Die Cape Consort bied hul eerste ten volle ingeklede opera aan: Henry Purcell se Dido and Aeneas (1688). Die Consort het met die teaterskepper Marí Borstlap kragte gesnoer vir ’n eiesoortige en nuwe vertolking van die klassieke liefdesverhaal, onder die musikale leierskap van Hans Huyssen. Lente Louw, wat die rol van Dido vertolk, gesels met Naomi Meyer oor die produksie.
Lente, as mens die naam Dido noem, gaan ‘n paar mense dalk aan ‘n Britse popster van ‘n rukkie gelede dink. Maar wie is die karakter Dido wie se rol jy binnekort by die Fugard gaan vertolk/sing?
Dis waar, ek het die opmerking al 'n paar maal teëgekom! Dido is die hoofkarakter in Henry Purcell se opera Dido and Aeneas, wat vir die eerste maal rondom 1689 uitgevoer is, en sedertdien herleef het en vandag een van die mees geliefde werke in die repertorium is. Operaliefhebbers sal dus waarskynlik weet van wie mens praat. In die oorspronklike verhaal, afkomstig uit die Griekse mitologie en later aangepas deur Vergilius in Boek IV van sy Aeneïde, is sy die koningin van Kartago (die hedendaagse Tunisië). Aeneas, voorsaat van Romulus en een van Rome se mitologiese stigters uit Troje, word tydelik van sy lewenstaak afgelei wanneer sy vloot aan die kus van Kartago strand en hy ’n verhouding met Dido aanknoop. Hy verlaat haar egter onder opdrag van die gode, sy pleeg selfmoord, en hy voltooi sy taak. Die bekendste stuk uit die opera is ongetwyfeld “Dido's lament” – haar slot- en selfmoordaria. Ek sing hierdie droomrol vanaf 2 tot 5 Junie in die Fugardteater-ateljee as lid van die vroeë musiekensemble Cape Consort, met musiekregie deur Hans Huyssen en verhoogregie en -ontwerp deur die bekende teatermaker Marí Borstlap.
Gebruik julle die oorspronklike musiek van Purcell, of is daar enige aanpassings?
Hierdie vraag het nie 'n eenvoudige antwoord nie. Eintlik het die oorspronklike bladmusiek uit Purcell se pen nie behoue gebly nie, en die oudste weergawe van die musiek wat gevind kon word, is eers ongeveer 60 jaar na die eerste uitvoering neergeskryf – die sogenaamde Tenbury manuscript. Uit 'n ouer libretto kan ons ook sien dat dele van die stuk geheel en al verlore is. Daar bestaan egter 'n groot aantal gedrukte weergawes, (die navorsing en raaiwerk wat tot hul totstandkoming gelei het, is natuurlik 'n omvattende proefskrifonderwerp!) en ons het Clifford Bartlett van Kings Music s'n gekies, omdat dit na die mees histories ingeligte een gelyk het van dié wat tot ons beskikking was. Ons gebruik al die musiek in hierdie weergawe onveranderd, behalwe natuurlik dat ons basso continuo-seksie (Hans Huyssen op baroktjello en Uwe Grosser op luit, teorbe en barokkitaar) self die baslyn realiseer, en dat ons sangers en spelers kreatiewe vryheid gegun word in terme van ornamentasie van hul parte – soos die praktyke in die baroktydperk was. Ons kies ook om nie van 'n koor gebruik te maak nie. Die ensemblegedeeltes in die musiek is nooit meer as vierstemmig nie, so ons voer die opera uit met altesaam ses sangers. Dit, tesame met die feit dat ons slegs twee viole, altviool, tjello en teorbe/luit/barokkitaar gebruik om die sangers te begelei, sorg vir 'n groot mate van buigsaamheid en deursigtigheid, wat na ons mening die musiek (en ons beperkte verhoogspasie) goed pas.
In hierdie tyd met al die gesprekke rondom dekolonialisering: Wat is die relevansie van Virgilius se verhaal uit sy Aeneïde vir hedendaagse Suid-Afrikaanse gehore?
Jy verwys natuurlik daarna dat Aeneas 'n deel van antieke Italië gaan koloniseer het om Rome te stig, en dat Dido 'n deel van Noord-Afrika gekoloniseer het om Kartago te stig. In die Aeneïde is Aeneas die groot held vir wat hy gedoen het. In Dido and Aeneas word hy nie in so 'n positiewe lig gestel nie, maar die storie eindig voor hy Rome stig, dus sou 'n regisseur nie maklik daarop fokus nie. Om 'n interpretasie van Dido and Aeneas te maak waarin haar koloniseringspoging vooropgestel word, sou wel uiters interessant wees – veral as mens dan die “hekse” as die verontregte oorspronklike inwoners sou uitbeeld. Sover my kennis strek, is hierdie tema nog nie behoorlik deur 'n regisseur verken nie – ons doen dit ook nie in ons produksie nie, hoewel ons al die moontlikheid onder mekaar bespreek het, juis omdat dit relevant sou wees binne 'n Suid-Afrikaanse konteks.
Uitvoerders van Dido and Aeneas, hier of elders, hoef hulself egter nie noodwendig met 'n interpretasie van Dido of Aeneas as koloniseerders te bemoei om 'n artistiek relevante produksie, wat ook met die moontlike bedoelings van die komponis en librettis strook, op die planke te sit nie. Henry Purcell en Nahum Tate (die librettis) het die fokus van Vergilius se verhaal duidelik en opsetlik verskuif. In die opera val die klem op die universeel menslike belewenis van 'n liefdesteleurstelling eerder as op die pligsgetrouheid van die ideale Roomse burger, met wie nóg 'n Engelse barokgehoor, nóg 'n moderne gehoor eintlik in elk geval iets gemeen sou hê. 'n Goeie argument is dat hulle Vergilius se verhaal probeer “vermenslik”, en persoonlike dramas is en bly 'n populêre en relevante tema in die hedendaagse kuns en literatuur.
Soos enige kunswerk is Dido and Aeneas oop vir 'n verskeidenheid van interpretasies, en wanneer 'n regisseur moet besluit hoe sy die storie wil vertel, sou een moontlikheid wees om te probeer vasstel wat die konteks vir die totstandkoming daarvan was. Ons sal egter nooit werklik weet wat Purcell of Tate se artistieke bedoelings met die werk was nie. Onder musikoloë vind ons minstens twee teorieë rondom die eerste uitvoering van die werk: dat die eerste uitvoering aan die hof van William en Mary (die Engelse Protestantse monargie) plaasgevind het, wat beteken 'n mens kan die opera as 'n politieke allegorie van die sogenaamde Glorious Revolution van 1688 lees; óf dat die eerste uitvoering deur die tienermeisies van Josias Priest se skool gedoen was, in welke geval die opera maklik as 'n moraliteitsverhaal gelees kan word (“Meisies wat hulle onkuis gedra moet oppas, want mans volg net hul eie belange”).
In die Cape Consort-produksie kies Marí Borstlap egter om die meeste van hierdie interpretasiemoontlikhede te ignoreer. Sy neem die betreklik yl libretto en plant dit oor na 'n hedendaagse, fiktiewe konteks: Dido is in 'n psigiatriese inrigting (Carthage Asylum) opgeneem nadat haar geliefde Aeneas haar verlaat het om 'n bevordering oorsee (Rome, natuurlik) te aanvaar, en hier word sy deur nagmerries en hallusinasies geteister (die hekse), tot sy uiteindelik haar eie lewe neem. Marí Borstlap se verhaal is hoogstens 'n voortsetting van Tate en Purcell se pogings tot “vermensliking” van die verhaal, omdat dit die fyn lyn tussen liefde en waansin verken, maar eintlik gebruik sy net die teks en die musiek, en vertel 'n totaal nuwe storie daarmee. Ondanks haar radikale hervertelling gaan sy egter versigtig met die teks om: op geen stadium voel die sangers dat die affek van 'n bepaalde stuk musiek op 'n gegewe tydstip in die verloop van háár storie anders is as wat dit met 'n tradisionele interpretasie van die opera sou gewees het nie. Inteendeel: sy gee ons meer gereedskap vir ons inkleding van die teks.
Vertel asseblief van die ander rolspelers: die musikante, sangers en natuurlik ook die regisseur.
Die ander sangers is Willem Bester, Elsabé Richter, Nick de Jager, Antoinette Blyth en Riaan le Roux. Almal het veral ervaring met barokmusiek en sing, soos ek verduidelik het, meer as een rol – behalwe ek, wat net Dido sing. Die bekende komponis Hans Huyssen lei die musikante vanaf sy baroktjello en die instrumentaliste is Annien Shaw en Janna Khweis (barokviool), Emile de Roubaix (barokaltviool) en Uwe Grosser (luit, chitarrone en barokkitaar). Ons gebruik slegs periode-instrumente en stem hulle effens laer teen a=415 Hz. Ons maak ook gebruik van beeldmateriaal wat deur Dewet van Rooyen en Linsen Loots van Wyrd Films verfilm is. Marí het die stelontwerp, beligtingsontwerp, kostuums en verhoogregie gedoen.
Watter soort gehoor sal hierdie opvoering geniet – net mense wat van opera hou? Of watter soort produksie kan mense verwag?
Operaliefhebbers kan maar kom, ja! Enigiemand wat hou van barokmusiek moet dit ook kom kyk – Cape Consort is bekend vir uitstekende ensemblesang en ons versorg die musiek tot die beste van ons vermoë en kennis om oortuigend, sprekend en stylgetrou te wees. Veral diegene wat ons vorige werk ken, moet kom, want hulle sal nie glo wat hulle sien nie. Mense wat hou van ernstige hedendaagse teater sal ook nie teleurgesteld wees nie – veral nie as hulle gehou het van Marí se vorige werk soos Drif, 2092 God van Klank, Søsken en Kristalvlakte nie. Ons Dido and Aeneas is 'n vernuwende, weldeurdagte en goed afgeronde verhoogstukstuk met 'n vinnige pas, 'n deurlopende spanningslyn, groot emosionele kontraste, uitstekende musiek en 'n asemrowende einde.
Purcell se Dido and Aeneas word van 2 tot 5 Junie 2016 by die Fugardteater-ateljee aangebied
Datums
2 tot 4 Junie 2016, daagliks om 20:00.
5 Junie 2016, om 16:00.
Kaartjies
Kaartjies wissel van R130 tot R150. Skakel die Fugardteaterloket by 021 461 4554, of besoek Computicket: http://online.computicket.com/web/event/cape_consort_s_dido_and_aeneas.
The post Onderhoud met Lente Louw oor Dido and Aeneas appeared first on LitNet.