Die Afrikaanse Taalraad betreur die pynlike gebeure in Soweto veertig jaar gelede. Ons betoon hiermee ook ons meelewing met die enorme gevoelens van verlies wat soveel families sekerlik nou nog met die herdenking van hierdie tragedie ervaar.
Sharpeville raak nog steeds almal van ons. Ook Afrikaans dra steeds die letsels van 76. Die persepsie van Afrikaans as die taal van die onderdrukker loop steeds diep en resoneer met baie studente op talle kampusse; ook met amptenare of politici wat hulle vir die uitrangering van die taal beywer.
Baie onreg ís inderdaad in Afrikaans gepleeg. Afrikaans is egter vir baie ook die taal waarin hulle téén onreg gestry het en talle Afrikaanse studente het met hulle lewens hiervoor geboet. Afrikaans is óók ʼn taal van bevryding.
Die verengelsing van skole en universiteite, en die oningeligte eise dat Afrikaans moet val, skep nuwe gevoelens van verlies onder Afrikaanssprekendes – toenemend ook onder die sprekers van ons ander inheemse tale. Hierdie gedeelde ervaring skep nuwe vorms van samehorigheid wat oor tradisionele grense heen reik, selfs al verdeel wanbegrip, onuitgesproke pyn en geweld steeds.
Die Afrikaanse Taalraad streef na ware versoening tussen die sprekers van Afrikaans asook met die sprekers van ander tale. Die pad na versoening vereis wedersydse erkenning van mekaar se pyn, empatie en ʼn herontdekking van die waarde van gesprek. Vir baie mense begin hierdie pad in Soweto in 1976.
The post Jeugdag en die 40e herdenking van Sharpeville appeared first on LitNet.