Hallo Tiens
Ek sê mos almelee ons is nie van hierdie planeet nie; ons kan nie eers ’n uur in die son sit sonder baie nadelige gevolge nie. Ek reken ons voorouers het etlike honderdduisende jare hier geland vanuit ’n heeltemal ander sonnestelsel. Of so iets.
Wat naskoolse studie betref, ek dink ook dit moet gratis wees maar dit moet ‘andersom’ werk: Die student betaal sy jaar en, indien hy slaag, kry hy sy geld terug wat hy dan kan aanwend om vir sy volgende jaar te betaal en so gaan hy aan tot hy sy kursus voltooi het. Dieselfde geld ook vir enige oorbruggingskursusse indien nodig. Hierdie soort van kursusse sal egter grootliks onnodig wees indien skole genoegsaam presteer om skoliere te lewer met ware universiteitstoelating.
Op hierdie wyse sal slegs studente op universiteit wees wie se studies hulle erns is; daar sal bloot net nie die tyd wees vir allerhande ontwrigtingsaksies en eise nie. Die koste gespaar aan herstelwerk sal enorm wees en studentelewe, en klasgee, sal na normaal terugkeer. Elke student wat afstudeer sal nou wel die staat ’n klomp geld gekos het maar dit is ’n belegging; dit sal bydra tot werkveroorsaking (daar is nie so iets soos werkskepping nie) en gegradueerdes sal dus ophou emigreer.
Daar is ook die moontlikheid van klasloop na-uurs; duisende der duisende studente het gekwalifiseer op die manier. Dit is iets wat my nog altyd verbaas het met al die radiopraatjies oor hierdie FeesMustFall-storie; almal is die arm student (soos meeste studente nog al die jare was) simpatiek en wonder watse planne gemaak kan word sodat hulle kan studeer maar niemand het na-uurse of deeltydse studie voorgestel nie.
Daar is nie so iets soos ‘n ryk student nie; miskien ryk ouers maar die is baie skaars. Die ouers wat wel hulle kinders se klasgeld betaal doen dit maar deur te raap en skraap. Van die ouers wat wel ryk is was heel waarskynlik eens op ’n tyd arm studente wat na-uurs, of deeltyds, studeer het. Dit maak nie eintlik sin om van sulke ouers te verwag om kinders te subsidieer wat nie bereid is om dieselfde deursettingsvermoë en volharding aan die dag te lê nie. As hulle dit vir hulle eie kinders wil doen, nou ja, dis hulle saak want mense is mos maar geneig om hulle welvaart met hulle eie kinders te deel; bloed is dikker as water.
‘n Paar algemene gedagtes: My geslag se ingenieurs, dokters ens, professionele mense met ander woorde, se ouers was merendeels ambagsmanne, amptenare en boere, mense wat goed sou doen op universiteit maar daar was net nie die geleentheid of geld nie. Selfs na-uurse studie was meeste van hulle nie beskore nie aangesien hulle van ’n baie jong ouderdom moes begin werk om te help brood op die tafel sit. Maar loodgieters, sweisers, passer-en-draaiers, elektrisiëns, skrynwerkers, blokmanne ens is net so noodsaaklik vir die ekonomie as byvoorbeeld ingenieurs, dokters en aktuarisse. Baie studente wat deesdae op universiteit sit en sukkel sal hulself baie beter in ’n ambag kan uitleef en so ’n beter lewensgehalte handhaaf en ’n aanwins vir die land wees. Studentwees (vir baie) is deesdae ’n duur en nuttelose mode. Dit is jammer die tegniese kolleges is tot niet gemaak (die nuwe storie - tegnologiese universiteite? - skyn my net nie dieselfde te wees nie).
Groetnis
Jan Rap
The post Reaksie op Tiens se planeetbrief appeared first on LitNet.