Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Orlando: meer as net ’n gay-aanval

$
0
0

In Maart hierdie jaar het The 100, ’n distopiese wetenskapfiksie-TV-reeks, vir groot omstredenheid gesorg toe hulle ’n gewilde karakter uit die reeks geskryf het. Die karakter het gesterf nadat ’n verdwaalde koeël wat vir iemand anders bedoel was, haar getref het.

Die karakter, Lexa, was een van ’n hele aantal gay karakters wat in daardie maand gewelddadige dode gesterf het op Amerikaanse TV-skerms. In hierdie geval het LGBTQI- (Lesbiër, Gay, Biseksueel, Transseksueel, Queer en Interseks-) organisasies en gewone TV-kykers egter in opstand gekom. Lexa se dood het die perfekte storm ontketen, met demonstrasies, petisies en ontledings van die sg “Kill your gay-trope”, ’n tendens deur TV-skrywers om disproporsioneel hoë getalle gay karakters te dood. Gayregte-aktiviste het aangevoer dat deur gewelddadige gaysterftes op TV te normaliseer, Jan Publiek gedesensiteer word om geweld teen gay mense, of teen enigeen wat ’n alternatiewe seksualiteit uitleef, te aanvaar.

In ’n verrassende wending het die TV-base geluister. Die Trevor-projek, ’n niewinsgewende organisasie wat LGBTQI-jeugdiges in krisis en met selfdodingsneigings help, het ’n ongekende opbloei in skenkings ervaar. Belangriker is egter dat ’n aantal van die gewildste TV-reekse deur die Lexa-pledge hulself daartoe verbind het om met groter sensitiwiteit om te gaan wanneer LGBTQI-karakters geskryf word. Gerekende akteurs en aktrises het hulle steun vir die beweging uitgespreek.

Dis ’n bewese feit dat mense wat blootgestel word aan gay persone, selfs al is dit net op hulle TV-skerms, alternatiewe seksualiteit meer geredelik aanvaar as persone wat nie gay persone ken (of nie weet dat hulle gay persone ken) nie.

Die sukses van die Lexa-pledge sal eers in die volgende jaar of twee gesien word, wanneer TV-reekse wat nou geskryf word, op die klein skerm begin speel.

Ons weet egter dat, soos ’n bekende liedjie beweer, “The sun always shines on TV.” In werklikheid word daar nog daagliks teen gays gediskrimineer. In heelparty Amerikaanse state mag ’n werkgewer iemand uit sy of haar diens ontslaan bloot omdat hy/sy gay is. Daar is tans groot omstredenheid oor wetgewing wat transseksuele die gebruik van die badkamer van hulle keuse toelaat.

In Suid-Afrika het gays heelwat meer regte, op papier in elk geval. In werklikheid word daar nog steeds gediskrimineer, en vir mense om hulle regte uitgeoefen te kry, kos baie keer hofsake. Veral gay vroue rapporteer dat hulle nie fisiek veilig is nie. Oor die algemeen lyk dit egter asof Suid-Afrikaners ietwat meer gematig is in hulle aanvaarding van alternatiewe seksualiteit as Amerikaners.

Daar is tans ’n baanbrekende hofsaak aan die gang waar Ugandese gays in ’n Amerikaanse hof eise instel teen ’n Amerikaanse evangelis en sy organisasie wat deur hulle preke direk homofobie in Uganda aangeblaas het, en wat waarskynlik die Ugandese wetgewers beïnvloed het om homofobiese wetgewing in te stel. Republikeinse lede van die Amerikaanse kongres het hulle goedkeuring uitgespreek vir enige persoon wat ’n transseksuele persoon in ’n openbare badkamer wil aanval en skiet. Daar was alreeds voorvalle van geweld in Target en Walmart, twee van die grootste kettingwinkels in Amerika. Donald Trump, sekerlik die mees onverdraagsame (en ondraaglike) kandidaat in onlangse Amerikaanse presidensiële geskiedenis, is besig om sy pad oop te stoomroller na die Wit Huis.

In ’n land waar daar daagliks aanvalle plaasvind met vuurwapens, en waar semi-outomatiese wapens soos die AR-15, die AK-47 en ander geredelik vir tuistebeveiliging gekoop kan word, is daar geweldige teenkanting teen enige vorm van beperkinge op die reg om vuurwapens te besit. Die NRA (National Rifle Association) is ’n maghebbende groep in politieke kringe, met hulle belange natuurlik daarby om soveel vuurwapens as moontlik te verkoop.

Teen hierdie agtergrond kom die Orlando-slagting. Dis die dodelikste aanval in moderne Amerikaanse geskiedenis waarby ’n vuurwapen betrokke was. Die dodelikste aanval ooit deur ’n enkele persoon was die 1995-Oklahomastad-bomaanval. Een uit elke drie persone in daardie nagklub was gedood of beseer. Die wapen wat gebruik is, was iets soortgelyks aan die AR-15, wat blykbaar 20 koeëls in ’n enkele sarsie kan vuur.

Anders as ander slagtings in die onlangse verlede was die slagoffers randfigure. Die meeste was gays. Die meeste was Puerto Ricaans. Die aanvaller was ‘n Moslem.

Heeltemal te verstane was daar dwarsoor die wêreld groot ontsteltenis. Bekende bakens in verskeie wêreldstede is in reënboogbeligting gebaai in tekens van solidariteit in die dae na die aanval. Politieke en godsdienstige leiers het hulle medelye met die oorlewendes en die families van die afgestorwenes uitgespreek.

Verskeie bekendes, ook in Suid-Afrika, het besluit om hul stilswye oor hul eie seksualiteit te verbreek.

Daar was egter ook ongekende Schadenfreude. Verskeie charismatiese predikers het hulle mening uitgespreek dat die aanvaller ’n instrument van God was. Een kerk, die Westboro Baptist Church, maak hom gereed om na Orlando te reis om demonstrasies by die begrafnisse te gaan doen. Op sosiale media gedy die vitrioel, die homofobie en die Islamofobie koorsagtig.  

Daar is alreeds voorspellings dat die toekomstige presidensiële debatte oorheers gaan word deur die giftige vrugte van hierdie slagting: Islamofobie, homofobie, vuurwapenbeheer, immigrasie en meer.

In die haas om die skuld voor een of ander deur te plaas, vergeet almal een ding: die aanvaller was ’n Amerikaner.

Die aanvaller was ’n gereelde besoeker by Pulse, die nagklub waar die aanval plaasgevind het. Dit is dus heel moontlik dat hy self met sy seksualiteit geworstel het. Hierdie weergawe pas egter nie die narratief van ’n onverdraagsame Moslemterroris nie, en dus word dit verswyg.

Die keuse van ’n gaynagklub om sy aanval te loods is tog egter nie toevallig nie. Die keuse van Pride-maand is nie toevallig nie. Die LGBTQI-gemeenskap is ’n gereelde teiken van geweld. Stonewall word onthou net omdat dit die een keer was dat gays teruggeveg het. Orlando sal onthou word omdat dit soveel slagoffers geëis het.

Die gaygemeenskap word gereeld geteiken vir geweld. Van die persone met wie onderhoude gevoer was, het bevestig dat die areas rondom nagklubs vele kere juis is waar gays aangeval word.

Nazi-Duitsland het konsentrasiekampe gehad waar gays, geïdentifiseer deur die pienk driehoek wat sedertdien ’n internasionale simbool geword het, aangehou is. Stonewall was die reaksie van gays op voortdurende geweld deur die polisie. Diskriminasie en staatsgefundeerde geweld teen gays is ongelukkig alledaags.

Die stof het skaars gaan lê na die aanval, of die politici en die godsdienstige leiers was gereed met hul toesprake. Ek wonder egter hoeveel het waarlik stil gaan sit en net toegelaat dat die tragedie regtig insink. Dis een ding om te praat van vyftig sterftes. Dis iets heeltemal anders om jouself waarlik toe te laat om te besef watter leemtes daai vyftig laat. Elkeen was iemand se broer of suster of ouer, ’n geliefde, ’n vriend, ’n medewerker. Vyftig stoele aan etenstafels is nou leeg. Vyftig stemme is stil.

Hoeveel verliese moet nog gely word voordat ons sal leer om nie te dink aan die slagoffers as Amerikaners, of Latyns-Amerikaners, of gays of enige ander Ander nie. Hoeveel verliese moet ons ly voor ons besef dat ons elkeen verminder word in ons menswees elke keer as daar ’n tragedie plaasvind en ons nie met onmiddellike empatie vervul word vir die slagoffers en die betrokkenes nie?

Hoe maak dit ons minder van ’n monster as ons agter ons godsdiens kan wegkruip en geweld goedkeur? Hoe maak dit ons minder ’n monster elke keer wanneer ons ons rug draai op ’n groep wat onderdruk word?

Daar sal beslis, veral na hierdie week, met groter empatie geskryf word aan gay karakters. Het dit nie tyd geword dat ons ook met groter empatie met die gays in ons eie lewe omgaan nie?

The post Orlando: meer as net ’n gay-aanval appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>