In 'n onlangse rubriek op LitNet skryf Jason Lloyd:
Die geskiedenis sedert die vroeë 20ste eeu tot op hede bewys dat die Afrikaner suksesvol was om bruines polities te misbruik. In sy onlangs-gepubliseerde Kruispaaie – Afrikaner keuses in die 19de en 20ste eeu wys die reaksionêre joernalis en historikus Leopold Scholtz ons op dié waarheid.
Is dit wat Leopold Scholtz bedoel het? En staan wit en bruin volgens hom by 'n kruispad?
Leopold Scholtz gesels met Naomi Meyer oor sy boek Kruispaaie - en oor Jason Lloyd se rubriek daaromtrent.
Leopold, Jason Lloyd reageer op Kruispaaie deur in die besonder te fokus op die verhouding tussen wit en bruin. In sy rubriek maak hy hierdie stelling: “Die geskiedenis sedert die vroeë 20ste eeu tot op hede bewys dat die Afrikaner suksesvol was om bruines polities te misbruik.” Stem jy saam met Jason Lloyd se opsomming en waarom (nie)?
Ek stem gedeeltelik saam, maar ek is bevrees Jason Lloyd pik net uit wat hom pas. Die waarheid is baie meer genuanseerd. Ja, die Afrikaners het die bruines misbruik. Dis ’n feit. Die Engelse het dit netsoveel gedoen. Dis ook ’n feit. En die bruines het hulself deur die Engelse láát misbruik. Feit.
Die tema van hierdie boek word opgesom deur die titel: Kruispaaie. As ons by hierdie fokuspunt van Lloyd bly: Dink jy dat die verhouding tussen wit en bruin ook op die oomblik by ‘n soort kruispad staan? Is Afrikaans en die gebruik daarvan as universiteitstaal na jou mening een van hierdie kruispaaie, soos wat Lloyd aandui?
Ek sou inderdaad reken dat Afrikaner en bruin Afrikaanssprekendes weer by ’n kruispad staan. Ek het in ’n stadium – naïewelik – gereken die oorgang van 1994 kan die emosionele skeidslyn tussen wit en bruin Afrikaans ophef en dat die bruines nou ook Afrikaners sal wil word.
Hier en daar is daar miskien so iemand, maar verreweg die meeste wil nie. Goed, dis hul reg om hul eie identiteit te kies, en ek moet dit respekteer. Terselfdertyd is daar bruines wat sê voor ons kan saamwerk, moet die wittes eers hul identiteit as Afrikaners opgee. Dit gaan te ver; ek het ook die reg om my eie identiteit te kies. Uiteindelik staan ons egter almal voor die feit dat ons kinders van dieselfde moeder – Afrikaans – is.
Ek kan verstaan dat die bruines meestal minder emosioneel as ons oor die taal voel, want hulle meen (grotendeels tereg) ons het die taal ten onregte geannekseer. Maar óns moeder bly ook húl moeder. En as ons toelaat dat sy sterf of teruggedwing word na die kombuis, gaan ook die bruines identiteitsverlies ly. My pleidooi is dat wit en bruin, ondanks verskille en uiteenlopende benaderings, hande vat en saamwerk vir die behoud van Afrikaans op alle vlakke.
‘n Kruispad klink asof mens ‘n koers inslaan en in die proses die rug keer op die ander koers. In die geval van wit en bruin: Is dit so swart en wit ...?
Jy kan langs mekaar op dieselfde pad saam na dieselfde bestemming stap. As ons verskillende paaie inslaan, sou dit ’n tragedie wees. Kruispaaie impliseer dat die paaie wegloop van mekaar. Ons hoef nie op verskillende paaie te beland nie. Ons kan langs mekaar op dieselfde pad en na dieselfde bestemming stap, al het ons uiteenlopende maniere van stap en verskillende motiewe daarvoor. Solank ons bestemming dieselfde bly. En wie weet, dalk kan die staptog die begin van ’n egte versoening wees …
The post 'n Gesprek oor Kruispaaie deur Leopold Scholtz appeared first on LitNet.