Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21660

Tannie Evita praat kaktus: ’n resensie

$
0
0

Foto: verskaf

Evita Bezuidenhout (gebore Evangelie Poggenpoel), steeds “Suid-Afrika se bekendste wit vrou”, is op 87 beslis nie aan’t stilsit en kniekombersies hekel vir haar drie kleinkinders, Winnie Jeanne, Nelson Ignatius en La Toya Ossewania, nie.

Sy is vlymskerp op die nuwe verhoog by Evita se Perron, waar sy omring is met al die herinneringe en memoribilia van haar luisterryke loopbaan, waaronder 10 jaar as die Suid-Afrikaanse ambassadeur tot die swart onafhanklike tuisland, die Republiek van Bapetikosweti.

Anderkant die toe teaterduur vergaap besoekers hulle aan die uitstallings in die “Nauseum” - haar woord vir die museum van Afrikanerdom - slurp gulsig aan tuisgemaakte lemonade of tuisgebakte pasteie.

Die nuwe teater en verhoog waarop die reuse kaktus wat “Jan van Riebeeck op die Drommedaris saamgebring het” trots pryk, is ’n mengelmoes van ou stoele en tafels en met jou hand om jou plaaslike bier of -wyn, praat tannie so lekker kaktus, dat jou oë traan.

Voor sy instap, speel die stem van oorlede aartsbiskop Desmond Tutu oor die luidspreker: “Evita Bezuidenhout is nie ’n vrou nie, sy is ’n legende en omdat ons Tannie Evita kan geniet, is ons sterker en wyser.”

Natuurlik moes ons wag vir Eskom se beurtkrag om in te skop, sodat die oorskakeling na die teater se kragopwekker agter die rug is, voor sy kan begin gesels. “Daar is nou ’n fase 9-beurtkrag: dis wanneer Eskom aan jou deur klop en jou kerse kom doodblaas.”

Die gehoor skater; die ys is gebreek.

Sy vertel van haar nuwe korter en gryser haarstyl en erken dat ons almal verander het, want ons is pas deur 800 dae van pandemie en lag dan as sy later vertel dat “ons Afrikaners destyds baie swaargekry het onder Apartheid omdat ons Duitsland toe moes reis vir onderdele vir ons haardroërs”.

...........
Sy vertel van haar nuwe korter en gryser haarstyl en erken dat ons almal verander het, want ons is pas deur 800 dae van pandemie en lag dan as sy later vertel dat “ons Afrikaners destyds baie swaargekry het onder Apartheid omdat ons Duitsland toe moes reis vir onderdele vir ons haardroërs”.
.............

Sy gaan haal die hele storie rondom die kaktus van verdeeldheid natuurlik by onse Jan, wat nie regtig op pad na die Kaap die Goeie Hoop was nie, maar eintlik “op pad na Brasilië om ’n koffiewinkel oop te maak” maar hy is deur die Suidooster van koers geblaas en land toe aan die voete van Tafelberg. “Ons is van kleintyd af bedrieg. Ons moes hoor dat hy beskawing gebring het. Hoe op aarde kan ’n ontsnapte bandiet op pad Brasilië toe, nou beskawing bring?” vra sy kamma-verontwaardig.

Dan verklap sy dat die Britste eerste minister wat pas bedank het, Boris Johnson, haar daardie oggend net voor die vertoning gebel het om te vertel dat hy in Suid-Afrika wil kom kuier, maar sy het oorreed om eerder tuis te bly.

“Die Boere het juis destyds uit die Kaap weggetrek om weg te kom van die Britte se aaklige broodpoeding,” kom dit dan wysneusig. Daar is ’n hele (nuwe) les oor wat regtig by die Slag van Bloedrivier gebeur het en hoe die Voortrekkermonument nou ’n casino gaan word, “want meer Afrikaners sal dit nou besoek”.

So tussen die geskerts deur, is daar oomblikke van hoop, van trots op hierdie pragtige land van ons. “Vir elke stuk slegte nuus, is daar twee stukke goeie nuus, maar slegte nuus skree op jou, terwyl goeie nuus stilletjies wegkruip en wag om ontdek te word”, meen die tannie.

Tannie Evita waarsku egter dat Apartheid nooit weer sal terugkom na SA onder dieselfde naam as voorheen nie, maar dat ons nie slegte politici én politiek moet onderskat nie. Die skeiding sal dalk net in onderwys, kultuur en taal wees, maar skeiding sal daar kom.

Met haar vuis in die lug en die kreet “Vrystaat!” (sy is immer op Bethlehem gebore) groet die tannie met haar mandjie en hoë hakke.

Die gehoor eet rustig en sluit die middag met Evangelie-koeksisters en koffie af.

Dis nie die eerste maal wat ek die tannie hoor kaktus praat nie. En hopelik ook nie my laaste nie. Haar interpretasie van waar ons op ’n bepaalde oomblik in ons land se geskiedenis is, bly vir my altyd ’n verrassing. Haar vermoë om met ons volk (en by uitstek haarself) te spot, bewys net weer hoekom ons Suid-Afrikaners slaag daarin om staande te bly, te midde van vele uitdagings.

Ek geniet die satire, die soms amper onskuldige opmerkings wat jou etlike sekondes later eers tref en die klein gebare wat wys hoe ingelig hierdie tannie nou eintlik is.

Die nuwe verhoog en teater is ’n pragtige, nostalgiese huldeblyk aan die tannie se lang teenwoordigheid as ons politieke en sosiale gewete.

Lank lewe, Tannie Evita!

Tannie Evita praat kaktus
Met: Evita Bezuidenhout

Deur: Pieter-Dirk Uys
Geskik vir alle ouderdomme en meestal in Engels.
Teater by Evita se Perron, Arcadiastraat, Darling
Volgende vertoning op 24 Julie en meeste Sondae om 12:00. Elke tweede Saterdag tree Pieter-Dirk Uys op met vertonings soos An audience with Pieter-Dirk Eish en ook The Echo of a noise.
Vanaf 14 Augustus kan jy weer ’n Tannie Evita praat Kaktus-vertoning en ’n 8-gang-proe-spyskaart by Kossie Sikelela Restaurant bespreek @ R650 per persoon.
Kaartjies deur Quicket (www.quicket.co.za)

The post <em>Tannie Evita praat kaktus</em>: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21660

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>