Bestanddele
1 x heel hoender
4 x garlic en ginger cloves fyn gecrush
2 x groot ryp tamaties
1 x groot ui, fyn gesny
ʼn halwe green pepper fyn gechop
1 x eetlepel chicken masala poeier*
1 x eetlepel mother-in-law curry-poeier*
1 x teelepel borrie-poeier
1 x teelepel chicken spice*
2 x vars curry leaves*
1 x blokkie chicken stock*
1 x cardamom*
6 x aartappels**
1 x eetlepel sunflower olie
1 x eetlepel botter
die varsgestorte trane van ʼn vrou wie se man ʼn dronkgat is
* Koop maar rather jou spices van ʼn regte Slamse winkel soos Bismallah’s in Kostern waar die mense soos karakters uit ʼn Bollywood-movie praat. At least is die bestanddele eg en vars want die Slamse is trots op hul products. Los maar die groot winkels se spices – die goed is so lou soos tap water.
** Muller-vroue gooi nie groente in hul curries nie. Dis low-class om ertjies of mixed vegetables in curries te gooi. ʼn Saggekookte aartappel is goed genoeg. Kook maar rather die groente, saam met die basmati rice as bydisse.
Method
- Sny die hoender in klein stukke op. Verwyder die vel van die borsgedeeltes.
- Sit die giblets in die freezer. Hou dit vir ʼn einde-van-die-maand-en-die-fridge-is-leeg-bredie.
- Moenie die hoenderstert weggooi nie: dit is bad luck.
- Spice die vleis met chicken spice en laat dit vir ʼn rukkie in die fridge staan.
- Braai die ui, green pepper, garlic en ginger in ʼn klein bietjie sunflower olie en botter mix tot alles sag is.
- Gooi die spices en die opgesnyde tamaties in.
- Laat dit saggies aankook.
- Gooi die hoenderstukke by en meng dit goed met die curry sous.
- Gooi dan die aartappels in met ʼn bietjie gekookte water. Sit die plaat laag en sit die deksel op sodat die kos lekker kook.
- Ná so 30 minute se kook kan jy die curry leaves en die cardamom byvoeg.
- Lig die pot se deksel op en roer elke keer wat jy kans kry. Gebruik die geleentheid om saggies in die kos in te huil sodat jou kinders dit nie kan sien of hoor nie.
Bless me father for I have sinned
Robyn se storie
Mei 1991
St Rita’s Katolieke Kerk, Bethelsdorp, Port Elizabeth
Robyn kyk om haar rond. Sy wil nie hê enige van haar skoolvriende moet haar hier sien nie. Sy het juis ʼn Saterdagmiddag gekies om kerk toe te gaan, want sy het gehoop die strate sal leeg wees. Al die jongmense is in die klub se matinee disco’s besig om hulself moeg te jazz. Sy stap vinnig die kerk in, verlig om te sien dat die banke leeg is. Dit lyk asof father Clarke vandag hier is om konfessies te hoor, want die pers liggie bokant die biegstoel is aan.
Robyn trek die pers gordyn saggies weg, stap in en kniel langs die priester. Hy sit met sy lyf en gesig weg van haar af. Sy lippe beweeg stadig, sy oë is toe en sy hande op die bladsye van ʼn oop Bybel.
Robyn kruis haarself en sê saggies: “In the name of the Father, the Son and the Holy Spirit. Amen.”
Die priester sê niks. Sy lippe het ophou beweeg en sy kop is opgelig. Sy houding wys dat hy vir haar wag om iets te sê.
“Bless me father, for I have sinned,” begin sy. Die woorde kom maklik, ingedril in haar kop na jare se kategese. “My last confession was three months ago. And in that time I smoked cigarettes and …”
”How many cigarettes?” val die priester haar in die rede met sy diep Ierse stem.
“Uhm. I think seven or eight,” lieg Robyn.
Weer is daar stilte.
Dan gaan Robyn voort: “I also drank beer at the disco with my friends and I went for a blues and kissed this ou. It was a French kiss with the tongue you know. It made me naar.”
Stilte van die priester af.
“I also swore. I said ‘fokkof’. And ‘jou moer’. And ‘bitch’. And …”
“Yes … What else?” vra die priester.
Nou is dit Robyn se beurt om stil te wees. Sy het nou op die punt gekom waar sy haar ware sondes wil bely.
“Father … I put … I threw … When I made coffee for my father at home … I put rat poison in the coffee.”
Robyn kan nie verder nie. Haar asem jaag. Sy wag vir die priester om te antwoord.
“God forgives us all our sins, but we must confess them,” por hy haar aan.
“Father?” vra Robyn.
Sy vat aan sy hande en draai haar lyf na syne toe. Sy probeer hom in die oë kyk, maar hy vermy haar blik.
“Father?” vra sy weer. “My father drinks a lot and when he is drunk our house is very unhappy. He hits my mother. I’m going to kill him if he doesn’t stop. You must help me father.”
Die priester sug diep voor hy verder praat. Hy weier steeds om haar in die oë te kyk.
“You must understand that all parents have pressures. They must work and earn money and it is hard. You must forgive your father and his actions. Children must respect their elders. It says so in the Bible in Corinthians 3 verse 13: ‘Children, obey your parents in everything, for this pleases the Lord.’”
Robyn ken die Bybel baie goed en verse opsê is nie genoeg vir haar nie. Sy wil hê iemand moet iets dóén.
“But father … I cannot obey him. A drunk cannot be obeyed. And he talks nonsense all the time and he fights with me. Isn’t there another way? Maybe you can speak to a social worker … Or come visit …”
Die priester sug weer.
“Now it’s time to do an act of contrition,” sê hy. “For your penance I ask that you recite one ‘Our Father’, two ‘Hail Marys’ and three ‘Glory Be’s’.”
Robyn begin die rympie opsê: “Oh my God, I am sorry for my sins because I have offended You. I know I should love You above all things. Help me to do penance, to do better, and to avoid anything that might lead me to sin. Amen.”
Hoekom sy moet verskoning vra wanneer dit haar pa is wat probleme veroorsaak, verstaan sy nie mooi nie. Maar Robyn dink nie diep oor die woorde wat sy voorsê nie. Sy resiteer dit net soos sy geleer was.
“In the name of the Father, the Son and the Holy Spirit. Go forth and sin no more,” sê die priester.
Robyn stap uit die kerk sonder om haar boetedoening op te sê. Sy sal dit volgende keer doen.
Robyn hou van loop en sy vat haar tyd terug huis toe. Sy hou ook haar oë op die grond, want sy het al baie keer geld of ander kosbaarhede opgetel. Haar laaste geluk was ʼn vyfrandnoot. Sy het dit huis toe gevat en vir haar ma gegee, wie haar terug winkel toe gestuur het om ʼn pakkie Courtleighs met die geld te koop.
Die groter kinders speel skaloelie in die pad, ʼn vinnige speletjie wat ʼn mengsel tussen sokker en dodgeball is. Die kleintjies hop tussen die getekende hopscotch-blokke. Robyn sou daarvan hou om saam met die groter kinders te speel, maar sy is skaam en niemand nooi haar nie.
“Hoezit,” skree Loewan, haar buurman van oorkant die pad.
Sy waai terug. Sy sien Loewan se hare het ʼn stertjie van agter. Dit is die nuwe Richie-styl waar die ouens hulle hare soos Lionel Richie van die Commodores sny. Dit pas nogal by hom.
Robin is verlig om te sien dat die blou Datsun nie voor die huis staan nie: dit beteken haar pa is nie daar nie.
Voor sy by hulle erf inswaai, gaan sy na antie Clara toe wat langsaan hulle bly om ʼn paar angeliere uit haar tuin te pluk. Die volgende dag is immers Moedersdag.
Die aand lê Robyn op haar rug in die donker kamer diep aan die slaap, toe sy skielik ʼn hand op haar voet voel. Sy skrik wakker. Haar oë spring oop. Dit vat haar ʼn rukkie om aan die donker gewoond te raak, maar uiteindelik kan sy die donker skadu by die punt van haar bed uitmaak.
Sy haal diep asem. Haar broer lê tjoepstil op die slaapbank bokant hare.
Sy draai haar kop om die figuur weer te bekyk. Die man wat voor haar staan sê niks, hy beweeg nie. Sy ken die figuur goed: dit is haar oupa en hy het haar lanklaas gespook. Dit gebeur altyd op dieselfde manier. Sy word uit ʼn diep slaap wakker gemaak deur ʼn man wat net daar staan en staar.
“Oupa? Wat soek Oupa?”
Die figuur skud sy kop heen en weer. Sy kan nie mooi sy gesigsuitdrukking uitmaak nie, maar daar is iets aan sy houding wat hartseer voorkom.
Robyn draai haarself om, weg van die figuur af, soos sy gewoonlik doen. Dit is al manier waarop sy weer aan die slaap gaan raak. Maar dan hoor sy die geluid van ʼn kar wat intrek in die agterjaart. Dis haar pa. Sy wonder hoe laat dit is.
Die blou Datsun ry met ʼn spoed in die jaart in en rev kliphard. Sy hoor haar ma opstaan in die kamer langsaan en luister soos sy kombuis toe stap. Haar ma maak die deur oop en skreeu: “Jeff! Jeff! Stop! Stop!”
Die Datsun rev harder en harder. Sy hoor haar ma se voetstappe soos sy na die kar toe stap en teen die venster klap.
“Jeff! Stop! Stop!”
Robyn klim uit die bed en loer by die kamervenster uit. Haar pa se kop hang oor die stuurwiel en haar ma slaan aan die venster.
Uiteindelik stol die kar. Haar ma help haar pa uit die kar. Teen dié tyd is al die bure se kombuisligte aan. Robyn luister na sy dronkstap soos sy voete op die vloer sleep. Dit is miskien hoekom haar oupa hier was, dink sy. Om haar te waarsku teen die kak wat vanaand gaan kom.
Robyn luister soos haar ma en pa na hul kamer stap. Haar pa praat kliphard oor mense wat dinge is wat dink. Robyn ken die storie baie goed. Wanneer hy dik gesuip is, praat hy oor en oor, oor simpel goed wat nie sin maak nie.
“Stiefpa,” fluister sy saggies en probeer haarself troos.
Net laas week het haar niggie haar mond verby gepraat en vir Robyn gesê dat haar pa nie haar regte pa is nie, maar haar stiefpa. Dit was ʼn groot verligting om te weet dat sy nie bloed met hom deel nie.
Maar natúúrlik is die man nie haar pa nie, het sy later vir haarself gelag. Sy het dan vir jare by haar antie Merle gebly terwyl haar ma in die Kaap was om haar gebroke hart te herstel. En toe het sy na ʼn ander antie se huis getrek.
En weer ʼn ander antie. Sy was reeds vyf jaar oud toe haar ma met haar pa trou. Dis skokkend hoe sy alles vergeet het! Maar sy is nou 14 jaar oud en dit gaan nie nóú so maklik wees om haar te flous nie. Dit was hierdie herinneringe wat haar die moed gegee het om sy koffie te vergiftig. Maar toe drink hy dit nie.
“Ken jy my ma?” hoor sy haar stiefpa vra. Die harde stem laat haar hart vinnig klop.
“Ja,” antwoord haar ma. “Ek ken jou ma. Haar naam is Cissie.”
“Weet jy sy het my weggegooi? My gelos by haar ma, my ouma wat my grootgemaak het met ʼn lat in haar hand. Gereed om my te slaan as die wind verander. Toe gaan neem sy ʼn weeskind aan somewhere in die Kaap, maar haar bloedkind is alleen. Toe gaan trou sy met ʼn man wat my haat …”
Haar stiefpa se stem verbrokkel in harde geluide. Hy is besig om te huil. So vinnig soos hy begin huil het, stop hy.
“Hei! Jy! Ek praat met jou!” skree hy. “Vir wat draai jy jou lyf weg van my af? Huh? Omdat ek huil? ʼn Man kan mos huil? Gee jy nie om nie?”
Die toon in sy stem laat Robyn vinnig opspring. Sy stap saggies na die slaapkamerdeur en stoot dit stadig toe. Die deur het nie ʼn sleutel nie, maar sy stoot die spieëltafel saggies teen die deur om dit toe te hou. Sy het gehoop om nie haar noodplan in aksie te sit nie, maar sy weet goed wat volgende gaan gebeur.
“Robby … Wat gaan aan?” vra haar broer. Die slaap is dik in sy stem. “Robby?” vra hy harder. Dit klink asof hy wil huil.
“Sjjj Eddie,” fluister Robyn en sy stap vinnig na hom toe. “Sjjj, dis ʼn nagmerrie. Jy het net ʼn slegte droom gehad. Moenie worry nie, Robby is hier.”
“Maar … Maar ek hoor stemme. Is dit Dedda wat só skreeu?”
Robyn klim vinnig op die slaapbank, kruip in by haar broer en druk hom styf vas. Die agtjarige seun skuif styf in teen sy suster.
Robyn begin saggies vir hom sing: “Mamma se baby. Mamma se hart. Mamma se noenoes. Mamma se skat.”
“Jeff, hou op!” hoor sy haar ma skree.
“Met wat?” vra haar stiefpa.
Soos hy praat, hoor Robyn hoe hy klappe uitdeel.
“Van. Wanneer. Af. Sê. Jy. Vir. My. Wat. Om. Te. Doen?”
Klap. Klap. Klap.
Gewoonlik kan haar ma ʼn hele halfuur se klappe hanteer voor hy sy hande vuis maak. Maar vanaand begin sy amper onmiddellik te huil. Soos altyd is Robyn verbaas dat haar ma soos ʼn klein kind klink wanneer sy huil. Sy druk Eddie se ore toe en begin saggies die wiegelied te neurie om die stemme uit te blokkeer: die een wat skreeu, die ander wat pleit.
Die Sondag skrik Robyn wakker met die reuk van hoenderkerrie in die lug. Die reuk van drank is nie ver weg nie. Niks stink so erg soos ou bier en brandewyn nie. Die radio is op Algoa. Diana Ross sing oor berge en valleie. Toe sy opstaan, sien sy dat haar broer al op is en die spieëlkas weer op sy gewone plek staan.
In die kombuis staan haar ma voor die stoof in haar pienk japon. Haar ma se trane drup in die pot. Hoenderkerrie en trane.
“Môre Ma. Happy Mother’s Day!” sê Robyn en haal die angeliere agter haar rug uit.
Haar ma druk haar styf vas.
“Dankie Klimmeid. At least het jy onthou.”
Vir die res van die dag maak hulle asof niks gebeur het nie. Dat daar niks fout is nie. Asof die drankreuk niks beteken nie. Asof die blou merke op haar ma se bo-arms nie daar is nie. Asof die kots op die slaapkamervloer en die bloedkolle op die duvet daar hóórt.
The post Ma se hoendercurry appeared first on LitNet.