As Akademia wil slaag met sy planne om ʼn volwaardige Afrikaanse universiteit op die been te bring, mag daar geen sweempie van ʼn gevoel wees dat sekere mense uitgesluit word nie.
Dit was die algemene gevoel tydens ʼn dinkskrum wat op Stellenbosch gehou is oor die rol wat Akademia kan speel ter voortsetting van die Afrikaanse universiteitswese.
Hierdie verkennende gesprek is deur Theuns Eloff gefasiliteer en bygewoon deur meningsvormers in die Wes-Kaap. Byna soos ʼn groepie Regte Afrikaners van ouds destyds in die Paarl – maar dié slag uit verskillende kulture en agtergronde.
Eloff is onder meer voorsitter van die Trust vir Afrikaanse Onderwys, die Dagbreektrust en die FW de Klerk Stigting.
As Akademia wil slaag met sy planne om 'n volwaardige Afrikaanse universiteit op die been te bring, mag daar geen sweempie van 'n gevoel wees dat sekere mense uitgesluit word nie. |
Onder diegene wat die dinkskrum bygewoon het, was die historikus en bekende kampvegter vir Afrikaans as akademiese taal Hermann Giliomee, Ebbe Dommisse, voormalige redakteur van Die Burger, en meningsvormers uit die bruin gemeenskap soos Willa Boezak, Danie van Wyk, bestuurder van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust, asook verteenwoordigers van verskeie Afrikaanse organisasies soos die ATKV, die Afrikaanse Taalraad en lede van die media.
Die doel van die gesprek was om inligting oor Akademia se vordering tot dusver en oor hulle bestaande planne te deel en in die lig van die versnelde verskraling van Afrikaans by tradisioneel Afrikaanse universiteite, kommentaar en voorstelle in te win oor wat Akademia nou te doen staan.
Theuns Eloff sê die regering kan nie alleen blameer word vir die agteruitgang van Afrikaans as akademiese taal nie.
Hy sê dit help nie vir Afrikaanse mense om hulle hoop op ʼn politieke party soos die DA te vestig om die taalstryd te stry nie. Die sukses van so ʼn inisiatief sal bepaal word deur dit wat die breë Afrikaanse gemeenskap self gaan vermag.
“As die meerderheid studente by enige kampus nie meer in Afrikaans wil klasloop nie, flits die rooi ligte nie net vir Afrikaans as akademiese taal nie, maar ook by Afrikaanse skole. Waarom sal mens in Afrikaans wil skoolgaan as jy net in Engels verder kan studeer?”
Minstens 50 van die wêreld se top universiteite is nie Engels nie. |
Hy meen die jongste taalbeleid aan die Universiteit Stellenbosch kan beteken dat Afrikaans as akademiese taal binne vyf jaar op pad uit is by dié universiteit. Op Potchefstroom, wat nog oorwegend Afrikaans is, behoort Afrikaans vir die volgende agt tot tien jaar nog redelik veilig te wees. Eloff voorspel egter dat die druk op Afrikaans ook daar sal opbou.
“Uiteindelik is die vraag hoeveel Afrikaanse studente op hulle regte sal staan om op tersiêre vlak in Afrikaans onderrig te word.”
Hy sê dit is onsin dat slegs Engelse universiteite van wêreldgehalte kan wees. Minstens 50 van die wêreld se top universiteite is nie Engels nie.
“Die wit dosente op Stellenbosch wat so pleit vir Engels as primêre taal van onderrig besef nie dat hulle eie loopbane op die lange duur in die weegskaal is nie. Diegene wat agter die huidige verengelsing van die US sit, is glad nie so begaan oor taal nie. Hulle wil ontslae raak van die wit personeel in hulle strewe om die kampus te ‘dekoloniseer’.”
Hy meen Afrikaanses wat meehelp om die Universiteit Stellenbosch te verengels, doen dit dikwels omdat hulle steeds skuldig voel oor apartheid. Hulle dink dit sal tot versoening bydra as Afrikaans as akademiese taal opgeoffer word. Eloff sê dit is ʼn swak argument, want dit gaan oor veel meer as net Afrikaans.
Piet le Roux van Akademia het die agtergrond geskets van Akademia se planne vir ʼn volwaardige Afrikaanse universiteit. Die strewe is om so gou as moontlik ʼn volwaardige Afrikaanse universiteit van wêreldgehalte op die been te bring wat nie net afstandonderrig sal verskaf soos Unisa nie, maar wat ook ʼn sterk inwoonkarakter sal hê met ʼn kampus waar studente kan tuis voel. Hy voorsien ʼn kombinasie van afstandsonderrig en ʼn inwoon-universiteit.
Akademia se model lê groot klem op ʼn gevorderde hoëtegnologie-model waar studente in verskillende lokale regoor die land lesings kan bywoon deur middel van hoogs gevorderde tegnologie. Daar bestaan reeds sewe sulke studiesentrums in die land waar studente en dosente interaktief kan kommunikeer asof hulle almal in dieselfde lesingslokaal sit. Die plan is om dit reeds volgende jaar te verdubbel tot 14.
Hermann Giliomee sê die Universiteit Stellenbosch se nuwe taalbeleid is ʼn groot terugslag vir Afrikaans as akademiese taal.
Giliomee sê Akademia moet besef dieselfde model om Afrikaans in die noorde van die land in stand te probeer hou, geld nie noodwendig in die Wes-Kaap nie. Afrikaanse mense in die noorde streef volgens hom steeds die republikeinse tradisie na, terwyl Afrikaanse mense in die Wes-Kaap kolonialers is wat anders kyk na die taaldebat as hulle taalgenote in die noorde.
Tydens die gesprek was dit veral opmerklik hoeveel gespreksgenote in Stellenbosch ongemaklik was met een van Akademia se waardes, naamlik dat dit ʼn Afrikaanse Christelike universiteit moet wees.
Hoewel Akademia toegee dat die universiteit moet oop wees vir almal, voel die Kapenaars die term “Christelik” is onnodig en dat die woorde “Christelik” en “oop” in een sin verwarring skep. |
Hoewel Akademia toegee dat die universiteit moet oop wees vir almal, voel die Kapenaars die term “Christelik” is onnodig en dat die woorde “Christelik” en “oop” in een sin verwarring skep. Hulle meen dit kan tot verdere uitsluiting en vervreemding aanleiding gee as daar te veel klem gelê word op een groep se waardes en voel die universiteit moet totaal oop en inklusief wees.
“En hoe lyk julle personeel?" wou van die gespreksgenote by Piet le Roux weet. Hulle sê daar moet ʼn doelbewuste poging wees om bruin deelname te verhoog om die ideaal van ʼn Afrikaanse universiteit te laat slaag.
Die feit dat Akademia ʼn Solidariteit-gedrewe inisiatief is, skep ook sekere persepsies by sommige mense. Die vraag is hoe mens daardie persepsies verander sonder om afbreuk te doen aan die belangrike werk wat Solidariteit in dié verband doen, was nog een van die vrae wat geopper is.
Die Stellenbosch-gesprek vorm deel van Akademia se vyfpuntplan vir versnelde universiteitsontwikkeling in Afrikaans. Le Roux het ter afsluiting gesê dit voel soos om ʼn nuwe pad vir Afrikaans te bou en terselfdertyd ook na ʼn nuwe rigting te soek terwyl die pad gebou word. Hy het die versekering gegee dat so ʼn inisiatief toeganklik moet wees vir al die vennote om te kan slaag en dat sterk gemeenskapsbetrokkenheid deurslaggewend is.
The post Kaapse dinkskrum pleit vir oop inklusiewe Afrikaanse universiteit appeared first on LitNet.