“Hoe ver kan ’n hond in ’n bos in loop?” vra Gawie Kriel aan Jan die kameraman. Hulle twee sit voor in die stuurkajuit van die byeboer se Isuzu-bakkie, aan die voorpunt van ’n jolige klein konvooitjie.
“Ja-nee,” sê Jan, probeer dieper in die bos inkyk, loer na weerskante van die grondpaadjie waarop hulle ry. Hy dink diep aan die vraag, probeer sien tussen die rye stinkhoutbome deur wat deur die bakkie se koplampe verlig word. Dis laat in die nag. “Nee, sê maar,” sê hy, vat nog ’n sluk uit die botteltjie bier in sy hand.
“’n Hond kan tot in die middel van ’n bos in loop,” verduidelik Gawie Kriel, verander van rat soos wat die pad dieper die bos inslinger. “Van daar af loop hy weer uit die bos uit,” lag die byeboer breed.
“Goeie een,” sê die kameraman, lag saam, verbeel hom vir ’n oomblik hy sien ’n teringmaer hond tussen die ylverligte stamme, wonder hoe ver nog tot in die middel van die bos.
“Jy’t nie dalk rookgoed op jou nie?” vra die byeboer, ry effe stadiger soos wat hulle ’n sementbruggie kruis.
Deur die oop ruit van die bakkie kan Jan die donker rivierwater hoor bruis, kan hy die swart rivierwater ruik soos wat hulle die bruggie oorsteek, kan hy homself die pompende, goue lywe van forel verbeel wat deur die water beur. Hy voel-voel deur sy sakke, kyk terug in die rigting van die bergstroom soos die Isuzu die pas uitkruie. “Lyk my nie so nie,” sê hy en druk die pakkie sigarette dieper in sy broeksak weg. Vannag gaan nog ’n lang nag wees.
In ’n wolk stof agter die Isuzu ry Jaap, Joop en Nevada Bell saam in die afgetrede kaptein se bruin Pajero. Dis nie ’n nuwe voertuig nie, dis nie ’n goedversorgde voertuig nie – tussen los gereedskaptrommels en grassnyeronderdele kraak die vier-by-vier se bakwerk van die roes.
Die kaptein stuur die Pajero oor die trôe en deinings in die pas, op pad Gouna toe.
“Let us live, my Lesbia, let us love!” roep die digter in die oor van die meisie met die jin-jang-toonnaels, “and all the words of the old, and so moral, may they be worth less than nothing to us!”
“Sorry, I didn’t get that?” roep Nevada Bell bokant die gedreun van die Pajero se dieselenjin.
“What?” roep Jaap.
“I couldn’t hear what you were saying,” sê Nevada Bell.
“Suns may set, and suns may rise again: but when our brief light has set, night is one long everlasting sleep,” resiteer die digter verder uit Catullus se digkuns voort, sy lyf al swaaiende soos wat hy aan ’n dakhandvatsel klou.
“Yeah!” lag die promiskue produksiebestuurder. Haar hart bokspring saam met die viertrekvoertuig op sy malle vaart deur Kom se Bos en Kom se Pas, deur die moot van die deurdrenkte nag. Sy hoor fokkol van wat die digter te sê het, maar geniet die tempo van sy stemtoon, geniet die harige kneukels van die kaptein wat elke nou en dan aan haar bobeen raak soos die afgetrede seevaarder van rat verwissel.
Die kaptein is opgeneem deur die vaart van sy stuurkajuit, deur die hart van die donker nag. Hy is opgeneem deur die rooi gloed van die Isuzu se remliggies ’n ent voor hulle in die stof, deur die seereuk van Nevada Bell in die passasiersitplek langs hom.
Die derde voertuig in die konvooi is ’n TV-produksiebussie wat deur JM Roux bestuur word. In die passasiersitplek sit Paul Brockmeyer, kiewe bleek, oë blink, sy lyf effe vorentoe in die sitplek. Die sitplekgordel trek styf, hy’s ’n man op pad êrens heen.
Op die agterste sitplek sit Dave die klankman, met oorfone oor sy ore. Hy kan sien hoe JM Roux en Paul Brockmeyer met mekaar gesels, land en sand, hoe hulle lippe beweeg, hulle hande beduie, hoe die woorde rol, maar hy hoor, dank die Japannese, net mooi niks.
’n Ent agter die produksiebussie sukkel ’n silwer BMW X5 deur stof van die konvooi, deur die donker van die nag. Aan die stuur van die Duitse spogmobiel is Ian Pool, die doosdronk, rooinek-eiendomsontwikkelaar. Hy het by die kroeg daarop aangedring om sy eie kar te bestuur en toe niemand saam met hom wou ry nie, het hy summier dronkverdriet opgedoen.
Later het die ander maar begin ry, nie lus vir die soutpiel se treurmare nie.
Ian Pool trek die X5 maar eerder van die pad af. Hy vermoed daar is iets met sy interne navigasiestelsel fout – hy is soos ’n posduif wat sy rigting verloor het. Hy druk die BM se deur ’n bietjie oop, val by die deur uit, stamp sy knie, gooi ’n bietjie op, bloei ’n bietjie. Die doosdronk soutpiel huil ’n hond uit ’n bos uit. Niemand hoor hom egter nie.
Voor het die konvooi nou tot stilstand gekom. Jan klim uit om ’n plaashek oop te maak. Op die plaashek is daar ’n naambordjie waarop daar geskryf staan: Die Hinderlaag.
Gawie Kriel draai in sy sitplek, leun by die Isuzu se ruit uit, lag en waai vir die manne en vrou in die twee voertuie agter hom. “My plek hierdie!” roep hy, wys na die naambord op die hek, wys na die skim van ’n huis wat anderkant die hek deur die bome sigbaar is, wink almal nader.
Die byeboer verbeel hom hy hoor ’n stem in die bos, ’n stem wat in ’n sanikende soutpielaksent uitroep: “Deserters! My God, my God, why have you forsaken me?”
In die Pajero voel Nevada Bell hoe ’n druppeltjie sweet in haar lies afglip soos wat die afgetrede kaptein met sy harige vingers die handrem optrek.
Die digter is nou stil, staar na die naambord van die plaas, Die Hinderlaag. Hy is beïndruk.
Vir die regisseur, JM Roux, gaan die filmiese kwaliteit van die oomblik ook nie verlore nie. Hy sien hoe die byeboer lag, hoe hy hulle nader wink, in wink by Die Hinderlaag. Hy sien hoe die goue donsies op die man se hande glim in die lig van die konvooi. Hoor hom roep: “My plek hierdie!” Sien hoe Jan die hek oopgooi.
“Yes, yes, extremely filmic,” lees Paul Brockmeyer die regisseur se gedagtes. Hy lees hardop die naam op die naambord: “Die Hinderlag.” Hy kyk na JM Roux, blaas ’n skootjie wasem deur sy lippe. “What is Hinderlag, and why does it need to die?” wil hy weet.
In die gekussingde stilte van sy soeperdoeper stel oorfone is Dave ’n gelukkige klankman. Hy’s op ’n goeie plek, ’n plek sonder kakpraatjies.
Gelei deur Gawie Kriel, parkeer almal op die oop stuk grond tussen die bome voor die opstal. Die nag is donker, die reuk van nat grond en vermolmende blare slaan uit die werf uit op.
“Welkom!” lag die byeboer, groet jillende honde wat om sy voete maal. “Sjoe, sjoe, sjoe, rustig nou julle,” sê hy vir die troppie honde wat almal waarskynlik van een Jack Russel afstam.
Voor hulle staan die plaashuis, meestal in skemer gehul. Dis ’n tipiese opstal met ’n Victoriaanse kern, sinkdak, rooi stoep, wit mure. Later, gedurende goeie jare, het Franse vensters en skuifdeure bygekom, die laslappies van TV- en studeerkamer.
Deur die blokkiesruite sien mens een of twee lampe binne brand, die blou gloed van ’n televisieskerm, beelde wat flikker en flits.
“Kom julle,” probeer die byeboer fluister, lei almal oor die werf na ’n klein grasperkie voor een van die stelle skuifdeure. Hy voel-voel aan die deurhandvatsel, stoot die deur oop, stap in by die groot kuiervertrek met sy kroeg, leerrusbanke, snoekertafel en grootskerm-TV.
Nevada Bell kyk geïnteresseerd na ’n paar groepfoto’s in rame teen die muur: rugbyspelers in gestreepte geel-en-swart truie, die byeboer prominent in die voorste ry met sy arms om die skouers van ’n jong man wat ’n goue trofee ophou; in ander foto’s, ’n jonger weergawe van Gawie Kriel tussen blinkgesigknape geklee in maroenkleurige sportbaadjies.
“In my younger days,” sê Gawie Kriel agter haar. “I used to be a hooker.”
Nevada Bell draai na hom, glimlag. “I tried that once or twice myself,” sê sy. “So, where do you keep your bees?”
“I’ll show you later,” lag die byeboer, knipoog vir die kaptein. “Shame, sy is seker bang om gesteek te word.”
“Ek twyfel,” brom die ervare seevaarder.
Dave struikel oor een van die malende honde, val amper deur die glasblad van ’n tafeltjie. “Bliksem,” sê hy. “Dit was amper.”
“Jy oukei?” vra JM Roux soos wat hy die klankman ophelp en help afstof.
“Als oukei, niks gebreek nie,” sê Dave vir Gawie Kriel wanneer die byeboer ook nader staan.
“Sie voertsek julle nou!” roep Gawie Kriel soos wat hy met ’n klammerige droogdoek onder die honde invaar. “Sit-sit kêrels, maak julself tuis,” sê hy soos die laaste brak koers kry buitentoe.
Net dan stap Alice Kriel, die byeboer se vrou – in japon, pantoffels en dies meer geklee – deur ’n binnedeur die vertrek in. Sy dra ’n haelgeweer onder die een arm, ’n wit poedel in die ander.
“Alice!” roep Gawie Kriel bly, “jy's wakker.”
“Gawie,” sê die byeboer se vrou.
“Ontspan mense, ontspan,” stel Gawie Kriel sy gaste op hul gemak. Sowel Jan as Dave het die skietding wat Alice Kriel onder haar blad vasknyp, opgemerk. Hulle albei was al by geleentheid getroud gewees en ken kak wanneer hulle kak sien kom.
Alice Kriel vee met haar los hand die slaap uit haar oë, sus die poedel in haar arm wat klein keffies na almal in die vertrek slinger. Sy kyk rond, sien die groepie witwarm mans, sien die witwarm vrou wat ’n goggatjie uit die afgetrede kaptein se baard pluk. Haar blik verstok op die joviale gestalte van haar man. Alice Kriel kyk reguit vir Gawie Kriel.
“Kom-kom Alice,” sê die byeboer, “kan jy nie sien ek het gaste nie. Ons is honger.”
Alice Kriel voel die heerlike gewig van die haelgeweer onder haar bors, haal asem, haal nog asem, probeer roosblare ruik, streel die tefie.
“Alice, food!” roep Gawie Kriel.
Alice kyk rond asof sy pas wakker geskrik het, draai dan na die deur waaruit sy so flussies verskyn het. “Daar behoort nog iets in die kombuis te wees,” sê sy, sonder om terug te kyk na haar man, Gawie Kriel.
“A civilization can only evolve, only grow, if you put your top men in positions where they can explore their most profound passions,” verklaar Paul Brockmeyer skromeloos aan almal wat ore het om te hoor.
“That’s profound, man, that is fucking genius,” stem Dave saam, sonder om ooit sy oorfone te lig. “Heart of the matter fucking core shit,” sê die klankman.
“I think you might be right,” mymer die uitvoerende vervaardiger van Washington DC. “In a different era I could have been a different man, a Karl Marx, maybe a Che Guevara.”
“Or a Gawie Kriel!” roep Gawie Kriel uitgelate.
“Cheers to that,” lag die Amerikaanse TV-man.
“Everything okay here?” wil JM Roux weet, sy maag vol brannewyn, sy kop vol kokaïen, sy oë vol van Nevada Bell se pikante hol wat knyp-knyp-knyp in haar stywe jean. Wanneer sy snoeker speel, is snoeker beslis ’n toeskouersport. Sy speel teen die kaptein, styf teen die kaptein.
“Pretty dandy,” sê goeie ou Paul, voel na die beursie in sy baadjiesak, “Should I give you some more ... money? Can you get us some more ...?” Hy kyk rond, om seker te maak niemand anders hoor hom nie, “... coke?”
“We’re fine for now, thanks Paul,” sê die regisseur, voel die dollarnote wat in sy baadjie se binnesak bult, tas na die sakkie koek in sy broeksak. “We’re fine for now,” sê hy.
Die digter het nou moed opgegee op Nevada Bell; hy laat vaar haar, laat haar in die hande van die kaptein. Al sy aandag is nou gevestig op Alice Kriel, wat vingerhappies voorsit – bakkies boonspruite en kekerertjies, gekapte lengtetjies geelwortel en aspersies, gedroogde piesang, appelkosies en amandels, geroosterde rogbrood met grondboontjiebotter.
“Ja,” sê Gawie Kriel, krap in ’n yskassie onder die kroeg, lig ’n pak beesbiltong daaruit. Krap in ’n kassie bokant die kroeg, lig ’n houtbak daaruit. Hy vee die bak met sy hempsmou skoon, sê: “Net ’n ou laaininkie vir die laatnag.”
Die digter hou vir Alice Kriel dop soos sy die laaste vingerhappies op die kroegtoonbank regskuif. Hy neem haar in, haar profiel, die kurwe van haar kakebeen, bruin oë, donker opgebinde hare wat ’n bleek gesig omraam, klein skaduwees in die nek waar die lamplig nie haal nie. 'n Ouwêreldse skildery, dit is Alice Kriel, besluit die digter, sien sy aandag word deur die plaasvrou opgemerk, sien dit amuseer haar.
Jaap voel ’n diep verlange in sy hart, druk dit ondertoe.
Gawie Kriel gaan haal nog bottels uit ’n kas; ander bottels uit ’n kluis; ander bottels uit ’n kelder – KWV, Kanonkop, Jack Daniels, Glenfiddich, Delord, Allesverloren, spog hy so ‘n spoegie met die klas van sy gasvryheid. “Proe hier,” beveel die byeboer aan. “Nee, nee, vat ’n behoorlike sluk,” beveel hy die digter.
Jaap proe en proe, kyk verby die boom van ’n bottel na Alice Kriel wat op ’n Franse salonstoel sit met haar Franse poedel op haar skoot, postuur onkreukbaar.
Hy stap nader, syg oorkant haar in ’n gemakstoel neer. “Wat,” wil hy weet, “wat is die ou brakkie se naam?”
Hy steek ’n hand uit na die tefie, hoor die klap van kake, die klap van tande, sien verbaas hoe die bloed uit sy vingers pomp, trek sy asem in. Hy kyk met opregte belangstelling na die ringvinger, wat nou ’n lit korter is. Dan sak hy dieper in sy leunstoel weg, sien hoe Alice Kriel se gesig verskemer, soos ’n olyf in ’n botteltjie olywe aan die einde van die dag.
Dis skemer in die vertrek. Die digter ruik skoon linne, ’n houtvloer, die suur drankreuk van sy eie vel. Bokant hom neem die gekartelde mandala van ’n versierde plafon stadig gestalte aan. Soos wat sy oë meer gewoond raak aan die donker, sien hy bokant hom die gestalte van ’n vrou met tallose, wuiwende arms.
Buite, êrens in die huis hoor hy musiek, ’n bekende, romantiese treffer uit die 1980’s. Hy hoor Gawie Kriel se onmiskenbare stem wat aanbeveel: “Luister, luister net hierdie woorde, kêrels, ooi maar dis so mooi, beeldskoon.” En dan sing hy saam met David Essex: “It was only a winter’s tale, just another winter’s tale, and why should the world take notice of one more love that’s failed ...?”
Die byeboer se stem breek van emosie tydens die koor. Die digter knyp sy oë toe, verbeel hom hoe Gawie Kriel saam met die musiek dirigeer, verbeel hom die spoor van ’n enkele traan oor die byeboer se blink wang.
“Hy is eintlik ’n romantiese siel,” hoor Jaap die stem van Alice Kriel langs die bed, maak weer sy oë oop, draai sy kop skuins, sien haar silhoeët afgeteken teen die wit muur, sien hoe sy liggies sug.
“Hallo,” hoor hy sy eie stem.
“Jy is wakker,” sê Alice, leun nader aan hom, naby genoeg dat hy haar bleek vel kan sien, haar donkerbruin oë wat glim in die donker. Hy ruik haar vel, ligte kruiereuk, spatseltjies Bvlgari-parfuum, effense vrankheid op die asem. “Hoe voel jou hand?” vra sy. “Het dit al ophou bloei?”
Jaap voel die gewig van sy hand op sy bors, lig die donskombers, sien die hand in verbande op sy kaal borskas, die bruin merke van gestolde bloed teen die wit verband. Hy voel dan die effense pyn wat klop in die ledemaat en kreun.
Alice Kriel neem sy hand in hare, kyk daarna. “Maak oop jou mond,” versoek sy, hou ’n druppertjie gevul met ’n teerkleurige vloeistof na hom toe uit.
“Wat?” wil hy weet, maar maak in elk geval sy mond oop.
“Phoenixtrane,” sê sy, drup die donker druppels in sy mond.
Hy proe modder en geil, groen plantmateriaal soos die stroompie in sy keel af drup.
“Hulle gee dit vir terminale pasiënte, om hulle beter te laat voel,” sê Alice Kriel.
“Ek voel beter,” sê Jaap.
“Jou ringvinger is ’n rapsie korter,” sê Alice, haar stem egalig, slegs effentjies geklad deur die ronde ondertoon van ’n Engelse aksent. Sy strek haar hand uit na hom, laat rus dit op sy pols, die nael van haar pinkie trek ’n verbeelde lyntjie oor sy vel. “Fiefie is maar besitlik oor my,” sê sy.
“Phiphi?” vra hy.
“Die poedel,” sê sy.
Die digter besef dat hy poedelkaal in die bed lê, ruik Alice Kriel se asem, hoor hoe Gawie Kriel nogmaals sing: “Why should the world take notice of one more love that’s failed?”
“’n Hond is ’n hond,” sê die digter, “mens kan nie veel daaromtrent doen nie.”
“Dit is waar,” sê Alice Kriel; haar kneukels streel oor sy ribbes soos wat sy sy verbinde hand oopvou.
Die digter voel hoe sy ereksie onder die gewig van die donskombers stu.
“Ek ken jou vrou,” sê Alice Kriel.
Die digter voel hoe sy ereksie onder die gewig van die donskombers kwyn. “Ek ken haar ook,” sê hy.
“Ons kan jou hospitaal toe vat, as jy wil,” sê Alice terwyl sy sy hand bekyk.
Jaap betrag self die hersiene vorm van sy ringvinger. “Ek twyfel of dit enigsins sal help,” sê hy. “Enigiemand dalk die lit opgetel?”
“Fiefie,” sê Alice Kriel, “en ek vrees Fiefie het dit gesluk.”
“Mmmm,” sê Jaap, “ek sien”, voel hoe die byeboer se vrou se hand op sy maag rus. Hy kyk op na haar, sien in haar iets hartverskeurend wat hy weet êrens in ’n gedig tuishoort, soek na woorde, iets om vir haar te sê wat nie leeg sal wees nie. “Ek weet nie wat om vir jou te sê nie,” sê hy.
Net dan breek daar iets, êrens in die huis: borde, glase een of ander breekware wat aan skerwe spat, versplinter.
“Oooo,” klink die geïmponeerde kreun van manstemme.
“Spillage!” roep iemand uit.
“Strafdop!” roep iemand anders.
“Alice!” roep Gawie Kriel.
Sy huiwer vir ’n oomblik, asof sy wag vir nog woorde. Staan dan op. “Daar is klere in die kas wat jou behoort te pas,” sê sy, “jou klere was vol bloed.”
“Ek ...” sê hy.
“Jy kan bly slaap, of jy kan opstaan indien jy jouself opgewasse voel,” sê sy. “Dis jou keuse.”
“Jy ...” sê hy.
“Alice!” roep Gawie Kriel nog ’n maal ná ’n stewige rits kragwoorde.
“Ek moet gaan,” sê sy.
Dan is sy weg, en bly lê hy poedelkaal onder ’n verekombers in die geel, vierkantige lig wat deur ’n oop badkamerdeur gelaat word.
Word vervolg ...
The post "Ek is nog hier ..." / In die hinderlaag (Deel I) appeared first on LitNet.