’n Verwerking van George Bernard Shaw se teaterstuk Pygmalion wat in 1913 vir die eerste maal in Londen opgevoer is, My Fair Lady, lok tans vol sale in die Kunstekaapteater.
Die musiekblyspel in breë trekke: Eliza Doolittle is ’n blommeverkoper in Edwardiaanse Londen met ’n baie swaar Cockney-aksent. Haar pad kruis een aand buite die teater met dié van die arrogante Professor Henry Higgins, ’n fonetikus en kolonel Pickering, ’n taalkundige wat Indiese dialekte bestudeer het. Met die twee mans se oor-en-weer gesels, spog Higgins dat hy enigeen met ’n swaar aksent en swak uitspraak met sy lesse kan ophef om suiwer Engels te praat. Hy sê: “Dis mense soos Eliza se aaklige spraak die ware oorsaak is van klasverskille - nie geld of voorkoms nie.”
Hy verwag egter nie die dat die laer klas meisie met die “vuil” uitspraak hom die volgende dag gaan kom opklop nie. Sy oortuig Higgins om haar af te rig en die kolonel - wat intussen sy intrek by Higgins geneem het - daag hom uit om sy woord gestand te doen. Die leerproses is ’n lang en swaar stryd, maar naderhand kry Eliza haar uitspraak onder die knie en word sy ook boonop afgerig om soos ’n dame op te tree.
Sy maak haar sosiale debuut by ’n perderesies by Ascot - en steel Higgins se ma se hart - en lei ook almal by ’n deftige bal om die bos dat sy van adellike afkoms is. Higgins se arrogansie ken geen perke nie, want Eliza is die verpersoonliking van mense se goedgelowigheid en hy sien Eliza as een van sy suksesvolste projekte. Hy gee haar geen krediet vir haar harde werk om die ommeswaai te bewerk nie en gee ook nie om wat van haar word, nadat hy die weddenskap met die kolonel gewen het nie.
Eliza is seergemaak en kondig aan sy gaan met ’n jong man trou. Haar en Higgins se paaie skei. Toe hy die volgende oggend probeer konsentreer, besef hy het gevoelens vir haar - hy drink tee in plaas van koffie; kry nie sy lêers nie maar besluit tog dat mans beslis baie meer superieur is as vroue.
Die kolonel is moeg vir Higgins se stiksienigheid en gaan kuier by ’n ander vriend. Eliza gaan bekla haar lot by Higgins se ma en sê dat Higgins haar steeds soos ’n blommeverkoper behandel; terwyl die kolonel haar soos ’n dame laat voel het.
Alleen by die huis is die gemis aan Eliza erg en Higgins luister na opnames van haar stem as troos. Hy hoor sy eie woorde waarin hy haar as laag en vuil uitmaak.
Die blyspel eindig met Eliza wat terugkeer na hom toe en hy wat haar hand op sy skouer vashou.
Shaw se tong-in-die-kies kommentaar oor Pygmalion - die mitiese Griekse beelhouer wat verlief raak op die vroulike beeld wat hy skep - is beslis baie duidelik in Higgins se karakter.
George Bernard Shaw het op ’n keer gesê: “The difference between a lady and a flower girl is not how she behaves, but how she is treated.” Higgins is die bewys hiervan. Hy wou die “perfekte” vrou skep, maar selfs toe ander haar as adel ervaar en haar skoonheid besing, het hy steeds nie besef sý was altyd die juweel nie, hy het net gehelp met die poetswerk.
Dis 103 jaar sedert Shaw die toneelstuk geskryf het, en as jy daar in die donkerte van die teater sit en hoor hoe mense giggel, is daar ’n ongemaklikheid in jou skouers. Dis nie net die neerhalende manier waarop Higgins met Eliza praat nie, dis ook mense se reaksie daarop. Dis beslis nie ’n goeie voorbeeld van wedersydse respek tussen die geslagte en ’n goeie voorbeeld van ’n gelukkige einde nie; ongeag hoe goed jy dié bekende storie ken.
Maar dis al as die "perfekte musiekblyspel" beskryf en dis beslis die lof waardig. Die kostuums en stel deur Dicky Longhurst het die gehoor se asems verskeie kere hoorbaar weggeslaan en die musiek en lirieke deur Frederick Loewe en Alan Jay Lerner onderskeidelik, word meesterlik deur die Kaapse Filharmoniese Orkes uitgevoer. En natuurlik kan jy lekker in jou kop saamsing met ou gunstelinge soos "The Rain in Spain", "Get Me to the Church on Time", "On the Street Where You Live" en "With a Little Bit of Luck".
Dis ’n heerlike aand by die teater en die bekendheid van die karakters, liedjies en sêgoed, dra beslis by tot die genot.
- Shaw se toneelstuk is deur die jare verskeie male op die planke opgevoer en in films verwerk. Die bekendste films was sekerlik My Fair Lady (1964), Pygmalion (1938), Pretty Woman (1990) en She’s All That (1999). In die 1956-Broadway teaterstuk is Henry Higgins deur Rex Harrison en Eliza Doolittle deur Julie Andrews; Higgins se ma deur Cathleen Nesbitt en Kolonel Hugh Pickering deur Robert Coote vertolk. In die 1964-film was Audrey Hepburn in die rol van Eliza Doolittle (Marni Nixon was Eliza se singstem), Rex Harrison as Professor Higgins, Gladys Cooper as Higgins se ma en Wilfrid Hyde-White as Kolonel Pickering.
My Fair Lady
Met onder andere Linda Pledger Eedes, Trevor Joubert, Michael Harris en Veronica Suckling
Aangepas van George Bernard Shaw se toneeltuk en Gabriel Pascal se film, Pygmalion.
Regie: Kyra Thorburn
Kostuums: Dicky Longhurst
Kunstekaapteater
Tot 7 Augustus 2016
Kaartjies by Computicket
The post Teaterresensie: My Fair Lady by die Kunstekaapteater appeared first on LitNet.