Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.
This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.
Die diskoers van dekolonisering wat sedert die #RhodesMustFall-beweging verlede jaar by universiteite stoom opgetel het, bevat ‘n onrusbarende antidemokratiese denkstroom wat die hoofstroommedia óf miskyk óf sensasionaliseer vir eie gewin. In hierdie artikel poog ek ‘n skets van die omstandighede van die verwikkeling en ‘n kritiese beskrywing van sommige elemente wat blyk daarvan deel te wees. Maar laat ek eers beklemtoon dat die dekoloniseringsdiskoers uit veelvoudige, mededingende posisies bestaan en dat ander lede van die studente-dekoloniseringsbeweging die impuls wat ek hier probeer beskryf, aktief teenstaan.
Studente se dekoloniseringsdiskoers getuig van 'n diepgaande ontnugtering oor transformasie. Met “transformasie” word hier bedoel ‘n omvattende projek van nasionale verandering in navolging van die Grondwet wat sedert die eerste demokratiese verkiesing aan die gang is. Studente se betogingsaksies het die hardnekkige gapings in transformasie – soos vergestalt in verskillende vorme van uitsluiting (finansieel, kultureel) en geweld (seksueel, simbolies) – in hoëronderwysinstellings ontbloot.
Dit is van belang dat hierdie historiese oomblik na twee dekades van demokrasie verskyn. Die agtergrond is wêreldwye ekonomiese onstabiliteit soos die magte van laat kapitalisme weer hul voete na die finansiële inploffing van 2008 probeer vind. Uiteraard het die globale ekonomiese situasie ‘n beduidende impak op Suid-Afrika. Dit dra by tot 'n toenemende nasionale neerslagtigheid oor ‘n groeiende politieke en sosiale krisis wat spruit uit die oënskynlike onversetlikheid van ons geërfde probleme, veral sosiaal-ekonomiese ongelykheid, en die nuwes wat bygevoeg is.
Die tydbom van klasse-ongelykheid waaroor ek en ander ontleders al lank skryf, is besig om te ontplof, maar die ontploffing het onverwagte aspekte en blyk nou meer omvangryk as klas te wees. Dit is eerder soos ‘n klomp tydbomme wat tegelykertyd en aanhoudend ontplof. Die skerwe van patologieë in ons samelewing (rassisme, seksisme, marginalisering, uitbuiting, korrupsie, outoritêre impulse) spat in alle rigtings, verdwyn, herverskyn of word vervang deur selfs erger vorme. Materialisme en relatiewe deprivasie verskerp terwyl sosiale verhoudings polariseer en instellings verkrummel.
Heelwat hiervan speel uit by universiteite, veral die histories wit instellings. Midde-in die krisis tree die studente na vore as ‘n opnuut verpolitiseerde sosiale formasie, gebore te midde van die ontnugtering oor die postapartheid projek van transformasie. ‘n Seksie van die studente – oor verskillende kampusse heen – beskou transformasie blykbaar as 'n algehele mislukking. In reaksie slaan hulle ‘n antidemokratiese rigting in waarvan die omvang binne die groter dekoloniseringsdiskoers moeilik peilbaar is, gegewe die verskeidenheid van posisies en die mededinging oor wat dekolonisering nou eintlik beteken.
Dit is belangrik om ag te slaan op die antidemokratiese posisionaliteit, omdat dit inpas by die groeiende krisis van konstitusionalisme: ons gedeelde en groeiende onvermoë om die visie van die Grondwet lewend te maak op maniere wat verbeeldings steeds aangryp en ingrypende veranderings aan meer as net middelklaslewens aanbring. Hierdie onvermoë raak fataal wanneer lede van die opkomende intelligentsia deur outoritêre modelle van verandering oorrompel word.
‘n Onlangse voorbeeld van die verskynsel is die onderbreking van ‘n paneelbespreking by die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) oor “The university and its worlds”, waar die filosoof Judith Butler, die politieke wetenskaplike Wendy Brown en die kritiese rasteoretikus David Theo Goldberg, al drie van universiteite in die VSA, saam met Achille Mbembe, die postkoloniale teoretikus van Wits, aan die woord was, onder leiding van Premesh Lalu, postkoloniale denker van UWK. Die gesprek het gehandel oor die globaal verdiepende krisis van universiteite, grootliks te wyte aan neoliberalisering. ‘n Groep studente het die funksie onderbreek omdat hulle kwansuis genoeg gehad het van wit buitelanders wat swart mense probeer voorsê en omdat waaroor gepraat word niks beteken vir die meerderheid Suid-Afrikaners wat steeds in “apartheid” lewe nie.
Xolela Mangcu, ‘n sosioloog van die Universiteit Kaapstad, het probeer ingryp, maar is verskree. Die studente het Mangcu en Mbembe as “sell-outs” en, volgens sosialemedia-weergawes, as “house niggers” uitgekryt.
‘n Soortgelyke voorval het onlangs by die Universiteit van die Vrystaat by ‘n seminaar van die studenteraad plaasgevind waarheen ek genooi is om oor wit bevoorregting te praat. ‘n Klein groepie studente het my onmiddellik ná my praatjie op aggressiewe wyse aangeval.
‘n Ander voorval was by ‘n onlangse opname van e.tv se The Big Debate, waarheen ek as gas genooi is. Lede van #RhodesMustFall en Andile Mngxitama se Black First, Land First was aan die woord. Dit het ‘n oefening in onverantwoordelike “joernalistiek” geword waarin ‘n ruimte vir die aanstigting van geweld geskep is.
Op grond van hierdie ervarings en ander voorbeelde by ander universiteite, insluitend die Universiteit van Pretoria, Wits en Unisa, poog ek om ‘n skets te gee van die buitelyne van die tendens, met verwysing na sewe elemente wat saam op ‘n antidemokratiese posisie neerkom:
(1) Die aandrang dat Suid-Afrika nie ‘n demokrasie is nie en dat die woord “postapartheid” ook nie gebruik mag word nie, want apartheid duur onaangeraak voort.
(2) Die aandrang dat die Grondwet die dokumentêre bewys is van hoe die huidige regeerders swart mense aan die voormalige wit regeerders uitverkoop het. Swart mense wat nierassigheid of die Grondwet steun, het ook aan wit mense uitverkoop.
(3) Dat demokrasie ‘n Westerse invoerproduk en nie “eg” aan “Afrika” is nie.
(4) ‘n Aandrang op ‘n essensialisering van witheid en swartheid.
(5) Dat die “revolusie” onvoltooid is en geweld die enigste manier is waarop geregtigheid in Suid-Afrika kan seëvier.
(6) Dat swartheid die enigste politieke en sosiale kategorie van belang in die stryd om sosiale geregtigheid is, en dus dat geslag, seksualiteit en ander kategorieë eenkant geskuif moet word. Kortom, die posisie is openlik antifeministies, patriargaal en homofobies, en verwerp eksplisiet die swart feministiese teorie van interseksionaliteit.
En dan die sewende element ...
(7) Die aanvoerders van hierdie argumente kom as meestal middelklas voor, ‘n relevansie wat debatteerbaar is, gegewe die teenstrydige rolle wat middelklasse histories in tye van verandering speel.
Weer eens moet ek beklemtoon dat hierdie skets net die buitelyne en nie die nuanses bevat nie, en dat al die elemente tans aan intense mededinging onderwerp word en hoegenaamd nie statiese posisies is of enige konsensus verteenwoordig nie. Dit word vurig teengestaan. Soos onlangs byvoorbeeld by Wits gesien is, loop swart feministe en queers die patriargale posisie trompop. By die UV-bespreking het swart SR-lede en ander studente hulle sterk ten gunste van robuuste, maar ook oop en inklusiewe gesprekvoering uitgespreek.
Die antidemokratiese argument gaan gebuk aan dehistorisering, soos in die aandrang dat apartheid onverstoord voortbestaan. Om te sê Suid-Afrika is vandag ‘n demokrasie, is nie om te ontken dat apartheid se nalatenskap voortduur nie, maar dien as erkenning dat ons in ‘n historiese oomblik is waarvan die omstandighede eienskappe van die verlede kanaliseer, maar waarin daar ook nuwe realiteite is wat meegebring is deur demokratisering. Dit is nie dieselfde as apartheid nie, want talle nuwe sosiale potensialiteite is beskikbaar gestel, en ons is in ‘n proses van politieke mededinging om daardie moontlikhede te verwesenlik, of nie. In dié sin is demokratisering ‘n voortdurende proses wat nooit ten volle afgehandel word nie.
By die UV het die groep my poging tot die historisering van witheid – die ontleding van die veranderende posisies van witheid sedert die 1980’s – affronterend gevind omdat dit inmeng met hul geëssensialiseerde weergawe van witheid en swartheid. Terselfdertyd is die aandrang dat wit mense moet stilbly.
Hoewel ek die posisie ondersteun dat wit mense, mans en straights in sommige situasies moet stilbly, is ‘n seminaar wat gereël is deur ‘n SR wat verteenwoordigend van ‘n universiteitsgemeenskap is, nie so’ ‘n situasie nie. Wit mense, mans en straights het ‘n plig om aktief deel te neem om wit heteropatriargie as magstruktuur af te takel en gelykheid en emansipasie te bevorder. Wat wel vereis word, is dat voorheen gemarginaliseerde persone die leiding moet neem in die bewerkstelliging van sosiale geregtigheid. Dít is die beginsel waardeur wit mense, mans en straights hulself moet laat lei in hul deelname aan hierdie prosesse.
Persone in bevoorregte posisies kan dus onder sekere voorwaardes deelneem. Om wit mense voor die voet stil te maak in gedeelde ruimtes, help ‘n politieke agenda aan wat die verskeidenheid in politieke posisies in wit geledere ontken.
Dieselfde truuk is by The Big Debate gedoen: ek, die VF+ se Corné Mulder, AfriForum se Monique Taute, die joernalis Rebecca Davis, Daily Maverick se Ivo Vegter en Sarah Godsell, die dogter van Bobby, word almal een. Alle wit mense deel een politiek; ditto alle swart mense. Uiteindelik was daar dus geen wit mense wat apartheid teengestaan het nie en was daar geen swart mense wat by apartheid gebaat het nie.
Terselfdertyd word witheid ‘n fantasmatiese objek wat almagtig staan in verhouding tot swartheid, wat tot slagofferskap gereduseer word, soos Mbembe argumenteer.
Hiermee probeer ek nie sê dat swart mense nie almal onder apartheid gely het nie – hulle het – of dat wit mense nie almal by apartheid gebaat het nie. Ek het by apartheid gebaat, en so ook elke ander wit mens, en dit was onregmatig. Wat ek wel sê, is dat daar ‘n groep wit mense was wat apartheid teengestaan het – sommige teen ‘n hoë prys vir hulself – en ‘n groep swart mense wat met die apartheid-regime saamgewerk het. Verder is dit so dat apartheid swart mense verontmenslik het, maar om die onderdrukker te gewees het, het ook wit mense húl menslikheid laat verloor.
Deur hierdie ingewikkeldhede en verwikkeldhede te ontken, ontken mens die morsigheid van die verlede en hede. Die omskakeling van koloniale terme (wit = sleg / swart = goed) is nie dekolonisering nie; dit is ‘n voortborduring op die koloniale logika. Dit kom neer op ‘n hernude poging tot verabsolutering (apartheid was die vorige poging) wat dit amper onmoontlik maak om openings te vind waar self en ander na mekaar kan uitreik. Ons moet juis ons vervlegtheid – dit wat apartheid ongedaan probeer maak het – erken, want dit is waar die potensiaal gevind kan word om saam ons menslikheid te herwin. Die enigste manier om dit te bewerkstellig, is om mekaar se menslikheid te erken.
Die essensialisering en dehistorisering wat onderliggend aan die antidemokratiese tendens is, het ook ander ongelukkige gevolge. Dit maak “swart mense” (asof van ‘n monolitiese blok gepraat kan word) as noodwendig outokraties af – en dis gewoon onwaar en teenstrydig met die bewyse oor prekoloniale-Afrika-stelsels, soos beskryf deur Mahmood Mamdani. En dit skep ‘n afstootlike korrelasie tussen swart mense en geweld wat erg herinner aan koloniale rassisme.
Nog ‘n effek van die antidemokratiese tendens is dat dit die deur oopmaak vir die Grondwet om uitgegooi te word. Saam met die antifeministiese en homofobiese element begin mens veral hier ‘n politieke agenda opmerk. Eerstens ontken die posisie die werklike politieke gevegte (fisiek en ideologies), gepaardgaande met die hoogste lewensverlies in die hele apartheidtydperk, wat uiteindelik die Grondwet geproduseer het. Die globale en plaaslike ingewikkeldhede, die ANC se werklike kapasiteit en ideologiese posisie, die NP wat ten spyte van sy beheer oor meganismes van staatsterreur moes afstand doen van ‘n wit veto, en die talle ander spelers en faktore word geïgnoreer. Die argument sentreer op die verskansing van eiendomsreg in die Grondwet, gelees as die teken dat die Grondwet swart mense uitverkoop. Aan die hand van pan-Afrikanistiese argumente van die middel-20ste eeu word daarop aangedring dat die grond teruggevat moet word op dieselfde wyse as wat koloniseerders die grond afgevat het. Hoewel die herstel van swart mense se grondbesit een van die belangrikste postapartheid doelwitte moet wees en die ANC klaaglik misluk het in dié verband, is dit opvallend dat die klem in die argument op die grond gelê word ten koste van alle ander regte. Die oplossing wat voorgehou word, is nie grondwetlike wysiging en versnelde grondhervorming nie. Die oplossing is: skrap die Grondwet. Gelees saam met die patriargale politiek van die posisie is die toekomsvisie dus ‘n “natuurlik outokratiese” patriargale staat met plek vir sommige swart mense. Daarom dat Mbembe in hierdie kring persona non grata is, want hy dring daarop aan dat dekolonisering hand aan hand met demokratisering moet verloop.
Die klem op grond skep die indruk dat uitwissing van sosiaal-ekonomiese ongelykheid van die hoogste belang vir die antidemokratiese posisie is. Maar opvallend het hierdie denkstroming min oor die neoliberalisering van hoër onderwys te sê. Neoliberalisering is 'n ideologiese tendens waarin universiteite weggedraai word van hul historiese rol as sentrums van denke wat toegewy is daaraan om sin van onsself en die planeet te maak. In die plek daarvan, aangestu deur 'n golf van anti-intellektualisme, kom 'n verskraalde instrumentalistiese visie van die universiteit as sakebedryf met die uitsluitlike doel om studente vir die arbeidsmark op te lei; die ryke omvang van menswees word tot kapitalistiese werktuig (werkos?) gestroop. Die tekort aan kritiek hierop stel verdere vraagtekens oor die politieke agenda aan bod.
Die oorbeklemtoning van witheid laat deelnemers aan die denkstroming toe om die swart olifant in die kamer (om 'n Engelse uitdrukking effens aan te pas) te ignoreer. Hoewel witheid as magstruktuur ongedaan gemaak moet word, sal selfs die verwydering van elke wit mens uit Suid-Afrika (Ferial Haffajee se gevaarlike provokasie) dit nie bewerkstellig nie. Die olifant wat aandag moet kry, is die agteruitgang van die ANC. Deel van die nasionale neerslagtigheid het te doene met 'n verdiepende teleurstelling oor die ANC, ook onder studente. Die party se greep op mag is om twee redes besig om te verslap: die onvermoë om apartheid se destruktiefste nalatenskap van klasse-ongelykheid betekenisvol te beredder, en die verlies aan die morele agting wat die party na die terugkeer uit ballingskap geniet het. Terwyl hierdie feite baie swart mense mismoedig stem, is daar wit mense wat met ‘n soort fatalistiese Schadenfreude hulself daarin verlustig.
Dit bring ons by sommige wit mense se medeaandadigheid aan die antidemokratiese tendens. Soos reeds gesien, werk swartheid en witheid as medekonstruksies – konstruksies wat self skep in verhouding tot ander. Die Schadenfreude-posisie is deel van ‘n verhardende witheid wat as medevervaardiger van die antidemokratiese swart posisie dien. Hierdie spesifieke wit posisie is ook wesenlik antidemokraties, essensialiserend en verontmenslikend. Die dinamiek wat aan’t loop gesit is, is pogings tot die afsluiting van wit identiteit wat pogings tot afsluiting van swart identiteit uitlok, en andersom. Dit werk na albei kante.
Ons het dringend individuele en kollektiewe herbesinning in Suid-Afrika nodig, met ‘n fokus op hoe om die Grondwet ‘n lewende dokument te maak. Voordat polarisasie verder verdiep en almal tussen die kortsigtige uiterstes van verhardende witheid en swartheid vasgeklem word.
* Christi van der Westhuizen (PhD) is medeprofessor in sosiologie aan die Universiteit van Pretoria. Hierdie ontleding verteenwoordig haar sienings en nie dié van die Universiteit van Pretoria nie.
The post Die antidemokratiese denkstroom by universiteite appeared first on LitNet.