tot daar waar die mense van aansien staan, in hul gewaande veiligheid. Hy is dus die beste werpskyfgooier van almal. Tweedens is die deel wat begin met "Enigeen behalwe Laodamas" deel van die dialoog van Odusseus en nie die begin van ʼn nuwe paragraaf nie.
'n Spannende moment in die epos kom voor wanneer Odusseus se skip die sirenes nader. Ons lees op p 120: "Die skip het lig gevaar, so ver as wat ʼn roep getrek het." Maar volgens Van Rensburg se vertaling is die skip net so ver as wat ʼn skreeu kan trek, van die sirenes af – dus is die gevaar nou groot. Van Rensburg se vertaling maak sin, Vos s'n nie.
Op p 146 gee Penelope ʼn opdrag aan Odusseus se varkoppasser Eumaios. In die volgende paragraaf is ʼn nuwe persoon aan die woord, maar die leser word nie ingelig dat dit Odusseus is wat nou praat nie, wat belangrik is vir die begryp van die toneel.
‘n Laaste voorbeeld. Odusseus is besig om finaal met Penelope se minnaars af te reken. Dan lees ons (p 160):
"Eurumachos is weer aan die woord. 'Laat ons maar veg. Tot die bitter einde!' Swaard in die hand storm hy skreeuend vorentoe. Terselfdertyd skiet Odusseus ʼn pyl na hom. Dodelik en dodend. Ook Amphinomos vreet grond."
Dit is baie verwarrend vir die leser – Odusseus skiet ʼn pyl na Eurumachos, en dan "vreet" Amphinomos "grond", byna asof Odusseus se pyl hom ook getref het. Wat gebeur het, volgens Van Rensburg se vertaling, is dat Odusseus se pyl Eurumachos gedood het, en dat Odusseus se seun Telemachos vir Amphinomos met die swaard deurboor het toe hy op Odusseus afstorm. Vos se vertaling is hier net te kripties.
Verder is daar enkele taal- of drukfoute in die vertaling. Ek het die volgende aangestip: "afpeil" ipv "afpyl" (71); "skrikgodinne" ipv "skikgodinne" (92); "vroegebore" ipv "vroeggebore" (103).
Samevattend: Die inleiding tot Casper Vos se vertaling is insiggewend, maar die vertaling self sou baie baat gevind het by ʼn groter noukeurigheid en ʼn groter respek vir die bronteks.
The post Boekresensie: Fragmente uit die Odusseia van Homeros, vertaal deur Cas Vos appeared first on LitNet.