
Marno van der Merwe, die aanbieder van Varsity Sing (foto: kykNET)
Varsity Sports en kykNET het kragte saamgesnoer en die koorkompetisieprogram Varsity Sing was die gevolg.
Die hoof uitvoerende beampte van Varsity Sports, Duitser Bosman, gesels met Naomi Meyer oor Varsity Sing.
Varsity Sing is ‘n nuwe program op kykNET. Vertel asseblief iets hiervan vir ons lesers?
Varsity Sing is ‘n splinternuwe koorkompetisie net vir universiteite. Die idee het ontstaan toe Varsity Sports besluit het om ‘n nuwe kulturele “Sports”-kode by die bestaande Varsity Sports-Sportsreekse te voeg.
Varsity Sports bied alreeds agt verskillende sportkompetisies aan op universiteitsvlak. Die sluit in Varsity Krieket, Varsity Hokkie, Varsity Atletiek, Varsity 7’s Rugby, Varsity Strandvlugbal, Varsity Netbal, Varsity Voetbal en Varsity Bergfietsry.
kykNET is die ideale vennoot in Varsity Sing. Vir die eerste keer het ons ‘n geleentheid om ‘n nuwe kulturele kompetisie aan te bied, in dieselfde formaat as ons sportreekse.
Varsity Sing het 14 Julie op kykNET afgeskop en die ontvangs van kykers en op sosiale media was uitstekend. Oor die laaste vyf weke het ons al van die beste universiteitskore in Suid-Afrika gesien en daar is nog heelwat opwinding wat voorlê.

Universiteit van Johannesburg (foto verskaf)
Elf universiteitskore ding teen mekaar mee oor 13 weke. In die uitkloprondes kry elke koor twee kanse om hul talent te wys. Twee kore van elk van die vier streke regoor Suid-Afrika dring deur na die semifinale.
Die eerste vier kore het alreeds deurgedring en sluit in Universiteit Stellenbosch, Universiteit van die Wes-Kaap, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit en Rhodes-universiteit. Die semifinaal vind op 14 September by die Hugo Lambrecht-saal in Kaapstad plaas en die publiek is welkom om dit by te woon. Kaartjie is beskikbaar via die Varsity Sports-toepassing.
Kore wat dié week in aksie is, sluit in die Universiteit van Limpopo, Universiteit van Johannesburg en Universiteit van Pretoria.
Die finale streeksrondes vind plaas op 1 en 8 September, wanneer die kore van die Universiteit van die Vrystaat, Sentrale Universiteit van Tegnologie en Vaal Universiteit van Tegnologie sake uitspook in Bloemfontein.
Die Johannesburg-semifinaal word op 6 September by die Linder-ouditorium by Wits opgeneem. Kaartjies is ook beskikbaar vir die geleentheid via die Varsity Sports-toepassing.

Duitser Bosman (foto: YouTube)
Die beeld van koorkompetisies in Suid-Afrika is baie dikwels slegs wit en slegs Afrikaans. Wat is anders aan hierdie kompetisie?
Die idee agter Varsity Sports, en nou Varsity Sing, is om deelname, universiteitstrots en ‘n positiewe beeld oor die land te help skep. Ons weet dat sport ‘n groot rol speel om ons land bymekaar te bring. Dieselfde kan seker nou ook gesê word van ons eerste kulturele kompetisie.
Die deelnemende kore is ‘n fantastiese weerspieëling van ons universiteite, die kulture en die tale wat ons praat. Wat mens op die verhoog sien, is ‘n pragtige verteenwoordiging van die demografie op die verskillende universiteitskampusse en ‘n pragbeeld van Suid-Afrikaanse studente wat buite die suiwer akademies heel talentvol ontwikkel en ‘n bydrae tot ‘n beter Suid-Afrika lewer.
By verre die grootste aantal studente op universiteit wil ‘n positiewe bydrae lewer tot ons samelewing en dit is duidelik in wat mens in die produksie sien.
Laastens kan ons net bevestig dat geen koor verplig was om enige Afrikaanse liedere te sing nie. Die platform van kykNET is baie dinamies en sal baie goed wees vir koorsang in Suid-Afrika.
Watter universiteitskore neem deel aan hierdie program? Is spesifieke kore genooi? Hoekom is almal wat deelneem so goed, so musikaal, so entoesiasties …?
Hierdie is die eerste jaar van Varsity Sing en al die universiteite wat deel vorm van die Varsity Sports-familie was genooi om ‘n koor in te skryf. Dit sluit 16 van Suid-Afrika se top-universiteite in.
Die kore wat ingeskryf het, sluit in:
Kaapstad-streek
- Universiteit van die Wes-Kaap
- Universiteit Kaapstad
- Universiteit Stellenbosch
Port Elizabeth-streek
- Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit
- Rhodes-universiteit
- Tshwane Universiteit van Tegnologie
Johannesburg-streek
- Universiteit van Johannesburg
- Universiteit van Pretoria
- Universiteit van Limpopo
Bloemfontein-streek
- Universiteit van die Vrystaat
- Sentrale Universiteit van Tegnologie.
Die standaard by Varsity Sing is ongelooflik hoog, aangesien van die wêreld se top-kore hier deelneem. Universiteit Stellenbosch is immers in Augustus in Rusland as wêreldkampioene gekroon. NMMU se dirigent het weer ‘n draai gaan maak in China; dié koor toer in November in Kanada en die VSA. Tuks is uitgenooi om in 2017 by die wêreldkoorfees en -simposium in Spanje op te tree. Suid-Afrika se jongmense het die land aan die sing en dit is so verblydend om dit te sien.

Universiteit van Limpopo (foto verskaf)
Mense het maklik negatiewe persepsies van Suid-Afrikaanse universiteite op die oomblik – veral is daar ‘n gevoel dat dit sleg gaan met rasseverhoudinge op kampusse dwarsoor die land. Maar hierdie kompetisie straal ‘n positiewe energie uit wat die kykers met hoop en entoesiasme vul. Wat is die geheim?
Musiek het eenvoudig ‘n manier om mense bymekaar te bring. In Suid-Afrika is dit absoluut die geval – ons land se mense hou van sing en wanneer ons saam sing, bou ons saam.
Varsity Sing het gehore tot dusver in vervoering gehad met hul tradisionele en trots Suid-Afrikaanse verwerkings. Ek dink die rede hoekom mense dit absoluut geniet is omrede dit juis wys dat iets nuuts geskep kan word; ‘n klankbeeld as’t ware wat ‘n nuwe blik bring waar ander net negatiwiteit sien.

Universiteit van Pretoria (foto verskaf)
Die eerste helfte van hierdie programreeks is nou al verby. Wat gebeur volgende? Wanneer word Varsity Sing uitgesaai?
Die eerste twee streeksrondes is nou al verby en die derde streeksronde word vandag, 25 Augustus beslis. Daar bly dus nog een streeksronde oor – dié van Bloemfontein. Die episodes word op 1 en 8 September uitgesaai.
Die semifinale van Varsity Sing word op 6 en 14 September in Johannesburg en Kaapstad onderskeidelik opgeneem. Die opnames is oop vir die publiek en kaartjies is beskikbaar via die Varsity Sports-toepassing. Die episodes word op 22 en 29 September uitgesaai.
Die finale vir Varsity Sing vind op 13 Oktober plaas en beloof om ‘n glansryke geleentheid te wees. Dit sal ‘n direkte uitsending wees en die publiek kan wel kaartjies na die finale bekom. Kaartjies is beskikbaar op die Varsity Sports-toepassing.
Hierdie is ‘n 13-week-programreeks wat universiteitskore vir altyd sal verander in Suid-Afrika. Soos in 2008 met die begin van die Varsity-rugbybeker is FNB ook hier die instansie wat hierdie verfrissende inisiatief befonds.
The post Onderhoud: Varsity Sing op kykNET méér as net 'n koorkompetisie appeared first on LitNet.