Die storie sit diep in die korrektiewediens- of gevangenis-genre. A slice of prison life. Die skrywer skyn eerstehandse kennis van die binnekant en binnelewe van so ’n gevangenis te hê (geen aantygings hier nie), en dit werk. Die leser gló die storieverteller. Die idiomatiese taal, soos “Boss, moet ek hom afstof?”, is treffend, en soms selfs snaaks.
Daar is baie karakters in die storie en die binnekant van die gevangenis kry hiermee kleur en lewe. Ek sou dit egter oorweeg om een karakter (Willemse?) nog meer na vore te laat tree. Kort, kragtige verwysings na sy verlede, en na sy drome en visie daar buitekant.
Die brutaliteit van die voorlaaste paragraaf word vererger deur die kort, vinnig-opeenvolgende sinne. Staccato. Ek sou dié paragraaf selfs verder inkort, wegmaak met sommige van die herhalings. Dit moet vir die leser voel of dit binne enkele minute gebeur, en dít is die geval.
Die storie bevat van die begin af ’n gewelddadige element en loop opwaarts, of afwaarts, na ’n eweneens gewelddadige klimaks.
Hier is my vraag: Is die skets van ’n oormatig bloeddorstige toneel voldoende vir die einde van hierdie storie? Of is dit net maar ’n voortsetting en logiese einde van die inherente geweld waaraan die leser reeds tot oormate gewoond geraak het? (Die skrywer van “The delivery man” kan ook van hierdie opmerking kennis neem.)
My voorstel: dat daar teen die einde ’n ander, vir die leser verrassende, element ingevoer word. Iets mensliks? ’n Verwysing na of herinnering aan Willemse as kind saam met sy ouma? Of iets om die storielyn oor Roux se saggeaarde vader verder te ontgin, al is dit net met ’n enkele sin?
Die skrywer kan kreatief wees, iets skokkends ánders na vore bring, alles behalwe die selfgenoegsame, té voorspelbare slot. Ek soek empatie; die slot laat my yskoud.
*
(Nota aan die leser: Venter het ook aan elke skrywer ’n gemerkte weergawe van hulle verhaal gestuur. Ons kon dit om tegniese redes nie openbaar maak nie, maar tydens ’n volgende ronde sal ’n ander werkswyse gebruik word om ’n meer openbare rekord te hê.)
Terug na die invalsblad van die LitNet-slypskool Om te skryf. >>
Lees ook:
The post Geld kan nie als koop nie, verslag een deur Eben Venter appeared first on LitNet.