Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.
This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.
Oor die afgelope weke dink, skryf en praat baie Suid-Afrikaners oor die destydse Soweto-opstande. En dit is ook reg. Maar vanjaar praat en dink ons ietwat anders daaroor. Een van die redes hiervoor is dat dit die 40ste herdenking van hierdie historiese gebeure is.
Maar dalk is die grootste rede die feit dat die erns, passie, dryfkrag en impak van die #RhodesMustFall- en #FeesMustFall-studenteprotesaksies herinner aan die 1976-opstande en wat daarna gebeur het. Dink maar aan die koerantopskrifte, die foto’s, die manier van betoog en die kritiek teen veral universiteitsowerhede en die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
Maar is dit dieselfde?
Die parallelle is in verskeie artikels en berigte oor die afgelope maande uitgewys. Dink maar aan Max du Preez se artikel “Van Soweto tot #RhodesMustFall” in die bylaag van Die Burger op Saterdag 11 Junie 2016. Du Preez wys op die parallelle tussen wat hy in 1976 beleef het en wat ons vandag in Suid-Afrika beleef - onder meer dat die ANC nie die opstande sien kom het nie, dat swartbewussyn die basis van die jeug se bewuswording en opstandigheid is, ensovoorts.
Hy trek ook lyne na wat nie hierdie keer die "natuurlike" oorsaak kan wees nie, bv apartheid en Afrikaans. Wat die "stryd" rondom Afrikaans betref, kan mens seker die debatte en gepaardgaande studenteprotes by Stellenbosch en Pretoria tot ʼn mate hiermee in verband bring. juis omdat dit veral die swart jeug by dié en ander universiteite laat dink aan die redes vir die anti-Afrikaanse sentiment wat ook die 1976-opstande gekenmerk het.
Wat is nou eintlik anders?
Ek is dit eens met Du Preez en ander skrywers en historici dat daar sterk parallelle is tussen die opstandige jeug van 1976 en wat ons oor die afgelope jaar of wat op ons kampusse en elders beleef (het). Maar dié lyne moet ons versigtig trek, juis omdat ʼn hele paar sake anders is en veral omdat die #FeesMustFall-protesaksies dalk tog nie so uniek aan Suid-Afrika is nie. Ek lig enkele parallelle uit tussen ons studenteprotes en dié van ander lande.
Sedert veral 2010 vind verskeie studenteprotesaksies reg oor die wêreld plaas. Studenteprotes is natuurlik niks nuuts nie en ook nie beperk tot die 2010-'16 periode nie. Interessant genoeg het die meeste protesaksies gemeenskaplike eienskappe. Dink maar aan onlangse en huidige protesaksies in Groot Brittanje, Indië, Chile, Pole, die VSA, Hongkong, Kanada en natuurlik die mees onlangse protesaksies in Frankryk.
In al hierdie gevalle was en word wêreldstede en kampusse geraak. Protesaksies in Parys laat selfs dit wat verlede jaar by die Uniegebou afgespeel het, gering lyk. So ook was daar die afgelope paar jaar studenteprotesaksies (of protesaksies waar studente ʼn kernbelangrike rol gespeel het) in onder meer Egipte, Etiopië en Kenia.
Die meeste protesaksies hou nou verband met mekaar juis omdat studente veral die volgende kwessies begin takel het: Onuithoudbare hoë klasgelde (bv Groot Brittanje), die blatante mishandeling en miskenning van vroue se regte op kampusse en in die samelewing (dink aan Indië en die VSA), die dekolonisering van die kurrikula (dink maar aan Chile), die noodlot van uitgekontrakteerde werkers (hier is daar omtrent oral ʼn sterk verbintenis met werkersunies – dink maar aan die protesaksies in Frankryk – en die regeringstyl van die heersende politieke party(e) in die betrokke lande.
Natuurlik is nie al hierdie aangeleenthede ewe hoog op die agenda van die studente in die betrokke lande nie. Maar dit is tog van waarde om te sien dat ons studenteprotesaksies tog nie so uniek en selfs nie so groot of gewelddadig is/was as dié in ander lande nie.
Wat Suid-Afrika se studenteprotesaksies betref, sou dit dus ʼn miskenning wees van groter stemme en bewegings reg oor die wêreld se direkte invloed op ons as ons maar net aanvaar dat die protesaksies ʼn nuwe weergawe is van wat in 1976 en daarna gebeur het. Die onrustigheid is nie net weens strominge in Suid-Afrika nie, maar ook as gevolg van gebeure elders.
Hoewel daar dus in die Suid-Afrikaanse psige baie ooreenkomste is tussen die huidige vlaag studenteproteaksies en dié van 1976 – ook in die vrees wat dit by ons ontlok – is daar ook ander aspekte wat nie uniek aan ons is nie.
Daar is verskille tussen protesaksies hier en dié in ander wêrelddele. Die meeste hiervan het te make met ons sosio-ekonomiese konteks. Die geweldige ekonomiese- en geslagsongelykheid, die sterk historiese realiteit van ons geskeide universiteite, voortslepende geweld (ook tydens proteste), trae ekonomiese groei, die ongelooflik hoë ekonomiese waarde van grade van Suid-Afrikaanse universiteite, die gebrek aan sosiale kohesie en ons lae deelname aan hoëronderwys is van die "uniekhede" van ons konteks.
En as mens mooi dink is selfs ook dit nie so uniek nie …
Met die komende munisipale verkiesings en die feit dat dit beloof om interessante nuwe tendense tot gevolg te hê, veral as die stem van jonger Suid-Afrikaners (met ʼn lae deelname as kiesers) in ag geneem word, is een van die ander verskille natuurlik die mate waartoe politieke partye insae probeer kry in studenteproteste. Soortgelyk aan protesaksies reg oor die wêreld is hul stem maar skrams onder studente juis omdat van die aspekte waaroor daar geprotesteer word teen politieke beleide en verstane van die realiteit en die lot van burgers is.
Ons is dus beslis nie so uniek soos wat ons dink nie. Maar soos in 1976 die geval was, sal die 2015- en 2016-proteste hul merk op Suid-Afrika laat en ons manier van dink en doen ongetwyfeld bly beïnvloed. Die vraag is net watter effek dit op ons land se psige sal hê (dalk is dit al wat eintlik uniek kan wees in die verskillende lande – die effek op elke land se nasionale identiteit). Maar dalk moet ons eerder wag vir die plaaslike verkiesings vir ‘n lens waardeur ons die 2015- en 2016-protesaksies beter kan beskou.
- Leslie Van Rooi is die hoof van die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch.
The post Het die Soweto-opstande iets te make met vandag se studenteprotesaksies? appeared first on LitNet.