Die dae het nie kleur nie. Dis net Ma en haar beheptheid met die Oscar Pistorius-moordverhoor. Dit ken g’n brieke nie.
Die dae is kleurloos, maar die nagte ...
Vanoggend, soos elke ander oggend, piksoen hulle mekaar langs die tafel. Ma en Pa. Dis ’n haastige-koebaai-affêre en Pa loop by die voordeur uit. Ma. Pa. Niks is meer vir hulle soos dit was nie. Die skuld hiervoor kan sekerlik nie voor, of dan agter, die deur van die Oscar Pistorius-moordverhoor gesoek word nie. Daardie is ’n deur wat lankal reeds toe staan. Voos en sif geskiet van verwyt en slymerige beskuldiging. Voos en sif, maar ’n deur wat bottoe bly.
Ma waggel in die gang af. Soos ook elke ander oggend. “Watter soort kos wil jy hê moet ek vanaand?” Pa het reeds agter die wiel ingeskuif en die strammerige deur op ons toegeklap. Ma gooi haar swaar hande in die lug, druk die voordeur toe en haar logge lyf swaai weer om in die rigting van die kombuis en vrieskas om die aand se vleis uit te haal. Lusteloos laat val sy dan oggend ná oggend ná oggend die hoop gevriesde vleis met ’n groot lawaai op die opwasbak. Soms voel dit vir my dis die koue lug wat by die bek van die vrieskas uitspring wat in die oggende verantwoordelik is vir Ma se gemoedstoestand.
Een maal, tydens een van hul bekgevegte, het Ma vir Pa geskree hoe sy dit haat om te kook. Pa het uitgebars van die lag. Hy het met sy oop hand oor sy mond gevee en gesê dat sy daaraan moes gedink het vóór sy besluit het om sy ring aan haar vinger te druk. Ma was bitter kwaad. Pa het net daar gestaan en lag. Ek kon Ma se woede daardie dag nie verstaan nie, want oor die jare het sy ’n uithalerkok geword.
’n Uithalerkok en ook ’n voorslageter.
Soggens, met Sus reeds weg werk toe, bring Ma my ontbyt kamer toe. Twee snye roosterbrood, ’n homp fyngerasperde kaas en ook drinkgoed. Dan sak sy met groot gesteun op my bed neer. Sy sê nooit veel nie. Dis net die frons op haar voorkop wat op en af beweeg soos sy snuif om genoeg lug in haar longe te kry. Elke oggend sit sy so. Stil. Dis moeilik om te sê wat dit rêrig is wat haar soggens na my kamer laat kom. Ek het nie ’n probleem om my broodjie in die kombuis teen die tafel af te sluk nie. Dalk wíl sy net hierdie tyd van die oggend in my kamer wees. Op my bed sit. Asemhaal. Droom. Sit. Asemhaal. Vergeet. Onthou. Asemhaal ... Na die skoon en wit mure staar.
My kamer is op die oog af ’n verbeeldinglose vierkant. Die mure is skoon. Al my boeke en CD’s altyd weggepak. Gebêre. Op hul plek. In die rak. My skoolklere word smiddae weggevou in die kas. En anders as in my sus se kamer hoop hier nie skottelgoed op nie. Niks is uit plek nie. Dis net die silwer kettinkie met die kruis wat ek saans naby my kop hang wat dalk ... wat dalk uit plek mag wees.
Vanoggend sit Ma weer. Die kettinkie in haar swaar hand. Haar neusvleuels bewe. Sy snork soos sy die lug in haar groot liggaam insuig en die vel op haar voorkop lewe. Sy hou my dop. Ek kyk vinnig weg. Té vinnig. Daardie kyk in Ma se oë ... Dit voel of sy weet, of sy bewus is van wat snags ... Wanneer sy soggens só met die klein silwer kruisie ... Wanneer haar oë myne weer vasvat en sy met haar spekhande die trane van haar wange wegvee.
“Oor die jare verander baie dinge tussen twee mense, Boeta. En soms het mense nie eens jare nodig nie. Weke of selfs maande is soms genoeg om elkeen ’n ander rigting in te stuur. Dis net hoe dit is. Dis hoe die lewe rol, Boeta. Dis hoe die lewe met ons rol.” Sy vee met haar linkerhand oor haar wang en sommer oor haar mond en teen haar nek af. “Vandag kan mens darem weer die hofsaak volg. Ai, watter gedoente was dit nie daai oggend in daardie huis nie! Ek wonder wat in die seun se kop aangegaan het. Die goed wat ook nie snags agter toe deure gebeur nie ... Donker dinge!” Dis of Ma net praat. Met my. Verby my. Met haarself, en tog asof daar altyd ook ander mense in die kamer is. Kan dit wees dat Ma weet wat saans ...?
Ma hang die kettinkie terug en staan van die bed af op om gang af na haar kamer te waggel. “Maar daai Gerrie Nel, sê ek jou ... Daai Gerrie Nel is ’n man uit een stuk! As daar eendag iets met my sou gebeur, sou ek daai man aan my kant wil hê.”
Ma en die Oscar Pistorius-moordverhoor.
Sesuur skep Ma op. Vandat Pa en my sus by die huis aangekom het, kloek sy een stryk deur oor die moordverhoor. Gerrie Nel en Barry Roux agter. Roux voor en Nel agter. Dié twee ook sekerlik vroeër as eksotiese speserye in ons kos geroer. Ons sit, eet, kou en sluk ook die kleiner stukkies van die moordverhoor af wat Ma vanuit haar sitplek vir ons afbyt en sommer so in ons borde skiet. Dit alles wyl ons vir die horlosie teen die muur wag om sewe-uur te slaan.
“Ek wonder waarmee hou daai Riaan Cruywagen hom deesdae besig? Mens sien hierdie dae glad té min van die man.” Ma glimlag. “Ou, Riaan. Met sy ewige tweesent-smile. Mens verlang nogal na die siel. Was ook mos al soos familie in elke huis.”
Ma dra vir ons koffie aan. Ons oë wat ons nie een maal van die flitsende skerm wegdraai nie. In die verbyloop swaai Ma sommer so na die skakelaar en die kombuis is donker. As sy eers haar sit voor die TV gekry het, is dit om nie gou weer op te sukkel nie.
Oor die jare het sy net Ma geword. Sy het nie vriende nie. Sy lees ook nooit ’n koerant of tydskrif of selfs die Bybel nie. Sy kan jou wel iets omtrent elke sepie vertel. Sy ken al die spelers by naam, skeet en moesie. Dis háár mense. Háár familie. En nou is daar ook ’n Oscar, ’n Reeva, ’n Nel en ’n Roux. Stamfamilie waarvan ons nie voorheen geweet het nie. Ma het hulle uitgesnuffel, of hulle het vir Ma gevind. Mens kan nie seker wees nie. Maar Ma praat van hulle asof hulle jare hoort.
SABC2. Nuustyd. Vanaand, soos elke ander aand, is ons in ons halfdonker voorkamer vasgekeer. Die TV is ’n eenoogdraak. Kwaad en erg kwaai. Bebloed hang Afrika in sy kake. Die draak blaas en wanneer hy sy nek swaai om nog stukke vleis afgeskeur te kry, bevlek hy ons gesigte en mure en ook ons meubels. Dis donker bloed en die erg verdwaalde, verminkte Afrika spartel in die draak se kake. Ons kyk. Ons hou dop. Ook die riviere vloei rooi.
Aan die einde van die nuus is die bloed ’n stukkende reënboog teen ons mure, op ons gesigte. Op ons vloer. Dis net Pa wat lankal reeds opgehou koes het. Hy knip sy oë ritmies. Oop. Toe. Oop. En dan weer toe. Ma hou hom dop. Soos elke aand. Net God kan sy kop nog verstaan, het Ma vroeër in die week met hom geraas. Gerrie Nel sou ’n fees hê met die binnekant van Pa se kop, het ek haar agterna hoor lag. En Roux ...? Roux sou ons bure in busvragte aanry hof toe om te dans. Dans op die musiek wat klankloos in Pa se kop speel.
Ek druk my oë met my hande toe. Die draak se kop is ’n miernes. Wanneer hy sy mond oopmaak, is sy woorde klein swart spikkels wat oor ons vloer aangekruip kom. Die draak met die tweesent-smile. Hoe is dit dat Ma dit nie raaksien nie? Of is dit dat Ma doelbewus hieroor swyg? Oop en toe knip Pa se oë. Oop en dan weer toe.
Dis Ma wat met die advertensiebreuk regop sukkel om haar rok oor haar breë bobene reg te trek. Dan plons sy weer soos ’n ontsteekte gewete langs Pa neer.
“Dêm, Hes, daar móét tog ‘n manier wees hoe jy gewig kan verloor. So sal jy nie kan aangaan nie!” Die dansende lig van die TV laat Pa baie, baie ouer lyk as wat hy rêrig is.
“Ek klim ga’ op ‘n oefenfiets nie. As dít is wat jy voorstel. Jy kan ga’ bars. Dis al hierdie skeletgoed-vroue op die TV wat julle met sulke oë na jul vroue laat kyk. En maak dat julle heeldag met gelaaide rewolwers rondhol.”
“Pille. Ek praat nie van fietse en goed nie. Pille. Hoekom kry jy nie vir jou van die goed wat hulle hier op TV adverteer nie? G’n fiets sal in elk geval onder jou hou nie.”
“Hoekom kry jy nie vir jou ’n ander vrou nie? Ag, sorrie, wa’ ga’ jy die guts vandaan kry? Ek wonder of Herbex pille dáárvoor het? Ietsie wa’ jy somme’ ka’ sluk. ’n Ou quickfix. Ietsie vir slapgattigheid.”
Pa skraap sy keel en sluk aan sy koffie.
Ma skuif haar swaar liggaam in haar sitplek reg voor sy oorbuig om haar beker koffie en brood op die tafeltjie by te dam. “Is hierdie Gerrie Nel nie ’n man gekap uit een blok nie, my kind?” My sus antwoord nie. Ook sy het lankal nie meer lus vir Ma-hulle sê bekgevegte nie.
“Elke aand dieselfde ou nuus. Dis soms net die name van die skelms wat verander,” sug Pa en lê sy bekbyl by sy voete neer. Niks in sy arsenaal, weet hy, sal vir Ma oortuig om gewig te verloor nie. Dis ook hoekom Ma die oorgewigstorie so maklik kan weglag.
“Propaganda,” sê my suster, en haar beker vind haar mond. Sy sluk. “Op e-tv kry mens nog regte nuus. Maar nou ja, dis nie my TV nie.”
Ek sluk vinniger aan my koffie. Die miere nou reeds by my skoenpunte. "Dankie, Ma," sê ek en staan van my sitplek op. Ma se groot hand vou om my gewrig. "Sit, Boeta, die laaste tyd is dit asof iets jou byt, aan jou vreet ... Jy kyk nooit meer die bulletins klaar nie.” Dan klap Ma sommer ook weer na Pa. “Jy moet in Godsnaam nie ook soos jou pa uitdraai nie. Kyk na hom ... Jy moet praat as daar iets is wat jou jaag, Boeta. Jou pa se oë knip net, maar hy sien niks nie. Ma weet van baie dinge. Baie dinge, Boeta.”
“Stil nou, julle,” laat my suster weer van haar uit haar hoekie hoor. “Hier is die enigste insetsel wat ek regtig wil kyk.”
Ons kyk weer in stilte voort.
“Nou ja,” sê my suster toe die insetsel klaar gewys is, “Hierdie is dan ook die einde van my aand. Môre is ’n werksdag. Lekker nag vir julle.” Sy staan op en neem haar koffiebeker kombuis toe.
“Ga’ jy nie vir Generations kyk nie?”
“Nie vanaand nie. Ek is moeg. Laasnag het ek nie goed geslaap nie. Dis die gewoel daar in Boeta se kamer ... Ek weet nie waarmee hy hom snags besig hou nie, maar dit klink nie asof hy veel geslaap kry nie.”
“Spoel tog net eers die bekers uit voor julle loop slaap. Mens het omtrént las met die miere in die oggend,” blaf Pa sommer soos ’n rondloperhond tussen ons in.
“Vuil bekers,” spot Ma. “Is dit die ergste van jou probleme?” Haar hand vat weer my arm vas. “Jy kan nou maar gaan, Boeta. Maar hierdie is die soort werk wat jy eendag moet doen. Jy moet ’n nuusman word. Dís Ma se droom.” Ma se hand vou om myne. “ ‘n Regte verslaggewer. Dit sal jou pas, Boeta.”
Dis meer as net miere wat in die nag hier rondsluip, Pa, brand ek om te sê. Meer as net die miere in vuil bekers. Ek swyg. Ma is reg as sy sê dat Pa kyk maar nie sien nie. Pa se oë knip net. Hy sien niks meer nie.
Waar ek op my bed lê, wil ek nie my oë toemaak nie, want ek weet ... Ek weet dat Riaan weer vreesbevange teen die plafon vasgesuig sit. In die donker, weg van die groot en skerp TV-ligte, is hy sonder sy cheap smile en sy suit. Die hoeke van sy mond is swart knoeste miere. Hy maak sy mond oop. Die miere is ’n toubrug wat stadig tot op my gesig neersak. Stadig. En dan plons die hele tweesent-smile op my bors neer. Daar is miere oral. Waar is jy, Pa? Hoekom kom help jy my nie? Pa ...
Laatnag loop ek kombuis toe. Of is dit die miere wat my dra, sleep? In die donker kombuis sit hulle rondom die tafel. Ma, Gerrie Nel en Barry Roux. In die middel van die tafel die enkele koffiebeker. Binne-in die vuil koffiebeker is dit ’n baie klein Oscar wat benoud rondspring. Ek staan nader om beter te sien. Oscar is ‘n baie, baie klein mannetjie en op sy rug swaai die tweesent-man al skoppend rond. Gerrie vat my aan die hand en vra dat ek nog nader moet staan, dat ek moet let op die blik Doom in Oscar se hand. Daar is trane in Oscar se oë. “Hou tog net die miere van my af weg,” pleit hy by Barry. “Hou tog net die miere van my weg. Hou net die miere van my weg!”
Ma neem die vuil koffiebeker en spoel dit onder die lopende kraan skoon. “Sal ek vir ons iets maak om te eet? Dan moet ek moet skoonmaak hier. Die bleddie man kry elke keer stuipe as hy soggens die lig aanskakel en die kombuis vol miere vind.”