Lees ook: Boekbekendstellingsindrukke en foto's: Ons Japie: Die Boereoorlogdagboek van Anna Barry
Die baie onbekende Boereoorlogdagboek van Anna Barry is pas weer gepubliseer, met ‘n voor- en nawoord deur Ena Jansen, onder die titel Ons Japie: Die Boereoorlogdagboek van Anna Barry. Op 13 Augustus 2016 het die lede van die Orde van die Prince te Sasnev ‘n gesprek tussen Ena Jansen en Ingrid Winterbach met dié dagboek as onderwerp gehou. Die herpublikasie van hierdie verhaal, tesame met die opmerklik min jong gehoorlede wat die gesprek bygewoon het, laat ‘n mens wonder oor die relevansie van die materiaal en ander soortgelyke verhale.
Volgens André Wessels in sy artikel “Die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) in die Afrikaanse letterkunde: ’n geheelperspektief” (Wessels 2011) het die groei van Afrikaner-nasionalisme in die 1930’s, en veral nader aan 1938, met die honderdjarige herdenking van die Groot Trek, ’n hoogtepunt bereik en ’n groot aantal Boereoorlog-verwante publikasies tot gevolg gehad. By die draai van die eeu, in die verloop na en die tyd rondom die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog, is daar ‘n tweede toename in Boereoorlogpublikasies te sien. Hierdie tweede oplewing bied egter nie die idealiserende blik van die Afrikaner soos dit in die eerste reeks publikasies te sien is nie, wat waarskynlik destyds ‘n gevolg was van die Afrikaner-nasionalistiese gees wat in dié tyd geheers het.
Die Afrikaner se rol word in hierdie tweede stroom literêre werke uitgedaag, satiries uitgebeeld (Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein!), en selfs vanuit ‘n swart of bruin oogpunt beskryf (AHM se Afdraai: ‘n kroniek van seermaak en seerkry, van vrede en verandering), wat in sterk kontras staan met die werke van die 1930’s–1940’s (Wessels 2011:187). Meer onlangs is daar weer ‘n toename in Boereoorlogpublikasies te merk, met Tafelberg-uitgewers wat byvoorbeeld pas Elsabe Brits se biografie van Emily Hobhouse in beide Afrikaans en Engels uitgegee het (2016) en Alexander Strachan se onlangse roman, Brandwaterkom (2015), wat ook teen die agtergrond van die Tweede Vryheidsoorlog afspeel. Meer onlangse werke poog ook nie noodwendig om die heroïese dimensie van die Anglo-Boereoorlog te onderskraag nie, maar volg liewer alternatiewe en nuwe verhaallyne, soos Francois Smith se Kamphoer (2014), en verhaallyne beweeg selfs in sekere gevalle deur en verby die oorlog self, soos byvoorbeeld Sonja Loots se karnavaleske Sirkusboere (2011).
Hierdie toename in die gewildheid van Boereoorlogliteratuur skep dus die perfekte ruimte vir die herpublikasie van Ons Japie: Die Boereoorlogdagboek van Anna Barry. Dit is immers óók ‘n verhaal wat afwyk van die hoofsaaklik heroïese en martelaarsverhale wat dikwels vertel word.
Wessels voer verder aan dat literêre werke oor die Anglo-Boereoorlog, oud en nuut, ‘n baie belangrike rol speel om ‘n sin van geskiedenis by lesers in te prent en vir hulle ‘n weergawe van die Suid-Afrikaanse verlede te bied. Dit is ook belangrik om hier te noem dat Barry se dagboek as ‘n egodokument beskou kan word. Aangesien hierdie dokumente dikwels die leemtes vul wat deur historici in makrogeskiedskrywing gelaat word, speel egodokumente vanself ook ‘n baie belangrike rol in die opname van geskiedenis (Dekker 2002).
Daarmee saam noem Wessels egter dat die tema van “hensoppers”, verraaiers en “joiners” opmerklik min in hierdie literêre werke voorkom (Wessels 2011:187–8). Hierdie opmerking is juis relevant wanneer Anna Barry se dagboek ter sprake is, aangesien dit juis dié minder bespreekte kwessies en temas ondersoek. Jansen noem ook dat dit die eenselwigheid van ander Boereoorlogdokumente was wat haar oorspronklik die onderwerp wou laat vermy, en dat dit juis Barry se unieke posisie was, uniek op die gepubliseerde gebied, wat haar tot haar navorsings rondom die dagboek geïnspireer het.
Barry sluit in 1903 haar dagboek af, maar publiseer dit eers in 1960, wat Jansen dan die “tweede vertelmoment” noem. Jansen meen dat dit juis Barry se posisie was, as die dogter van iemand wat die eed van neutraliteit onderteken het en Britse beskerming in die ou Basoetoland geniet het, wat haar moontlik eers in 1960 die vrymoedigheid gegee het om wel haar dagboek, dus ook haar ervaringe, te publiseer. Jansen beskryf die politieke klimaat van die tyd en die doelbewuste pogings van die staat om versoening tussen blanke burgers (Natte en Sappe; Afrikaners en Engelse) te smee. “Ek is daarom van mening dat die politieke situasie teen die laat jare vyftig ‘n veel meer Afrikaner-nasionalistiese omlysting van Barry se dagboekteks in die hand gewerk het as wat in vorige dekades die geval sou gewees het” (Barry 2016:182).
Soos reeds bespreek, is die noodsaaklikheid van werke wat oor hierdie oorlog handel, onbetwisbaar, net soos ook die dokumentering van ander vryheidsoorloë in Suid-Afrika sowel as die mikrogeskiedenisse van al die verskeie kultuurgroepe. Die oorspronklike vraag oor die aftrek wat hierdie werke geniet, bly egter steeds staan. Wat is dit rondom die Boereoorlog wat die literêre werke steeds relevant en populêr maak?
Alhoewel die verskillende “golwe” van Boereoorlogpublikasies rondom belangrike datums in die Afrikanerkultuur geskied, kan ‘n mens aanvoer dat hierdie onderwerp ten spyte van hierdie gedenkdatums aftrek sou geniet. Bo en behalwe die paar voorbeelde wat reeds genoem is, kan die bekende Boereoorlogdagboek van Deneys Reitz – wat in beide Afrikaans en Engels gepubliseer is – getuig van die gewildheid van inhoud van dié aard. Hierdie dagboek is reeds vyf maal in sy huidige weergawe herdruk, nadat dit die eerste maal in 1929 deur Faber & Faber gepubliseer is en mees onlangs in 2010 herdruk is. In Deneys Reitz was Anna Barry se man Charlie Rietz se neef. Wessels beweer dat die Anglo-Boereoorlog en Groot Trek as die mees “epogmakende gebeurtenis in die geskiedenis van die Afrikaner beskou kan word”. Nie alleen het dit ‘n groot invloed op die “psige van die Afrikaner en die ontwikkeling van Afrikanernasionalisme uitgeoefen” nie (Wessels 2011:189), maar dit is ook nou, in ‘n postapartheid Suid-Afrika, van die min verhale waarin die Afrikaner in ‘n heroïese lig uitgebeeld word.
By die lees van Ons Japie is dit baie belangrik om, tesame met Jansen se waarnemings, die konteks in ag te neem wat hierdie werk skep. In die huidige politieke klimaat is dit byvoorbeeld moeilik om die volgende uittreksel uit die dagboek mis te lees:
[D]it sal beteken dat [...] ons samelewing dus nog ingewikkelder gemaak word. Nou sal daar wees “wilde Boere”, “mak Engelse”, “vlugtelinge”, “Khaki-boere”, “hensoppers”, “krygsgevangenes” en Engelse Khaki’s. Ons sal almal bure wees en sal met mekaar in aanraking kom. [...] [O]ns vertrou dat ons nasie, hoewel oorwonne, ‘n toekoms het. Mag president Brand se leuse: “Alles sal regkom”, ook ons leuse bly. (Barry 2016:167)
Na my mening is dit juis hierdie uittreksel wat aan die dagboek sy relevansie besorg. Barry skep hier ‘n blik op die kompleksiteite wat in daardie tyd in die samelewing heers en spreek haar bekommernis uit oor die versoenbaarheid van die situasie. Alhoewel dit kennelik slegs die posisie van ‘n klein minderheid uitbeeld, is dit nou moontlik om vanuit ‘n moderne Suid-Afrikaanse konteks waar te neem hoedat hierdie situasie een is van vele soortgelyke komplekse sosiale konstruksies wat in die Suid-Afrikaanse samelewing geïntegreerd is. Ek gaan dus met Wessels akkoord as hy die belangrikheid van hierdie literêre beweging benadruk, maar meen ook dat alles in ‘n groter konteks moet geskied. Verhale vanuit die Anglo-Boereoorlog moet beslis steeds gelees en vertel word, maar hand aan hand met verhale van kleingeskiedenisse wat daarmee saam die groter Suid-Afrikaanse geskiedenis vorm.
Bibliografie
Barry, A. 2016. Ons Japie: Die Boereoorlogdagboek van Anna Barry. Protea: Protea Boekhuis.
Dekker, R. 2002. Jacques Presser's Heritage: egodocuments in the study of history. Memoria y civilización, Volume 5, ble 13–37.
Jansen, E. 2016. Ons Japie: Die Boeroorlogdagboek van Anna Barry [lesing] (13 Augustus 2016).
Wessels, A. 2011. Die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) in die Afrikaanse letterkunde: ’n geheelperspektief. Die Joernaal vir Transdissiplinêre Navorsing in Suider-Afrika, 7(2):185–204.
The post Ons Japie en die Anglo-Boereoorlog – relevant vir vandag se lesers? appeared first on LitNet.