Moderne samelewings het ’n vreemde liefde-haat-verhouding met misdadigers en hulle wandade. Ons is gaande daaroor om hulle dade te veroordeel, maar meestal behandel ons hulle slagoffers met net so min agting as wat hulle dit doen.
Die enigste uitsondering is natuurlik wanneer hulle slagoffer beroemd is. Hierdie week was weer geen uitsondering nie. Twee bekende vroue het gewelddadig gesterf. Christina Grimmie, ’n jong Amerikaanse sangeres, is deur ’n onbekende man gedood. Sy naam is eers Sondagoggend vroeg, dae na die skietvoorval, bekend gemaak. In ’n tragiese geval plaaslik is die radio- en TV-persoonlikheid Hope Zindi dood in haar voertuig aangetref, vermoedelik aan die hand van haar seun. Ook sy naam is eers ’n dag later bekend gemaak.
In die oorgrote meerderheid gevalle is ons egter heel bekend met die misdadiger se naam, terwyl sy (en dis gewoonlik ’n man) slagoffers grootliks gesigloos en naamloos bly. Oscar Pistorius. Ted Bundy. Gert van Rooyen. OJ Simpson. Jeffrey Dahmer. Mans wat van ’n verskeidenheid misdrywe aangekla is, mans oor wie daar boeke geskryf is, mans wat ongelooflike nuusdekking ontvang het, en steeds ontvang. Met die uitsondering van Oscar Pistorius en OJ Simpson, wie aangekla was dat hulle hulle metgesel vermoor het, en waar die slagoffers se name daarom gereeld in die pers was, is al die ander slagoffers onbekend. Wie kan uit die hoof Ted Bundy se slagoffers se name opnoem? Of Gert van Rooyen s’n?
In die voorbeelde wat ek hier bo genoem het, met die uitsondering van Dahmer, was al die slagoffers vroue. Dahmer se slagoffers was gay of biseksuele mans, en ek vermoed juis daarom word hulle nie veel anders behandel as die vroue nie. Die slagoffers word behandel as byspelers in die drama wat altyd draai om die man, met die fokus daarop om te probeer verstaan hoekom hy so opgetree het. Boosheid soos wat ons dit in die Sondagskool en kerk leer ken het, is skynbaar nie antwoord genoeg nie. Hulle word ook selde beskryf as booswigte. Hoe ironies dat die artikels en boeke juis baie keer deur vroue geskryf word.
Opvallend dat die meeste van die voorbeelde hier bo genoem, met die uitsondering van OJ Simpson, wit mans is. Wit bevoorregting, en manlike bevoorregting, kom selfs kriminele te hulp. Hierdie week, met die opvlamming van die polemiek rondom Brock Turner, was dit weer opvallend. Brock Turner, ‘n Stanford-student met Olimpiese drome, is skuldig bevind daaraan dat hy ’n bewustelose vrou seksueel aangerand het. Hy is op heterdaad betrap deur twee ander mans, wie hom verjaag het en toe die saak gaan aanmeld het.
Die herrie is egter ontketen toe die regter, ook ’n Stanford-gegradueerde, hom tot slegs ses maande gevangenisstraf vonnis. Die staat het gevra vir ses jaar, alhoewel die toepaslike wetgewing voorsiening maak vir tien jaar gevangenisstraf. Die regter het Turner se sportloopbaan, en die impak wat die tronk op hom sal hê, voorgehou as redes hoekom hy nie swaarder gestraf behoort te word nie. Swart mans wat aan soortgelyke oortredings skuldig bevind word, word veel swaarder gestraf. Verder is daar, in die media en ook tydens die hofverrigtinge, klem gelê op die feit dat hy besope was, en dat dit as versagting gesien moet word.
Ons weet egter baie goed dat indien die twee jongmans nie daar opgedaag het en hom betrap het nie, sou die feit dat ook die slagoffer besope was, teen haar gebruik word omdat sy nie in staat was om te getuig oor wat gebeur het nie. Dus, as hy besope is, dan moet ons hom ligter vonnis omdat sy drankgebruik hom buite sy aard laat optree het. As sy egter durf waag om te veel te drink, dan is enigiets wat daarna gebeur net haar skuld. Sy moet tog van beter geweet het. Victim-blaming was nog altyd een van ons gunstelingsportsoorte.
Selfs in die geval van Zindi was daar feitlik dadelik gerapporteer dat haar seun in besit van ’n groot hoeveelheid dwelmmiddels gevind was, en dadelik begin die gesprek oor die gevare van dwelmmisbruik. Christina Grimmie was nog nie eers dood nie, en haar moordenaar se naam nog nie vrygestel nie, toe begin die gesprek oor strenger wetgewing rondom vuurwapens. Asof die vuurwapen vanself afgevuur het, onafhanklik van menslike tussentrede. Asof die dwelms Zindi vermoor en in haar voertuig se kattebak gestop het. Asof drank Turner in ’n verkragter verander het.
Turner was tog bloednugter toe hy homself in die hof probeer verontskuldig het. Sy pa was nie dronk toe hy die verkragting as “20 minutes of action” beskryf het. Die regter was nie onder die invloed van enige middels toe hy vonnis opgelê het nie.
Verkragtingslagoffers weet dat hulle ’n opdraande stryd sal hê wanneer hulle ’n klag lê. Vrydag is ’n Nederlandse vrou in Saoedi-Arabië in hegtenis geneem op aanklagte dat sy owerspel pleeg toe sy ’n saak van verkragting by die plaaslike polisie aanhangig gaan maak het. Die verkragter sal in alle waarskynlikheid skotvry daarvan afkom. In ons land, en die meeste Westerse lande, sal die vrou nie gearresteer word nie, maar ons almal weet die hof van openbare opinie bevind hulle net so vinnig skuldig. Sy’t ’n kort rokkie gedra. Sy was dronk. Wat het sy so laat op straat gesoek? Hoekom was sy in ’n manskoshuis?
In plaas daarvan dat ons ons seuns leer om nie te verkrag nie, leer ons ons dogters om hulle nie te laat verkrag nie. Die verantwoordelikheid word dus keer op keer weggeneem van die misdadiger en voor die deur van die slagoffer geplaas. As sy verkrag word, dan is dit mos haar skuld. Sy moes geweet het om nie x of y te doen nie.
Ons media dra by daartoe. Geposeerde glansfoto’s van die misdadiger word geplaas. Hulle lewens gaan voort, en soms maak hulle selfs wins uit hulle misdade, in die vorm van betaling vir artikels oor hulle lewens.
In een Suid-Afrikaanse geval is die beskuldigde in ’n verkragtingsaak selfs verkies tot president, en toegelaat om sy absolute minagting vir wet en orde op veel groter skaal voort te sit.
In hierdie tye, wanneer daar toenemend vrae gevra word oor persvryheid, en dit al hoe duideliker word dat die media nie altyd verstaan dat elke reg gepaard gaan met ’n verantwoordelikheid nie, wonder ek watter verskil dit sou maak as joernaliste sou ophou om soveel tyd aan die oortreders te bestee, en eerder begin fokus op die impak van hulle dade op die slagoffers.
Sou Zuma nog steeds dieselfde gewildheid ervaar het indien daar simpatieke beriggewing was rondom sy slagoffer, en die feit dat sy uit die land moes vlug omdat haar lewe nie meer veilig was nie? En ons weet mos Zuma het geen beheer daaroor gehad nie, net soos wat hy nie geweet het wat by Nkandla aangaan, of in sy parlement nie. Hy’s heeltemal onskuldig.
Sou die gefassineerdheid rondom Ted Bundy en Jeffrey Dahmer en ander voortgaan indien die fokus geplaas was op die lyding wat hulle slagoffers moes deurmaak? Sou mense anders voel oor misdadigers indien die kinderfoto’s, en die agtergrond oor hulle slagoffers gegaan het, eerder as oor hulle? Sou Brock Turner anders gestraf gewees het as die regter, en die media, se fokus nie was op sy toekomsplanne nie, maar op die wyse waarop die slagoffer se toekoms deur Turner se aanval op haar liggaam geraak word? Ek wil graag glo dat dit wel ’n verskil sou maak.
Die Kaliforniese sisteem maak voorsiening daarvoor dat ’n regter herroep kan word, en daar is tans ’n petisie aan die gang wat juis dit vra. In Suid-Afrika is ons nie so gelukkig nie. Juis daarom is verantwoordelike beriggewing broodnodig. Juis daarom is aktiewe en betrokke burgers nodig.
Maar langtermyn het ons veral nodig om ons seuns te leer om nie te verkrag nie. Ons moet die boodskap wat ons uitdra rondom die rolle van seuns en dogters verander. Ons moet ons seuns van kleins af leer om hul eie liggame, en die liggame van dogtertjies, te respekteer. Ons moet ons seuns leer om “nee” te respekteer en te aanvaar, en ons moet ons dogtertjies leer om ferm en beslis “nee” te sê. Dis elkeen se verantwoordelikheid.
Dis die mees effektiewe manier om ons dogters te beskerm teen die Brocks en die Jacobs van hierdie lewe.
The post Geslagsgebaseerde misdade: hoekom nog steeds die dubbelstandaard? appeared first on LitNet.