Deur hulle seremonies en gebruik van sakramente is die indruk gelaat dat die Christene geheime byeenkomste gehou het, aan magiese praktyke deelgeneem het soos nigromansie, selfs rituele (kinder-)moorde gepleeg het (deur bloed is die Christen "vrygekoop" – ‘n oud-Joodse konsep by die offer van hul allerbeste vee) en dat hulle hul skuldig gemaak het aan teennatuurlike praktyke, soos die broederlike “kus”, oftewel phílêma.
Wêreldwye ontsteltenis heers weens terreurbewegings soos ISIS. Sommige Christelike kerke meen dat hulle op plekke uitgeroei word. Dit is nie ‘n nuwe ontwikkeling nie. Van die vroegste tye af is Christene soms aangeval en uitgeroei. Tog is daar ook baie misverstande en wanopvattings oor Christenvervolging. Gerrit Kruger, ‘n spesialis in antieke tekste en emeritus professor in Grieks aan die Universiteit Stellenbosch, skryf meer oor die lot van Christene in die antieke.
Die ontwakende Christendom het aanvanklik veel teenkanting, onderdrukking en vervolging ondervind van die die sogenaamde “paganistiese” heersers. Dit het in die Romeinse keisertyd met tussenposes van onderbreking geduur tot die begin van die 4de eeu. Veel bloed is in die proses vergiet en martelaarskappe het gereeld voorgekom, waar iemand as getuie (mártus in Grieks) met die aflegging van sy lewe vir sy geloof gesterf het, en het mettertyd die betekenis van ʼn eretitel verkry. Die Noord-Afrikaanse kerkvader Quintus Septimus Florens Tertullianus (ongeveer 160-220 ) het in die proses ʼn beroemde dictum kwytgeraak:
Semen est sanguis Christianorum (“Die bloed van die Christene is die saad vir hul voortplanting”). Dit was eers ná ‘n geslag of drie dat die profane gepeupel in Rome, tot hul eie vermaak, in die Colosseum geskreeu het: “Die Christene vir die leeus!” Die Romeinse keisers het, ter wille van populariteit, reg van die begin af, in Rome met mekaar meegeding om die plebs op straat met allerlei spele te vermaak, waaronder dié van die Christene wat hulself teen wilde diere (hoofsaaklik uit Afrika) moes verdedig. En natuurlik het die volk van Rome hierdie uiters onmenslike skouspele op barbaarse wyse geniet.
Daar moet egter gesê word dat Konstantyn die Grote van die vroeë 4de eeu, wat geloofsvryheid in die Ryk verklaar het, deur nie minder nie as 54 Romeinse keisers (medekeisers ingesluit) voorafgegaan is. Verreweg die meeste van hulle het nie in die vervolging van die Christene belang gestel nie, alhoewel hulle sélf na die eintlike ware Godheid bly soek het. ‘n Groot aantal van hulle moes egter net nag en dag sorg dat die Praetoriaanse Wag hulle nie met sluipmoorde uit die weg ruim nie.
Stephanus, eerste martelaar vir die Christus
Die Christenvervolging het, ironies genoeg, reeds in Jerusalem self begin onmiddellik ná die kruisiging van Jesus. Die “diaken” (diákonos; “dienaar”) Stephanus (Hand 6:8 vervolgens) is ná ‘n verhoor deur die Sanhedrin (die Joodse Opperraad) buite die stad gestenig as sou hy “godslasterlik gespreek het”.
Die Apostel Paulus, toe nog Saulus van Tarsus (in Cilicië), “die Hebreër uit die Hebreërs” (Filippense 3:5) was heel waarskynlik aandadig aan hierdie “volksteregstelling” op Palestynse grondgebied sonder die amptelike verlof van die Romeinse owerheid. Ons lees dan ook in Hand 7:58 “die getuies (van Stephanus se dood) het hulle klere neergelê aan die voete van ‘n jongman met die naam van Saulus”.
Ná sy bekering, op pad na Damaskus, het Paulus egter self weer onder Joodse aanklag gekom omdat hy nou gaan predik het dat die Jode en die Christene ʼn gemeenskaplike Messias in Jesus het. Ná die val van Jerusalem onder die Romeinse generaal Flavius Vespasianus Titus (later keiser, 79-81) in 70, en veral ná die Bar Kochba opstand in 132, toe keiser Hadrianus Jerusalem as ʼn Grieks-Romeinse stad wou laat herbou, het die Joodse afkeer van die Romeine begin toeneem. Dit is ironies dat die Christene aanvanklik juis vrywaring van vervolging geniet het onder die spesiale maatreëls wat daar vir die beskerming van juis die Jode deur Rome ingestel was. Die Christene is in die begin deur die Romeinse owerheid beskou as ‘n sekte van die Joodse geloof.
Audi alteram partem
Die aanvanklike Romeinse optrede teen die Christene was nie as gevolg van louter godsdienstige onverdraagsaamheid nie, maar eerder om juridies-staatkundige oorwegings. Die Christene het naamlik geweier om die staatsgode te aanbid en aan die keiserkultus deel te neem. Die staat het dít as ʼn bedreiging vir sy eie veiligheid en eenheid gesien. Daar was ook die opkoms van ekstremistiese groepe soos die Joodse Selote self. Die klassikus Theodor Mommsen was die eerste wat dié beginsel in besonderhede gedefinieer het (vgl sy Der Religionsfrevel nach römischen Recht in Historische Zeitschrift, vol. lxiv, 1890, bl 389-429).
Met die spoedige verwagting van die wederkoms (die tweede parousía) van die Christus en die daaropvolgende finale oordeel het die Christene ook ʼn negatiewe en pessimistiese ondergang van hierdie wêreld voorsien wat die inherente optimisme in die steeds uitbreidende Romeinse Ryk sou teenwerk. Die Romeinse juris Domitius Ulpianus (onder keiser Caracalla, begin 3de eeu, en een van die hoofbronne by Justinianus se kodifisering van die Romeinse Reg in die 6de eeu), het ʼn versameling anti-Christelike maatreëls genoteer wat deur die keisers van Rome opgestel was. Dit het helaas ongelukkig vir ons verlore gegaan. Dit sou boekdele kon spreek in ons rekonstruksie van die aard van die vroeë Christenvervolging.
Onder die paganistiese Romeinse bevolking het daar ʼn tragiese misverstand rondom die gebruike van die vroeë Christene ontstaan. Deur hulle seremonies en gebruik van sakramente is die indruk gelaat dat die Christene geheime byeenkomste gehou, aan magiese praktyke soos nigromansie (toordery) deelgeneem het, selfs rituele (kindermoorde) gepleeg het (deur bloed is die Christen “vrygekoop” – ‘n oud-Joodse konsep by die offer van hul allerbeste vee – en dat hulle skuldig was aan teennatuurlike praktyke soos die broederlike “kus”, oftewel phílêma.
Die nomen Christianum self het onder verdenking gekom (vgl I Petr.4:16, "Maar wanneer iemand as ʼn Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik") deurdat Christene daardeur feitlik in dieselfde kategorie as seerowers, valse munters en selfs gifmengers geplaas is. Die vroeë gebruik van die Christene om by mekaar begrawe te word in die katakombes (uit Grieks katakúmbas, “in die slote”) van Rome, het daartoe gelei dat hulle ook as ʼn buite-staatlike kliek bestempel is.
Daar moet onthou word dat die Romeinse keisers hulleself as gode verklaar het wie se kultusse dan ook onderhou moes word. Dit was die groot steen des aanstoots vir die Christene wat alleenlik die Christelike God aanbid het. Die woord triás, “drietal”, vir die Latynse trinitas, wat verwys na die “Drie-eenheid” kom nêrens in die Griekse Nuwe Testament voor nie, maar is ‘n dogmatiese skepping van die Kerk self wat voortvloei uit die Konsilie van Nicea in die somer van 325. Toe is die voorstel van Hosius, biskop van Cordova in Spanje, aanvaar dat Jesus van dieselfde substansie (lees: ”wese”) as God self was, dws homooúsios in Grieks geformuleer. Die volgelinge van die kerkvader Origenes het egter by hierdie Konsilie eerder die adjektiwiese term homoioúsios verkies, wat sou aandui dat Jesus van soortgelyke substansie was.
Primêre bronne by die studie van die Chistenvervolgings
Ons primêre bronne by ʼn rekonstruksie van die vroeë Christenvervolging is vandag die Latynse skrywers Cornelius Tacitus (historikus), Gaius Suetonius (antikwaar), Plinius Secundus (politikus en skrywer), Cassius Dio (‘n Romeinse politikus wat in Grieks geskrywe het) en Eusebius (die eerste kerkhistorikus van die Christendom). Daarnaas het ons nog die geskrifte van die vroeë Christenapologete en kerkvaders soos Clemens Romanus, Iganatius, Irenaeus, Cyprianus en Tertullianus asook die Martelare-Acta.
Keiser Nero
Die eerste Christenvervolging in Rome self het begin onder keiser (Claudius Germanicus) Nero. Nero was ‘n filhelleen wat die ou Griekse beskawing vir sy letterkunde en kunste bewonder het en hy het wel deeglik in godsdiens belang gestel. Dit was ‘n tydvak waarin oor die ganse wêreld die verwagting bestaan het van ‘n Messiaanse verskyning: vgl maar net Vergilius se 4de Ecloga van 40 vC waarin hy die konsul Asinius Pollio aanspreek en onder sy leiding die terugkeer voorspel van ‘n Goue Eeu, ‘n Eeu waarin ‘n “nuutgebore” kind sal kom om weer oor die hele wêreld in die grootste vrede te regeer “met die deugde van sy vader”.
Die Romeine het die koms van keiser Augustus hierin gesien en hy sou 40 jaar, 7 maande en 3 dae regeer. Die Christene weer het dit gesien as die koms van Jesus, die Messias, wat in die Ou Testament (Jesaja 43) vir die Jode voorspel is.
In die verwoestende brand wat op die aand van 28 Julie 64 nC in die metropolis uitgebreek en nege dae lank gewoed het is 10 van die 14 regiones (“wyke”) van die stad geheel of gedeeltelik verwoes. Die keiser het die blaam op die Christene as die eintlike sondaars geplaas (tensy dit ‘n latere apokriewe aanname is, want daar het toe nog bitter min Christene in Rome gewoon).
Daar is deur die Christene beweer dat Nero die vuur self gestig het, maar ons weet vandag dat Nero daardie aand in sy villa in Antium, sowat 56 kilometer van die stad af, tuis was. Inteendeel, daar is getuienis dat Nero self die vure help blus het. Die storie dat Nero op sy viool gespeel het (hy was inderdaad ‘n kunssinnige man wat in sy sterwensuur uitgeroep het: “Qualis artifex pereo!”) terwyl die stad gebrand het, is geheel anachronisties en onwaar. (Die Latyns kan vertaal word as "Hier sterf die groot kunstenaar in my!")
Hy sou eerder op sy doedelsak kon gespeel of gedigte kon geresiteer het om homself te kalmeer. Die latere Christene het hom egter as die eerste Antichris beskou waarvan die skrywer van die Nuwe Testamentiese Apokalips (Johannes in sy 1ste en 2de dekbrief) praat.
Hierdie groot brand het Nero egter die geleentheid gegee om sy ontsaglike groot Goue Paleis (Domus Aurea) in Rome op te rig. Dit het amper ‘n derde deel van die sentrale stad beslaan. Dit is tog wel heel waarskynlik dat Paulus en Petrus, wat toe in Rome was, juis ná hierdie groot brand daar tereggestel is omdat hulle, as prominente leiers van die Christene, daarheen gekom het om nuwe bekeerdes te werf.
Die staat was dus genoodsaak om voortydig kragtens veiligheids- en staatkundige oorwegings op te tree. Rome had nog altyd sy eie veelgodedom gehad wat van die verre verlede dateer het.
Keiser Domitianus
Hierna het keiser (Titus Flavius) Domitianus (14 September 81 - 18 September 96) geregeer en enkele prominente Christene in Rome laat doodmaak. Manius Acilius Glabrio het in 91 ‘n konsul van Rome geword. Keiser Domitianus het hom van Christenskap verdink en om hom uit die weg te ruim het hy Glabrio beveel om in die amfiteater van Albano teen wilde diere te gaan veg. Glabrio het hom suksesvol verdedig en die keiser het hom verban en uiteindelik teen 96 laat doodmaak saam met Flavius Clemens, Flavia Domitilla en ander Christene.
Ons antieke outoriteite hier is Dio Cassius (lxvii, 13 vervolgens) en Suetonius (Domitianus 10). Die familiebegraafplaas van die Christene van die Gens Acilia is in 1888 deur GB de Rossi ontdek en beskryf in sy “L ipogeo degli Acilii Glabrioni di Priscilla” (Bullettino di Archeologia Cristiana, Serie IVvi, bl 15-66 en weer bl 103-33).
Flavia Domitilla (gebore teen 100) was ‘n Romeinse huismoeder binne die Ryksfamilie en 'n bekeerde Christen. Haar grootmoeder en moeder, wat dieselfde naam gehad het, was die vrou en dogter van keiser Vespasianus (21 Desember 69 - 24 Junie 79). Sy was ook getroud met Titus Flavius Clemens, die kleinneef van Domitianus.
Suetonius en ander impliseer dat haar man hom tot die Christendom bekeer het. Sy self was beslis ‘n Christen en daarby ook lid van die Ryksfamilie. Nadat haar man, Clemens, doodgemaak is, het Domitianus haar na die afgeleë eiland Pandateria verban omdat sy na sy oordeel ‘n “ateïs” was. Die “Coemeterium Domitillae” aan die Via Ardeatina, net buite Rome, het aan haar behoort en was in die eerste eeu van die Christelike era gebruik as ‘n begraafplaas vir die Christene.
Keiser Trajanus
Trajanus en Hadrianus (die “Spaanse keisers” van Rome) het ten dele ʼn beleid van billike verdraagsaamheid gevolg. Die omvattendste dokument van die vroeë Christenvervolging dateer van keiser Trajanus se tyd (98-117). Dit bestaan uit die amptelike briefwisseling tussen Gaius Plinius Secundus (Plinius die Jongere), stadhouer van die provinsie Bithinië in Klein-Asië, met keiser Trajanus in Rome, en dit dateer van die jaar 111. Plinius, Epistolae X. 96-7, het die korrespondensie tussen hom en die keiser vir ons volledig bewaar en dit word nou hier in vertaling weergegee, met Plinius eerste aan die woord.
“Dit is my gewoonte om oor enige saak waaroor ek twyfel by u raad te vra. By die geregtelike ondersoeke van Christene was ek persoonlik nog nooit aanwesig nie. Ek weet nie of daar ʼn onderskeid gemaak word tussen kinders en volwassenes nie. Ek weet ook nie of mense, as hulle berou betoon, vergifnis geskenk word nie, en of iemand, as hy eenmaal ʼn Christen was, daarby sou baat as hy sou ophou om dit te wees nie. Ek weet ook nie of die naam Christen self (nomen Christianum) of die misdade wat aan die naam gekoppel word, gestraf word nie. Intussen het ek egter die volgende gedragskode gevolg by Christene wat by my aangemeld word:
“Ek het hulle eerstens gevra of hulle Christene was. As hulle dit beken het, het ek hulle dit ʼn tweede of derde maal weer gevra onder bedreiging van straf. As hulle volhou, het ek hulle na die gevangenis laat wegvoer. Ander, ewe verwaand omdat hulle Romeinse burgers was, het hulle op ʼn verhoor in Rome beroep. Hierna het hierdie vergryp meer en meer voorgekom.
"Daar is ook aan my ʼn lys, wat nie onderteken is nie, voorgelê wat die name van vele Christene bevat. Hulle wat gesê het dat hulle nie Christene is of was nie, het ek laat vrygaan as hulle met woorde, wat ek vir hulle voorgesê het, die gode en u beeld aangeroep en dit met wierook en ʼn wynoffer vereer het, terwyl hulle Christus daarna vervloek het.
"Maar dit is ʼn handeling, sê hulle, waartoe geen ware Christen ooit gedwing kan word nie. Tog, ander sê weer dat hulle wel Christene was, maar daarmee opgehou het, waarvan sommige selfs al twintig jaar gelede. En hulle het dan ook u beeld en die beeld van die gode eer toegebring en Christus vervloek.
“Die hoofsaak van Christene se dwaling, het hulle my verseker, was dat hulle gewoond was om op ʼn bepaalde dag, vóór sonsopkoms, saam te kom en onderling ʼn gebed tot Christus uit te spreek asof hy ʼn god was en dat hulle hul onder eed verbind het om nie te steel, te roof of egbreek te pleeg nie, ook om hulle woord nooit te verbreek nie en goedere wat in bewaring gehou is, terug te gee. En wanneer dit gedoen was, het hulle weer uiteengegaan, net om weer saam te kom om gewone onskuldige spys te neem.
"Maar hulle het daarmee volgehou, sê hulle, ná my edik waarvolgens u godsdienstige vereniginge verbode verklaar het. Daarom het ek gemeen dat dit noodsaaklik was om twee slavinne, wat as “dienaresse” bekend gestaan het, op die pynbank vir die waarheid te ondersoek. En al wat ek gevind het, was ʼn slegte en buitengewone sterk bygeloof (superstutio).
”Maar weens die groot getalle wat nou aangekla word, wend ek my tot u om raad. Mense uit alle stande en van alle ouderdomme, uit stede, dorpe en die platteland, is met hierdie wangeloof besmet. Hoe dit ook al sy, mense begin tog die tempels, wat byna verlate was, weer besoek; en offers wat vir ʼn lang tyd nagelaat was, word weer plegtig gebring. Maar geleentheid tot berou kan die posisie nog verder verbeter.”
Hierop antwoord keiser Trajanus dan:
“U het, geagte Secundus, in u ondersoek rakende die Christene, die juiste gedragslyn gevolg. Dit is egter vir my onmoontlik om ʼn vaste reël neer te lê. Die Christene moet opgespoor word as hulle aangegee en beskuldig word, maar tog so dat elkeen wat sê dat hy nie ʼn Christen is nie, en dit metterdaad laat blyk deur tot onse gode te bid, ook al is hy ten aansien van sy verlede verdag, vergifnis op berou kry.
”Aan anonieme geskrifte wat teen die Christene ingebring word, mag u hoegenaamd geen aandag skenk nie, want dit sou ʼn heel slegte presedent skep wat nie in ons tyd tuishoort nie."
Die “bepaalde dag” waarop Christene byeen sou gekom het, was waarskynlik niks anders nie as ons huidige Sondag, die opstandingsdag van Christus (vgl “die dag van die Here” in Openb 1:10). Die byeenkomste is voor sonop gehou, sekerlik as afgesonderde tyd [“boekevat”] voor die take van elke dag met daglig sou begin.
Die “gebed” (precatio) wat tot Christus gerig was, was sekerlik die Onse Vader, maar die Latyn kan ook met “gesang” of “formulier” vertaal word. Die “spys” wat genuttig was, was waarskynlik die gebruik van die Nagmaal as sakrament. Dit sou wel ook na die “liefdesmaal” (agápê van Judas vers 12) kon verwys. Die broederlike kus (phílêma in die Griekse ankertaal van die vroeë Christelike gemeentes) is sekerlik ook in oorvloed by sulke byeenkomste gepleeg.
Orosius en Augustinus in Noord-Afrika
Tot 250 was die Christenvervolging eerderplaaslike as universele imperiale beleid. Orosius, ʼn kerkhistorikus geboortig uit Braga in Spanje, wat ook in Alexandrië was en daar ʼn groot vriend van Augustinus van Hippo geword het, het tradisioneel ʼn lys van tien keisers aangegee wat hulle aan Christenvervolging skuldig gemaak het.
Die keisers wat die kwaaiste vervolging teen die Christelikes bewerk het was, volgens hom, Marcus Aurelius, die Stoïsyn, wat in 177 ʼn wrede vervolging in Lyons en Vienne bedryf het. Eusebius in sy Historia Ecclesiastica (V1) gee vir ons die verslag van ʼn ooggetuie hier. Van 250 totdat keiser Konstantyn die kerk uiteindelik tot staatskerk verklaar het, het keisers Decius, Valerius en Diocletianus vir oulaas swaar vervolgings ingestel wat die doodstraf ingesluit het vir veral die biskoppe as leiers van die Kerk, omdat hulle die lojaliteit van die gewone mense jeens die staat in die wiele gery het.
Valerius het Christene verbied om te vergader, kerke laat verwoes en die Heilige Skriftuur van die Christen laat verbrand. Hy was daartoe aangemoedig deur veral sy mederegent Galerius, wat die Christene werklik gehaat het. Op Galerius se sterfbed, toe ʼn verskriklike siekte besig was om sy lewe te neem, het hy tog vir genade jeens die Christene gepleit.
Keiser Konstantyn die Grote
En toe breek die einde van alle vervolgings skielik aan onder Konstantyn die Grote (medegoedgekeur saam met Licinius) met die uitvaardiging van die sogenaamde Edik van Milaan vroeg in 313.
Selfs blote verdraagsaamheid is nou omskep in universele voorkeur: vgl Lactantius, De Mortibus Persecutorum, xlviii, en Eusebius, Historia Ecclesiastica, Xv Konstantyn, vir wie dit uiteindelik ʼn politieke maneuver was, het toe nie self die Kerk gevestig nie. Dit was oorgelaat aan keiser Theodosius I, die Grote (379-95), van Konstantinopel. Keiser Konstantyn is eers op sy sterfbed gedoop, alhoewel die Oostelike Romeinse Kerk hom tot die “Dertiende Apostel” benoem het.
Enkele publikasies oor die Christenvervolgings
Daar is al veel gepubliseer oor die Christenvervolging. Naas die Engelse titels van HB Workman (Persecution in the Early Church, 36ste Fernley Lesing, 1906), LH Canfield (The Early Prosecution of the Christians, Fakulteit van Politieke Wetenskap, Columbia Universiteit, publikasie lv.2, New York, 1913); EG Hardy, Christianity and the Roman Goverment (1894); M Conrat, Die Christenverfolgungen im römischen Reiche vom Stadpunkt des Juristen (1897); en WH Frend (Martyrdom and Prosecution in the Early Church, 1965), bly een van die standaardwerke steeds P Allard se Histoire des persécutions pendant le deux premiers siècles, in 5 vols, Paris, 1885-90.
The post Die komplekse verhaal van die vroeë Christenvervolgings appeared first on LitNet.