Persverklaring
“Ons daag die rektor van die US, prof Wim de Villiers, en/of die voorsitter van die Universiteit van Stellenbosch (US) se raad, mnr George Steyn, uit tot ’n openbare TV-debat oor die universiteit se konseptaalbeleid.” So sê Danie van Wyk, verteenwoordiger van die nuwe veldtog “’n Kans in Afrikaans!”. “Hierdie debat moet vóór die 22ste Junie se raadsvergadering plaasvind,” sê hy.
Die uitdaging volg op ’n werkswinkel oor die US se taalbeleid wat Saterdag, 4 Junie, deur die Afrikaanse Taalraad by ’n skool in Somerset-Wes georganiseer is. Die werkswinkel is bygewoon deur meer as dertig mense onder andere skoolhoofde, onderwysers, studente, dosente, skrywers, joernaliste, akademici en gemeenskapsleiers. Burgerlike organisasies wat deelgeneem het sluit in die Langenhoven Gedenktrust, die Suid-Afrikaanse Onderwys Ontwikkelingstrust, GelykeKanse, AfriForum, en PEN Afrikaans.
“Ons het daarin geslaag om belanghebbendes in die US se taalbeleid oor politiese en ideologiese skeidslyne heen bymekaar te bring,” sê Ria Olivier, die Taalraad se projekbestuurder.
Danie van Wyk, ’n deelnemer aan die gesprek, sê dat hy verstom was oor die vinnige manier wat konsensus bereik is. “Ou struggle veterane, wit, bruin, swart, wat ook al. Ons staan almal agter ’n Kans in Afrikaans!.”
“Ons is gatvol daarvan om te hoor dat bruin mense nie in Afrikaans wil studeer nie,” sê Doreen Musson, ’n voormalige onderwyseres en stasiebestuurder by Radio Kaapse Punt. “Dit is pure nonsens en ek raak kwaad as ek dink aan al daai kinders wat in skole sit en nóóit by die universiteit gaan uitkom nie. For them there is no place at the University of Stellenbosch.”
“Hulle maak Engels die verstektaal van die universiteit en roei Afrikaans uit, maar die bestuur is nie moedig genoeg om dit reguit vir ons te sê nie,” sê Danie Marais, bestuurder van PEN Afrikaans. “Hulle argumente oor dat die nuwe beleid niemand gaan uitsluit nie is sinies en misleidend.”
“Die rektor of die voorsitter van die raad moet ín die publiek vir ons verduidelik hoekom Éngels nie nou die taal van uitsluiting by die US geword het nie,” sê Danie van Wyk. “Ook hoekom die nuwe taalbeleid nie die nekslag vir Afrikaanse moedertaalonderrig op skoolvlak gaan wees nie. Ek wil weet of hulle verstaan wat die implikasies van daai besluit is.”
Kontakpersoon: Danie van Wyk: weskaap@saoot.org.za; 083 382 3565
The post ’n Kans in Afrikaans! – ’n Openbare uitdaging aan die US-bestuur appeared first on LitNet.