Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21618

Die delivery man

$
0
0

Nadat ons die oproep gekry het, het ons met die Tata van PE Joburg toe gery. Gerrie het al die pad gepraat oor die geld wat ons by “Rose se ou”, soos hy hom genoem het, sou kry. R5 000 elk. Ek weet presies wat ek met my geld gaan maak. Ek gaan vir my ’n second-hand motorbike by ou George die Griek koop sodat ek ’n job kan kry. ’n Regte job. Soos Patrick. Patrick is die ou wat in die flats langs my bly. Hy is van êrens in Afrika, ek weet nie mooi waar, miskien Kongo. Patrick se motorbike het hom R5 000 gekos en Patrick maak tonne geld. Hy doen deliveries. Meestal vir Debonairs, maar ook ander deliveries. Soms hoor ek hom baie laat in die nag wegtrek op sy bike. Hy sê hy maak baie meer geld as toe hy as ’n car guard gewerk het. Eintlik is dit streng gesproke ’n scooter, maar Patrick praat van sy motorbike. Ek gaan ook van myne praat as ’n motorbike. En ek gaan my job by Green Acres opgee. Vir Mr Stevens sê hy kan sy job in sy hol druk. Jirre dit gaan lekker wees. Ek gaan nooit weer heeldag daar in die parking lot van Green Acres in die son staan nie.

Gerrie rook en praat die hele pad. Hy is baie opgewonde. Rose se ou het vir ons ’n klein jobbie georganise. As ons in Joburg kom, moet ons ’n pakkie gaan oplaai, dan moet ons wag vir ’n oproep. As ons die oproep gekry het, moet ons weer die pakkie êrens anders gaan aflaai. As simple as that, sê Gerrie.

Ek was eers nie lus nie. Joburg is fokken ver. Toe hoor ek van die geld en ek dink, dit gaan al my problems oplos. As ek eers die motorbike het, sal ek geld kry en dan sal ek, net soos Patrick, vir my ook ’n girl kan kry. Patrick het baie girls. Sommer wit girls ook. Ek gee nie om nie. Wit girls, bruin girls, swart girls. Ek like hulle almal. Maar sonder geld kan ’n mens in PE glad nie ’n girl kry nie, vergeet maar daarvan. Nie eens die hoere en tikrokers in Central sal sonder betaling met my uitgaan nie. Maar wag maar, een van die dae gaan ek ryk wees. Dan gaan ek nie net girls hê nie, ek gaan vir my daai special girl kry. Een wat by my sal bly. En vir my kook. Boeliebeef stew en macaroni en sulke goed. Selfs tjops oor naweke. Oeee, ek gaan soos ’n koning leef. Ek sal selfs vir Patrick en een van sy girls oornooi vir ’n braai op die balkon. Vir hom bietjie wys hoe leef ons Afrikaners.

Net buite Joburg kry Gerrie die call. Ewe skielik is ek bang. Ek is nie meer lus nie. Hy sê ons moet die pakkie in die zoo gaan oplaai. Watse kak is dit? Wie doen business in ’n zoo? Omgodsnaam. Ek sê vir Gerrie iets is nie reg nie. Maar hy luister nie vir my nie. “Dink aan die geld, Swannie. Dink aan die geld.”

Ek probeer aan die geld dink en aan die motorbike. En die girls. Maar my hande begin nou sweet. Ek ken nie die plek nie. Dis baie groot. Baie groter as PE. Wag tot ek vir Patrick daarvan vertel. Oral is daar net karre en minibustaxi’s en busse en almal jaag soos mal mense. Ek het nie ’n clue waar ons is nie. Ek was nog nooit in Joburg nie. Net een keer met Kersfees in Oos-Londen toe ons vir my auntie gaan kuier het, maar dit was maar ’n kak plek. Verder droom ek om Kaap toe te gaan eendag. Ek wil daai berg gaan sien met my eie oë. Maar eers die geld en die motorbike en die girls. Ek wil nie weer aan die zoo dink en wat ons daar gaan oplaai nie.

Gerrie maak ’n paar wilde draaie. Ons is verdwaal. “God, Swannie, waa’s hierdie fokken plek? Hoe moeilik kan dit nou wees om ’n zoo in ’n stad te kry!”

Ek sê vir hom ons moet die boy by die garage vra, miskien weet hy. Maar hy weet ook nie. Ons ry vir ure en ure tot ons uiteindelik ’n sign sien: Zoo Lake. Gerrie swaai in en ons parkeer. My hande sweet en my bene bewe. Ek loop agter Gerrie aan. Ek hou my lyf skraal. Gerrie praat in Engels op sy phone. Ek kan nie hoor wat hy sê nie. Hy steek ’n cigarette aan en swets. “Nou moet ons wag, ou Swannie. Net wag.” Ons sit op ’n bankie onder ’n boom. Kinders en oumense en vroumense met stootwaentjies loop by ons verby. Almal lyk so gelukkig. Die son skyn.

Skielik lui Gerrie se phone. “ Ja. Ja. Ja, oukei,” hoor ek hom sê.

“Kom,” sê hy en klap my op my been. “When the going gets tough the tough gets going.”

Dis een van sy favourite sêgoed. Hy was al in die tronk, so hy moet weet.

In die car park staan ’n man met ’n sonbril aan. Hy is baie groot. Nog groter as Patrick en nog swarter.

“Hey my man,” sê hy. Hulle skud blad. “You come armed?”

Gerrie wys na sy leerbaadjie se sak “Pistol,” sê hy. Dit lyk asof Gerrie die ou ken. Miskien was hulle saam in St Alban’s. Gerrie was in die Big Five. Hy’t ’n tjappie op sy voorarm van hulle.

“Good, let’s go,” sê die groot ou. Hy het amper dieselfde aksent as Patrick.

Ons klim in die kar. Dis ’n ou BMW met getinte ruite soos my oom gehad het. Daar is nog ’n man in die kar, maar hy sê niks. Ek en Gerrie sit agter. Gerrie praat, ek sê niks. Ek wil uitklim. Dink aan die fokken motorbike. Ek moet dink aan die motorbike en die girls. En die Kaap. Dink aan die fokken Kaap.

Ons stop voor ’n jewellery shop. O jirre, wat de fok maak ek hier. Hier is net karre en mense. Dis mos nou fokken mal. Ek het nie eens ’n gun nie!

Die groot ou sê vir my ek moet agter die stuurwiel inklim.

“Wait here. When you see us coming, start the engine.”

Hulle loop vinnig tussen die karre deur na die winkel. Die groot ou loop voor, die stil ou agter. Gerrie is in die middel.

Ag fok tog Gerrie. Jy het nooit vir my gesê dis ’n fokken robbery nie. Jy het gesê dit is ’n pakkie. ’n Pakkie, man. Ons sou ’n delivery maak. Ek wil net deliveries maak, man. Ek wil nie robberies maak nie. Ag jirre tog.

Dis fokken warm in die kar, maar ek maak nie die venster oop nie. Ek is te bang iemand sien my. Ek wag en wag. Dit voel soos ure. My hande en voete sweet iets verskriklik. Ek wil my skoene uittrek. Op die strand gaan loop daar by die Boardwalk. Saam met ’n girl ’n roomys eet. My een skoen is uit. Toe ek opkyk, sien ek vir Gerrie aangehardloop kom. Daar is ’n gun in sy hand en ’n sak in die ander.

Ek wil die kar aanskakel, maar my sokkie haak vas aan die pedaal. Ek kan nie my voet op die petrolpedaal kry nie. Ek probeer die sokkie afhaal. Ek hoor ’n helse slag. Ek kyk op. My ore suis. Gerrie lê bo-oor die bonnet. Daar loop bloed uit sy kop uit. Fok fok fok!

Die groot ou probeer die deur oopmaak. Pawf! Nog ’n slag, bloed spat oor die venster langs my, die groot ou se gesig gly teen die venster af. Met een oog kyk hy na my. Dan is hy weg.

Ag nee jirre tog asseblief! God help my! Nou kom die ander ou, sy gun in die hand. Hy skiet wild heen en weer in die rigting van die jewellery shop. Pluk die deur oop en dan is hy in. Ek ruik buskruit en bloed. “Allez. Allez! Go! Go!” Maar my voet en my bene en my hande luister nie na my brein nie. Ek kyk af, dis nat onder my. En taai. Bloed loop uit my uit. Fok die delivery. Fok deliveries. Die stil ou gorrel agter my. Ek kyk om. Bloed spat uit sy mond uit. Ek kry my voet op die pedaal en druk dit in. Gerrie rol oor die bonnet. Die kar skiet vorentoe maar daar is ’n motorbike voor ons. Blink en blou en pragtig, Presies soos Patrick s’n. Ek trap briek. Nee. Nee. Nee. Net nie die bike nie. Toe klap my kop teen die stuurwiel. Ek hoor ’n kraakgeluid. Krrrrrrk. Vandag maak ek fokkol deliveries. Vir niemand nie.

The post Die delivery man appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21618

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>