‘n Naam is groot ding. Dis ‘n draer van identiteit. Dis soveel meer as net ‘n naam. Dis omtrent altyd die eerste ding wat mense van jou wil weet as hulle jou ontmoet.
Ek vat name baie ernstig op. My naam word soms op so baie verskillende maniere uitgespreek dat ek dit nie eers meer kop toe vat as iemand dit verkeerd uitspreek nie. My biologie-meneer het my altyd Shir-money genoem. Die klas het dit natuurlik die snaaksste gevind. Maar ek was heel OK daaroor, want ek is nie moeilik oor my naam nie. Ek het nie ‘n tweede naam nie, maar ek wou altyd een hê, toe gee ek myself sommer een: Shamia. En my een vriendin het sommer nog een by gesit: Rhomecia. En dis die lekkerste om te hoor hoe sy “Shirmoney Shamia Rhomecia Rhode” sê as sy haar foon optel. Shamia, wat op my Facebook-profiel gesave is, het al sy voetjies tot in my offisiële korrespondensie gemaak. Mense glo wragties dis my tweede naam.
Naamgewing het baie verander. Maria en Gerthryda en Hendrika kan maar gaan slaap. Deesdae gee ouers hulle kinders baie fancy name. Dis asof naamgewing ‘n kompetisie geword het. Veral op die Kaaps Vlakte. Die een naam meer expansive as die ander. Lecharchey, Trumecia, Raylentia, Chardenenia – die lys is lank (my naam is seker maar ook ‘n borderline case). Ouers meng ook deesdae graag hul eie name om hul kinders se name te gee. My neef, Eugene, en sy vorige meisie, Chandré, het ‘n seun en sy naam is Eudré. Dan is daar ook my niggie Nicolette en haar vorige kêrel, Johan, wie se dogtertjie se naam Jonick is. Soms kom die aangelaste of mix-and-match name heel oukeierig uit, maar dit werk ook nou nie altyd nie. Ek het ‘n slegte habit om hardop te lag as ek ‘n snaakse naam hoor, want in my kop sê ek vir myself: “Jou ma het jou nie lief gehad nie.”
Daar is ook dan natuurlik die kwessie van byname op die Kaapse Vlakte. Dis die ergste: Eiers, Tossie, Baart, Bolle, Kool, Toetas, Meire, Ore, Voete (elke woonbuurt het ‘n Voete). Hierdie byname word met trotsheid aanvaar. Gaan kyk maar op die skoolbanke of toiletmure. Ek het steeds my “hemp” van matriek. As jy nie weet van watter hemp ek praat nie: dis die hemp wat jy op “nomme dag” aantrek. Die hemp waarop almal kom skryf as jy afskeid van die skool neem. Ek lag nog lekker as ek na al die name op my hemp kyk.
Ons het familievriende wie se kinders baie “snaakse” byname gehad het. Al wat ‘n onderdeel is. Die een is Bal, die ander een Tollie, die een Toetie, en so gaan die lys aan. Ek onthou hoe daar lekker gelag was as ons oor hul name gepraat het. Bal en Tollie was later in hul lewens albei in die tronk vir seksuele mishandeling. Tollie het onder die invloed van tik sy eie ma verkrag. Behalwe die feit dat dit my so kwaad gemaak het dat ek wou opgooi, het dit my hartseer en depressief laat voel. Vir my is hulle byname allesbehalwe snaaks. Ek en my ouma, Francis Rhode, het op ‘n stadium gepraat oor hoe hulle name eintlik maar vloeke was wat oor hulle uitgespreek was. Selfs in die Bybel is daar voorbeelde van name wat gegee was as ‘n vloek. Ek sê nie hul name het hulle beïnvloed om die besluite te neem wat hulle geneem het nie. Maar ek dink tog dat dit ‘n rol gespeel het.
My ouma het ook altyd baie vies geword as dames wat gaan trou, vol eiers en meel, met ‘n wortel en twee aartappels tussen die bene, straat af stap vir ‘n bietjie sout hier en ‘n bietjie suiker daar. Dis natuurlik als vir die sport, maar sy het gesê dis vloeke. “Die meisiekinders loop’e spreek vooraf vloeke oor hulle liewens uit – siesa, ek wil al vir my so laat ken.”
Aan die begin van laasjaar was dit ‘n gesukkel om van die kinders by die skool se name te onthou. Juis omdat hulle ook sulke mondvolname gehad het. Ek het baie keer hulle name verkeerd gesê, maar hoe meer ek dit gebruik het, hoe beter het die uitspraak daarvan geword.
Een van die opsigters by die skool, Thembisile, word Mr Klaas genoem. Toe ek die naam op sy uniform sien het ek dit nie verstaan nie. Hy het dan so ‘n maklike en ‘n mooi naam, hoekom dan nou vir hom Mr Klaas in plaas van Thembisile noem? Ek het net daar en dan besluit ek noem hom nie so nie. Ek het vir hom gevra hoekom almal hom so noem en hy’t gesê dis omdat hulle sy naam moeilik vind (twak). Maar ook omdat dit sy van is. Hy het my vertel dat sy pa lank terug as ‘n plaaswerker in Tulbagh gewerk het en dat die van daar ontstaan het. Hulle het sy pa gehelp om sy naam te gaan opgee en Klaas was as sy van opgegee. Thembisile het my ook vertel hoedat hy eenkeer aansoek gedoen het vir ‘n werk by die destydse Athlone College, deesdae Cape Town College. Hulle het op basis van sy van gedink dat hy Afrikaans is en telefonies gesê dat hy die werk gekry het, maar toe hy daar aankom en hulle sien dat hy swart is, het hulle ‘n hele ander storie gespin. Toe ek hom vra of hy nie sy van haat nie, het hy nee gesê. Want dis al van wat hy ken.
Ek maak myself dikwels skuldig aan eavesdropping. Nie net omdat ek nuuskierig is nie, maar ook omdat ek saam Adam Small (my obsessie met hom is seker nou al duidelik) glo: die mense is die poets. Ek hou daarvan om die storie uit die perd se bek te sit en afluister. Dis vir my die lekkerste ding om te doen. Ek het al die sappigste stories sit en afluister in die trein en die taxi. So sit ek eendag in ‘n koffiewinkel en luister die twee dames wat agter my sit se gesprek af. Die een vertel hartstogtelik hoe sy vermoed dat haar domestic weer heeldag niks sit en doen het nie. Die ander een ja en amen net vir alles wat sy sê. Dwarsdeur haar gesprek gebruik sy nie een keer haar domestic se naam nie. Dis net “my domestic” voor en agter. Haar storie het ‘n gebrek gehad. Ek wou graag sien hoe die domestic lyk, en omdat sy nie ‘n naam gebruik het nie, kon ek my nie indink hoe die domestic lyk nie. Later het ek gedink aan hoe haar domestic dalk net dit vir haar is. Net ‘n domestic. Niks meer. Niks minder. Ek sê nie ek wil hê sy moet gevoelig raak oor haar domestic nie, maar die domestic het tog ‘n naam. En haar naam is deel van haar identiteit. Sy mag die domestic wees, maar dis nie al wat sy is nie.
In my honneursjaar het ek as deel van my kreatieweskryfwerk-module ‘n klomp kortverhale van Audrey Blignault bestudeer en dit herskryf omdat my oupa se ma se oudste suster, Maria Rhode, daarin verskyn het. Maria was Audrey se huishulp. Audrey het gereeld vir tydskrifte geskryf en sy het ook baie van haar eie boeke gehad. Maria het net een dogter gehad, Edna. Ek en my ouma het haar op gaan spoor in Steenberg en sy kon my meer vertel van die Blignaults. Edna het saam haar ma agter in die huishulpkamer gewoon, alhoewel dit onwettig was as gevolg van apartheid. Sy kon my gelukkig ‘n boek en kortverhale van Audrey leen. Toe ek Audrey se kortverhale lees, was dit besaai met beskrywings en stories van Maria. Daar was nooit gepraat van “my huishulp” nie. Maria se naam was genoem. Maria was vir haar ‘n mens. Nie net ‘n huishulp nie. Edna en Audrey se dogter, Marié Heese, het glo steeds kontak. Lank na hul albei se ouers se sterfte.
Daar is krag in ‘n naam. Maar ‘n goeie naam is meer as net ‘n klomp aangelaste letters. ‘n Goeie naam word nie by geboorte verkry nie. Om ‘n goeie naam te kry vat tyd. Dit word oor jare van menswees gesaai. En mense maak foute. Moet dit ook nou nie teen hul name hou nie.
Dalk hou ek my net te groot vir my skoene om so oor alles te wil sê-sê. Wees gerus: ek moet altyd terugkeer na my size 2–3-skoentjies.
The post Wat is in 'n naam? appeared first on LitNet.