Beste Angus
Jy is nou regtig besig om te skarrel. Ek het oorspronklik gewys op die anomalie wat betref woordeboeke naamlik dat woordeboeke gebruik word as riglyn vir korrekte woordgebruik maar terselfdertyd neem hulle woorde op wat deur genoeg mense verkeerd gebruik word. Jy’t toe op jou perdjie gespring – seker gedink ek is nie pk nie of so iets – en wou weet presies WATTER woorde sou nou verkeerd wees.
Plaas laat ek toe die storie vir jou as huiswerk gee, gee ek toe maar in en noem die woord ‘sondebok’ wat verkeerdelik gebruik word as beskrywend van die ou wat ’n moeilikheidmaker is; hulle gebruik dus ‘sondebok’ waar ‘belhamel’ meer van pas sou wees. Hiervan het jy toe ’n hele verhandeling gemaak oor sinonieme en wie weet wat nog. Die punt is daar ís woorde in woordeboeke wat in die volksmond ’n verkeerde betekenis gekry het. So wat jy ook al dink jy ‘bewys’ het, het niks met die onderwerp te doen nie.
Jy sê, in jou eerste paragraaf “ . . . volgens [my] gaan die bespreking oor hoe om leenwoorde uit te ken.” Nee Angus, die bespreking gaan oor die teenstrydigheid soos hierbo genoem. Die manier oor hoe om te onderskei tussen ’n leenwoord en ‘n ingeburgerde woord, naamlik die gebruik van woordeboeke, was my voorstel aan jou want dit het gelyk of jy moeilikheid in dié verband ondervind. En dit werk, daar het jy toe uitgevind dat ‘establishment’ toe nie ’n leenwoord (of ingeburgerde woord dan) is soos ek beweer het nie, ek was dus verkeerd. So, aangesien ‘establishment’ net in Engelse woordeboeke voorkom verteenwoordig die gebruik daarvan in Afrikaans dan natuurlik swak Afrikaans.
Jy spring rond – eers sê jy die sin “jy moet ’n relationship establish met die vendor” is nie Afrikaans of Engels nie maar Afrikaaps. Nou dat jy agterkom hierdie stelling van jou was onsin, beweer jy jy het maar ’n flou grappie gemaak; dit IS toe Afrikaans volgens jou. Angus, dit is Afrikaans in dieselfde mate as wat “you must vestig ’n verhouding with the verkoper” Engels is – swak Afrikaans en swak Engels.
Oor die een-begrip-een-woord-storie: Jy sê ‘die man eet kaas’ is ook een begrip. Miskien, maar dis ooglopend nie wat my onnie met een begrip bedoel het nie en ons, sy klas, het dit ook nie so verstaan nie. As jy so wil redeneer kan jy ook aanvoer dat ‘die man eet kaas want hy hou daarvan’ ook een begrip is, of ‘die man eet kaas op sy brood sonder botter want dit is soos hy daarvan hou’. So kan jy aangaan tot jy die hele evolusieteorie van Darwin of die uitsluitingsbeginsel van Heisenberg as een begrip beskou en my dan uitlag omdat daardie verhandelinge uit baie sinne, paragrawe en hoofstukke bestaan en kennelik nie een lang woord is nie. Dis mos nou logies dat wat my onnie bedoel het is soos jou voorbeeld sê – ‘koffiebeker’ is nou een begrip en word vas geskryf (waar die Engelse dit los sou skryf naamlik ‘coffee mug’). So, al wat ek jou wou sê, en wat jy goed ook weet, is dat ons (soos die Duitsers en die Hollanders) vas skryf (en die Engelse skryf los). Maar, weer eens, dit het met die woordeboekteenstrydigheidstorie niks te doen nie; ek akkommodeer maar net jou geskarrel in die hoenderhok want ek hou daarvan. Jy’s van die min wat SêNet nog die moeite werd maak om te lees.
Ek sien jy sukkel nog steeds met die begrip ‘leenwoord’. ’n Leenwoord is ’n woord uit ’n ander taal wat ’n begrip beskryf waarvoor daar nie so ’n woord in die betrokke taal bestaan nie. Die vreemde woorde in die geradbraakte Afrikaanse en Engelse sinne hierbo is dus NIE leenwoorde nie, want daar bestaan goeie Afrikaanse en Engelse woorde vir daardie vreemde woorde. Soos ek al gesê het, gebruik woordeboeke as jy nie seker is nie.
Tot hiertoe dan en groetnis
Jan Rap
The post Reaksie op Angus se kommentaar onderaan my brief van 8 deser appeared first on LitNet.