Lynné Schoeman se verhaal "SkugterDigter" is deur PEN Afrikaans ingeskryf vir die PEN International New Voices Award 2016. Lees ook Frederick J Botha se verhaal.
“Ilaria Jordaan.”
Sy staan stadig op en loop tot voor. Haar knieë bewe liggies, maar sy is nie bang nie. Sy haal diep asem, wag vir Juffrou Beukes se knik en dan begin sy:
“Die kind is nie dood nie.”
In die agterste ry gee iemand ’n hoorbare sug. Haar oë gly oor die klas. Almal is druk besig om hul eie toesprake te bestudeer – party het dit gekoop by iemand wat verlede jaar in graad 11 was; ander se ma’s het hulle s’n geskryf. Liam Poerstamper met die bakore het nie eens die moeite gedoen om die lettertipe te verander van die artikel wat hy nét so van Mieliestronk afgetrek het nie.
Ilaria is nie regtig ’n natuurlike spreker nie, maar sy kan skryf. Wanneer haar gedagtes eers op papier agtermekaar is en sy die onderwerp kén, kan sy maklik enigiemand flous. En sy kén Ingrid Jonker. Ingrid, Afrikaans se eie Marilyn Monroe. Dit was haar regte naam – Ingrid. Nie soos Norma Jean, wat Marilyn voor die kameras geword het nie. Ingrid was maar net Ingrid. Ingrid, wie se gedig deur Nelson Mandela tydens sy eerste staatsrede voorgelees is. Net soos sý dit nou in aanloop tot haar mondeling voordra.
“die kind lig sy vuiste teen sy moeder”
Ilaria was nog jonk toe haar ma dood is. Sy kan nie veel van daardie dag onthou nie. Net dat sy haar ma se voosgevatte Kantelson uit die bedkassielaai gehaal het en op bladsy 38 met ’n stomp potlood onderstreep het:
Mamma is nie meer ’n mens nie
Toe sy kom by die reël, “Die kind lig sy vuiste teen sy vader,” kom Albertus Jordaan se gesig voor haar op. Haar pa verstaan haar nie. Hulle kommunikeer deur te baklei, of dan deur dawerende stilte. Sy kry te skaam om enigiemand na hulle huis in Blouberg te nooi – hoofsaaklik oor haar pa se ou Suid-Afrikaanse vlag wat bokant die braaiplek hang.
Die gedig stryk einde se kant toe en Ilaria begin vertel van Ingrid se Gordonsbaaise kinderjare by haar ouma, haar stormagtige verhoudings en hoe sy gedroom het van ’n beter Suid-Afrika. Die beskrywing van die digter se voortydige dood laat ’n paar kinders opkyk. Dan is daar trae applous.
Toe sy terugstap na haar sitplek, probeer Ilaria onderlangs kyk of Claude darem vir haar hande klap, maar hy is diep in gesprek met George en Laetitia. Laetitia is daardie kommin tipe meisie, wat té hard lag wanneer Claude iets snaaks sê, en wie se grasserige warmtang-hare lanklaas ’n boksie dye gesien het. Net Barend lyk of hy na haar mondeling geluister het. Siestog, sy weet hy hou van haar. Dis net, hy kan regtig nie spel nie. Vir enige ander meisie sou sy breë lewensredder-skouers en die motor wat hy onwettig bestuur genoeg gewees het. Maar nie vir Ilaria nie. Terwyl Laetitia haar mondeling aflees, haal Ilaria haar notaboekie uit haar tas en skribbel:
’n kar neem jou net tot waar die pad doodloop
en voorkoms tot waar die jeugdigheid krom loop
maar poësie en taal deurstaan
die toets van tyd
en strek ver, ver
oor oseane wyd
Die bus laai haar naby die huis af en sy stap die laaste paar treë in die snerpende seebries. Hulle woon binne stapafstand van die strand af. Mense sê as jy by die see bly, waardeer jy dit later nie meer nie. Ilaria kan nie dink dat enigiemand ooit moeg kan raak van die see nie. Sy gaan graag strand toe, altyd met ’n notaboekie en ’n pen, maar sy swem nooit nie. As kind het sy twee maal byna verdrink. Sy is nie bang nie; sy het net respek vir water.
In haar kamer laat plof sy haar tas langs haar lessenaar neer en sluit die deur agter haar. Sy gaan sit kruisbeen op haar bed met haar notaboekie en haal haar skootrekenaar onder die verekussing uit. Net gou haar blog opdateer, dan sal sy ’n rukkie slaap tot haar pa by die huis kom. Haar vingers trommel ongeduldig op die sleutelbord terwyl die SkugterDigter-bladsy laai. Vandat die aantal besoeke per dag begin verdubbel het, voel Ilaria verplig om meer gereeld die inhoud op haar blog aan te vul. Versindaba het onlangs die skakel op hul webtuiste geplaas en Juffrou Beukes het hulle verlede week aangemoedig om die blog te besoek, onwetend dat die SkugterDigter in haar klas is.
Sy maak ’n nuwe inskrywing oop en tik haar jongste gedig uit haar notaboekie oor. Terwyl sy kou en herkou aan ’n gepaste titel, sien sy dit: In die hoek regs onder flikker ’n koevertjie. “You have one new message.” Sy het nog nooit vantevore ’n persoonlike boodskap op haar blog ontvang nie.
Ilaria kan haar nuuskierigheid nie langer bedwing nie en klik op die koevertjie.
@KennerVanDieAand skryf: Bonjour ma chérie.
Haar vingers hang vir ’n oomblik huiwerend oor die sleutelbord.
@SkugterDigter: Hallo, wie is dit?
@KennerVanDieAand : Ek kan net sê ek het op jou gewag
Haar hart bons, want sy herken dadelik die reël uit Wagtyd in Amsterdam. Sy kan sien hy is besig om verder te tik. Dan verskyn die volgende paar reëls wat sy ken asof dit haar eie is:
deur westerse nagte
by haltes
in lane
by gragte
op vliegvelde
en die galg van trane
@SkugterDigter: “Is dit waar jy nou is?”
@KennerVanDieAand: “Ek is in Amsterdam, ja.”
Sy voel effens verlig. Nederland is darem duisende kilometers ver. Dit kan tog nie skade doen nie... ?
@KennerVanDieAand : “Ek verlang verskriklik huis toe. Jou gedigte is al wat my deurdra.”
Sy voel gevlei, maar ignoreer die kompliment en vra: “Wat maak jy in Nederland?”
@KennerVanDieAand: “Ek werk aan my debuutroman. Jy het nie dalk Whatsapp nie, het jy?”
Dit was die begin van ’n verslawende kubervriendskap. Dag in en dag uit eggo die geheimsinnige skrywer haar gunstelingverse van ver oor die see.
“Jy is die mona lisa van my hart
en ek bekend met ’n da vinci-smart”
Ilaria raak al hoe meer geheg aan die anonieme bewonderaar en ná ’n maand sukkel sy om op enigiets anders te konsentreer. Sy kyk kort-kort op haar selfoon, wat sy op haar skoot onder die skoolbank hou. Wanneer hy online is, verbeel sy haar hoe hy ook droomverlore aan haar sit en dink. Wanneer daar ’n boodskap is, fladder haar maag van opwinding.
“My dae soek na die voertuig van jou liggaam
my dae soek na die gestalte van jou naam”
Vanaand is Ilaria alleen by die huis. Twee dae het verbygegaan sonder dat sy iets van hom gehoor het. Daar moet fout wees, dink sy. Hy was ’n paar keer online, maar duidelik nie met die doel om met haar te praat nie. Dalk is hy kwaad vir haar. Het sy iets gesê? Sy rol haar duim oor vorige boodskappe. Nee, dit kan tog nie wees nie. Dalk het sy hom net begin verveel. Of dalk, sy sidder by die gedagte, dalk is daar iemand anders.
Sy loop kaalvoet in die gang af kombuis toe na waar haar pa se duur bottel whiskey op die toonbank staan. Haar pa sal nie agterkom nie. Sy stap terug kamer toe met die vloeistof al klotsend teen die ys in die glas.
In haar kamer loer sy vir die hoeveelste keer na haar selfoon. Daar is sowaar ’n boodskap van hom:
“Stuur vir my ’n foto?”
Haar hart klop in haar keel.
“Van wat?” tik-vra sy terug.
“Jy weet... Herhaal my?”
Sy verstaan wat hy bedoel. En wat sy moet doen – wil doen.
Sy neem ’n groot sluk whiskey en leun terug op die bed. Knoop haar hemp oop en knip haar bra los. Sy hou haar arm uit en klik op die pyltjie op die selfoonskerm om die kamera op haarself te draai. Sy tuit haar lippe en stuur die foto met die onderskrif:
“terwyl ek jou herhaal
met my borste
wat die holtes van jou hande namaak”
Voor sy die bedlampie afskakel en haar oë toemaak, onderstreep sy op bladsy 27 van Kantelson:
My omhelsing het my verdubbel
Dan verder ondertoe:
en my hande omsluit my geheime
in ’n kamer ver weg
Die volgende dag by die skool staan die kinders in groepies om selfone gebondel. Hulle fluister gedemp en loer kort-kort na haar. Wanneer sy iemand se blik vang, kyk hulle skuldig weg.
Barend stap verby en sy gryp hom aan die arm. “Barend, wat gaan aan?”
“Uhm, Ilaria, ek weet nie wat om te sê nie. Ek het nie geweet jy is die SkugterDigter nie.”
“Wag, wat?!”
“Ek het ook nie gedink jy sou so iets doen nie.” Sy oë dwaal af en rus vir ’n oomblik op haar bors.
O, nee, o, nee, o, Here, nee.
Barend se oë mik-mik boontoe, maar kry nie vatplek aan hare nie.
“Gerhard het blykbaar vermoed dis jy en het ’n weddenskap met ’n paar ouens aangegaan.”
Gerhard Cilliers. ’n Ou in matriek wat steeds suur is oor sý met die senior prys vir Afrikaans by verlede jaar se prysuitdeling weggestap het. G’n wonder daar was nie spelfoute in sy boodskappe nie. Hy sou ook nie ’n oomblik gehuiwer het om die foto die wêreld in te stuur nie.
Barend maak keelskoon: “Uh-hum, Ilaria, dis nie al nie. Liam het ’n meme gemaak. Ek is nie seker of ek dit vir jou moet wys nie.”
“Gee hier, laat ek sien.” Sy gryp Barend se foon. Daar is sy op die skerm, heeltemal ontbloot, met groot wit letters bo en onder:
“ILARIA JORDAAN
DIE TIETE VAN ’N NIE-SO-SKUGTER DIGTER”
Sy wil doodgaan.
Claude en van sy vriende loop verby. Claude se skerp humorsin en sy manier met woorde het haar nog altyd aangetrek, maar vandag is dit ’n dolk deur haar hart:
“Kyk, ou Liam is dalk nie so fluks nie, maar waar daar borste betrokke is, staan sy hande vir niks verkeerd nie.”
Bulderende gelag.
Haar keel trek toe en haar oë brand van vernedering. Sy draai om en begin hardloop.
By die huis drink sy twee slaappille en val op haar bed neer. Toe sy wakker word, is dit donker buite. Haar pa is vanaand by ’n werksfunksie en sal eers ná twaalf by die huis wees. Sy sit verwese by die kombuistoonbank voor haar rekenaarskerm. Sy sien nie kans om haar selfoon aan te skakel nie. Terwyl sy wag vir vir haar blog om te laai, neem sy nog ’n sluk whiskey – dié keer sommer uit die bottel. Haar pa sal nie agterkom nie. Dan verstar sy. Die meme. Dis op haar blog. Iemand het dit in elke enkele spasie vir kommentaar opgelaai. Geen gedig is gespaar nie.
Huil gaan nie help nie. Trane kan nie waardigheid terugroep nie. Face your fears, Ilaria! Ja, besluit sy, dis wat sy sal doen.
Halftwaalf gooi sy die oorblywende inhoud van die whiskeybottel in haar keel af. Fok haar pa. Sy sluit die voordeur, los die sleutel onder die potplant en kies koers strand se kant toe. Kaalvoet, met Kantelson teen haar bors vasgedruk.
Die nat sand tussen haar tone laat haar ril. Bladsy ag is reedsonderstreep :
My dood klop agter my oogappels soos die maan
Ek hoor hom roer agter die galme van die branders
Die yskoue van die water brand deur haar voete, haar bene, haar torso en nek. Die loeiende wind waai bladsy ses oor die water en lê die woorde in haar mond:
sonder gebed of ’n lied of ’n graf
net ek en die winterwind
Dit proe sout en nat en word te veel om uit haar keel te keer. Sy sluk.
Haar ore suis weer soos toe sy sewe jaar oud was, maar in plaas van die kleintydse paniek, spoel ’n verlammende verligting oor haar.
Die watermassa druk haar vertroostend vas. Só styf, dat dit die lug uit haar longe pers en sy met elke golf in ’n dieper bewusteloosheid gedompel word.
Barend hou in die parkeerterrein tussen die pad en die strand stil. Sy vriend Alex draai die musiek harder voor hulle uitklim en hou die sigaretaansteker na Barend toe uit. Hulle kom sit gereeld laatnag hier op die houtreling en rook. Nie een sê gewoonlik veel nie; tuur net uit oor die water met die musiek wat hier van agter die atmosfeer stem en die hoofligte wat soos ’n stil soeklig oor die see straal.
Iets ongewoons vang Barend se oog. Hy spring op, beveel Alex om die nooddienste te bel. Wip oor die houtreling en verloor byna sy balans. In die hardloop begin hy reeds sy klere afstroop.
Toe Albertus Jordaan by die strand aankom, is die polisie en die ambulans reeds daar. Barend het die slap liggaam op die sand neergelê. Omstanders kyk op toe haar pa van ’n afstand haar naam roep.
Maar die kind is dood.
The post SkugterDigter appeared first on LitNet.