Jirre nee
Ál wat hulle doen is kla
En die oë van die verminktes en die gekrenktes –
Nét daar!
Kýk, bra swaar:
Dra swáár aan gelapte verlede, leë gebede en wat nog
En dié mense preek kamma toegeneentheid
Is verslaaf aan kinderlike histerie en massale selfgeregtigheid
Verdiend!
God se ryker genade en sy rykste seën oor hulle
So gló hulle vas
Is ons in die sondes van ons voormense vasgemessel
– die reste, die off-cuts, die spares
Daai ding van dik muise en bitter meel nè –
Goed genoeg tot op ‘n punt toe en dan om “huis” toe gevat en vir die honde gevoer te word
– foeitog, die arme honde darem maar
Ai Jirre Almagtig,
Vergewe dié mense
En véral vir my:
My onverdraagsaamheid teenoor hul beterweterigheid
My afguns en verwensing van hul groot karre en huise
My oordeel oor hul bedorwe kinders en uitspattigste leefwyse
My swaar hart vol van woede en berekende wraak
Verlos my tog van hierdie duiwel
– die nyd en die afgryse
The post Verlos my tog appeared first on LitNet.