“Dis daai oomblik wanneer jy besef dat jy die een ding bo die res verkies; al maak die gevolge nie saak nie; dis daai oomblik wat jy moet besef dat jy verslaaf is ...”
Foeitog, daar is regtig nog mense daar buite wat glo dat verslawing ’n siekte van swakheid is en vir die armes van gees en verstand bestem is. Die neus-teen-die-olifanthol-groepies wat glo dat verslawing beperk is tot die naalde-vergryping in donker onderaardse tonnels duskant spoorwegstasies of die kroegstrompelaars en drankwinkelstoepsitters, af teen die ander kant van die groenheuwels vol wingerd.
Foeitog, hoe verkeerd wil ’n mens dan wees en hoe min wil jy regtig reggehelp word wanneer jy weier om verslawing te erken waar dit so helder soos die blos op ’n verwagtende moedertjie se wange die gange van ons spreekwoordelike kraamsale vol lê. Die baarmoeders van ons eie miskenning is vol vrot fetusse en al wens so baie sosiaal kundiges en geldgeleerdes dat die saak liewer onaangeraak moet bly, is dit juis húlle wat die blaam moet dra vir die groeiende afhanklikheidsindroom wat ons huise leegdra en gesinne vervreem.
“Help my, ek is aan my selfoon verslaaf,” en daar anderkant bars iemand uit van die lag ... dis mos ’n vergete ou skeet daai!
“Kom tog mense, moenie kronies raak nie, ons is lankal by daardie bushalte verby.” Selfs die grootste teenkanters het hul “domfone” vir die nuwerwetse slimmes verruil en meeste van die sogenaamde ou generasie stryders gebruik ook nou die slimmighede wat uit Toepassings afgelaai kan word. Dit doen banksake op die “net” en waag ewe om te loer na die stukkies varsvleis wat manne met lang lense op stuitige webwerwe vaspen. Uiteraard sal geen behoorlike Calvyn of Protestant sulke naarhede erken nie ... maar, dit is daar my bra ( ... loos).
Op die verhoë van verskeie sale en kerke sonder preekstoele is daar sprekers wat die bekeerdes waarsku teen die verslawing aan tegnologie. Dat ons versigtig moet wees en waak teen die beheer wat tegnologie oor ons daaglikse bestaan, ons gesinslewe en sogenaamde vriendekringe kan neem. Die gehoor en gemeentes knik kop soos een man en slaan hul oë dankbaar op, terwyl hulle die sale met sugte van eie gerusstelling gelukkig verlaat; dankbaar vir die boodskap, dankbaar dat dit iemand anders se verslawing is en dankbaar dat ons vir hom of haar kon bid. Selah.
Of moontlik eerder ... Selah-vie?
Want in 2013 het die slim navorsers van êrens in die wêreld die regte vrae gevra, somme gemaak en bevind dat die meeste studente aan sosiale media verslaaf is, maar dat hulle tog byna eenparig was dat dit hul akademiese, sosiale en geestelike lewens bevoordeel.
In werklikheid, hulle glo dat dit hulle selfs tydens die eksamentyd kan help... en siedaar, hoe agterlik sal boetie dan nie wees indien hy nie AL die nuutste hardeware, programmatuur, ensovoorts en dan nóg ’n bietjie op die koop toe kry nie?
En nou geliefdes, dat daar ouers is wat slange en geitjies oor die inhoud van hierdie opstelletjie kan vang; ja, nou vir die roomlaag op die koek; die kroonlaag op die pad, of, vir die wyd berese, die “pièce de résistance”... rekenaar – of selfoonspeletjiesverslawing!
Van Rietfontein tot die agterblaaie van Die Huisgenoot lewer mense kommentaar en waarsku die een die ander teen die euwel van hierdie verslawing en verkondig die opskrifte dat daar gevaar skuil en redding beskikbaar is ...
“Vyf tekens dat jy verslaaf is,” ... “is dit 'n verslawing of is dit opvoedkundig?” ... “Ken die slaggate van verslawing” ... ensovoorts en ensovoorts.
Op die draadloos gesels hordes kenners daaroor, Facebook stry daaroor en in Potchefstroom waarsku ’n rubriek die lesers dat lekkergoed-gegeurde hoesstroop brousels en die nuwe Pokémon-speletjie, verstommend genoeg, ewe gevaarlik is!
Wat is eienaardig daaromtrent, hoor ek die gehoor vra?
Dis eienaardig om te midde van ons daaglikse stryde der bestane, gestrand en geestelik verlate te wees, veral wanneer die een wagter van ons mensdom, die beskermer van ons sedes, die ridders van ons redding sy gehoor, sy gemeente en sy broeders en susters in die soeke na die waarheid van hierdie verslawing in die steek laat. Wanneer die mensevergadering wat hulself ’n kerk noem kies om sy randhoenders op ’n dwaalspoor te lei, eerder as om hulle met die mielies van waarheid nader te trek; wanneer ons kies om eerder kompromis op kompromis aan te gaan, net sodat ons tog nie agterraak of voeling met die moderne mens, -tiener en -gesin verloor nie.
Snert sê ek jou.
Geen aanhaler van Bybelverse is opgewasse teen die aanslag van die bose nie. Deur hul voorbeeld, stel die bewakers van die gemeentes voor dat ons as ouers ons plig verder versaak deur die Pokémon-gemors in ons huise in te nooi, eerder as om dit met elke moontlik geestelike wapenrusting en -beleid uit te roei! Dit beteken ons het die geveg prysgegee voor dit begin het.
Jammer, nie by hierdie huis nie.
’n Taiwanse mater vertel dat die Pokémon-verslaafdes stede soos Tapei met hul “gehardloop” van plek-tot-plek om so veel en so vinnig as moontlik van wat ook al goetertjies bymekaar te maak so ontwrig, dat dit nou een te veel vir die owerhede geraak het en dat selfs hulle, die goddeloses, die ding wil verban!
Ken jy verslawing meneer?
Hy lyk nou soos jou vrind en lewenskuur
en kalm soos min dinger hier benee
maar hy's gevaarliker as vlam of vuur
Dan sê jy nog, Meneer die nuwe gier is hier ...
Wat van die klanke wat nooit ophou raas?
Jy sit met die ding in jou palm en tuur,
en jy hoor nie meer die kind en sy roepe, jou dwaas
en daar's geen sprokkel warmte meer vir jou hier
Dan sê jy nog, Meneer die nuutste game is hier ...
Sien jy die krom ou vroutjie daar, Mevrou Mathee,
Wat telkens ver, ver straat-af tuur
Sy dink die tie-wie bring
haar seun weer terug vir tee
hy speel al dae binne die net se muur
Dan sê jy nog, Meneer verslawing is nie hier ...
(Skuus, Oom Uys Krige)
The post Ken jy verslawing meneer? appeared first on LitNet.