Youth
Regie: Paulo Sorrentino
Spelers: Michael Caine, Harvey Keitel, Rachel Weisz, Paul Dano, Jane Fonda, Roly Serrano
Hierdie film herinner baie aan The Great Beauty, regisseur Paulo Sorrentino se Oscar-wenner (vir beste buitelandse rolprent) van 2014. Dieselfde kwessies van liefde en dood vorm die spilpunt, maar die inkleding is heel anders.
Fred (Michael Caine in ’n uitstaande vertolking) en Mick (Harvey Keitel) is vriende van jongs af en hou gereeld saam vakansie by ’n eksklusiewe Switserse bergoord. Hulle is in hul tagtigs en omring deur tydgenote, maar oral rondom hulle is ook, tergend, die jeug. Onder meer die groep akteurs saam met wie Mick werk aan sy nuwe film, Fred se dogter Lena (Rachel Weisz), wat ook sy bestuurder is, ’n misverstaande akteur (Paul Dano) en les bes Mej Heelal, Madalina Ghenea.
Net soos met The Great Beauty dra Sorrentino sy boodskap oor met betowerende, enigmatiese tonele wat vervloei tussen werklikheid en die irreële. Mense in stoombaddens lê soos krokodille op ’n rivierbank: bewegingloos, afgeslote, alleen. Karakters is so uiteenlopend soos ’n stilswyende masseuse, die sokkerspeler Maradona, ’n selfbelangrike afgevaardigde van die Britse koningin en ’n mediterende monnik. En dan is daar Fred se komposisie van koeiklokke.
Alhoewel dit ’n wonderlike film is en werklik die kyk werd, het die slot my gepla. Die fliek hou te lank aan, asof Sorrentino nie kon besluit oor die eindtoneel nie, nes Mick en sy groep akteurs deurentyd ’n slot soek vir hulle film. Die skrywer Braam de Vries se gesegde is hier van toepassing: die slot moet ook ’n sleutel wees wat die verhaal oopsluit. Seg ek: daar is ’n verskil tussen ’n oop einde, waar jy weet dat jy nie weet nie, en ’n onduidelike einde, waar jy nie weet nie.
Voetnoot: Bly sit vir die erkenningsrol en luister na die wonderskone “Just” van David Lang, uitgevoer deur die Trio Medieval.
Sterre: 4.5
The post Filmresensie: Youth appeared first on LitNet.