Persverklaring
Al die rolprente wat vanjaar by die kykNET Silwerskermfees vertoon gaan word, asook die rolverdelings van die vyftien kortfilms wat hulle debuut by die fees maak, is pas bekend.
Vollengte rolprente wat vir die Silwerskerm-toekennings in aanmerking sal kom en dus deel van die kompetisie is, is:
Dis koue kos, skat
Wanneer Clara Brand uitvind haar man, Bernard, is besig om haar te verkul met haar vriendin en kollega Anais, begin Clara ’n nuwe lewe in die Kaap saam met haar twee kinders. Die rolprent is gegrond op ’n boek deur Marita van der Vyver en het Anna-Mart van der Merwe, Deon Lotz, Elzabé Zietsman, Frank Opperman en Angelique Gerber in die rolverdeling. Die regisseur is Etienne Fourie.
Johnny is nie dood nie
Christiaan Olwagen, ’n bekroonde dramaturg en teaterregisseur, maak sy debuut as filmregisseur met hierdie rolprent oor ’n groep studentevriende in die laat 1980’s in die tyd van die Voëlvry-beweging, militêre diensplig en die grensoorlog. Rolanda Marais en Albert Pretorius is van die spelers in die rolverdeling.
Noem my skollie
Vier tienerseuns, AB, Gimba, Gif en Shorty, woon op die Kaapse Vlakte en probeer hulle bes om die bendes van die area te vermy. Ná AB ’n traumatiese ondervinding het, besluit hulle egter om hulle eie bende te stig. ’n Paar jaar later word AB (Dann-Jacques Mouton) en Gimba (Gantane Kusch) in hegtenis geneem en tronk toe gestuur.
AB gebruik sy talent as storieverteller om die ander gevangenes te vermaak, en wanneer hy vrygelaat word, wil hy sy meisie, Jenny (Tarryn Wyngaard), met sy skryftalent beïndruk. Die res van die bende oortuig hom egter om ’n laaste keer by hulle aan te sluit.
Die verhaal van Skollie is gegrond op die ware verhaal van John W Fredericks, 'n wêreldbekende draaiboekskrywer. Die fliek speel in die 1960’s af.
Sy klink soos lente
Ben, ’n werktuigkundige, en Linda, ’n slim rooikop, se paaie kruis. Ben herken haar dadelik en weet dat sy sy baas se dogter is, maar sy weet nie wie hy is nie. Om haar te beïndruk, sê Ben vir Linda hy is in ’n band. Om die wit leuen waar te maak, begin hy saam met ’n paar van sy kollegas ’n band en skryf vir ’n battle of the bands-kompetisie in. Met Amalia Uys, Stiaan Smith, Bennie Fourie, Wilson Dunster, James Cunningham, Darren Kelfkens, Bouwer Bosch en Tina Kruger. Die regisseur is Corné van Rooyen.
Tess
Die rolprent is gegrond op die boek Whiplash en vertel die verhaal van Tess, 'n sekswerker, wat swanger raak en alles in haar vermoë moet doen om nie toe te laat dat haar verlede haar lewe verswelg nie. Met Christia Visser, Nse Ikpe-Etim, Brendon Daniels, Lee-Ann van Rooi, Quanita Adams en Greg Kriek.
Die dokumentêre rolprente wat vertoon gaan word en ook vir die toekennings in aanmerking kom, is:
Alison
Die verhaal van Alison Botha se skrikwekkende verkragting en brutale aanval in Desember 1994 en haar reis na oorlewing. Alison is ’n verhaal van dapperheid, krag en hoop.
Dorpstad: Unwrapping a Cool Capital
Twee argitekte van Pretoria het in 2014 hulle eie kuns-biennale geskep en mense van Pretoria geïnspireer om nuwe en opwindende kuns regoor die stad te skep.
I Made a Film That You Will Never See
’n Rolprent oor Michiel Kruger, wat ten spyte van die feit dat hy sy sig op 14 verloor het, verskeie sportrekords verbeter het.
Noboby’s Died Laughing
’n Dokumentêre rolprent oor die lewe en loopbaan van Pieter-Dirk Uys.
Op pad
Die bekroonde joernalis Dana Snyman reis deur die land op soek na homself en op soek na hoop.
Portret: Lien Botha
’n Dokumentêre rolprent wat die kunstenaar Lien Botha binne die wyer Suid-Afrikaanse gemeenskap kontekstualiseer. In die proses word die verwantskap tussen kuns en die werklike lewe uitgewys en dit dien ook as getuigskrif van waar die idees in die werk ontstaan. Portret poog om visuele kuns vir die kyker te demistifiseer. Die kyker kry die geleentheid om die verstaan van die potensiaal van wat kuns kan wees, op ’n vermaaklike manier te ondersoek. Die titel, Portret, sinspeel nie net op die woord “portret” as ’n genre binne visuele kuns nie, maar suggereer ook ’n dieptestudie van ’n individu.
Die vyftien kortfilms wat gekies is om deel van vanjaar se fees te wees en dus ook vir die toekennings in aanmerking te kom, is:
Arts
Estelle red beseerde diere, maar sy verhouding met die plaaslike veearts neem ’n donker wending wanneer sy ma begin inmeng … Met Charlenè Brouwer, Elzette Maarschalk, Gustav Gerdener en Richard van der Westhuizen.
Beloofde land
Lodewyk Mouton is die naïewe heerser van die diktatorskap Anskroepolis. Wanneer ’n groep sosialistiese rebelle by sy herehuis opdaag en dreig om hom te onttroon, word Lood met die realiteit van sy borrel-bestaan en die ellende van sy volk gekonfronteer. Met Schalk Bezuidenhout, June van Merch, Petro van den Heever, Mariechen Vosloo, Craig Mathys, Hannahmi Alfredo en Riaan Cruywagen.
Die biker
’n Motorfietsryer kies die oop pad as ontvlugting. Het hy die regte pad gekies? Met Paul du Toit en Ian Roberts.
Die bok
’n Verbitterde swanger vrou veg om haar roostuin te beskerm teen ’n bok terwyl haar huwelik verbrokkel. Met Christia Visser, Drikus Volschenk, Maurice Paige, Kay Smith en Jemima as die bok.
Die Muse
’n Naïewe jong verpleegster word as oppasser aangestel om na ’n briljante maar moeilike skrywer met Aspergersindroom om te sien. Maar, as ’n skrywer sukkel om leuens te vertel, hoe is hy veronderstel om stories op te maak? Met Marcus Muller, Candice Weber en Milan Murray.
En die wiele van die bus gaan om en om
Slapgat-busbestuurder Freddie Venter vervoer tien pasiënte van een inrigting vir geestesgestremdes na ’n ander … en dan verloor hy sy vrag. In die rolverdeling is André Stolz, Anchen du Plessis, Gemma Donnelly, Sandra Vaughn, Isabella Mostert, Percy Maobane, Pieter Grobbelaar, Lillian Dube, Christo Davids, David Mello, Chantal Herman, Hendrick Louw en Jeff Smith.
Hum
Thomas hoor die verlammende hum-klank al vir so lank dat hy skaars kan onthou wanneer dinge vir hom begin skeef loop het. Met die hulp van sy psigiater, dr Swart, begin hy om sy verlede te ontleed sodat hy vir Jana, die liefde van sy lewe, kan terugwen ten spyte van die onafwendbare gedreun asook die gevoel dat hy konstant dopgehou word … Met Carel Nel, Cintaine Schutte, Deon Lotz, André Roothman, Milton Schorr, Benedikt Sebastian, Melanie Pack, Riaan Ellis, Eric Uys, Molly Brown, Benjamin Raubenheimer, Francois Coertze, Courtney Leshay Smith en Lizanne Peters.
Kolskoot
Fanus Niemand is toe iemand … Met Albert Pretorius, Cherie van der Merwe, Marie Pentz en Hannes Brummer.
Koue voete
Moenie ’n misdadiger op sy skoene takseer nie. Met Kaz McFadden, Shareen Swart, Deon Coetzee, André Velts, Juanita de Villiers, Melinda Brink en Francois Viljoen.
Merk. Sny. Stoor.
Wanneer ’n psigologies versteurde man se traumatiese verlede sy hede beïnvloed, word ’n vreemdeling die slagoffer van sy eie trauma. Met Jacques Bessenger, Lilanie Prinsen, Suzi Swanepoel en Juan Lotz.
Onthou
Wanneer ’n jong, sorgelose hippie aansoek doen as verpleër by ’n streng, vol-nonsens bejaarde dame, is daar vanaf die eerste woordewisseling reeds spanning. Tog ontwikkel hulle ’n dieper vriendskapsverhouding en leer mekaar hoe om die ander onvoorwaardelik te aanvaar. Ouderdom is net ’n getal, maar hartsvriende bly deel van jou bestaan. Met Marga van Rooy en Phillip Schnetler.
Oom
Ná oom Johan Booysens ’n jong man langs die pad oplaai, besef hy hoe gevaarlik die pad kan wees as ’n mens nie jou geselskap ken nie. Met Pierre van Pletzen, Philippus Boshoff, Je-ani Swiegelaar, Anrich Herbst, Ansu Visser en Philicity Reeken.
Plankekoors
Daar’s ’n fyn lyn tussen opwinding en vrees. Dis net woorde. Jy’t ’n keuse. Veg of vlug? Met Antoinette Kellerman, Greta Pietersen, Joanie Combrink en Ludwig Binge.
Spoor(loos)
As ons maar net kon verdwyn. Met Fezile Mpela as Johnson en Pulane Sekepe as Juliet.
Vlees van my vlees
Vyftien jaar ná ’n gruwelike motorongeluk vier ’n joviale man en sy kwadruplegiese vrou hulle twintigste huweliksherdenking. Ten spyte van die romanse en selflose liefde noop die frustrasies van haar gebrek hulle om die waarheid van hulle gebroke verhouding, verwyt, pyn en eie magteloosheid te trotseer. Met Erica Wessels en James Alexander.
kykNET het vanjaar ’n sestiende projek geïdentifiseer wat nog nie gereed is vir uitvoering nie, maar baie potensiaal toon. Die projek se skrywer gaan onder leiding van kykNET se bekwame opdraggewende vervaardigers die draaiboek verder ontwikkel en dit sal by volgende jaar se kortfilmprojek ingesluit word. Die titel van die film en die naam van die skrywer sal in Augustus by die Silwerskermfees bekend gemaak word.
Vollengte rolprente wat vertoon sal word, maar nie deel van die kompetisie is nie, is:
Eintlik nogal baie
Happiness is a Four-Letter Word
Kalushi: The Story of Solomon Mahlangu
Vir altyd
Wonder Boy for President
Die bestaande kortfilms op die fees is:
Daniel Munro
How to Kill a Girld Named Amanda
Scapegoat
Stukkend
The Discovery of Fire
The Great Gatsby: Redemption
The Man With the Heavy Leg
Transito
Webtuiste: www.kyknet.tv
Facebook: www.facebook.com/silwerskermfees
Twitter: @silwerskermfees #silwerskermfees2016
Instagram: @silwerskermfees2016
The post kykNET Silwerskermfees 2016: ’n Fees van rolprente appeared first on LitNet.