’n Bekwame en besielde onderwyser se invloed op suksesvolle leer is baie meer prominent is as die modernste skoolgebou of die mees gesofistikeerde skoolkurrikulum. Dit blyk uit 'n onlangse artikel in LitNet Akademies (Opvoedkunde). Hier is 'n gesprek tussen Estelle Kruger en Hettie van der Merwe oor Hettie se artikel, Onderwysermotivering as ’n verstrengeling van sosiale kapitaal met onderwyserdoelwitte en toepaslike motiveringsteorieë.
- As jy die hoof van ’n skool was, hoe sou jy jou onderwysers stimuleer en bemoedig nav die navorsingsbevindings?
Ek sou elke onderwyser van tyd tot tyd in die oë kyk en bedank vir die besondere inset wat hy of sy lewer. Maar dan moet ek daardie spesifieke inset kan kwantifiseer en nie net in ‘n oppervlakkige, algemene-gepratery-erkenning verval nie. Ek moet opreg weet wat elke onderwyser se besondere aandeel is, want elke onderwyser dra op sy of haar unieke manier hul roepingsbesef uit tot voordeel van die leerling.
- Watter werklike en virtuele hulpbronne vir onderwysers dink jy is onderontgin wat lei tot gebrek aan motivering?
Die status van onderwysers in terme van wat hulle werklik op ‘n daaglikse basis vir die samelewing beteken, is onderontgin. As kind het ek op ‘n slag gehoor dat onderwysers binne die Russiese Ystergordynsamelewing meer status en aansien as die mediese dokters gehad het. Sonder om dramaties te wees, dink ek onderwysers red ook lewens op ‘n daaglikse basis.
Verder is dit so dat ‘n gebrek aan motivering altyd die gevolg van sistemiese bestuursoorsake is soos die gedurige kurrikulumveranderings van vroeër en die meer onlangse kontrolemaatreëls wat vol leemtes is. Kry die sisteem in orde en onderwysers geniet hulle roeping.
- Wie (van die volgende) kan bydra (behalwe finansies) tot intrinsieke motivering van onderwysers ... en hoe?
- die skoolhoof
Die skoolhoof kan ontsaglik bydra tot intrinsieke motivering deur op ‘n gereelde grondslag onderwysers as groep en elkeen individueel te laat verstaan dat hy/sy weet hulle lewer uitstekende diens. Dit vereis dat skoolhoofde bewustelik teenwoordig moet wees by alles wat elke minuut van die dag by hulle skole gebeur om die unieke insette van elke individuele onderwyser te verstaan en te waardeer.
Motivering is ook nou gekoppel aan lojaliteit. As die onderwyserkorps weet die hoof is aan hulle kant, byvoorbeeld met die handhaaf van konstruktiewe dissipline, het hulle waagmoed om besield die regte ding te doen. En verder: onderwysers werk gemotiveerd as hulle weet hulle word vertrou.
- die skoolbeheerliggaam
Eiendomsagente sê dikwels daar is net drie kriteria wat voornemende huiskopers in ag moet neem, naamlik ligging, ligging, en ligging. Onderwysers weet weer dat daar net drie kriteria vir ‘n suksesvolle lesaanbieding is, naamlik voorbereiding drie maal vermenigvuldig.
Op dieselfde trant is die skoolbeheerliggaam se gereelde kommunikasie van erkenning aan die onderwysers as ‘n groep vir hulle toegewyde uitsette onmisbaar. Hiermee saam is die skoolbeheerliggaam se taak om te sorg dat die skool se infrastruktuur bevorderlik is vir onderrig-en-leer ‘n ononderhandelbare bron vir besielde skoolhou.
- Wat is die agtergrond van jou studie – maw watter spesifieke omstandighede in jou eie “habitus” (Bourdieu[1] se begrip van leefruimte) het tot hierdie navorsing van jou gelei?
‘n Besielende onderwyser het ‘n ongelooflik groot invloed op die ontvanklike gemoed van die leerling. Of dit nou ‘n graad 1’tjie is wat grootoog alles wat Juffrou sê as die enigste waarheid voorhou, en of dit daardie matriek-ou is wat skynbaar alles weet en alles goed onder beheer het, onderwyserinvloed is onmeetbaar. Hierdie invloed sny baie dieper as net die oordra van belangrike vakinhoud op ‘n bekwame manier. Die invloed is veral ook van toepassing op dit wat die onderwyser is, wat hy sê, wat hy nie sê nie, en hoe hy elke minuut van elke dag optree, of nie optree nie. Ongeag hierdie ongelooflik groot invloed van onderwysers op leerlinge se toekomsverwagting is daar dikwels sulke stortreënvlae-opinies in koerante se briewekolomme oor onderwysers wat oorbetaal word vir hulle “8 tot 2”-beroep.
As oudonderwyser weet ek hoe ‘n gelaaide antwoord dit is om te sê: “Nee, die onderwyser se werksure is nie van 8 tot 2 nie.” Dit is wel so dat nie alle onderwysers ewe eerbaar is nie, en ek is bewus van die mening dat ‘n groot persentasie onderwysers wel oorbetaal is in ag genome hulle werksetiek. As dosent by Unisa wat gemoeid is met die verdere opleiding van praktiserende onderwysers is ek egter onder die indruk van onderwysers wat gemotiveerd skoolhou. Ek het daarom gewonder of daar iets spesifieks is wat vandag se onderwyser motiveer om skool te hou.
- Wat kan gedoen word om te verhoed dat jou navorsingsbevindings “a voice crying in the wilderness”[2] van ’n sg akademiese ivoortoring word?
Een manier waarop bevindinge gekommunikeer kan word, is deur die integrering daarvan met die module-inhoud wat aan onderwysstudente gekommunikeer word, hetsy tydens kontaksessies of aan die hand van studiebriewe. Hierdie integrering is dan funksioneel in die sin van ‘n verbreding of bevestiging van die waarheidswaarde van die bestaande inhoud. Die integrering van onderwysers wat in die praktyk staan se perspektiewe op sake soos onderwysermotivering verleen dan aan die module-inhoud ‘n kontemporêre geldigheidswaarde. Die navorsingsbevindings sou ook na die navorsingskantore van die onderskeie provinsiale onderwysdepartemente versprei kon word.
- Jou navorsing berus op die teorieë van Pierre Bourdieu as Franse sosioloog en antropoloog. Hy kom uit Frankryk en was dus van ’n Europese agtergrond uit die Eerste Wêreld. Hoe kan dit toepaslik wees (gemaak word) in ‘n Suid-Afrikaanse konteks wat moontlik met Derde Wêreld-uitdagings worstel?
Ek het pas die Britse (BBC-) reeks Rome gekyk oor die Romeinse Ryk se geskiedenis net voor en na die val van Julius Caesar. Die vervaardigers is van Europese afkoms met interpretasies logieserwys gebaseer op hulle Europese verwysingsraamwerk, maar die geskiedenis word realisties volgens beskikbare bronne voorgestel. Behalwe verskille wat betref die benadering oor die waarde van ‘n mens se lewe en seksuele voorbehoude, is daar min verskille tussen die Romeine van ouds en byvoorbeeld die Skandinawiese en Afrikaïese samelewings van vandag in terme van die groep se bedrywighede om sosiale kapitaal te ontgin, te deel en oor te dra tot voordeel van die groep.
Bourdieu se teorie oor sosiale kapitaal verteenwoordig verskillende invalshoeke en navorsers besluit self op die spesifieke invalshoek waarop hulle wil fokus. Met my navorsing het dit oor die sosialekapitaalbesit van die onderwyserkorps as groep gegaan. Alhoewel my deelnemers verskillende kultuurgroepe verteenwoordig het, was dit duidelik, en het ek dit in my artikel probeer illustreer, dat die onderwysergroep as ‘n eenheid saamstem oor dit wat goed en reg binne die onderwysberoep is. Of jy nou vir leerlinge in ‘n Eerste of Derde Wêreld skoolhou, jou optrede word altyd gemotiveer deur in die beste belang van die kind op te tree ten einde daardie kind binne sy spesifieke konteks en met inagneming van sy eie belangstellings en vermoëns tot betekenisvolle volwassenheid te begelei.
- Hoe sou jy ’n kursus in onderwysersmotivering adverteer sodat diegene wat regtig professionele hulp en advies benodig dit sal wil bywoon? Dalk bly hulle weg agv die bedreiging dat hul onvermoë blootgelê sal word ...
Identifikasiefigure is ‘n kragtige bron vir motivering. ‘n Identifikasiefiguur by wie die spesifieke “gehoor” aanklank vind en wat ‘n persoon is met ‘n bewese rekord van toewyding en volharding wat van niks nie na êrens gevorder het, kan onderwysers oortuig om die kursus by te woon. Die bedreiging van onvermoë wat blootgelê kan word, is iets waarmee elke enkele onderwyser (eintlik enige arbeidsmaglid) in ‘n mindere of meerdere mate daagliks worstel.
As eerste sin van die bemarkingsparagraaf sou ‘n erkenning deur die identifikasiefiguur dat hy of sy nog steeds self blootlegging van onvermoë as bedreiging ervaar, onderwysers kon motiveer om by te woon. Die vraag bly egter of so ‘n kursus enigsins sou help om dieperliggende probleme uit die weg te ruim.
- Jou navorsingsontwerp is kwalitatief van aard en die bevindings is beduidend.
- Het jy ook kwantitatiewe navorsing geraadpleeg in hierdie verband?
Nee, my navorsing was net kwalitatief van aard, want ek wou van ervare en bekwame onderwysers weet wat presies dit is wat hulle motiveer om so besield skool te hou. Ek wou hulle “stories” oor die onderwysberoep hoor vir ‘n diepgaande begrip van wat presies die brandstof is wat hulle op die skoolhoupad hou.
- Watter beduidende implikasies sou kwantitatiewe navorsing kon hê mbt die motivering van onderwysers?
Hoewel kwantitatiewe navorsing nie noodwendig groot getalle respondente hoef te gebruik nie, sou ‘n meer verteenwoordigende deursnit van alle onderwysers ʼn meer holistiese begrip van onderwysermotivering tot gevolg kon hê.
My vermoede is dat so ‘n navorsingsprojek tog sou bevind/bevestig dat alle onderwysers in murg en been binne alle kontekste en ongeag die verskillende samelewings waarin hulle skoolhou, deur dieselfde faktore gemotiveer word.
- Hoe sou jy die begrip sosiale kapitaal mbt onderwyserdoelwitte aan onderwysowerhede verduidelik?
Die verwerwing van sosiale kapitaal vind plaas deur die onderlinge interaksies van individue wat binne dieselfde sosiale ruimte werksaam is, soos byvoorbeeld die sosiale ruimte van die onderwysberoep of die sosiale ruimte van die spesifieke klaskamer. Interaksies binne die spesifieke sosiale ruimte is gefokus op konstruktiewe werkverrigting wat deur onderlinge blootstelling en beïnvloeding tot eenvormige denke en gedrag aanleiding gee.
Onderwysers word gemotiveer deur ‘n bemeesterings-, vermoëbevestigings-, onvermoëverbergings- of werksontduikingsdoelwit. Onderliggend hieraan, en vanweë die noue interaksie tussen onderrig en leer en die onderwyser se omgee vir leerlinge, is ook ‘n verhoudingsdoelwit altyd ter sprake. As doelwitgedrewe rigtinggewers in hulle klaskamers bepaal onderwysers die tipe leer wat in die klaskamer plaasvind, byvoorbeeld of leerlinge toegewyd tot hul eie vordering bydra deur die bemeestering van diepgaande vakinhoud of vanweë ‘n lae leerverwagting tot oppervlakkige besig bly beperk word.
Die kombinasie van doelwitgedrewe onderwysergedrag en die reaksie van leerlinge hierop versinnebeeld sosiale kapitaal as die sosiale interaksie in die klaskamer ter wille van ‘n verkryging en uitruil van kognitiewe en sosio-emosionele kennis, vaardighede en gedrag.
- Watter intrinsieke en ekstrinsieke faktore het jou gemotiveer om met die uiters moeilike taak van navorsing en publikasie te volhard tot jy sukses behaal het?
Intrinsiek: Ek wou die “storie” oor onderwysermotivering van onderwysers hoor, en toe ek die “storie” gehoor het, wou ek dit graag met ander deel wat in dieselfde onderwerp belangstel. Om my bevindinge in my moedertaal te kon neerskryf was ‘n wonderlike voorreg.
Ekstrinsiek: Navorsingsuitsette is deel van die taakomskrywing van ‘n akademikus.
- Wat het jy van jouself geleer in hierdie navorsings- en publikasieproses?
In die aanloop tot ‘n eindeksamen het my dogter een middag heel meerderwaardig vir haar matriekkleinboet gesê: “Broer, dit is nou net ‘n kwessie van sitvlakplak.” (“Sitvlak” kon dalk met ‘n sinoniem vervang gewees het ...)
In aansluiting by hierdie wyse woorde, wat ook van toepassing op navorsingsaksies is, het ek van myself geleer dat ek wel die toewyding en deursettingsvermoë het om dit wat ek graag wil weet uit te vind en met ander te deel. Ek het opnuut geleer dat die kommentaar van ander op dit wat ek bevind en neerskryf, van onskatbare waarde is en dat die in ag neem van sodanige kommentaar altyd tot ‘n beter eindproduk lei.
[1] Bourdieu, P. 1984. Distinction: A social critique of the judgement of taste. Londen: Routledge.
[2] Carl, A. 2005. The “voice of the teacher” in curriculum development: A voice crying in the wilderness. South African Journal of Education, 25(4):223–8.
The post Gewaardeerde onderwysers, presterende leerders appeared first on LitNet.