Persvrystelling
Tydens 'n gesprek vandeesweek tussen 'n bruin afvaardiging van 'n Kans in Afrikaans! en die US-bestuur is ooreengekom dat Afrikaans gelyke status met Engels sal geniet en dat Afrikaanse studente, veral dié uit arm, bruin gemeenskappe, nie deur die nuwe taalbeleid benadeel sal word nie.
Danie van Wyk, sameroeper van 'n Kans in Afrikaans!, het die gesprek as 'n historiese gebeurtenis bestempel. "Ek wil graag die visekanselier bedank vir sy voorstel dat ons persoonlik ontmoet om te praat oor 'n saak wat ons almal na aan die hart lê, naamlik ons studente se akademiese sukses," het hy gesê.
Gereelde gesprekke oor die monitering van die taalbeleid se implementering word in die vooruitsig gestel om haakplekke te identifiseer en te hanteer. Gesamentlike inligtingsvergaderings sal ook met gemeenskappe en belanghebbendes soos ouers, skoolhoofde en beheerliggame gehou word om die US se volhoue Afrikaansaanbod duidelik te maak. Daar sal ook gemik word op die werwing van studente in Afrikaanse gemeenskappe en die mobilisering van studente om 'n keuse vir Afrikaansonderrig en -leer te maak.
"Die byeenkoms het my die gemoedsrus gegee dat Afrikaanse leerders van plattelandse skole voort kan gaan om aan die US kan gaan studeer en presteer. Dit het my ook net weer bewus gemaak van die waarde daarvan om dinge uit te praat eerder as om konflik op die spits te dryf," sê dr David Piedt, wat spesiaal vanaf Oudtshoorn gereis het om aan die gesprek met die US-bestuur deel te neem.
'n Kans in Afrikaans!, 'n inisiatief van die Afrikaanse Taalraad sien verdere konstruktiewe samewerking met die US-bestuur as 'n geleentheid om die onderverteenwoordiging van bruin studente in hoër onderwys te verhoog.
Danie van Wyk
Sameroeper: 'n Kans in Afrikaans!
The post Persvrystelling: "ʼn Kans in Afrikaans!" praat met die US-bestuur oor taalbemagtiging appeared first on LitNet.