Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Die aanpassing van skolier na student: waarom party studente dit máák, maar ander sukkel

$
0
0

Dié toneel speel hom af in die film The Little Prince. Erkenning: canadaam.ctvnews.ca

Daar word baie oor Suid-Afrikaanse universiteite gepraat: oor taal, transformasie, dekolonisasie, en kostes. Besoek LitNet se bedrywige University Seminar.

Tussen als deur is daar studente wat net wil graad en werk kry. Maar wat as jy vroeg in jou studies al uitval? Louis van Staden het navorsing gaan doen. Beplanning tot die uiterste is nie so nodig soos wat die perfeksionistiese ma met haar uitgewerkte lewensplan in The Little Prince demonstreer nie (foto uit die film hierbo), maar miskien het hierdie karakter tog 'n punt beet. Beplanning is belangrik, tydsbesteding en hantering van spanning ook.

Lees Louis van Staden se volledige LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel: Die rol van geselekteerde motiveringsfaktore en leerstrategieë by akademiese prestasie van Ekonomiese- en Bestuurswetenskappe (EBW)-onderwysstudente.

Hier onder gesels Estelle Kruger met Louis van Staden en vra hom nog meer uit oor sy artikel.

Louis van Staden en Estelle Kruger

Hoe het jou belangstelling vir hierdie studie ontwikkel?

Ek het nege jaar gelede by die NWU ʼn aanstelling gekry. Daar was ʼn groot aanpassing van skoolleerders na studente. Dit het my begin interesseer waarom sekere studente die aanpassing van skool na universiteit maklik kan oorkom, maar ander sukkel daarmee. Ek het ook probeer om my modules op so ʼn wyse aan te bied dat dit nie bloot ʼn oordrag van feite was nie, maar eerder ʼn gesprek en soektog na nuwe inligting wat praktykgerig is. Ek het geglo dit sal studente motiveer om meer klas by te woon en beter te presteer. My PhD het hieruit gevloei.

Watter rol het motivering en leerstrategieë in jou eie loopbaan gespeel?

Dit speel steeds ʼn belangrike rol. Ek gebruik dit om my modules so te organiseer dat die studente die module geniet. Ek vind dit baie belangrik dat hulle saam gesels oor die inhoud en hul eie ervarings. Ek probeer ook om studente aan te moedig om hulle tyd effektief te bestuur en om so belang te stel in die module dat hulle bereid is om meer te wil uitvind oor die inhoud. Nie ʼn maklike taak nie.

In watter mate is jy betrokke by die ondersteuning en ondersteuning aan studente in jou hoëronderwysinstelling met die oog op motivering en leerstrategieë?

Behalwe vir die modules wat ek aanbied nie andersins nie. Ons het ʼn verpligte module in die eerste jaar wat deur die akademiese ondersteuningspersone aangebied word.

(a)      Wat was bepalende faktor(e) wat jou in EBW laat studeer het?

Ek het EBW-modules op skool gehad en ook my BCom-graad verwerf. Verder het ek ook ʼn nagraadse diploma in onderwys in EBW gedoen en lank skool gehou waar ek die modules aangebied het.

(b)      Wie of wat was jou inspirasie in jou loopbaan?

Daar was baie persone, soos byvoorbeeld my eerste skoolhoof, my eerste departementshoof en dan ook my studieleier vir my PhD. Beslis ook my familie wat altyd in mens glo en trots is op wat ek bereik het.

Hoe het jy op hierdie vraelys (MSLQ) afgekom en hoe het jy geweet dit is wat jy in jou studie wil gebruik?

My studieleier het dit voorgestel as een van die vraelyste vir my studie. Ek het die handleiding deurgewerk en besluit dit sal goed by my studie inpas.

Hoe implementeer jy genoemde leerstrategieë in jou rol/posisie as lektor?

Ek probeer, so ver die tyd dit in ʼn semester toelaat, die studente bedag maak op die motiveringsfaktore asook die leerstrategieë. Sommige sonder ek uit en spandeer ʼn bietjie tyd daaraan. By ander, as dit moontlik is, inkorporeer ek dit in die inhoud van die module, veral dié wat met bestuursaspekte te doen het.

Hoe sal jy kernagtig aan ’n onervare lektor verduidelik watter elemente/faktore van motivering kan lei tot akademiese sukses?

Ek sou graag al die elemente aan die persoon wou verduidelik en hom/haar self laat ervaar wat in die betrokke module deur die studente as belangrik geag word. Dit verskil in die spesifieke situasies en ook in die verskillende modules, asook van lektor tot lektor.

Hoekom het jy op ’n kwantitatiewe studie besluit?

Omdat ek van gestandaardiseerde vraelyste gebruik gemaak het, was dit die geskikste metode vir die betrokke studie. Ek het wel in die totale studie van ʼn gemengde metodes gebruik gemaak.

Is daar ook kwantitatiewe studies in verband met motivering en leerstrategieë wat jou beïnvloed in jou loopbaan?

Nie werklik nie. Ek het wel baie kwantitatiewe studies bestudeer in die aanloop en verloop van die studie.

Het die studente wat respondente was geredelik toegestem om deel te neem aan jou studie? Verduidelik?

Dit was studente in my verskillende modules. Ek het voor die tyd aan hulle verduidelik dat dit vrywillig is en al die ander etiese aspekte ook verduidelik. Amper twee derdes het ingewillig om die vraelyste te voltooi.

(a)      As jy een of twee leerstrategieë as die belangrikste moes uitsonder, wat sou dit wees?

Kritiese denke en tydbestuur.

(b)      En wat is volgens jou die belangrikste motiveringsfaktor(e)?

Doeloriëntering.

Jy beveel aan dat die MSLQ-vraelys wat jy gebruik het “gevalideer en aangepas” moet word vir die Suid-Afrikaanse konteks. Sou jy self belang stel om dit te doen? Motiveer asb.

Ek beoog om die vraelys weer te gebruik. Ek het reeds begin werk aan vrae wat in ons konteks anders geformuleer kan word om dit meer toeganklik vir ons studente te maak.

Wat het jy van jouself geleer tydens hierdie navorsing?

Gedurende my studies het daar baie aspekte uitgekom wat my baie keer goed laat voel het oor myself, en dan weer andere wat my laat twyfel het in myself. Die feit dat ek uitgehou en die studie wel voltooi het, was my hoogtepunt. In my beroep het dit my geleer om studente as unieke individue te hanteer en om nooit ʼn antwoord van ʼn student net af te maak nie, al is dit verkeerd. Jy verloor daardie student vir altyd. Ek probeer altyd positief wees oor studente se deelname in die klas en lei liewer ‘n verkeerde antwoord na die regte een.

The post Die aanpassing van skolier na student: waarom party studente dit máák, maar ander sukkel appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>