Alan Paton se skryfwerk is wyd en syd bekend en het ’n reuse bydrae gemaak om die ongeregtighede wat in die naam van politiek gepleeg is, aan die wêreld te ontbloot. Maar sy innerlike wroegings om onder die apartheidsregering ’n bestaan te voer, is minder bekend.
Hierdie toneelstuk is die teks van Greg Homann en Ralph Lawson, wat ook Paton se rol in die stuk vertolk. Dit is ’n roerende kykie in Paton se lewe; in sy eie woorde, deur sy eie stories, outobiografie en kommentaar. Sy vermoë om liriese verse en evokatiewe prosa te vermeng met ’n lewendige storievertelstyl, is pragtig weergegee in hul verwerking en maak die toneelstuk ook op ’n ander vlak poëties mooi.
Voor ons ingaan, lees ek Christina Kennedy van die Financial Mail se resensie waarin sy noem dat die woord “wit liberaal” eintlik net so ’n vloekwoord in die huidige bestel is, as wat dit destyds onder die apartheidsregering was.
Maar waarom die stuk so geslaagd is, is omdat dit nie kommentaar of kritiek lewer oor Paton se sieninge nie; dit gee die teaterganger bloot ’n kykie in die skrywer se sielestryd in ’n bedeling waarin hy net nie kon pas nie.
Die toneelstuk is vir agt Naledi Teater-toekennings genomineer en het drie ingepalm: Lawson as beste manlike speler; Mkhwane vir beste nuweling en Homann en Lawson vir die beste nuwe Suid-Afrikaanse teks.
Paton verloor sy eerste vrou, Dorrie, en in stil oomblikke smag hy na haar innerlike krag en haar bystand. Sy was die “middelpunt van sy bestaan”. Hy stel later ’n persoonlike assistent aan en in Anne vind hy ’n manier om sy deurmekaar lessenaar én denke weer te orden en op die lang duur vind hy weer ’n lewensmaat.
Hy worstel om sy Christelike waardes te eer, en terselftertyd sy mond te snoer oor die onreg wat hy om hom sien. Hy mymer op ’n stadium dat dit nie maklik is om oor die seer en verskeuring van hierdie land te skryf nie. “Maar ek het nie gevra daarvoor nie; ek moet daaroor skryf,” bars hy gefrustreerd uit. “Ek het nie gevra dat hierdie onheilige ondertone so aanmekaar kop uitsteek in my skryfwerk nie.”
Die toneelstuk lig verskeie van die keerpunte in sy lewe uit - sy grootwordjare waar hy onder die dissipline van sy pa ’n weersin in outoritiet - veral van die staat - ontwikkel het. Daarna sy jare as opsigter by Diepkloof Verbeteringskool en die kritiek wat hy moes verduur omdat sy metodes volgens vele “te sag” was. Hy vertel dat hy net die jong kinders as hoof wou teruglei na die lig; sodat hulle iets met hul lewens kon doen, maar daar is van hom verwag om hoofbewaarder te wees; ongenaakbaar, onvergewensgesind.
Hy keer later verslae na sy geliefde Natal terug, omdat hy voel hy die kinders by Diepkloof gefaal het.
Soos die toneelstuk vorder, besef jy hoe die gedurige agtervolging en inluister deur die Sekuriteitspolisie hom stadig maar seker van binne afgebreek het. Hoe hy die vergeefsheid van verandering begin insien het, toe sy leiding van die Liberale Party ook nie die wiele vinnig genoeg kon laat draai nie.
Die teks is treffend, maar die akteurs bring dit tot lewe. Onder die regisseurshand van Greg Homann (Brothers in Blood; Delirium) word Ralph Lawson voor jou oë Alan Paton; word jou hart saam met syne sag vir Anne Hopkins (Clare Mortimer) as en voel jy die frustrasie van die jong Sponono (Menzi Mkhwane).
Nadat Paton sterf, word Anne ’n paar mal in hul huis aangeval en uit vrees vir haar lewe, keer sy terug na haar geboorteland. “Al is al my vriende en bande hier, gaan ek nou na 35 jaar terug na Engeland. My hart is seer, want Alan was so ongelooflik hoopvol oor die nuwe Suid-Afrika, maar het nooit die kans gehad om dit te beleef nie.”
In die teaterfoyer ná die vertoning dink ek aan ’n gesprek wat ek vroeër die dag met ’n jong vrou gehad het. Sy het toevallig verlede jaar in die protes-optrede oor fooie by die Universiteit van Kaapstad beland. Sy het haar teleurstelling uitgespreek met die regering. Haar woorde: “Julle het vir ons baklei om die juk van Apartheid af te gooi; julle het die Struggle liedjies geskryf. Toe ons dit voor jul deur kom sing en die demokratiese reg uitoefen waarvoor so baie gesterf het, het julle verkies om ons eerder met rubberkoeëls te skiet. Julle faal ons.”
En ek wonder hoe lank daardie ware vryheid en demokrasie ons dan nog gaan ontwyk.
As teater die waghond van die massas is, kan mens net hoop dat hierdie toneelstuk se boodskap - die verlengstuk van Paton se vergeefse boodskap en die versugtinge van soveel ander - een vir een mense se harte sal draai. Dat ons weer die pad saam kan begin stap, want ons is dit nou byster.
A Voice I Cannot Silence
Met: Ralph Lawson, Clare Mortimer, Menzi Mkhwane
Deur: Greg Homann en Ralph Lawson
Regie: Greg Homann
The Fugard Theatre Studio
7–25 Junie 2016
Kaartjies deur Computicket of die Fugard kaartjieskantoor, 021 461 4554.
Daar is ’n ouderdomsbeperking van geen onder 13’s.
The post Teaterresensie: A Voice I Cannot Silence appeared first on LitNet.