- In hierdie artikel is 'n studie gedoen om te ondersoek of die luister van Afrikaanse musiek vreemdetaalstudente se Afrikaans kon vestig of verbeter. Tussendeur hierdie onderhoud is YouTube-opnames ingevoeg van liedjies wat in die navorsing gebruik is.
Estelle Kruger gesels met Jaydey Sass (JS) en Elbie Adendorff (EA) oor hulle artikel:
Wat is die agtergrond van die studie – met ander woorde, watter spesifieke omstandighede het julle daarvan bewus gemaak dat Afrikaanse musiek tot taalverwerwing/-aanleer kan bydra?
EA: Ek bied die Afrikaanse Taalverwerwingsmodules vir die studente aan en begin altyd met die klanke en uitspraak as basis vir my module, maar kan nie werklik intensiewe uitspraakonderrig doen nie. Voortdurend moedig ek die studente aan om van ander hulpmiddels gebruik te maak. Toe ek gaan oplees het oor moontlike maniere waarop uitspraak en die aanleer en verwerwing van klanke bespoedig of verbeter kan word, het ek op vele artikels en navorsing afgekom oor die gebruik van musiek as ʼn manier om met uitspraak te help. Ek gebruik sedertdien musiek in die algemeen in die klasse. Jaydey het my honneursmodule Metodologie van Taalverwerwing gevolg en sy moes ʼn groot navorsingsprojek en werkstuk doen as deel van die honneursprogram.
JS: Tydens my eerste en tweede jaar op universiteit het ek Duits as vak gehad. Die dosente het altyd vir ons musiek gespeel. Ek het agtergekom dat ek van die woorde, frases en uitspraak onthou. Ek het toe in my honneursjaar besluit om my navorsingswerkstuk in taalverwerwing te doen en te kyk of hierdie metode ander studente ook kan help met die taal wat hulle aanleer.
Daar is heelwat kritiek[1] teen die kommunikatiewe benadering wat julle teoretiese raamwerk is, oa dat dit nie genoeg aandag gee aan die teikentaal se vorm, styl en grammatika nie.
- Hoe het hierdie kritiek julle onderrig en navorsing beïnvloed?
- Sou julle die navorsing en/of onderrig wou/kon opvolg met ’n meer formele taalstudie?
EA: Ons fokus in hierdie spesifieke navorsing van Jaydey nie werklik op taal/grammatika as sodanig nie, maar meer net op die aanleer en verwerwing van klanke en om uitspraak te verbeter. Die studente wat in die 178-module sit, het werklik geen kennis van Afrikaans nie en uit ondervinding het ek besef om met hulle “harde” grammatika te doen, slaag nie. Ek los dit vir die tweedejaarmodule. Ons gebruik van die kommunikatiewe benadering was om die fokus meer op betekenis/verstaanbaarheid te plaas. Dit sou interessant wees om die studie van Jaydey na meer formele taalstudie te kan uitbrei.
Julle onderrig en navorsing was ’n groot uitdaging – wat was die teenslae wat julle ondervind het?
JS: Die studente het nie altyd vir opnames opgedaag of na die musiek geluister soos hulle moes nie. Dit het daartoe gelei dat baie van die data nie gebruik kon word nie, omdat dit onvolledig was. Ons het ook nie 'n vaste plek gehad om die opnames te maak nie en moes elke keer vir 'n plek soek.
Kan julle iets meer sê oor die affektiewe filter, dws die emosionele invloed of effek van musiek op taalverwerwing/-aanleer?
JS: Musiek is een van daardie goed waarvan die meeste mense hou. Die studente kon in die meeste gevalle aanklank vind by die musiek. Dit het hulle ontspanne gemaak, selfs nuuskierig om meer te weet waaroor die liedjie gaan. Dit het hulle verder gemotiveer om die betekenis van woorde wat hulle nie ken nie, na te slaan.
- Die Afrikaanse musiek waarna een van die deelnemers geluister het, was onder andere“Liefling” (Bobby van Jaarsveld).
Hoe sou julle musiek en die affektiewe filter kortliks beskryf vir belangstellende studente?
EA: Krashen verwys in sy navorsing oor tweedetaalverwerwing na die affektiewe-filter-hipotese, wat kortliks postuleer dat daar affektiewe veranderlikes is wat taalverwerwing beïnvloed. Hierdie veranderlikes is motivering, selfvertroue en angstigheid.
Iemand wat hoogs gemotiveerd is wanneer hulle ʼn nuwe taal aanleer en baie selfvertroue het en wat nie baie angstigheid ervaar oor om die taal aan te leer nie, en nie bang is vir byvoorbeeld foute maak ens nie, behoort suksesvol te wees. Ek probeer daarom ʼn baie gemaklike en ontspanne klasatmosfeer skep waarbinne die studente gemaklik en tuis voel, sodat hulle geen angstigheid ervaar nie. Ek werk baie hard aan die motivering van die studente sodat hulle nie enige vrese of angs ervaar om Afrikaans in die klas te gebruik nie.
Het julle gevind dat die beter uitspraak van studente gelei het tot beter lees-/spel-skryfvaardighede tydens die kursus?
JS: Ons het nie ondersoek ingestel na die verbetering van lees- en spelvaardighede nie. Ons kon wel agterkom dat daar heelwat verbetering in die vlotheid van lees in die tweede opname (dws nadat die studente na die musiek geluister het) was.
Het die getalle in die spesifieke kursus toegeneem of minder geword met al die onrus oor Afrikaans op die Stellenbosch-kampus?
EA: Die getalle het gelukkig min of meer dieselfde gebly. Ek sou graag nog meer studente wou hê maar die klein klasgroepie skep die ideale atmosfeer vir persoonlike kontak en om die studente werklik goed te leer ken. Ek is ook besonder bly dat ek nog nooit enige negatiwiteit oor Afrikaans vanaf die studente ervaar het nie. Hulle hou van Afrikaans en sien die meriete van meertaligheid in – veral in van hulle eie spesifieke studierigtings.
- Deelnemer 1 aan die studie hou van rockmusiek. 'n Afrikaanse lied waarna deelnemer 1 geluister het, was "Swart koffie" deur Corlea Botha.
Julle noem dit nie, maar is dit moontlik dat ’n kinderverhaal (soos Liewe Heksie) ook terapeutiese waarde het – dat dit die studente in aanraking bring met die kind in hulle? Het julle ook oorweeg om die Liewe Heksie-video’s te gebruik? Motiveer asseblief.
EA: Ek het dit nog nie oorweeg om die Liewe Heksie-video’s te gebruik nie – dit is iets om aan te dink. Ek weet daar is somtyds vrae oor / kritiek teen die gebruik van kinderverhale in ʼn taalverwerwingsklaskamer – veral omdat dit volwasse studente is. Maar my ondervinding is dat hulle dit geniet en die taalgebruik en humor is vir hulle verstaanbaar. Dit het beslis terapeutiese waarde.
- Nog 'n deelnemer aan die studie het na "Vir altyd" deur Bouwer Bosch geluister.
Julle het die studente se houding baie informeel gemeet itv motivering, belangstelling en vordering. Was daar ook meer formele en gestandaardiseerde vraelyste wat julle oorweeg het in hierdie verband? Verduidelik asseblief.
EA: Ons het nie na enige ander formele en gestandaardiseerde vraelyste gekyk nie. In die taakgebaseerde benadering (wat die basis vorm van die modules) is behoefte-ontledings nogal belangrik. Ek stel my eie vraelyste op omdat ek spesifieke vrae vra ten opsigte van die studente se behoeftes en probeer dit in die modules inkorporeer.
Sou julle die studie anders doen in die toekoms as die geleentheid sigself sou voordoen?
JS: Ek sal graag wil hê dat ons die steekproef moet vergroot, ondersoek instel na die invloed van musiek op woordeskataanleer en meer kundige opinies oor die resultate vra deur byvoorbeeld taalkundiges vir die ontleding te raadpleeg.
Hoe word die spesifieke kursus bemark?
EA: Die Taalverwerwingsmodules word op die Departement se webblad bemark. Ek bemark dit spesifiek aan die begin van elke akademiese jaar tydens die eerstejaars se bekendstellingsweek.
Wat het julle elkeen as persoon geleer in die proses van navorsing en die publikasie van julle bevindinge?
EA: Ek het geleer dat taalverwerwing met pret en genot saamgaan; dat selfs ietsie net so klein soos luister na musiek akademiese waarde het. Dit was vir my verblydend dat die studente wat na musiek geluister het, wel verbetering in uitspraak getoon het. Vir my was die groei wat ek in die studente se selfvertroue waargeneem het, wonderlik om te sien.
JS: Ek het geleer dat die aanleer van 'n taal nie 'n ernstige besigheid hoef te wees nie, dat dit pret kan wees. Ons leer immers beter indien ons ontspanne is. Die studente se entoesiasme om Afrikaans te leer was baie inspirerend.
[1] http://www.litnet.co.za/red-ons-taal
The post Het Afrikaanse liedjies hierdie studente gehelp om Afrikaans te kon leer praat? appeared first on LitNet.