Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

In ‘n nuwe bedeling: Afrikaans as ‘n onderrigmedium in skole

$
0
0

Fotobron: time.com

Dit is meer as ‘n misleiding om te glo dat dit wat tans by tersiêre inrigtings dwarsoor die land gebeur ten opsigte van medium van onderrig, nie skole een of ander tyd gaan raak nie. Afrikaanssprekendes is beslis nie eensgesind oor Afrikaans nie, veral as dit gaan oor die taal as blote onderrigmedium. Vir baie is dit wat op tersiêre vak gebeur nie baie problematies nie, omdat hulle en hul kinders se agtergrond dit vir hulle makliker maak om aan te pas. Daar is ‘n beduidende groep wie se kinders ewe maklik kan aanpas, maar vir wie Afrikaans meer as net ‘n medium van onderrig is – dit is hartsake, geloofsake en beslis beginselsake. Hulle voel anders oor die rol wat hul moedertaal in hul kinders se opvoeding moet speel. Dan is daar die oorgrote meerderheid vir wie die veranderinge op tersiêre vlak die finale nekslag is vir verdere studie na skool. Ek wil nie hiermee ‘n platform skep vir die behoud van Afrikaans as ‘n tersiêre onderrigmedium nie – daar bestaan reeds genoeg ruimte daarvoor. Wat ek wel wil doen, is om ‘n perspektief te gee oor die potensiële invloed wat besluite op tersiêre vlak op skole kan uitoefen en wat skole se reaksie behoort te wees.

Die vraag word dikwels gevra: Is Afrikaans as onderrigmedium op skool dan enigsins in gevaar? Nie volgens die Grondwet van Suid-Afrika nie. Art 29 lui: “Elkeen het die reg om in openbare instellings onderwys te ontvang in die amptelike taal van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is.” U kinders is dus, vir die oomblik, verseker van onderrig in Afrikaans in skole waar dié tipe van onderrig moontlik is. Dit is nie ‘n onvoorwaardelike reg nie. Net soos by moedertaalsprekers in ander amptelike tale soos Xhosa, Zoeloe en selfs Engels, is ‘n leerder geregtig op onderwys in die taal van eie keuse slegs indien dit “redelikerwys doenlik is” - waar dit moontlik is. Waar dit nie prakties moontlik is nie, of waar die reg al hoe moeiliker is om te handhaaf, kan dié reg in gedrang kom.

Nou wat is dan die probleem?

Tersiêre inrigtings wat aandring op Engels as die primêre medium van onderrig sal ‘n invloed hê op die medium van onderrig op skoolvlak, of ons dit nou wil aanvaar of nie. Skole wat in gebreke bly om vroegtydig vir hierdie verandering te beplan, loop gevaar om verswelg te word.

Die gevaar kan van buite en/of van binne kom. Kom ons kyk na beide.

Van buite – die staat

  • Die staat kan ‘n eenvormige medium van onderrig, Engels, op alle skole afdwing en so die “probleem” oplos. Dit is hoogs onwaarskynlik, omdat dit nie alleen opvoedkundig onverantwoordbaar is nie en beslis nie aanklank by ander moedertaalsprekers sal vind nie, maar sou neerkom op ‘n wysiging van die Grondwet, wat meer onwaarskynlik is.
  • Die staat kan bepaal dat alle skole deur die bank parallelmedium moet wees met sogenaamde gelyke beregtiging aan beide Engels en Afrikaans (of enige van die ander amptelike tale). Dit gee aan ouers die geleentheid om na goeddunke hul kinders se onderrigmedium te bepaal. Dit klink aanloklik, maar dit is moeilik om die balans tussen tale te behou. Dit bly ook die duurste vorm van onderrig. Dit is hoogs onwaarskynlik dat die staat tot so ‘n drastiese stap sal oorgaan.
  • Die grondwetlike hof se uitspraak het op die oomblik geen invloed op skole in die Wes-Kaap nie, maar indien dit later op ander provinsies toegepas word, kan dit problematies word. Wat voorheen nie as moontlik beskou is nie, is nou nie meer so vergesog nie.
  • Die staat kan besluit om nie weer in die toekoms enkelmediumskole toe te laat nie. Dit kan probleme veroorsaak vir Engelsmedium-skole en kan as teenproduktief beskou word.
  • Daar is talle voorbeelde dwarsdeur die land waar die veranderende demografie die handhawing van Afrikaans (of enige ander landstaal) nie meer “redelikerwys doenlik” maak nie of waar daar ‘n geleidelike invloei van anderstaliges is. Dit beteken dat ‘n enkelmediumskool parallelmedium word en die dominante taal sal seëvier. ‘n Verandering aan ‘n skool se taalbeleid is afhanklik van die goedkeuring van die skoolbeheerliggaam.
  • Sekere elemente in die regerende party is bloot om politieke oorwegings vyandig teenoor Afrikaans as ‘n medium van onderrig. Dit gebeur reeds in die noordelike provinsies. Dit is te betwyfel of enige poging tot redelike gesprekvoering met dié elemente enige kans op sukses het.

Van binne – ouers en leerders

Dit is hier waar die grootste onmiddellike gevaar lê.

  • Daar is Afrikaanse ouers met Afrikaanse harte, maar daar is ook Afrikaanse ouers met Engelse harte.
  • Ouers is die primêre besluitnemers oor hul kinders se medium van onderrig. Afrikaanse ouers mag besluit om, in afwagting van hul kinders se toetrede tot Engels as medium van onderrig op tersiêre vlak, hul kinders in die Engelse baan van ‘n parallelmedium-skool te plaas. Nie alleen sal dit die medium van onderrig skeeftrek by ‘n skool nie, maar dit kan die skool mettertyd in ‘n enkelbaanmodel indwing. Dit kan egter grotendeels deur die skool beheer word indien hulle dit wel wil doen.
  • Ouers kan besluit om hul kinders vroegtydig oor te plaas van Afrikaanse skole na Engelse skole in afwagting op onderrig deur medium van Engels op tersiêre vlak. Hoewel dit vir baie ouers ‘n aanvegbare opvoedkundige besluit is, is dit waar die grootste gevaar lê. ‘n Ouer wat hierdie pad wil volg, moet seker maak dat hul kind baat sal vind by so ‘n verandering en oor die vermoë beskik om die uitdaging die hoof te bied.
  • Die gemaklikheid waarmee begaafde leerders die parallelmedium-model aanvaarbaar vind, is vir baie ouers ‘n trekpleister. Ouers moet in ag neem dat so ‘n verandering beslis nie alle leerders pas nie.
  • Onderrig deur medium van Engels kan ‘n modegier word vir kinders, dikwels met katastrofiese gevolge.

Watter tipe skool is dan in die grootste gevaar? Sonder twyfel ‘n Afrikaanse enkelmediumskool. Bloot omdat die oorwig van druk ouers sal aanmoedig om hul kinders liewer vroeër as later in Engels te laat onderrig.

Die vraag ontstaan dan: Beantwoord Afrikaansmedium-skole dan enigsins aan die behoeftes van leerders in hierdie sogenaamde nuwe bedeling?

Daar is by my geen twyfel dat Afrikaansmedium-skole in al die onderwysbehoeftes van Afrikaanse kinders voorsien nie, maar dat sekere verstellings nodig is. Dit is ‘n mite dat dit enigsins nodig is om na Engelse skole te migreer om Engels te leer. Daar is te veel getuienis dat Afrikaanse studente die wêreld daar buite bestorm het en hulself bewys het sonder om deur medium van Engels te studeer.

Wat is die toekoms van Afrikaans-enkelmediumskole? Rooskleurig. ‘n Saak kan uitgemaak word dat die “nuwe” taalstryd broodnodige vernuwing in denke by Afrikaans-enkelmediumskole te weeg kan bring mits skole vroegtydig daarvoor beplan.

Wat is dan dié nuwe denke?

  • Benut die volle spektrum van Afrikaans en al sy mense en leef dit in sy volheid uit in skole. Beweeg na buite en deel Afrikaans met álmal met ‘n liefde vir die taal.
  • Skole moet gesien word as deel van die breë Afrikaanse gemeenskap. By implikasie beteken dit dat skole baie sterker onder alle Afrikaanssprekendes moet begin bemark.
  • Hou Afrikaanse skole teen elke prys vol, sodat Afrikaanse onderrig altyd “redelikerwys doenlik” is. Dit kan gedoen word slegs deur vol te hou om akademiese uitnemendheid na te streef.
  • Beweeg weg van die handhawing van ‘n skool se eie identiteit indien werklikhede ‘n ander rigting aandui. Smelt saam met ander Afrikaanse skole in die omgewing om stabiliteit te verseker. Die groter prentjie is belangriker as ‘n eie identiteit.
  • Waak teen laervorming. Leef jou moedertaal uit na buite en maak Afrikaans aantreklik vir niemoedertaalsprekers.
  • Moedig leerders aan om ook aan bedrywighede in Engels deel te neem. Vaardigheid in Engels mag nie ‘n meulsteen word nie.
  • Werk saam met organisasies buite die onderwys om Afrikaans te bevorder.
  • Aanvaar dat die maklikste manier om Afrikaans te bevorder in die daaglikse gebruik van die taal lê. Gebruik jou moedertaal met trots.
  • Aanvaar dat Afrikaans vele vorme het en dat elkeen ‘n bestaansreg het.
  • Beantwoord aan die onderwysbehoeftes van jou kinders en berei hulle voor vir die tersiêre werklikheid waarin hulle gaan studeer deur baie meer klem te lê op Engels as gebruikstaal in jou skool. Adverteer jou skool se benadering teenoor Engels en sorg dat ouers en voornemende ouers bewus is van jou skool se benadering tot die bevordering van Engels. So ‘n beleid het ook finansiële implikasies vir die skoolgemeenskap, omdat hierdie klem op Engelse onderrig kleiner klasse impliseer. Jou kinders se vermoë om Engels te praat mag nie agterweë bly nie.
  • Omarm die volle spektrum van Afrikatale tot ons beskikking deur ‘n Afrikataal naas Afrikaans en Engels by jou skool te bevorder. Dit slaan my dronk dat leerders in ons skole Frans, Duits, Italiaans en selfs Mandaryns kan leer, terwyl ons kinders selfs nie ‘n basiese gesprek met medeburgers van ons land kan voer nie. Dit is nie polities korrek nie en beslis nie tot voordeel van ons land nie.
  • Moet nooit aanneem dat dit noodwendig waar is dat Afrikaans as onderrigmedium gaan verdwyn nie.
  • Wees bereid om jou beursie oop te maak om onderrig in Afrikaans te verseker.

Beskou die nuwe stryd nie as negatief nie, maar eerder as ‘n nuwe uitdaging wat Afrikaans net sterker sal maak in Suid-Afrika. Ons skole moet egter sonder twyfel proaktief wees en nie wag dat omstandighede (en wetgewing) ons later onvoorbereid betrap nie.

The post In ‘n nuwe bedeling: Afrikaans as ‘n onderrigmedium in skole appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>