Die afgelope naweek het ons gesin vir die eerste keer in ’n lang tyd die kuierteerpad deur die res van die kolonie opgeneem. Die lag en gesels en saamwees was so lekker dat ek amper vergeet het dat ’n stelling wat iemand die ander dag gemaak het, nog skuins in my gedagtes geëts is ...
Rondom 09:00 moes ons op Oudtshoorn by ’n eet-, geskenk-, braai- en bike-plek afpak om die ontbytlus te blus. Terwyl Mammatjie en die seuns die winkelrakke deurdraf het ek en die koffie by die geelhouttafeltjie met sy dennehoutstoeltjies gesit, gewag en gekyk.
Skuins oorkant ons het ’n tafel met mense met leerklere gesit. “Bikers”; die sosiale gier waar dokters, doktore en ander beroepslui hul dagpakke en oorjasse afgooi en die lappe van hul pronk staalperde afhaal, die saal vetsmeer en hul lang pad speelpakkies aantrek om ast’ware ’n metamorfose te ondergaan en van die res van hul lewens te ontsnap.
(“Hoe durf jy so veralgemeen?” hoor ek ’n koor van aanklaers gil.)
Ieder geval; tussentyds het hier links van ons, reg langs die warm kaggel, ’n oom en sy vrou kom sit. Hy is groot, met groot hande en ’n kortbroek in die winter in die Klein-Karoo en hy dra een van daai hemde wat mens eintlik net by ’n koöperasie koop. En net daar, begin my gedagtes van die heerlike langnaweek wegdwaal en hop die grysgoed terug na die stelling wat my toe al ’n week of wat aan die worstel he t...
(“Hoe durf jy ons modebewustheid so bevraagteken?” hoor ek iemand uit ’n waenhuis roep.)
Die oom haal sy “tablet” en selfoon saam uit sy bo-sak uit en sit beide aan. Die foon lê hy sag op die tafel langs sy bordjie neer en met sy een groot voorvinger trek-swiep hy heen-en-weer en op-en-af soos hy deur die tablet se blaaie boer. Die vreemde prent wat hier voor my afspeel laat my oë verstar en die koffie in my beker in my hand koud raak. Die oom frons en met sy geleerde vinger kap hy die letters om iets te tik wat seker kommentaar op die een of ander se Facebook-blad of so iets moet wees.
Oorkant hom sit ’n redelike mollige anderkant middeljarige vrou in ’n perserige truitjie; sy sit net en sy staar. Sy het die een bladsy spyskaart klaar gelees en haar bestelling vir hom gefluister sodat hy haar spek, wors en eiers met koffie en warm melk amptelik aan die kelnerin kan oordra; “want dis wat pappa altyd doen en pappa sal netnou ook bid”.
Op daardie oomblik het die begrip vir die letterlike betekenis van die woord “eensaam” weer by my kom kuier.
Hoe eensaam moet ’n busbestuurder wees wanneer die laaste passasiers sy bus verlaat het en hy alleen aansukkel depot toe?
Of
Hoe eensaam is ’n huislose man wat vroegoggend onder ’n rooi stukkende nat kombers uit die tuin van ’n kerkgebou strompel, net betyds om gejaag en verwilder te word?
Of
Hoe eensaam is ’n vrou in ’n pers truitjie, in ’n plattelandse koffiehuis vol mense op ’n wintersoggend sonder geselskap?
Dis sekerlik ernstig eensaam.
Op die draadloos vanoggend het die doods-onderwerp, wat amper so taboe soos voorhuwelikse kinderverwekking in menige gemeenskappe is, almal se lippe aan die gons gehad. Maar, dit is egter nie oor die dood wat ek wil kommentaar lewer of hoegenaamd bekwaam is om kommentaar te lewer nie, behalwe deur ligsinnig op te merk dat dit vir ’n boedelberedderaar nog altyd baie moeilik was om sy saak af te handel wanneer die langslewende eerste afsterwe!
Moontlik is dit juis by die dood waar die vrees vir eensaamheid gebore word?
Want hoeveel huweliksmaats was al deur die dood onkant gevang; hoeveel vrouens of mans se ergste vrees is al bewaarheid wanneer sy of hy die oggend ná die tranerige vorige nag met die wete wakker skrik, dat die nagmerrie eg is en dat die res van hierdie nuwe dag alleen gaan wees?
Hoeveel van ons is reg daarvoor?
Ek skink nog ’n glas koue witwyn, neem ’n teug en sak my ken in my hande terwyl ek amper stom bedruk luister hoe ’n vrou haar hart oor ’n etenstafel oopmaak en my van die vrees vir eensaamheid oortuig.
Ons almal weet dat eensaamheid nie noodwendigheid alleenwees beteken nie. Want ’n mens kan, soos die tannie in die koffiehuis, tussen ’n klomp gesellige gesigte wees en steeds eensaam voel. Eensaamheid is nie die gebrek aan gesigte om ons nie. Dit is eerder die gebrek aan gemeensaamheid, die werklike saamwees met ander, die gebrek aan intimiteit.
Eensaamheid is nie die gevolg van alleen wees nie, dit is die gevolg van alleen voel. Selfs Dawid het deur hierdie dal geworstel toe hy geskryf het: “Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote.” En, “Ek is uitgeput van alleenwees en verdriet, ek is swak omdat ander my nie raaksien nie.”
Ter filosofiese afsluiting laat my toe om die spreekwoordelike kat in die skou-Budgie se hok in te gooi: As jy eensaam voel, sal sosiale media-webwerwe soos Facebooks en Twitters en selfs interaktiewe speletjies soos Pokemons en sy trawante jou rus verder versteur en daai hond van eensaamheid slegs vet voer!
Dit kan tog nie gaaf wees om te sien hoe ander hul aanlynstatus met prettighede aanpas, terwyl jy op ’n koue afstand net moet toekyk nie; dit kan tog nie gesond wees nie.
Eensaamheid se oorwinning, soos berusting, skuil soms by jou, binne-in jou, eerder as by ’n ander ...
Totius se Repos ailleurs (Die rus is elders)
In die eensame veld staan ’n tentjie klein,
en daarnaas in die skeemring skuif die ligtende trein;
ek sien in die tentjie, deur die oop gordyn,
’n tafel met bordjies en glasies fyn,
wat sag in die lig van die kersie skyn,
en ek dag: "Was ek net in die tentjie klein,
ek sou tog so gelukkig syn."
Naas die eensame tent staan ’n meisie klein,
in stomme bewond’ring van die ligtende trein;
sy sien my geniet my glansende wyn
en kost’like maal by elektriese skyn;
en ek raai die gedagte van die meisie klein:
"Ag, was ek maar net in die vrolike trein,
ek sou tog o so gelukkig syn".
The post Een en alleen appeared first on LitNet.